PDF WEERGAWE

Geskryf vir 'n skakelblad van U.S. se 1970 finalejaar-ingenierstudente

Ek sou nie onderstaande geskryf het as Johan Wiggett ('n jarelange, baie gewaardeerde vriend en destydse klasmaat) nie my arm gedraai het nie. Laat ek dus maar probeer.

            My naam is Nico van der Walt. Ek het in 1970 op Stellenbosch afstudeer in Siviele Ingenieurswese. Ek was 'n stil en skaam outjie en twyfel of julle my sal onthou. Maar ek was inderdaad in die klas. Of sal ek sê, in die meeste klasse. Ek het nie daaraan geglo om lesings by te woon wat my tyd mors nie.

            Ek was nie 'n topstudent nie. Ek sou sê ek was gemiddeld. Maar ek het darem my studies in die minimumtyd voltooi. Ek weet nie of ek veel beter sou gevaar het as ek in al die klasse was, of harder gewerk het nie (jy verstaan seker as ek praat van grysstof-beperkinge). Nie dat ek dit ooit oorweeg het nie. My uitgangspunt was: "Fifty percent pass; fifty-one score."

            Mens moet 'n gebalanseerde studentelewe hê, het ek geglo. Ek was nooit dronk nie, maar die matiemeisies was mooi, o, so mooi (ek móét darem hier byvoeg, my ma het my van jongs af geleer om my soos 'n jintelman te gedra met 'n meisiekind. Ja, ja, ek weet dis relatief en 'n kwessie van definisie — maar kom ons laat dit daar). En daar het seker liters van my sweet op Coetzenburg en die bergpad gedrup. Ek het geduik — vanaf Valsbaai tot die Wildekus (waar ek so hittete verdrink het). Toe het ek maar begin roei. Ek dink nog met heimweë terug aan die Berg en die Breede en die Oranje.

            Direk na my finale eksamen is ek getroud met 'n "mooie meisje" van Sonop. En toe begin my langverwagte ingenieursloopbaan. Die eerste jaar was egter 'n ontnugtering. Alleen in 'n ontwerpkantoor, heeldag, was nag. Maar gelukkig het alles totaal ten goede verander toe ek vir die volgende paar jaar op konstruksieterreine beland het: die Bolandprojek, die Oranjerivierprojek, die Ruacanaprojek, die Pongolaprojek. My kop het perfek in 'n hardehoed gepas!

            My ingenieursloopbaan het helaas nooit die hoogtes bereik wat ek voorsien het nie. Want reeds tussen die Bolandse Berge, waar ons 'n groot dam gebou het, het iets met my begin gebeur wat ek nooit, maar nooit verwag het nie. En nou moet díé van julle wat nie sal verstaan waarvan ek gaan praat nie, my maar verdra.

            Ten spyte van my relatiewe vroomheid, my baie gereelde kerkgang en diakenskap in meer as een gemeente, het hierdie "dopper-verbondskind" onder sondebesef begin kom. Dit het erger en erger geraak. En algaande het ek begin om ook bewus te raak van 'n uiters onwelkome roeping — om voltyds vir die Here te werk. Lang storie! Na agtien maande van weerstand en wroeging en selfs soms woede, moes ek uiteindelik kapituleer! En my lewe het oornag soos 'n handomkeer verander. Radikaal. Soos die Bybel sê, "ou dinge het verbygegaan, alles het nuut geword"! Nóg 'n lang storie!

            Dit het daartoe gelei dat ek twee jaar later begin het met 'n jarelange tale- en teologiese studie op Potch. Dit het goed gegaan, maar die klassieke tale het my teen die mure uitgedryf. Vir 'n ingenieur wat vanuit eerste beginsels dink, was memorisering 'n verskrikking.

            Met 'n vrou en twee kinders (spoedig vier) moes ons maar die Here vertrou vir sy materiële voorsiening, wat Hy inderdaad op die mees merkwaardige maniere en absoluut getrou gedoen het. Hieroor kan ek ure lank gesels, steeds in verwondering.

            Ek het darem ook so tussendeur hier en daar ietsie probeer verdien — 'n demmiepos hier en een daar. Ek was selfs op 'n stadium, twee middae per week, 'n glasblaser by Chemiese Ingenieurswese. Ek onthou nog, dit het my die fabelagtige inkomste van R200 per maand besorg.

            En toe ek alreeds op teologiese skool was, het ek 'n aanstelling by ingenieurswese gekry om klas te gee. Alles darem net voorgraads. Ek is omtrent oor die volle spektrum van ingenieurswese aangewend — waar daar ook al behoefte was. Sterkteleer, stromingsleer, hidrologie, opmeetkunde, konstruksie en beplanning en nog 'n paar ander. Ek moes vyftien, sestien uur per dag werk (onthou, ek was steeds besig met teologie ook — helaas minder getrou wat klasbywoning betref. Ek is immers vir ingenieurswese betaal; nie vir teologiese studie nie).

            Vir die eerste keer het ek die akademiese, teoretiese kant van ingenieurswese regtig leer ken en liefkry. Meermale was ek skaam oor die gebrekkige kennis waarmee ek die grade B.Sc; B.Ing verwerf het.  Vir 'n halfdekade was ek uiteindelik 'n werklik baie gelukkige ingenieursdosent.

            Maar toe moes ek ingenieurswese met weemoed groet.

            Daarna was ek vir 'n paar dekades gereformeerde baptistepredikant, hoofsaaklik hier in Gauteng, en meermale besig met gemeenteplanting. Nou afgetree, preek ek wel nog dikwels op uitnodiging. Egter is ek hoofsaaklik besig met skryfwerk. Ek het 'n webwerf, asook 'n groot adreslys waarheen ek gereeld Bybellering wêreldwyd uitstuur.

            Ek en Soniah is amper vyftig jaar getroud. Gelukkig. Ék dink so, hoewel sy nie aldag so seker is daarvan nie. Ons vier dogters is volwasse. Twee kon mans kry; die ander twee lyk na my (my dierbare vrou voel sterk ek moet eintlik sê, ten spyte daarvan). Ons het sewe kleinkinders (twee in die VSA) — appeltjies van ons oë.

            Fluit, fluit, my storie is uit.

Nico van der Walt