PDF WEERGAWE

Vader, my innige gebedsgemeenskap met U

            is op grond van my verdienste!

Ek verskyn voor U in vrymoedigheid,

            omdat ek sondeloos en volkome gehoorsaam is;

Vader, kyk na U boeke, as ek só voor op die wa mag wees.

            Dan sal U sien dat wat ek sê die wáárheid is.

                        Sien U? Daar is 'n fabelagtige batige saldo op my rekening!

Ek dank U

            vir die volmaakte getrouheid van "die Laaste Adam"

                        aan sy werkverbond

                                    — dat Hy in elke opsig gehoorsaam was daaraan.

Uit my hart dank ek U weer en weer,

            sonder om moeg te raak daarvoor:

                        vir sy passiewe gehoorsaamheid,

                                    en vir sy aktiewe gehoorsaamheid.

Dankie vir eersgenoemde, wat my geregtigheidsaldo in U rekeningeboek

            van 'n noodlottige oortrekking na nul toe gelig het.

Dankie vir laasgenoemde,

            wat my status in U boeke vanaf nul na skatryk gelig het.

Ek prys U Naam

            dat ek nie net vrygespreek is nie,

                        maar dat ek ook geregverdig is

My hart is vervul met verwondering:

            Tot in ewigheid sal ek nie weer verarm nie.

My geregtigheidsfortuin by U is onvervreembaar en vir ewig agter slot en grendel.

Weer en weer sal ek met die grootste vrymoedigheid voor U kan verskyn,

            want tussen ons is daar nou 'n genadeverbond!

Maar, ag, as ek maar kan klaar kry met die oorblywende sonde!

As ek maar my suigelingskap kan ontgroei en mondig word.

Ek begeer om U nie so dikwels te onteer nie.

Die aanklagte en verleidinge van die duiwel,

            en die verlokkinge van die wêreld,

                        en, ergste van alles, die verlustiginge van die vlees

                                    hou my so besig

                                                en bedroef U Gees male sonder tal.

My bergpad is smal

            en dikwels uitmergelend steil

                        en die afgronde is angswekkend diep

                                    en, gevaarlikste van alles, is die afdraendes.

Maar op die lang duur kronkel my bergpad opwaarts, opwaarts.

En in genade-oomlikke, as die wolke wegtrek, sien ek die piek met geloofsoë.

Daar by die podium wag Ú vir my

            en in U hand (sien ek reg? Ek is seker daarvan!)

                        is die goue trofee met daarop gegrafeer:

"VIR EWIG GELYKVORMIG AAN DIE BEELD VAN CHRISTUS!"

 

Nico van der Walt