Ja, daar is uitsonderings. Vir seker. Maar min is die moderne liedere wat kan kers vashou by die ou Hymns, wil ek sê.

Ek praat van MUSIKALITEIT, asook van singbaarheid vir 'n gemeente – die héle gemeente. Ek praat dus nie van 'n begaafde (en soms afsjouerige) groep sangers en musikante wat 2 of 3 uur lank deur die week geoefen het om die musikale kinkels en spronge van swak komponiste onder die knie te kry nie – sodat hulle Sondae die gemeente – elektronies oorverdowend versterk – kan oordonder. Is dit nie "merkwaardig" nie dat selfs gemeentes wat jy op jou vingers en tone kan tel, ten duurste belê in klankversterkers en luidsprekers so groot soos yskaste (Is dit die Ingelse wat praat van "keeping up with the Jones's"?).

Male sonder tal kan ek myself beswaarlik hoor sing. En kyk ek óm my, staan die helfte van die mense liewers maar met tóé monde – dit help tog nie om te probeer nie. En dis in elk geval mos 'n show, is dit nie.

Die kwessie van INHOUD is selfs nóg belangriker. Daardie ou hymn-digters het hulle Bybels en hulle teologie geken – en hulle God! Laat ek maar nie méér sê nie.

En dit gaan sekerlik ook oor poëtiese gehalte. Van die Hymnskrywers word beskou as sekerlik onder die grootste digters in die Engelse taal (om maar by die rooitaal te bly). Dink aan Watts en Charles Wesley, om net twee van hulle te noem.

Lank lewe Acapella-sang – met 'n enkele (en beskeie) voorsanger wat help – en kán! En as dit dan regtig nodig is vir 'n klavier of kitaar om onder meer die regte sleutel te verseker, goed en wel. Maar onthou, ons praat van GEMEENTESANG; van gesamentlike aanbidding. En dis belangrik, belangrik, belangrik!

Dankie dat julle my verduur het. Maar die klip in my skoen moes nou eens en vir altyd uit.