Nico van der Walt
PSALM 19:2
Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. (NAV)
Inleiding
# Oor baie geslagte heen in ons westerse wêreld is teologie as die "koningin van die wetenskappe" beskou. Dit was díé bron van gesag en die maatstok waarmee min of meer alles gemeet is. Die Bybel was nie net in die wakis nie, dit is gelees en was die fondament van geloof en die hart van lewensoortuiging en -gerigtheid van baie.
Maar in die moderne era het die natuurwetenskappe sewe-myl-treë vooruit gegee. Geleidelik het dit oorgeneem as die sentrale riglyn vir meeste mense se lewens- en wêreldbeskouing. Beheersend oor amper die volle spektrum van filosofie en skeppingsleer is die leer van Darwinistiese evolusionisme. En in die gesekulariseerde wêreld van ons dag gee dit steeds die toon aan.
Dit alles het meegebring dat daar tragiese verwarring onder selfs Christene ontwikkel het oor die betroubaarheid van die Woord van God. Want, so word gedink, reeds deur die heel eerste twee van die Bybel se 1189 hoofstukke trek die alwetende en almagtige wetenskap van ons dag 'n minagtende en grynslaggende swart streep: die Bybel is 'n fabel! Ons kry die boodskap in die media, in die skole, in die universiteite — noem maar op.
# Hoe hanteer ware Christene dit? Hoe maak hulle hul kinders groot? Wat sê hulle vir jongmense wat na hulle eerste universiteitsjaar nie meer wil saamgaan kerk toe nie? Wat maak hulle van Jan Publiek se skeptiese oë en meewarige glimlaggies as hulle probeer evangeliseer?
Uiteraard moes ek ook maar met hierdie vrae worstel. En in wat volg deel ek met beskeidenheid my oortuigings oor hoe ek die verhouding tussen die Boek van die Skriftuur en die Boek van die Natuur verstaan en versoen. Party geleerdes — selfs dalk Christene — sal my aanslag en argumente soms as naïef en oningelig afmaak. En baie konserwatiewe Bybelgelowiges sal my as Bybelkrities afmaak. Maar dít weet ek, ek hoef nóg in die kring van Christengelowiges, nóg midde-in die mees bitsig-ongelowige wêreld, my hoed oor my oë te trek.
# Laat ek sommer dadelik met die deur in die huis val. Vir baie jare reeds is ek oortuig van 'n ou skepping — met ander woorde veel, veel ouer as 6000 jaar.
Ek het steeds kompromieloos geglo dat die eerste twee hoofstukke van die Bybel God se geïnspireerde Woord is. Ek het eweneens geglo dat die Bybel en die natuurwetenskappe heeltemal versoenbaar is — móét wees! Maar in 'n baie vol en bedrywige lewe het 'n in-diepte eksegetiese bestudering van Gen 1-2 net nooit vóór genoeg in my prioriteitstou gestaan nie. My omstandighede het egter verander. Meer tyd vir so 'n fassinerende studie het mettertyd gekom.
My eksegese van Gen 1-2 kan onder die Langer Studies gevind word. In daardie studie het ek 'n doelbewuste benadering gevolg. Ek het redelik in diepte na Gen 1-2 gekyk — en daarna alléén. Ek het gepoog om sover moontlik my glad nie deur natuurwetenskaplike perspektiewe te laat beïnvloed nie.
My vraag was dus gewoon: Wat sê God se Woord?
# Maar in híérdie artikel probeer ek net om bloot 'n klompie basiese oortuigings, uitgangspunte en bepeinsinge — selfs mymeringe — oor die hele saak onder woorde te probeer bring. Wat is die verhouding tussen skriftuur en die natuur?
'n Paar aanhalings, 'n belydenis, 'n verduideliking en 'n getuienis
'n Eerste aanhaling
Die groot Nederlandse geleerde en staatsman, Abrahan Kuyper (1837-1920), het gesê (ek kwoteer dit asof my eie woorde): "Al die skrywers van die Bybel is beweeg en gestuur deur die Heilige Gees sodat elke bladsy van God se Woord só onveranderlik en foutloos neergeskryf is dat dit so goed soos 'n direkte skepping van God is. ... Die Skrif is God se Woord, sowel in sy geheel as in sy dele. Dit is woordeliks geïnspireer, nie meganies deur 'n influistering in 'n mense-oor nie, maar organies — deur die woorde te laat ontspring vanuit die betrokke skrywer se eie bewussyn en deur gebruik te maak van daardie woorde wat voorhande was in die skrywer se denke en gees." (Uit 'n toespraak van Kuyper: "De hedendaagsche Schriftcritiek in hare bedenkelijke strekking voor de Gemeente des levenden" — Litterarische Fantasieen and Kritieken XV, 167).
'n Belydenis
As ek na die natuur kyk, des te meer in die lig van die nuutste natuurwetenskaplike ontdekkings, sien ek tot só 'n oorbluffende mate die vingerafdrukke van 'n ewige, onveroorsaakte Oorsaak en almagtige Skeppergod, dat, as dit sou blyk dat die Drie-enige wat Hom in Jesus Christus aan ons geopenbaar het, níé die ware Outeur is nie (ondenkbaar!), sal ek van voor af na 'n ánder Skepper begin soek. Want dis oorweldigend en onontkombaar seker dat Hy ís!
'n Verduideliking
Ek het geen ambisie om oor hierdie dinge nuwe dinge te sê nie. Ek het geen ambisie om 'n geleerde studiestuk, 'n akademiese verhandeling te skryf nie. Ek wil bloot verstaan hoe die skriftuur en die natuur met mekaar rym. Ek wil vrede in my gemoed kry. En ek wil in staat wees om vrymoedig met sowel gewone Christengelowiges (en baie geleerde teoloë), asook met natuurwetenskaplikes (gelowig én ongelowig) te kan gesels.
Per slot van rekening deel ek die oortuiging van Elizabeth Barrett Browning: "Earth is crammed with heaven, and every common bush afire with God".
'n Tweede aanhaling
"Op hierdie terrein (die van die natuur) moet nie te haastig iets in stryd met die Skrif geag word nie, en moet 'n mens nie saampraat, voordat jy nie ernstige studie gemaak het nie — anders kan jy jouself deur jou onkunde belaglik maak in die oë van die ongelowige wetenskap." (Aurelius Augustinus, 354-430 nC: De genesi ad litteram).
As dit 1500 jaar gelede woorde van groot wysheid was, is dit vandag 'n honderd maal meer die geval.
'n Derde aanhaling
Vir seker sal party van my Bybelgelowige broers en susters wat lees wat ek vorentoe skryf (ook in my studies oor Gen 1-2), bekommerd raak oor my geloofsregsinnigheid. Daarom haal ek 'n paar sinne aan uit Charles Hodge (1797-1878) se drie-volume Systematic Theology (gepubliseer in 1872/73). Hodge was een van die heel grootste teoloë in die geskiedenis van die kerk. Hy was 'n onkreukbaar-regsinnige Bybelgelowige en was reeds 'n eeue-en-'n-half gelede vas oortuig dat wetenskap en Bybel, reg verstaan, nie in disharmonie is nie. Vanselfsprekend was hy gekonfronteer deur Charles Darwin se On the Origen of Species (1859) en het baie duidelik daarmee geworstel. Dit het hy, anders as sovele ander, met groot intellektuele en akademiese integriteit gedoen. So het hy, in 'n tyd toe amper deur die bank geglo is dat die aarde net 'n paar duisend jaar oud is, nooit paniekerig of selfs venynig gereageer toe geoloë, byvoorbeeld, begin verkondig het dat die aarde baie, baie ouer is nie. So skryf Hodge dan: "It will (one day)[1] be found that the first chapter of Genesis is in full accord with the facts, and that the last results of science are embodied on the first page of the Bible. It may cause the church a severe struggle to give up one interpretation and adopt another, as it did in the seventeenth century[2], but no evil need be apprehended. The Bible has stood, and still stands in the presence of the whole scientific world with its claims unshaken" (Hodge 1872, p.171).
+ Miskien kan ek hier noem dat ek my standpunt oor 'n ou skepping deel met talle uitstaande en regsinnige Bybelgelowiges in die resente geskiedenis en hedendaagse teologiese en kerklike wêreld van ons dag. Almal wat ek noem is predikers en teoloë.
Ek noem 'n paar bekende en gerespekteerde name: B.B. Warfield, R.A. Torrey, C.S. Lewis, Francis Schaeffer, Billy Graham, J.I. Packer, Wayne Grudem, Millard Erickson, Norman Geisler, William Lane Craig, Alvin Plantinga, Walter Kaiser, John Piper, Tim Keller.[3]
Natuurlik is ek goed bewus daarvan dat ander ewe bekwame en beroemde teoloë 'n sewe kalenderdae skepping huldig. Ek haal bloot bogenoemde name aan om te toon dat daar vir seker ook 'n sterk saak uitgemaak kan word vir 'n ou skeppingsbeskouing, sonder om die algehele betroubaarheid van die Skrif onder verdenking te plaas.
Wat my wel die hoenners in maak, is as aanhangers van sewe kalenderdae almal wat in 'n ou skepping glo, onder verdenking plaas deur te suggereer dat hulle Darwinistiese ewolusionisme aanhang (per implikasie ongeloofsewolusie) — want dit is alles behalwe waar.
Les bes is die ou skeppingsbeskouing, anders as die sewe dae beskouing, nie belas
met die aanklag dat dit feitlik die ganse natuurwetenskaplike konsensus geringskat nie.
'n Getuienis
My dieper kyk na Gen 1-2 was en bly vir my 'n wonderlike bydrae tot my groei in Godskennis. Om te dink dat hierdie aarde wat iewers op die rand van die heelal lê — 'n stoffie in die sonnestelsel, wat 'n stoffie in die melkweg is, wat 'n stoffie in die heelal is, wat 'n stoffie in die ewig-ongeskape Skepper se handpalm is — in die hart is van sy plan om Homself te verheerlik! Kan dit wees dat ek, 'n stoffie op hierdie stoffie wat ons aarde noem, bevoorreg is om Hom te ken en lief te hê en te verheerlik!
My dieper besinning oor die skeppingshoofstukke in Genesis en redelik wye opleeswerk oor hierdie onderwerp, het my geloof in, my lof vir, en my aanbidding van die Drie-enige God wonderlik verryk — want al drie Persone van die Godheid is betrokke by die skepping en instandhouding van die heelal. Keer op keer droog my woorde op as ek in oorstelpte verwondering en liefdesaanbidding in sy teenwoordigheid verkeer.
Ek het allermins in hierdie ontdekkingstog gearriveer, inteendeel. As ek die lewe en gesondheid behou, hoop ek om nog talle kere verras en verryk te word met nuwe insigte. Daarom is dit wat ek vorentoe skryf nie in beton gegiet nie. Daar sal seker nog baie aanpassings, regstellings en byvoegings kom — en selfs dalk belydenisse.
Les bes, mag my ontdekkingstog dalk net 'n paar medegelowiges help in húlle soeke na klarigheid oor 'n saak wat baie aktueel geword het. Dalk mag dit studerende jongmense help om perspektief te behou onder die geklank van ongeloofskateders. Mag dit 'n hupstoot verleen aan ons roeping om lig en sout te wees in 'n ontnugterde samelewing waarin die kerk meermale die pad byster is — en soms ook skuldig is aan dit waarteen Augustinus hierbo waarsku. Dalk mag dit ouers help in die koersgewing van hulle kinders in 'n gesekulariseerde wêreld (sommige wat hier lees sal dalk dink dit sal 'n hulp vanaf die wal tot in die sloot wees; maar ek verstout my om eerder te hoop dat dit 'n hulp vanuit die sloot tot bo-op die wal sal wees.)
Persoonlike geloof, oortuigings en uitgangspunte
1. Wat ek hieronder skryf, skryf ek skaamteloos, vanuit sterk oortuigings — Christelike
en Bybelse oortuigings. Ek weet dat daar oor my onderwerp uiteenlopende oortuiginge bestaan — wat meermale gerugsteen word deur sterk en vurige opinies. Ongelukkig is dit dikwels niks méér as net opinies en sentimente nie.
Maar elke leser moet in die finale analise self besluit wat hy of sy maak van wat ek probeer oordra. Dis immers elkeen se prerogatief en verantwoordelikheid — onontkombaar.
2. Dit gaan egter oor meer as oortuigings. Dit gaan oor méér as die intellektuele. Ek is 'n Christen, 'n dissipel van die Here Jesus Christus. In Hom alleen skuil ek vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. Al vir amper vyftig jaar as ek hier skryf. Dis die hart van my bestaan. Niks is belangriker nie. Dit hou uiteraard in dat ek 'n Bybelgelowige is. Ek glo die Bybel is die geïnspireerde Woord van God — van Gen 1:1 af tot en met Op 22:21. En uiteraard het dit enorme en lewensbepalende implikasies vir my.
Om dit te glo, is egter één saak; om alles te verstáán, 'n ander saak.
3. Vir Christene is waarheid uiters belangrik. Ons is mense van die waarheid. Geen waarheid kan ons daarom ooit bedreig nie. Nóóit hoef ons waarheid te vrees nie! Nooit nie!
As ons dan inderdaad in Christus is, is ons veranker in Hom wat die weg die waarheid en die lewe is. En as dit wat navorsing in die natuurwetenskappe aan die lig bring dan inderdaad die waarheid is (dit bly natuurlik altyd die vraag), kan dit ons en ons geloof in die Skeppergod en sy waarheidswoord nóóit bedreig nie — net verryk. En dit kan ons net dieper inlei in die summum bonum van ons bestaan: om God steeds beter te ken — sodat ons Hom steeds meer lief kan hê — sodat ons Hom steeds meer kan verheerlik!
Een stel waarhede kan nooit 'n ander stel waarhede kanselleer of verplaas nie — net bevestig en ondersteun. Waarheid én waarheid is altyd in harmonie. Christene hoef die natuurwetenskappe nooit te vrees nie — in elk geval nie as dit die geskapene reg verstaan nie!
4. Nog iets speel noodwendig 'n groot rol in my lewe.
Ek het meer as 'n dekade se universiteitstudie agter die blad, min of meer gelykop verdeel tussen die natuurwetenskappe en ingenieurswese, enersyds, en die klassieke tale (so 'n blerts daarvan) en teologie, andersyds. Nou mag dit vir party mense klink of ek 'n geleerde man is. Glad nie! Daarvoor is daar nog veels te veel wat ek nie weet of verstaan nie. Daar is baie wat ek só graag beter wil begryp, maar keer op keer vind dat ek eenvoudig verstandelik nie bykom nie. My grysstof is net te min.
Ek is egter nuuskierig en ek hou van verstaan. En ek het 'n passie vir die waarheid. Ek het veral 'n hartstog vir die regte verstaan van God se selfopenbaring aan ons. Ek wil Hom meer en meer leer ken! Daarom wil ek ten alle koste nie 'n pypiekyker wees nie! Dit kon ek in elk geval nog nooit regkry nie. Ek raak maklik benoud as dinge te eng en bekrompe raak (dit het my al meermale ernstig in die moeilikheid laat beland!).
Les bes het die Here Jesus Christus my baie jare gelede geroep om Hom en sy waarheid so goed ek kan te ken en te verstaan en om dit dan so wyd moontlik te verkondig — óf deur die gesproke óf deur die geskrewe woord.
Gegee my agtergrond en my nuuskierigheid, is dit seker nie verbasend dat ek gefassineer is deur die skepping nie (die makroskepping meer as die mikroskepping, moet ek sê). My heel diepste hartstog is die Woord van God — nee, eintlik die Gód van die Woord. Daarom wy ek my al vir dekades aan die verkondiging van Bybelwaarheid — deur sowel prediking as skryfwerk.
5. Ek is absoluut oortuig daarvan dat God se besondere openbaring in die Heilige Skrif en Sy algemene openbaring in die mikro- en makroskepping, mekaar nie weerspreek nie. As ons beide reg verstaan, sal die twee openbaringe in volkome harmonie wees. As skriftuur en natuur nog uit pas is in ons verstaan daarvan, is dit omdat ons óf die een óf die ander óf beide nog nie reg begryp nie. Dit staan vir my aksiomaties vas! Waarom? Vir my lyk die antwoord voor die hand liggend en onontkombaar. Dis omdat die enige, ware, lewende en almagtige Skeppergod die Maker en Gewer van beide is!
Ek stel die eerste sin hierbo doelbewus negatief. Want die twee openbarings se aard is verskillend en hulle het grootliks uiteenlopende gerigthede. Hulle praat grootliks oor verskillende sake. Daar is nie baie oorvleueling nie. En tóg is daar wel raakpunte. Dis met die eerste oogopslag maar gering, maar soos mens meer daaroor nadink, meer daaroor oplees en meer insig verkry, kom jy agter dat die oorvleuelings kardinaal belangrike sake aansny — wesentlike en lewensbelangrike sake.
Dis waarom dit so belangrik is om Gen 1-2 reg te verstaan!
+ Ek meen 'n aanhaling van die Bybelgelowige Charles Hodge is hier gepas. Sy nugterheid en gesonde verstand blyk duidelik as hy skryf:
"It is of course admitted that, taking [the Genesis creation] account by itself, it would be most natural to understand the word ["day"] in its ordinary sense; but if that sense brings the Mosaic account into conflict with facts, and another sense avoids such conflict, then it is obligatory on us to adopt that other .... The Church has been forced more than once to alter her interpretation of the Bible to accommodate the discoveries of science. But this has been done without doing any violence to the Scriptures or in any degree impairing their authority."[4]
Let op, wat Hodge hier sê, is dat ons nie maar sommer wetenskaplike bevindings moet geringskat en afskryf nie. Sy implikasie is duidelik: Laat ons as Bybelgelowiges maar nederig wees as óns vertolking van die Skrif en die bevindings van die wetenskap mekaar weerspreek. Laat ons onsself dan in alle eerlikheid afvra of ons inderdaad die Skrif reg verstaan.
Hodge gaan dan voort om sy geloof in die Bybel se inspirasie en gesag te bevestig. Maar dis één saak. Of ek die geïnspireerde en daarom gesagvolle Woord van God rég verstaan, is egter eweneens 'n vraag. En dis 'n baie gesonde en volwasse vraag om maar gedurig te vra. Les bes sê hy dat ons die getuienis van die algemene openbaring, en dus van verantwoordelike wetenskap, ernstig moet opneem.
En gewis was hy reg. Ek is van harte eens met hom.
+ Ek meen dat meeste nugter, ingeligte en verantwoordelike gelowiges, sedert die natuurwetenskappe sterk begin ontwikkel het, dit nie geringskat nie. Die miskenning van die wetenskap m.b.t. die ouderdom van die skepping op so 'n groot skaal soos vandag, is 'n relatief onlangse ontwikkeling.
So begin Thomas Key sy goeie artikel, How Long Were The Days of Genesis?[5]: "Since the Darwin Centennial of 1959, there has been a growing enthusiasm among Bible believers for Young Earth interpretations of creation. Prior to 1959, fundamental and conservative Bible scholars, ministers, and others commonly accepted Old Earth interpretations."[6]
Bogenoemde kommentaar het in die eerste instansie betrekking op Amerika, en geld veral daar in die kringe van die wydverspreide fundamentalistiese kerke. Maar ook wat hierdie saak betref, geld die gesegde: As Amerika nies, kry die res van die wêreld verkoue (en dit sluit, baie dikwels ongelukkig, Suid-Afrika in).
6. Hierdie harmonie tussen skriftuur en natuur het ten diepste te doen met die verheerliking van ons Skeppergod (die summum bonum van ons bestaan), die egtheid, meer nog, die gespierdheid van ons Bybelgeloof, en die outentisiteit van ons getuienis in 'n grootliks Godvervreemde samelewing. 'n Verkeerde verstaan van hierdie verhouding tussen skriftuur en natuur — weerspreking in plaas van omhelsing — het al derduisende verlei om die Woord as onbetroubaar te verwerp (want dis uiters dwaas om die oorweldigende, oorkruisbevestigende, en 'n duisend keer oorgetoetse bevindings van die natuurwetenskappe sommer so maklik-maklik af te maak as verkeerd). En dit dwing my om by te voeg dat die skuld dikwels gedebiteer moet word teen die rekening van onkundige en fundamentalistiese Christene wat die Bybel deur 'n halstarrig-konserwatiewe bril lees, daarop aandring om omtrent alles in die Bybel letterlik te verstaan en weier om óók na die wonderskone en Godverheerlikende musiek van die algemene openbaring te luister. Dis niks anders nie as 'n volstruisbenadering. En dit doen baie skade!
Wat ek in die vorige paragraaf sê, gaan al hoe meer belangrik raak. Ons beleef 'n ontploffing van die mens se verstaan van die mikro- en makrokosmos. Soos ek reeds hierbo gesê het (en Charles Hodge lank voor my) hoef hierdie nuwe insigte in die algemene openbaring Bybelgelowiges nie te bedreig nie. God se besondere openbaring staan vaster as die berge. Waarheid is waarheid, klaar gepraat! Maar ons kan eenvoudig nie alles letterlik wil lees nie; die Bybel is boordevol verskillende soorte beeldspraak.
Wat die skeppingsmusiek steeds mooier en aangrypender maak as ooit vantevore, is die huidige ontdekking ná ontdekking van die natuurwetenskappe wat die lewende Skepper se lof al hoe duideliker besing. En elke keer word nóg 'n spyker ingeslaan in die doodskis van ateïstiese Darwinistiese ewolusionisme. Waarlik, om 'n gelowige in hierdie dae te wees, is 'n uitnemende voorreg. Na baie jare se intimiderende en intellektuele aggressie teen Christene se Bybelgeloof, word van die mees gesofistikeerde en verstommende ontdekkings in ons dae kragtige bondgenote van ons geloofsgetuienis.
As 'n ouer kan jy egter jou kop op 'n blok sit dat jou kinders wat in die natuurwetenskappe en filosofiese dissiplines gaan studeer met ongelowige Darwinisme van baie slim dosente te doen gaan kry. As sulke kinders op hoogte is met die wonderlike harmonie tussen skriftuur en natuur — en veral met ontwikkelinge hieroor die afgelope paar dekades — sal dit hulle harnas in die geloof wat hulle in die huis geleer het (dit mag hulle dalk ook ongewild maak by wetenskaponderwysers en -dosente wat nog vasgeval rondmaal in dit wat hulle dertig jaar of langer gelede geleer het). Uiteraard moet ons kinders en kleinkinders alreeds so gespierd móóntlik wees as hulle grootogig op kampusse aankom.
Tragiese skade word gedoen aan talle jongmense wat opgevoed word in tradisionele Christenwaardes, maar dan gekonfronteer word met allerlei geleerde en indrukwekkende ongeloofstandpunte as hulle die ouerhuis verlaat. Dit lei daartoe dat talle die geloof versaak.
Maar nie almal draai hulle rug op die Here en sy Woord nie; talle raak net ontnugter. Hulle begin waggel tussen geloof en twyfel. En 'n onsekere Christen word 'n louwarm Christen. En oor diesulkes spreek die Here homself in geen onduidelike terme uit nie (Op 3). Uiteindelik doen sulke "Christene" meer skade aan die eer van die Here en die welsyn van die kerk as selfs die uitgesproke godloënaars. Helaas sit kerke vol sulke lidmate.
Waarlik, baie nodig het ons ouers, dosente en onderwysers wat die harmonie tussen skriftuur en natuur behoorlik en met wysheid, takt en insig aan hulle kinders, leerlinge en studente kan oordra. Dis 'n wonderlike manier om 'n deur vir die evangelie oop te maak.
+ Ek het onlangs te doen gehad met twee gelowige en begaafde jongmanne wat soos feitlik almal van ons groot geword het met die tipiese verstaan van Genesis 1 — 'n skepping in sewe kalenderdae — en dis dit! Hulle gaan studeer toe in die natuurwetenskappe — en word onmiddellik gekonfronteer met dosente wat Darwinistiese ewolusionisme voorstaan en doseer — in elk geval 'n kosmos van dermiljoene jare. Dit was nie net 'n dilemma vir hulle nie, maar het hulle in iets van 'n geloofskrisis gedompel.
'n Regte verstaan van Genesis sou hulle bewaar het van die probleem. Hulle sou ook medestudente met dieselfde probleem kon help. En dit sou vir hulle 'n deur wyd oopgemaak het om vir die Bybelwaarheid te getuig.
Ek glo graag dat die vorige paragraaf nou 'n werklikheid is in hulle lewens.
7. Teenoor bogenoemde is die situasie anders in meeste gevorderde akademiese kringe, veral natuurwetenskaplike kringe. Dáár dink ek persoonlik ek hoor die doodsklok vir Darwinistiese ewolusionisme lui. Al hoe meer top wetenskaplikes kom — weliswaar drupsgewyse — tot die oortuiging en verklaar dit openlik dat ontdekkings oor die afgelope dekade of twee, drie soos klokslag daarop dui dat daar sonder enige twyfel 'n onbeskryflik magtige en intelligente Ontwerper en Skepper vir die ontstaan van sowel die mikro-kosmos as die makro-kosmos verantwoordelik is. Eintlik het die proses al, baie stadig, 'n honderd jaar gelede begin met Einstein se formulering van sy relatiwiteitsteorie, en ander ontwikkelings kort daarna. Dit het onteenseglik bewys dat die kosmos nie ewig is nie (soos vantevore geglo is in meeste ongelowige natuurwetenskaplike kringe), maar 'n ontstaan gehad het. En dit is natuurlik net 'n halftree weg van die vrae: Wie het dan die kosmos geskep? Hoe is dit veroorsaak? Waar kom dit vandaan? Maar soos dit maar met dié soort ding gaan, vat dit lank om deur te suur tot op straatvlak. Want fanatiese Darwinistiese ewolusioniste doen alles in hul vermoë om die proses te stuit.
Dit beteken nie dat alle ateïstiese wetenskaplikes dadelik tot 'n Bybels-Christelike geloof begin kom nie. Maar die nuwe insigte is bloot 'n skeurploeg wat in God se genade party denkers se ongeloofsharte begin omdolwe het. En inderdaad het heel party top wetenskaplikes reeds die ateïsme afgesweer en die Christelike geloof omhels. Maar helaas kom baie nie verder as die deïsme[7] of agnostisisme[8] nie. Dit was volgens aanduidings die geval met Einstein. En in ons dag verklaar Michael Denton, die bekende skrywer van die grondbrekende boek, "Evolution — A Theory in Crisis" (waarin hy "Intelligent Design" verdedig), dat hy steeds 'n teruggeglye Christen en op die rand van agnostisisme is.
Maar ek wil graag glo en vertrou dat meer van hierdie mense uiteindelik wél tot 'n Bybelse en evangeliese geloof sal kom. Sommige het al. Waarom nie meer nie?
8. Uiteenlopende, selfs vurige oortuigings oor die verstaan van veral Genesis 1-2 is aan die orde van die dag onder Christene. En dikwels kry mens die indruk wanneer daaroor gedebatteer word dat daar meer hitte as lig is. Ek praat van "hitte", want meermale ontaard 'n gesprek oor die saak in 'n onverkwiklike, bitsige en Godonterende gestry. So hoort dit nie tussen Christene nie! Daarmee wil ek egter nie sê dat ons tema 'n eenvoudige en onbelangrike saak is nie, allermins.
Dit is helaas so dat ons as mense dikwels maar té geneig is om klippe te gooi oor sake wat ons nooit werklik deurdink of nagevors het nie. My waarneming is dat die meeste gelowiges nog nooit in diepte oor ons onderwerp nagedink of nagevors het nie. Ek was al meermale in gesprek met gelowige en gevorderde natuurwetenskaplikes oor ons onderwerp, maar min van hulle het 'n ingeligte, verantwoordelike en gewortelde standpunt oor die verhouding tussen die wetenskap en die geloof. En ek is bevrees, dieselfde geld ook van té veel teoloë — waarskynlik van nog méér van hulle.
En vir baie van die wat wel al daaroor gewonder het, is 'n volstruisbenadering uiteidelik die beste oplossing waartoe hulle kan kom. Hulle besluit om hulle liewers nie moeg te maak oor kwessies wat hulle grysstof te veel uitdaag nie. Dis soveel makliker om sulke dinge maar so gou as moontlik te vergeet. "Ek het besluit wat ek sal glo — moenie my deurmekaarmaak met 'n klomp feite nie!
Natuurlik, ek verstaan dit goed, nie alle Christene het 'n aptyt vir die dinge waarmee ek stoei nie. Dis goed so. Maar moet jou dan nie aanmatig om vurige standpunte uit te spreek oor dit wat jy nie behoorlik onder die knie het nie. Nederigheid is deel van die vrug van die Gees. Nog meer, ek het 'n oom geken wat altyd gesê het: 'n Toe bek is 'n heel bek! As jou pypie leeg is, hou maar jou teppie toe.
Maar nadat alles hierbo gesê is, bly ek oortuig daarvan: dis belangrik, baie belangrik, dat Christengelowiges (en -wetenskaplikes) "hulle eendjies in 'n ry moet kry".
9. My standpunt huldig ek in nederigheid. Want alles is nie klinkklaar nie, allermins in my gemoed, maar ook nie in ons verstaan van die skriftuur en die natuur nie.
Ek is oud genoeg om te weet dat, soos meer lig op mens daag, oortuigingverstellings soms onafwendbaar is. Soms is dit nie maklik nie, maar wanneer dit wel gebeur, staan jou voete op hoër grond. In my lewe is sulke "reformasies" nie onbekend nie; inteendeel.
Benewens mens se begrip en wysheid wat hopelik voortdurend toeneem, raak natuurwetenskaplike ontdekkings al hoe meer verbysterend. En die tempo daarvan neem toe. Sou die Here talm om te kom, gaan mense oor vyf, ses dekades in 'n wêreld leef waarvan ons oueres tans geen benul het nie (dink maar vyf, ses dekades terug!). Wetenskap en tegnologie gaan grootliks daarvoor verantwoordelik wees. En laat ons nie té seker wees dit gaan nie verdere copernikaanse omwentelings bring nie. Dit waarby die wetenskaplike wêreld vandag staan en val, mag nog weer radikale verstellings ondergaan. En ons kleinkinders sal meewarig glimlag oor oupa en ouma se naïwiteit.
Maar ek sê weer: Moenie vrees dat dit God se Woord van die tafel sal afvee nie. Ek is oortuig daarvan dat dit net die waarheid van die Woord meer en meer sal bevestig. Dit mag wel ons nageslag laat teruggaan Bybel toe om te kontroleer of oupa en ouma dinge reg verstaan het. Sou hulle dan vind dat ons opinies vandag nie heeltemal in fokus was nie, sal díé onder hulle wat wysheid het vir mekaar sê: Húlle mag dalk nie al ons insig gehad het nie, maar laat ons steeds onthou, óns staan op hulle skouers — en ons het die voordeel van verdere wetenskaplike ontwikkeling!
-o0o-
[1] My verduidelikende byvoeging.
[2] Hodge verwys hier na Copernicus wat in 1543, en Galileo wat in 1632 getoon het dat die son nie om 'n plat aarde roteer nie, maar dat 'n bolvormige en roterende aarde om die son roteer. Hierdie nuwe insigte was natuurlik strydig met wat vir eeue vers en kapittel op grond van 'n letterlike vertolking van 'n hele klompie Bybelverse geglo is. Vandag weet ons dit is poëtiese uitdrukkings, oftewel beeldspraak in die Bybel.
Lees maar die geskiedenis, en jy sal sien dat die genoemde twee manne nie baie gewild was in die kerk van destyds nie. 'n Letterlike vertolking van poëtiese Skrifgedeeltes doen nog steeds skade!
[3] Kenneth D. Keathley & Mark F. Rooker: Forty Questions about Creation and Evolution; Q20: What are the Evidences that the Universe is old?; Kregel; 2014.
[4] Aangehaal deur C. John Collins, Science & Faith, Friends or Foes?; p.81.
[5] JASA 36 (September 1984): 159-161
[6] Hierdie aandrang op 'n letterlike lees van Gen 1 geld veral in die kringe van die baie invloedryke Amerikaanse fundamentalisme, oftewel dispensasionalisme. Dis 'n teologies-hermeneutiese kwessie — hoe mens die Bybel vertolk. Hierdie stroming is nie net wêreldwyd nie, maar ook in Suid-Afrika sterk aan 't veld wen. Tot so 'n mate is dit waar, dat min van diegene wat hier lees onbeïnvloed is daardeur — waarskynlik sonder dat hulle dit besef.
Die onderwerp is ongelukkig té omvangryk om nou meer aandag daaraan te gee.
Vir diegene wat self bietjie navorsing wil doen, soek as 'n afskop op die internet (google): "Poythress - Dispensationalism" en "Stuart Olyott - Dispensationalism" (veral laasgenoemde is maklik verstaanbaar).
[7] Deïsme is die geloof in 'n oppermagtige, maar onbekende en afsydige wese wat wel geskep het, maar wat nie werklik betrokke is by hierdie wêreld en die gebeure daarin nie. Hy is wel die Skepper, maar nie die Bestuurder van die heelal nie. Dis bloot 'n filosofiese skepping.
[8] Naby verwant aan Deïsme. Die beskouing dat, as daar dalk 'n God is, ons niks oor Hom of die hiernamaals weet nie.