'n Paragraaf van die teoloog, John Murray, in sy klassieke boek, Redemption — Accomplished and Applied (p.153):
"Die Skrif leer ons dat dit moontlik is om 'n opwindende, lewensveranderende en veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê — sónder om werklik saligmakende geloof te hê. Dit is moontlik om so naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring — sonder om 'n deelgenoot van Christus en 'n erfgenaam van die ewige lewe te wees. 'n Leerstuk van geloofsvolharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig 'n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Trouens, dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie" (my vertaling).
Murray was 'n Skot wat vir dekades professor was aan die Westminster Seminary in die VSA. Hy was 'n hoogs gerespekteerde teoloog, deur en deur regsinnig en godgesentreerd, en skrywer van onder meer 'n baie bekende en standaard Romeine-kommentaar.
Oor die aangehaalde paragraaf moet ek en jy gewis ernstig en eerlik besin.
Maar laat ek dadelik waarsku. Die antwoord lê nie in nóg harder probeer nie. Nie in
nog méér goeie werke nie. Nie in vromer godsdienstigheid nie.
Dit lê in algehele geloofsvertroue en afhanklikheid wat lewenslank vir lewe en dood,
vir tyd en ewigheid, in Jesus Christus as groot Profeet, Priester en Koning skuil. Dít, presies dit, is reddende geloof. En as dit enigsins ég is, sal goeie werke sonder twyfel daaruit voortvloei. Dus — en dit maak ál die verskil — nie werke wat tot redding lei nie, maar redding wat tot werke lei.
NvdW