'n Dierbare suster in die geloof is 'n Zimbabwiër wat in Suid-Afrika werk. Sy vertel gister hierdie storie:
Sy kom uit 'n armoedige en baie eenvoudige agtergrond. Sy en haar suster is Christene. Haar pa — 'n bejaarde man — het egter volhardend bly vashou aan sy heidendom, ten spyte van sy dogters se getuienis en pleitdooie.
Etenstye het hy dan soos klokslag voordat hy begin eet 'n bietjie kos langs hom op die vloer laat val — vir die voorvadergeeste.
Die oom word toe so 'n twee jaar gelede ernstig siek, doktersbehandeling ten spyt. Vir dae kon hy nie meer eet nie en raak al hoe swakker. Een nag, toe hy dink sy einde het gekom, kniel hy langs sy bed en bid min of meer soiets: "Allerhoogste, God van my dogters, as U my kan hoor, wees my genadig. En as U dit kán doen, maak my asseblief gesond."
Die volgende oggend toe hy wakker word, het hy pap gevra, opgestaan, aangetrek — en sederdien is hy gesond. Van die geloof verstaan hy maar min (ek vermoed hy kan ook nie lees nie). Maar sy lewe is nie meer dieselfde nie.
Só begin hy nou sy maaltye. Voor sy eerste happie trek hy met sy voorvinger, sonder 'n woord, 'n kruis in sy pap. Eers dan eet hy.
Wat myself betref, sou ek eerder eendag voor die Regterstoel in hierdie ou oompie se skoene staan, as in díé van party teoloë en predikante van ons dag.
Nico van der Walt