Onderstaande word gegee, omdat lesers moet weet met wie hulle te doen het, des te meer omdat hierdie webwerf oor sake van lewe en dood handel — ewige lewe en ewige dood.
    Daar is té veel anonieme of semi-anonieme sluipers bedrywig op die internet. En daar is té veel naïewe internetgebruikers wat sonder onderskeiding aan allerlei gifpolle vreet.
    Daarom is dit vir my 'n beginselsaak om my vlag eerlik en openlik te hys.

My oortuigings

Die doel van my skryfwerk is om Bybels-Christelike waarheid en perspektief gratis beskikbaar te stel ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder.
    Ek glo dat 'n deel van die kerk wat tot 'n mindere of meerdere mate identifiseer met die Reformasie van die sestiende eeu, grootliks koers verloor het en in sekere gevalle selfs reddende geloof versaak het — ook hier in ons land. Groot getalle lidmate en selfs predikante sit in hierdie kerke sonder om hulle ooit te verantwoord oor wat hulle regtig en ononderhandelbaar glo. Dis 'n klassieke voorbeeld van die padda-in-die-pot situasie. En weet vir seker, of jy dit agter kom of nie, die water word steeds warmer!
    Dit was nog altyd die geval, maar dis vandag nodiger as ooit om jou "geloofseendjies in 'n ry te hê"; om dus te weet wat jy werklik glo en waarom jy dit glo en hoe belangrik dit is. Ernstige en diepsinnige geloofsvrae móét eenvoudig gevra word.
    Bowenal moet jy jouself biddend en met 'n oop Bybel voor jou afvra of jy werklik, ek bedoel wérklik verenig is met Christus! Jy durf jouself nie bloot verlaat op die soetsappige en mensgesentreerde susprediking van só baie kansels nie.
    In die verband rus 'n skrikwekkende verantwoordelikheid op elke ouderling en leraar.
    Presies wat ek probeer sê, sê die regsinnig-gereformeerde en skitterende teoloog, John Murray (1898-1975) op die man af (my vertaling): "Die Skrif leer ons dat dit moontlik is om 'n opwindende, lewensveranderende, veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê — sonder om wérklik saligmakende geloof te hê. Dit is moontlik om so naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring — sonder om 'n deelgenoot van Christus en 'n erfgenaam van die ewige lewe te wees. 'n Leerstuk van geloofsvolharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig 'n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Trouens, dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie." (Redemption — accomplished and applied; p.153).

Persoonlik

Ek is in Middelburg Kaap gebore, maar word van agtjarige ouderdom af wonderlik gelukkig groot in die Noordoos-Kaapse dorp, Aliwal-Noord. Daar matrikuleer ek aan die plaaslike hoërskool. Na militêre diens studeer ek aan die Universiteit van Stellenbosch waar ek as Siviele Ingenieur kwalifiseer. Daarna is ek betrokke by etlike groot waterprojekte (onder meer die Bolandprojek, die Oranjerivierprojek en die Kuneneprojek).
    Op agt-en-twintig kom ek tot lewensveranderende en Christusgesentreerde bekering en niks was ooit weer dieselfde nie. Mettertyd voltooi ek my teologiese studie aan die PU vir CHO. Tydens my studies was ek ook vir vier-en-'n-half jaar dosent in ingenieurswese aan die universiteit.
    Sedert 1983 is ek voltyds besig met pastorale en lerende evangeliebediening — dus met gemeentewerk. Na jare in die Vaaldriehoek was ek vir tien jaar predikant van die Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente in Pretoria.
    Ook was ek vir meer as 'n dekade 'n dosent by die Lynnwoodrif Bybelskool in Pretoria.
    Ek is getroud met Soniah du Toit, 'n universiteitsliefde, wat op 'n besproeiingsplaas naby Hartswater in die Noord-Kaap groot geword het. Ons het vier volwasse dogters, twee wonderlike skoonseuns, en sewe kleinkinders ('n dogter, haar man en gesin bly permanent in die VSA).
    Tans woon ek en Soniah in Randburg.
    Ek bring elke week baie ure agter my rekenaar deur in 'n poging om dekades se preke, seminare, bybelskoollesings en ander skryfwerk ordentlik en netjies op skrif te kry met die oog op publikasie (hierdie webwerf is deel daarvan). Dis 'n enorme taak.
    Ek het geen akademiese aspirasies as sodanig nie. My roeping is om Bybelwaarheid — as 'n reël dalk ietwat meer gespierd as wat in meeste kerke gepreek word — op 'n bevatlike wyse vir dinkende Christene deur te gee (eintlik behoort daar nie so iets soos 'n nie-dinkende Christen te wees nie — daar is eenvoudig té veel op die spel!).
    Aan aftree dink ek nie. Ek het destyds enkelhartig aangetree, en ek hoop ek sal eendag al werkende optree.

Wonderlike genade, maar nie 'n sondagskoolpiekniek nie

Bogemelde is nie ál wat waar is van my lewe nie. Dis ook nie die belangrikste nie.
    So deel van my soos my skaduwee is God se genade in Christus wat ek al vir baie jare beleef — vanaf die eerste dag van my redding (natuurlik ook al voor die tyd).
    My geloofspad tot hier was en is steeds nie 'n vrolike trippelgang deur plate lenteblommetjies nie. Ja, my navolging van die Here Jesus — uiteraard loop ek en Soniah tree vir tree saam — was en is 'n heerlike voorreg. Maar soos met alle avonture is daar nie net opwinding nie; daar is ook, presies soos Jesus gesê het, 'n kruis om te dra.
    My pad is bergpad!
    Daar is die ekstase van asemrowende uitsigte, weer en weer. En daar is afdraendes (pynlik moes ek leer, méér gevaarlik as die opdraendes). Maar dikwels is die nóú paadjie maar erg steil. Mens is immers op pad na die kruin toe.
    Opdraendes? Meedoënloos is my worstelinge met sonde. Laat ander maar oor hulleself praat, maar ék moet op drie fronte baklei: die suigkragte van 'n gevalle wêreld, die vurige pyle van die duiwel, en ergste van alles die afgronde van my vlees. Oorblywende sonde is vir my nie bloot 'n akademiese konsep nie. Waarlik, ek verstaan Luther se gesegde aan eie lyf: simul iustus et peccator (terselfdertyd regverdig en sondaar).
    Die pad boontoe — onderweg na gelykvormigheid aan die beeld van Christus — vra sy pond vleis!
    Kortom, die gebrokenheid van my dissipelskap hier en nou laat my male sonder tal kreun voor my hemelse Vader, die driemaal heilige. Ek verloor té veel rondtes, máár as die laaste ghong lui, gaan my hand vir seker gelig word!
    Verreweg die mees belangrike en fundamentele van my bestaan is dat ek 47 jaar gelede (as ek hier skryf) in Jesus Christus ingevlug het en steeds vir lewe en dood in Hom bly skuil. God se evangeliebeloftes in Hom as Groot Profeet het ek vir myself toegeëien; ek het myself aan Hom as Groot Hoëpriester toevertrou; ek het myself ongekwalifiseerd aan Hom as Groot Koning toegewy. Al beleef ek dus nog té veel stamelings, strompelings en struikelings, is en bly ek op die vóórvoet.
    Dit weet ek sonder 'n sweem van twyfel: die godsvrug wat daar ook al in my lewe mag wees, is te danke aan die feit dat God in my werk om te wil sowel as om te werk na Sy
welbehae (Fil 2:12-13).
    Die wenlint wag!

PDF Weergawe