PDF WEERGAWE

Dit word vertel dat die befaamde 19de eeuse teoloog, Biskop Westcott, teologiese professor in Cambridge, op 'n keer deur 'n voorbarige student voorgekeer is met dié vraag: "Professor, is u gered?"

            "Goeie vraag", het Westcott geantwoord, "maar dit hang af wat jy bedoel?" Toe slaan die geleerde oor in Grieks en hy gebruik drie vorms van die werkwoord "om te red": ek is gered, ek word gered, ek sal gered word.

            Onnodig om te sê, die student is druipstert daar weg.

Redding word op drie maniere in die Skrif aan ons voorgehou:

Ware gelowiges is gered (Rom 8:24; Luk 7:50; Ef 2:5, 8).

Hulle word gered (1Kor 1:18; 2Kor 2:15).

Hulle sal gered word (Rom 5:9-10; 13:11; 1Pet 1:5).

Goed en wel, ongeag Westcott se diepsinnige antwoord (en sy manier om ontslae te raak van 'n lastige student — en dalk om die antwoord te ontduik) bly dit tóg 'n lewensbelangrike vraag, nie waar nie.

R.C. Sproul is ook eens die vraag gevra. Hy reageer toe met 'n teenvraag: "Ván wat?" Hy het iets verstaan wat min mense verstaan.

Wáárvan moet 'n sondaar ten diepste gered word?

Van God se toorn!

 

Nico van der Walt