Te veel mense dink aan redding as 'n eenmalige gebeurtenis ("ek het Jesus aangeneem en nou is ek gered vir tyd en ewigheid"). Maar dis nie hoe die Bybel oor redding praat nie. Verlossing in Christus is 'n proses - 'n geïntegreerde eenheidsproses. Dit begin in die ewigheid voor die grondlegging van die aarde met 'n persoon se uitverkiesing. En dit kom tot 'n afrondende klimaks met die opstanding uit die dood en die gepaardgaande heerlikmaking.
Betekenisvol is dan ook die drie werkwoordstye wat gebruik word vir redding.
Jy ís gered.
Jy wórd gered.
Jy sál gered word.
# Verlede tyd: Gered van die oordeel van sonde (regverdiging of regverdigmaking).
Efesiërs 2:8 (OAV): "Want uit genade is julle gered ..." (Eng. "have been saved ...").
2Timoteus 1:9 (NAV): "Hy het ons gered en geroep ...".
Titus 3:5: "... het Hy ons gered ...".
Die grond van hierdie redding lê in God se genade (Ef 2:8), in God se voorneme en besluit (2Tim 1:9), en in God se barmhartigheid en ontferming (Tit 3:5).
# Teenwoordige tyd: Gered van die krag van sonde (heiligmaking).
1Kor 1:18 (NAV): "Die boodskap van die kruis van Christus is ... vir ons wat gered word ... die krag van God."
2Kor 2:15 (OAV): "... die wat gered word ...".
Vir 'n ware Christen gaan die proses van redding dus daagliks voort - ervaarbaar en waarneembaar.
# Toekomstige tyd; Gered van die teenwoordigheid van sonde (heerlikmaking).
Rom 5:9-10: "Veel meer dan sal ons ... deur Hom gered word ... sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is." (OAV).
Rom 13:11: "... ons verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het." (DAV).
Heb 9:28: "so sal Christus ... 'n tweede maal verskyn ... om hulle te verlos" (DAV).
Die afronding, die klimaks, die vervolmaking kom nog.
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
W: www.imagodei.co.za