Die lorrie of sy skaduwee?
Donald Grey Barnhouse (1895-1960) — baie bekende Amerikaanse prediker — se dogtertjie wou by hom weet waarom 'n Christen nog moet sterf as Jesus dan kláár gesterf het. Sy wou ook weet hoe erg dit sal wees, want sy is bang.
Hulle hou toe by 'n verkeerslig agter 'n reuse vragmotor stil. "Sien jy die trok en sien jy sy skaduwee?", vra hy haar. Wat sou jy verkies as ons nou weer gaan stilhou en die trok kom vinnig van agter af — dat hy oor ons ry, of sy skaduwee langs hom? Sy lag: "Natuurlik sy skaduwee!"
"Oor jou vraag, dink só daaraan: Toe die Here Jesus gesterf het, was dit soos die lorrie self wat oor Hom gery het. As 'n Christen dood gaan, is dit soos die skaduwee wat oor hom of haar ry."