Die kosmos, het 'n begin gehad. Dis nie ewig nie. Min is die wetenskaplikes wat dit vandag nog betwyfel. Einstein se relatiwiteisteorie het dit onomstootlik bewys. Dit vereis onweerlegbaar 'n ewige Skepper wat self nie geskep is nie. Sonder so 'n ewige onveroorsaakte Oorsaak was alle syn onmoontlik. Niks kan uit niks ontstaan nie.
Presies dit sê Gen 1:1 — dalk die mees gelaaide vers in die Bybel: "In die begin het God die hemel en die aarde geskep."
As ek daarom na die natuur kyk, des te meer in die lig van die nuutste natuurwetenskaplike ontdekkings, sien ek tot só 'n oorbluffende mate die vingerafdrukke van 'n ewige, onveroorsaakte Oorsaak en almagtige Skeppergod, dat, as dit sou dit blyk dat die Drie-enige God wat Homself in Jesus Christus aan ons geopenbaar het (soos dit vir ons opgeteken is in die Bybel), níé daardie Outeur is nie (ondenkbaar!), sal ek van voor af na 'n ánder Skepper begin soek. Want dis oorweldigend duidelik en onontkombaar seker dat Hy ís!
-o0o-
Die Ou en Nuwe Testament is God se Gees-geïnspireerde besondere openbaring aan die mens (naas Sy veel dowwer, maar duiselingwekkende algemene openbaring in die skepping).
Die Ou Testamentiese openbaring het as afrondende en kulminerende sluitstuk die Nuwe Testamentiese openbaring, waarvan die mensgeworde Seun — wie Hy was, wat Hy gedoen het, wat Hy geleer het — die hart is. En so het die besondere openbaring van God reeds twee millennia gelede tot kulminering en afsluiting gekom (Heb 1:1-2a). Deur inspirasie van die Heilige Gees is die Nuwe Testament opgeteken deur oog- en oorgetuies — sommige van die apostels en 'n paar intieme medewerkers onder hulle leiding.
Dit beteken dat die Bybel — Ou en Nuwe Testament — die genoegsame kanon, maatstaf, norm en riglyn vir 'n Christen is om die drie-enige God te ken, te behaag, te verheerlik en die ewige heerlikheid te beërf. Geen méérdere openbaring is nodig nie!
Dis die kerk se roeping is om híérdie openbaring en die Christusgesentreerde evangelie te omhels, uit te leef en te verkondig — sowel na binne, as na buite.
Dis die rede waarom die skrywer van dit wat volg niks wil of durf sê wat sogenaamd núwe openbaring is nie. Hy het ook geen begeerte om soiets te kán doen nie. Nee, hy het bloot God se Woord om uit te lê en te verkondig — asook die implikasies daarvan.
Dit beteken nie dat ons getuienis en verkondiging sonder die verligtende en toerustende werk van die Heilige Gees kan geskied nie. Maar dwarsdeur die geskiedenis van die kerk het elke aanspraak op sogenaamde Gees-geïnspireerde nuwe openbaring tot God-onterende kettery en leerstellige rampspoed gelei. Uit beginsel bevat hierdie webwerf dus niks nuut nie. Alles wat hierin geskryf is, wil bloot 'n eggo van God se heilige Woord wees. Dit is waarhede wat male sonder tal deur andere dwarsdeur die kerkgeskiedenis gepreek is. Dit word ook vandag in baie tale vanaf derduisende kansels gepreek — dwarsoor die wêreld. Trouens, hierdie skrywer staan op die skouers van baie skrywers en predikers wat hom voorgegaan het. Hy het meer by hulle geleer as wat hy onder woorde kan bring.
Ek sluit hierdie paragraaf af met 'n ou en baie wáár gesegde: If it's true, it's not new; if it's new, it's not true.
-o0o-
Die beginsel Semper Reformanda — voortgaande reformasie — is eweneens 'n uiters belangrike riglyn vir sowel die individu as die gemeente. Maar reformasie is nie om nuwe dinge te ontdek nie, dis om eeu-oue waarheid opnuut te ontdek en weer te begin verkondig en uitleef.
Die beginsel is dus altyd weer terug na die Woord toe! Sola Scriptura! Dis waarom Woordverkondiging, wat in die finale analise ook evangelieverkondiging is, aan die hart van Christene se roeping lê — na binne (die gemeente) en na buite (die wêreld). Dis die krag van God tot redding van die wêreld, asook die sleutel tot gelowiges se opbou in die allerheiligste geloof.
-o0o-
Die sestiende eeuse Reformasie het vyf ononderhandelbare hoekpenne vasbeton. Sola Scriptura; Sola Gratia; Solus Christus; Sola Fide; Soli Deo Gloria — Alleen die Skrif; Alleen Genade; Alleen Christus; Alleen Geloof; Alleen die Eer van God.
Hierdie formule grens die regsinnige Christelike geloof af. Beweeg daarbuite en jy raak die Bybelse pad byster. Maar binne hierdie grens is daar uiteraard veel meer om te verstaan, te glo en te gehoorsaam. En dis selde om 't ewe.
Veral die middelste drie "sola's" hierbo het te doen met hoe 'n mens gered word — dit grens die Bybelse verlossingsleer af. Maar oor God se reddende werk openbaar die Woord méér, ewe noodsaaklik.
Kernagtig kan die Bybelse verlossingsleer só gedefinieer word:
God red 'n sondaar volgens sy soewereine wil
uit genade alleen
op grond van Christus se middelaarswerk alleen
deur die geloof alleen
tot goeie werke
en daarom uiteindelik volgens goeie werke
Geen regsinnige Christen sal bogenoemde drie "alleens" of die "tot" misken nie. Maar baie gelowiges sal verbaas wees oor die laasgenoemde stelling (die "volgens"), en selfs daarteen beswaar maak.
Maar dis presies wat wat die Bybel herhaaldelik sê! Luister na die Nuwe Testament.
+ Hoe lees mens die duidelike boodskap van die gelykenis van die skape en die bokke in Matt 25:31-46 anders as presies só.
+ Matt 12:36-37: "Dit sê Ek vir julle: van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word" (NAV).
+ Matt 16:27: "Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom ... en sal elkeen volgens sy dade vergeld" (NAV)
+ Rom 2:6-11: "Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan die wat goed doen ... elke mens wat kwaad doen ..." (NAV).
+ 2Kor 5:10: "Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn,
sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad" (OAV).
+ 1Pet 1:17: "Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld" (NAV).
+ Op 20:12: "Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook 'n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het" (NAV).
Die uitlewing van ons geloof is belangrik — baie belangrik, lewensbelangrik!
-o0o-
Les bes beheers 'n eeu-oue stuk wysheid die inhoud van hierdie webwerf.
Dit kom uit die tyd van die Reformasie en en word toegeskryf aan 'n Lutherse teoloog, Rupertus Meldenius (1582-1651). Hy het dit in Latyn só geformuleer: in necessariis unitas; in nonnecessariis libertas; in omnibus caritas. Mens kan dit so vertaal: in noodsaaklike dinge, eenheid; in nie-noodsaaklike dinge, vryheid; in alles, liefde.
Nie alles in die Bybel is noodsaaklik vir redding nie. Maar daar is vir seker baie in die Skrif wat ononderhandelbaar belangrik is. In hierdie webwerf gaan dit hoofsaaklik om die "necessariis" — die waarhede wat aan die hart van die Bybelopenbaring lê en as sodanig noodsaaklik is om die ewige saligheid te beërf.
-o0o-
As mens praat van fundamentele oortuigings, behels dit uiteraard baie meer as hierdie paar paragrawe. Sou iemand meer wou weet oor my oortuigings, verwys ek hom of haar na die volgende twee belydenisse wat ek onderskryf:
Die 1689 Baptistebelydenis
(soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd),
asook
Die Belydenis van Sola 5
'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gemeentes
in ongeveer 'n halfdosyn lande hoofsaaklik in Afrika suid van die ewenaar.
-o0o-
Mag dit wat volg — al is dit net tot 'n geringe mate — daarin slaag om lesers voort te help in die najaging van die heerlikste van alle roepinge — om die Drie-enige God in Christus steeds beter te ken, lief te hê en te verheerlik. Dit is voorwaar die hoogste goed, die summum bonum van van die ware lewe, tot in alle ewigheid!