PDF WEERGAWE

As ek hier skryf, is ek en my vrou, Soniah, aangegryp, hartseer — én verontwaardig.

            Kom ek vertel kortliks.

Bongi — 'n baie ordentlike vrou, saam met haar man — het een dag per week vir ons kom help in die huis. Met die uitbreek van Covid19 en spesifiek die grendelstaat, het Soniah haar aanbeveel om liewers tuis te bly totdat alles verby is.

            Ons het egter steeds op 'n manier kontak behou. Wat dit verder gerieflik gemaak het, is dat Johanna, 'n dierbare ou vrou, by ons bure werk. Sy is Roy en Bongi se buurvrou, asook goeie vriendin. Saam met haar kon ons dus vir die Mlalazi's aanstuur soos ons kon en dit nodig was.

            Bongi was egter skaars tuis toe word sy siek — nie Covid nie, maar nierversaking. Dit het meegebring dat sy vir 'n geruime tyd gehospitaliseer is. Sederdien was sy 'n sieklike vrou, wat onder meer die noodsaak van nierdialises ensovoorts meegebring het.

            Gistermiddag verneem ons toe dat Bongi pas oorlede is.

            Wat gebeur het is dít: Sy is 'n paar dae gelede weer na 'n groot hospitaal toe hier in die stad (kom ek verswyg maar die naam) en het tussen die horde mense gaan sit en wag op haar beurt om gehelp te word. 'n Nierdialise was dringend nodig.

            Toe sy na drie dae nog nie tuis was nie, het Roy haar gaan soek. Daar kry hy haar toe, steeds in haar stoel — dood!

            Nadat sy gesterf het, is daar oënskynlik nie eers die moeite gedoen om haar liggaam te verwyder nie. Of het die hospitaalmense dalk nie daarvan geweet nie?

            Toe haar ontstelde man vir die ander wagtendes vra wat gebeur het, vertel hulle hom dat die personeel sy vrou elke keer weggewys het, met die verskoning dat sy 'n uitlander is en dat ons eie mense voorkeur moet geniet. Roy en Bongi het heel wettig 27 jaar gelede vanuit Zimbabwe as ordentlike en wetsgehoorsame mense in ons land kom bly. Roy is 'n vragmotorbestuurder wat, dink ek, te wyte aan plaaslike drywers se proteste teen "uitlanders", sy werk verloor het.

            Roy ry vandag om haar in Zim te gaan begrawe. Totdat hy terugkeer sal Johanna hulle twee dogters oppas.

Eintlik wil mens net stil wees, maar kom ek sê waaraan ek dadelik herinner is.

            Ons leef in 'n gevalle wêreld. Die effekte van die sondeval is soos 'n universele pandemie wat geen mens vryspring nie. Dis orals om ons te sien; die koerante en televisie is deurspek daarvan. Maar elkeen ken dit ook aan eie lyf. En dit woed dwarsdeur die eeue. Niemand kan dit misken nie. Dit toring onmiskenbaar soos 'n paal bo die water uit.

            Die heel ergste gevolg van die sondeval (wat hierdie lewe betref) is dat mense aanmekaar doodgaan. Derduisende elke dag. Dwarsoor die wêreld. En niemand, maar niemand spring dit vry nie. Een of ander tyd haal hierdie gifangel jou in. Daar is geen wegkomkans nie.

            Werk jy in 'n hospitaal, waar die dood heeltyd teenwoordig is, móét jy eenvoudig leer om daarmee saam te leef. Diegene wat deel het aan God se besondere genade (slegs hulle wat gered word) doen dit uiteraard anders, baie anders, as hulle wat nét deel het aan Sy algemene genade (waaraan álle mense tot 'n mindere of meerdere mate deel het).

            Maar die graad van algemene genade wissel van persoon tot persoon, van tyd tot tyd, van kultuur tot kultuur, van geslag tot geslag. Mens sien dit oor en oor deur die geskiedenis en dwarsoor die aarde.

            Kom ek gebruik 'n illustrasie:

            Dis soos 'n swaar klip waarom jy 'n tou vasknoop, en dan oor die kant van 'n skip laat hang. Hoe diep sink hy? Dit hang af hoeveel tou jy hom gee. Trek jy die tou effens op, hang die klip vlakker. Laat skiet jy die tou, hang hy dieper. En los jy die tou, sak hy tot onder op die bodem. Nooit, maar nooit begin hy dryf nie. Hy wil altyd dieper; altyd beur hy onder toe.

            Dis hoe die mens se sondeverdorwenheid werk. Dis net die "tou" van God se algemene genade wat die morele vlak van van mense bepaal — die gedrag en waardes — en wat die mens daarvan weerhou om tot onder in die modderslyk van die duiwels te sink.

            Morele verval is oor die afgelope jare 'n wêreldwye verskynsel, veral, lyk dit my, in die weste — ironies genoeg eens die uitvoerder van etiese waardes wêreldwyd. Verbeel ek my, of toon hierdie neusduik selfs 'n afwaarts-eksponensiële tendens?

            Helaas het ook ons eie land hierdie verval nie vrygespring nie. Dalk onderskei jonger mense dit nie so duidelik nie. Maar die oueres hoef maar net aan die samelewingsnorme van hulle jeug te dink, en dit dan vergelyk met wat vandag aan die orde is.

            Die Een wat die tou beheer, werk uiteraard meestal middellik. Hy gebruik 'n groot verskeidenheid van faktore en omstandighede om te bereik wat Hy wil bewerkstellig. Maar daaraan kan ons nie nou aandag gee nie.

Terug na die betrokke hospitaal in Johannesburg.

            Gewis het ván die personeel besondere genade ontvang. Dit sal onmiskenbaar uit hulle werksgedrag blyk, hulle vriedelikheid, meegevoel en behulpsaamheid. En pasiënte sal dit waarneem, al verstaan hulle nie noodwendig wat daar agter sit nie.

            Dan sal daar personeellede wees wat nog nie besondere genade ontvang het nie, maar in wie se optrede verstommende algemene genade tot uitdrukking kom. Ook vir hulle moet ons dankbaar wees. En ons moet hulle as sodanig respekteer. Waarlik, daar is baie ongelowiges wie se klippe verstommend vlak hang. Ook sulke mense werk in hospitale.

            Helaas egter is daar ook ander mense wie se klippe baie diep hang. In Mev. Mlalazi se tragedie sien mens dit baie duidelik.

            Daar is 'n onmiskenbare wetmatigheid: Hoe minder algemene genade mense het, hoe meer is hulle selfgesentreerdheid en selfsug, en hoe minder hulle empatie en mededeelsaamheid teenoor medemense.

In Johannesburg is daar 'n hospitaal met 'n faksie personeel wie se klippe díép hang — só diep dat hulle maklik-maklik iemand wat dringende mediese aandag nodig het vir drie dae op 'n stoel laat sit totdat sy dood is!

 Vrydag, 30 April 2021

 

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

W: www.imagodei.co.za