PDF Weergawe

 

Tot en met die begin van die twintigste eeu is algemeen in wetenskaplike en filosofiese ongeloofskringe geglo dat die kosmos van alle ewigheid af bestaan — dat dit met ander woorde sonder 'n begin was. As sodanig, so is gehuldig, is die natuur verantwoordelik vir alles wat lewe. Het Darwin, is geargumenteer, nie bewys dat dit selfs vir die mens geld nie! Die natuur is dus vergoddelik. Ons noem díé filosofie panteïsme.

           Iets meer as 'n eeu gelede het Einstein se relatiwiteitsteorie — wat vandag in wetenskaplike gemoedere so vas soos die berge staan — hom egter in 'n rigting gedwing waarvan hy glad nie gehou het nie. Dit het sy ateïsme 'n doodskoot toegedien. Want sy baie gevorderde berekenings het onmiskenbaar bewys dat die kosmos níé ewig is nie. Praat van 'n knuppel in die hoenderhok van destyds se wetenskapwêreld! Waarom? Die groot geleerde het bewys dat die heelal — materie, tyd en ruimte — 'n begin gehad het. Die implikasie daarvan was en is steeds onontkombaar: dan moes 'n nóg groter Oorsaak, 'n almagtige Outeur daarvoor verantwoordelik gewees het. Die kosmos het 'n Skepper!

           Dit lei dan die briljante geleerde tot 'n kostelike poging om sy ateïsme te red. Ons praat van Einstein se "fudge factor". Of hy ooit by nabaat daaroor kon grinnik, weet ek nie. Hy het immers later daarna verwys as "the greatest blunder of my life".

      Die geniale wetenskaplike het op 'n plan besluit om van bogenoemde klip in sy skoen ontslae te raak. Hy het 'n kosmologiese konstante in sy berekenings ingewerk wat kwansuis sou bewys dat die heelal staties en ewig is en nie 'n begin gehad het nie. Mens kan dit beswaarlik glo, maar die groot wetenskaplike het iets gedoen wat selfs skoolkinders weet nooit mag gebeur nie — hy het deur nul gedeel!

      Nou kon die geleerde weer rustig in sy ongeloof slaap. Maar nie vir lank nie. Want in 1919 doen Arthur Eddington 'n eksperiment tydens 'n sonsverduistering wat bewys dat Einstein se aanvánklike berekenings korrek was — ook vir die ongelowige Eddington 'n onwelkome bevinding.

      Einstein se "fudge factor" (soos dit spoedig tong-in-die-kies bekend geraak het) is drie jaar later deur die Russiese wiskundige, Alexander Friedman, finaal aan die kaak gestel.

      Intussen het die Hollander, Willem de Sitter, bo alle twyfel bewys dat die heelal uitwaarts dy — sodanig dat dit op 'n ontstaansmoment vanuit 'n enkele punt dui. En in 1927 het Edwin Hubble dit sterrekundig waargeneem.

Miskien is daar 'n leser wat nog nie mooi verstaan waarom iets wat nie ewig is nie, noodwendig 'n skepper vereis. Kom ons dink só daaroor:

      Vir iets of iemand om homself te skep, is dit nodig dat hy bestaan vóórdat hy bestaan. Hy, of dit, moet wees voordat hy is. Hy moet dus terselfdertyd wees en nie wees nie. Enigeen kan sien dat so 'n argument irrasioneel, onsinnig, absurd is.

      Nee, om te ontstaan vereis 'n outeur. Die heelal vereis 'n Skepper. Omdat die heelal 'n feit is, is God die skepper ook 'n feit.

      Dit feit dat iets bestaan, beteken dat dit geskep is, en dit beteken 'n ongeskape skepper!

Dit lei noodwendig tot 'n volgende vraag: Wat dan van God, is Hy ook geskep? Nee, Hy is die eerste, ewig-bestaande, ongeskape Outeur van alles buite Homself. Dis nie net 'n geloofsaanname nie, dis 'n logies-onomstootlike feit dat daar sonder 'n ewig ongeskape eerste oorsprong niks sou bestaan het nie — geen syn nie, niks nie, absoluut niks nie.

      Hier kom geloof nou wel in die prentjie. Christene glo dat hierdie eerste Oorsprong niemand anders is nie as die God van die Bybel (Gen 1:1). Of nog meer akkuraat gestel, hierdie selfopenbaring van die Skeppergod het tot hoogste openbaring gekom in die menswording van God die Seun, die Here Jesus Christus. Hy is die kroon, die piek, die kulminering en vervolmaking van God se selfopenbaring aan die mens.

      Samehangend met bogenoemde is daar nog 'n waarheid. As ons die woord "bestaan" as per definisie tydsgebonde verstaan, bestáán God nie. Die heelal bestaan. Dinge bestaan. Mense bestaan. Die geskapene bestaan. Maar God ís! Dis díé verbysterende waarheid wat Jahweh by ons wil tuisbring as Hy Homself in Eksodus 3 aan Moses openbaar as "Ek is wat Ek is"!

Net ten slotte. Einstein, aanvanklik 'n ateïstiese Jood, het as gevolg van bostaande, sover ons weet, helaas nooit tot 'n Christelike bekering gekom nie. Hy het egter sy ateïsme die rug gekeer en agnosties geraak. Maar daar is talle wetenskaplikes wat wel langs hierdie weg tot geloof gekom het.