Ek en my vrou, Soniah, wil bloot tot eer van die Here getuig van ons Hemelse Vader se onuitputlike goedheid.
Hy is onkreukbaar getrou aan Sy beloftes in die Woord. Waarlik, Hy is 'n hoorder van gebed. Die Here versorg ons (en ons kinders toe hulle nog in die huis was) al vir dekades in antwoord op afhanklike gebed - sonder dat ons 'n formele salaris ontvang. En ons het dit nog nooit nodig gevind om op 'n skandelike wyse skimpe vir bydraes rond te strooi nie. Met hierdie skrywe wil ons bloot getuig van Sy oneindige versorgingsliefde en goedheid - presies in harmonie met die talle beloftes in die Woord.
Wat 'n positiewe getuienis sal dit nie teenoor die ongelowige wêreld wees as alle pastors - en nie net sommige sendelinge nie - so sou leef nie! Volgens God se Woord is dit nie net moontlik en heeltemal haalbaar nie, maar inderdaad - so glo ons van harte uit ervaring - die uitnemende manier waarop ook voltydse gemeentepastors kan (en behoort?) te leef. So 'n lewenswyse, sê ek, is 'n wonderlike onderstreping van die feit dat ons Hemelse Vader gebedsverhorend betrokke is by Sy kinders. En, kom ons wees eerlik, beswaarlik is daar iets wat harder praat in 'n ongelowige, materialistiese en skeptiese wêreld as geld! As mens van harde kontant en al ons dosyne finansiële verantwoordelikhede praat, is jy op die rotsbodem van realiteit.
Een van die ellendigste probleme in die kerk van ons dag is die talle wolwe wat hulle as geroepe herders voordoen. En talle van hulle huiwer nie om hulle kuddes finansieel te melk nie (moenie my verkeerd verstaan nie, natuurlik geld dit nie naastenby van alle predikante wat gereelde salarisse van hulle gemeentes ontvang nie - miskien juis nie!). Maar hoe vinnig sal 'n praktyk soos ons hier voorstaan, nie van súlke wolwe in skaapklere ontslae raak nie!
Les bes, vir baie jare het ons veral in twee gemeentes geleef soos hieronder beskryf (trouens, ons leef steeds so, al is ek nie meer 'n gemeentevoorganger nie). En ek kan in alle eerlikheid nie onthou dat ons as gemeentes ooit enige ernstige finansiële kwellings gehad het nie; inteendeel.[1]
As gemeentes kon ons feitlik elke maand uitdeel - vir sending en barmhartigheidswerk, binne en buite die gemeente, of vir wat ook al verdienstelik en/of behoeftig was. Aan die agendapunt, finansies, was dit selde in ons vergaderings nodig om veel tyd af te staan. En dit was altyd 'n vreugde! Dít terwyl soveel vergaderings in die kerk van ons dag verswelg word deur warm-onder-die-boordjie-geldsake.
Maar hieronder iets oor ons oortuigings hieroor en benadering.
-o0o-
Sedert die aanvang van 1976, toe ek op dertigjarige ouderdom begin teologie swot het op Potchefstroom - met 'n vrou en twee kinders (nóg twee dogters het kort daarna hulle opwagting gemaak) - leef ek en Soniah reeds vir 'n paar dekades "in die geloof" wat ons materiële versorging betref (sedert 1976 het ek wel lank terug met tussenposes vir ongeveer 13 jaar 'n formele salaris ontvang - hetsy van die universiteit toe ek daar klas gegee het, hetsy van gemeentes). Dit beteken gewoon dat ons tot vandag toe sonder 'n vaste inkomste, oftewel 'n formele salaris, werk en leef, en ons Hemelse Vader direk vertrou om te voorsien in wat ons nodig het.[2]
As ons praat van geloof, dan moet dit gelóóf wees. Daarom maak ons so goed as nóóit ons behoeftes aan enige mens, of kerkraad, of wie ook al bekend nie. Ons vra nóóit bydraes of werf borge nie. Ons poog in alle integriteit om nóóit enige skimpe vir donasies rond te strooi nie. Ons hang selfs nie ons lewenswyse aan die groot klok nie, tensy dit die Here se eer kan dien as ons daaroor praat. Ons leef coram Deo (voor die aangesig van God) en pas ons harte so goed ons kan puntenerig op om nie enige finansiële kompensasie "vir dienste gelewer" (m.a.w. bediening) van mense te verwag nie.
Sonder om te impliseer dat dit altyd maklik is om op ons manier te leef, kan ons wel in absolute eerlikheid sê dat die Here ons deur die dekades nog nóóit in die steek gelaat het nie. Wel het Hy ons al dikwels beproef - totdat ons gevoel het of ons net aan ons tande hang. Tog kan ons eerlikwaar getuig dat ons nog nooit nodig gehad het om 'n ete oor te slaan nie - al was ons kos nie altyd ewe spoggerig, smaaklik of baie nie.
Net 'n waarskuwingswoord. Terwyl ons so positief en dankbaar is oor hierdie lewenswyse, hierdie geloofsavontuur van ons, wil ons onmiddellik waarsku. Ons praat nie van iets waarin 'n mens jou sommer so fluit-fluit begewe nie. Ons weet van mense wat ongelukkig baie seergekry het op hierdie pad (ek weet nie, maar wonder of hulle nie té gou tou opgegooi het nie). Ons ganery Potch toe is voorafgegaan deur baie gebed. En ons glo ons Vader het ons beslis gelei. Ons praat nie van visioene en drome en profesieë nie (dis dinge waaroor ons baie versigtig was en steeds is - indien nie uiters skepties nie). Ons praat van 'n diep oortuiging wat in ons harte kom vestig het - amper 'n geloofs-domastrantheid. En toe ons uiteindelik in Potch tot ons sinne kom, was ons dáár, en omdraai was nie so maklik nie. Eintlik was dit amper onmoontlik. Ons het ons brûe verbrand. Daar was net één pad - vorentoe! Benoudhede het ons baie geken - in daardie vroeë dae veral, toe alles nog so nuut was. Maar 'n avontuur het per definisie sy kwota vrese en ontberinge. Ons praat dus nie van 'n elfuur-tee met Hertzogtertjies by Antie Edith nie. Ons praat van rubber-wat-teer-byt realiteite. Maar ons praat eweneens van 'n wonderlike romanse in ons verhouding met ons Hemelse Vader in Christus.
Waarom het ons so bly leef na ek afstudeer het, en leef ons steeds so? Waarom voel ons so sterk daaroor? Waarom wil ons nooit anders leef nie? Daar is 'n paar redes.
Met betrekking tot die Woord
Geensins kan of wil ons sê dat die Skrif 'n formele salaris vir voltydse koninkrykswerkers verbied nie. Maar daar is tog baie in die Woord wat ons aanspoor op óns oortuigingspad.
As die Here Jesus Sy dissipels uitstuur - eers die twaalf, dan die sewentig - is een van Sy konsekwente voorskrifte dat hulle nie geld en ekstra klere moet saamneem nie (Matt 10:9-10; Mark 6:8-9; Luk 9:3; 10:4). Waarom nie? Ek kan aan net een rede dink. Hulle moes leer om hulle hemelse Vader in alle opsigte te vertrou - ook wat hulle materiële behoeftes betref. Hy sou self vir hulle sorg. Op watter wyse ook al.
En só, in direkte afhanklikheid van die Here, het hulle begin leef - feitlik vir seker vir die res van hulle lewens. En inderdaad is hulle op allerlei en onverwagse maniere versorg (Luk 8:3). Eenkeer het Jesus en Sy dissipels selfs 'n muntstuk - genoeg vir kos - in 'n vis se bek gekry. Kan mens dit betwyfel dat die manne in die skool van geloof was. Duidelik moes hulle belangrike lesse leer.
Natuurlik sê Jesus in Matt 10:10 dat die arbeider geregtig is op sy onderhoud - daaroor stry niemand nie - maar hier is tog allermins sprake van 'n formele salaris. Nee, hulle moes die Vader vertrou om hulle deur die spontane liefdesgawes van Sy kinders te versorg - of op watter wyse ook al. Dit mag soms vernederend wees, maar dis altyd heilsaam.
Later skryf die apostel Paulus dan ook op verskeie plekke dat dit vir hom uiters belangrik is om die gemeentes gratis te dien (Hand 20:33-35; 1Kor 4:12; 9:12b, 15-19; 2Kor 7:2; 11:7-12; 1Tess 2:8-12; 2Tess 3:7-9). Mens kry alreeds 'n soortgelyke gesindheid by Nehemia (5:14-19; vgl. ook 1Sam 12:1-5).
Die hele strekking van die Nuwe Testament sê vir mens die Here se uitspraak in Matt 10:8b is 'n koninkryksbeginsel: "Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet." Uitdeling, diensbaarheid, voetewas! Dis waaroor dit vir dissipels in hulle lewenswyse gaan. Dis die ongelowiges wat aandring op vergoeding vir dienste gelewer. In die wêreld is die reël, koop en verkoop. In die koninkryk van God is dit, gee en ontvang.[3]
Die Skrif is vol beloftes en mededelings dat die Vader Sy kinders se gebede verhoor en dat Hy hulle materieel versorg - te veel om op te noem. Miskien is die locus classicus Matt 6:19-34 - met as sentrale belofte: "... soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word" (v.33).
Nog twee verse - beide in 'n finansiële of materiële konteks - is besonder kosbaar vir my en Soniah.
Eerstens, 2Kor 9:8 met sy 5 Griekse "pantas": "En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk" (vgl. ESV).
Tweedens, die Grieks van Heb 13:5 met sy 5 negatiewe: "Ek sal jou nie loslaat nie. Nooit! Nee! Nooit en op geen wyse sal Ek jou in die steek laat nie" (eie vertaling van die Grieks; vgl. ook Amplified Bible).
Let op, bogenoemde Skrifuitsprake word tot alle Christene gerig.
Met betrekking tot God
Ons hemelse Vader het 'n innige behae daarin as Sy kinders in alles biddend-afhanklik voor Hom leef - as 't ware uit Sy hand. Natuurlik moet en kan almal van ons leef soos ek hier betoog of daar 'n vaste inkomste is, al dan nie. Maar ons ervaring is dat mens se beoefening en belewing van hierdie afhanklikheid mettertyd afstomp as jou voorsiening bloot meganies en soos klokslag opdaag - veral as dit 'n ruim salaris is. Natuurlik, ongeag hoe groot jou salaris is, kán jy beleef waarvan ek hier praat. Gee bloot genoeg weg - en meer en meer!
Ja, ons was al dikwels benoud en het gedink ons het die einde van die pad bereik. Ja, ons leef sober en eenvoudig. Ja, ons kan spandabelrigheid nie bekostig nie. Ja, ons versorging kom as 'n reël nie vóór die tyd nie - gewoonlik net betyds. Tog kies ek en Soniah weer en weer die bergpad van 'n meer intieme en opwindende wandel met ons Vader. Wie wil nou in die prosaïese lewe van ons dag "nee" sê vir 'n bietjie avontuur?[4]
Allermins wil ons voorbarig wees, maar ons glo tog dat so 'n lewenswyse ons Here behaag en Sy eer dien. In hierdie wêreld is Mammon immers god. En min is hulle wat nie elke dag na sy pype dans nie. Nog méér Godonterend is die beheptheid met geld in groot dele van die hedendaagse kerk.
Ons begeerte is dus dat ons lewenswyse iets van 'n rigtingwyser mag wees - weg van Mammon af - na die ware God toe; na Sy getrouheid en Sy betrokkenheid by Sy kinders; na Sy koninkryksordes! Die groot vraag in ons wêreld is nie óf daar 'n God is nie. Die wroeging van derduisende - sowel buite as binne die geïnstitusionaliseerde kerk - is die vraag of die ware God hoegenaamd by ons betrokke is. Ek is absoluut oortuig dat daar baie meer gelowiges Deïsme[5] Sondae op ons kerkbanke sit as wat ons besef (om nie van ons kansels te praat nie).
Die Here se dissipels het die grootse roeping om só te leef dat skeptiese waarnemers tot die slotsom sal kom dat God nie net leef nie, maar inderdaad gebedsverhorend by Sy kinders betrokke is - dat Hy in hulle midde is! Daarom moet ons só leef dat ongelowiges as 't ware God se vingerafdrukke onmiskenbaar op ons kan sien.
Dit geld natuurlik vir die hele spektrum van my lewe as Christen. Maar dít staan eweneens soos 'n paal bo water: As dit by geldsake kom, is ons op die rotsbodem van realiteit. Hier "byt die rubber teer". En wie weet dit beter as die ongelowiges!
Met betrekking tot onsself
Ek en Soniah is nie asketies nie, nog minder heroïes. Maar ons wil groei na die beeld van Christus.
Dit is ongelukkig 'n feit dat al die geriewe en sekuriteite van ons welvaartsgemeenskap mens alte dikwels hoog en droog uitlig bokant die vlakke waar God se waterpapier op sy beste poleer. 'n Lewe in direkte materiële afhanklikheid van die Vader plaas jou egter in 'n uitnemende posisie om na die beeld van Christus gevorm en gepoleer te word (waarmee ons nie wil impliseer dat óns soos bottels blink nie. Ons worstel nog net so met oorblywende sonde soos enige ander Christen!).
Sekerlik bring ons soort lewe geloofservarings en -avonture wat help om jou te bewaar van 'n prosaïese en lou soort Christenskap, sonder enige romantiek in jou liefdeswandel met die Here. Natuurlik is geen avontuur net altyd lekker en maklik nie; trouens, dit het noodwendig heelwat oomblikke of seisoene van benoudheid en ontbering. So gaan dit met almal wat soos ons leef. En daar was deur die eeue, en daar is steeds, derduisende - veral in die sendingwêreld. Maar later, weet ons, lewer dit 'n "vredevolle vrug van geregtigheid" op (Heb 12:11).
So 'n lewenstyl verleen aan 'n mens getuieniskrag - veral as jy 'n prediker is. Jou gewete getuig dat jy jou oortuigings en verkondiging uitleef. Jy is nie bloot 'n professionele man wat status, sekuriteite en byvoordele verdien en najaag nie. Voorts verleen dit vrymoedigheid en getuieniskrag teenoor ongelowiges wat maar té geneig is om jou van sulke skewe motiewe te beskuldig.
Jou hemelse Vader bepaal en orkestreer jou inkomste en lewenstandaard. En wie sal beter weet as Hy. Let op, dit gaan nie net oor afskaal nie; inteendeel. Daardie onvoorsiene piekuitgawes wat so met hierdie wêreld se salarisslawe kan vloervryf, is geen probleem vir die Een aan wie die vee op 'n duisend berge behoort nie. En in elk geval het Hy 'n vreugde daarin om, ten minste van tyd tot tyd, die vensters van die hemel oor Sy kinders oop te maak.
Met betrekking tot die gemeente
Die mankement wat soveel gemeentes teister - die van die werkgewer-werknemersindroom - ontstaan moeilik as 'n pastor en sy vrou soos ons leef. Dit bring daarenteen in 'n gemeente 'n dinamiek mee van spontaniëteit en wedersydse waardering. Bydraes vir die voorganger en sy gesin is elke keer 'n persoonlike en ad hoc saak. Elke lidmaat besluit self daaroor - oor die óf, die wát, die hóé, die wánneer en die hóéveel. En elke keer as iets gegee word, spring daar 'n liefdesvonk. Dit gebeur moeilik as 'n salaris klokslag en eenmalig per tjek betaal word – of sommer oor die internet! Selfs as bydraes soos hierbo beskryf is, anoniem gegee word - dikwels die uitnemende manier, en in ons geval die reël - is dit elke keer 'n klein geloofsavontuur vir sowel gewer as ontvanger.
Geen voorganger kan ooit alles vir almal in 'n gemeente wees nie. Kry mens dan op die koop toe 'n groot salaris, het mense net minder geduld met jou gebreke - veral dalk diegene wat 'n groot bydrae gee (mag ek dit versigtig sê, ek dink inderdaad daar is meermale regverdiging vir so 'n verontwaardiging, want daar is té veel hebsugtige vet-kat-voorgangers in party gemeentes - veral in sekere kringe).
Dien mens egter die gemeente gratis, sit allerlei verwagtinge blitsvinnig om in waardering. Nou is daar net nie meer so 'n gunstige klimaat vir gesindheidsprobleme en spanninge nie. Elke bydrae wat nou vir die voorganger en sy gesin se onderhoud gegee
word - veral as dit anoniem is - is immers 'n vrywillige gawe wat na willekeur verstel of gestaak kan word.[6]
So 'n lewenstyl help 'n pastor en sy vrou voorts in hulle verhouding met die armes in die gemeente. Enersyds worstel jy nie met allerlei skuldgevoelens oor jou dik salaris nie, terwyl soveel - wat ook deel van dieselfde liggaam is - op die broodlyn moet leef. Andersyds verwyder dit 'n klomp struikelblokke in húlle gesindheid teenoor jou as pastor. Hulle weet jy is nie 'n "vet kat" nie (Eseg 34:7-10, 17-20). En hulle weet dat jy volledig met hulle beproewinge kan identifiseer.
Voorts, op hierdie wyse word 'n gemeente se lewe aansienlik vereenvoudig. Dit help om organisme te bly en om die suigkragte van toenemende institusionalisme te weerstaan. Die administrasie van begrotings, belastings, pensioene, mediese fondse, vakansierekords, telefoonrekenings, ensovoorts, ensovoorts, kan 'n logge saak raak. Dis waarom soveel kerkraadsvergaderings deur geld en administratiewe sake verswelg word - so totaal anders as wat dit waarskynlik destyds in 'n Nuwe Testamentiese gemeente gegaan het.
Ja, maar ....
Beveel God se Woord nie dat die kudde hulle voltydse herder(s) moet versorg nie? Natuurlik! Dit word ondubbelsinnig duidelik geleer. Trouens, 1Tim 5:17 maak selfs voorsiening vir "dubbele erkenning" - dalk materieel, vanuit die konteks - in die geval van uitnemende dienswerk. Die vraag is dus nie of? nie, maar hoe?.
Doen mens dit op ons manier, is daar niks in enigeen se pad om getrou te bly aan God se opdrag nie. Al wat ons sê, is dat óns op niks aanspraak maak nie, en dat ons oë op ons versorgende Vader gevestig was en steeds is. Dit was presies Paulus se benadering.
Is daar nadele?
Is daar nadele aan so 'n benadering verbonde? Eerder dalk enkele gevare.
Sommige gemeentelede mag dalk laks raak wat hulle finansiële bydraes betref. Sonder reuse salarisuitgawes, het die gemeentekas dikwels nie veel nodig nie, sou geredeneer kon word. Die oplossing is gewoon dat 'n gemeente hulle prioriteite en uitdelingsmotiewe regkry. Daar moet op die voorvoet gebly word met betrekking tot barmhartigheid en uitreiking. Mense se bydraes is immers in direkte verhouding met hulle gevoel dat hulle gee vir iets wat saak maak. En dis koninkryksnut en ewigheidsbetekenis wat vir ware gelowiges gewig dra. Sonder twyfel sal daar ontsaglik baie geld beskikbaar kom vir sending en barmhartigheid as alle gemeenteherders leef soos ons hier suggereer.
Dalk kan hierdie benadering insekuriteite by lidmate veroorsaak: as ons voorganger nie deur 'n salaris en byvoordele gebind word nie, hoe weet ons hy dros nie môre nie? Goed, dit mag 'n probleem wees as jy met 'n "huurling" te doen het (Joh 10:12). Maar dan is dit in elk geval beter as hy maar sy ry kry. Iemand wat egter sy herdersroeping voor die aangesig van die Here uitleef, hoef nie deur wêreldse sekuriteite vasgebind te word om op sy pos te bly nie.
Kan so 'n werkswyse nie daartoe lei dat die leraar en sy vrou naderhand soveel finansiële kwellinge het dat hulle nie meer op hulle roeping kan konsentreer nie? Ons hoor altyd hoe mense hierteen waarsku. Maar dis nie óns ervaring nie. Daarmee sê ons nie ons pad is altyd maklik nie. Maar dit weet ons, tye van swaarkry het nog altyd in diens gestaan van meerdere gebed, geestelike verdieping en geloofsavonture. In elk geval is ons ervaring veel eerder dié van genoeg en selfs partymaal oorvloed.
Vier getuienisse en 'n beginsel
# Ses weke nadat ons in Potchefstroom intrek, beleef ons ons eerste groot avontuur.
Nadat ek as konstruksie-ingenieur bedank het, het ons darem 'n ietsie in die bank gehad. Maar feitlik alles is as deposito op 'n stokou huisie in Dwarsstraat betaal - lekker na aan die kampus. En mens het mos altyd ekstra geld nodig as jy so in 'n nuwe plek intrek, veral as daar maar taamlik aandag nodig is. Na ses weke is ons geldjies gevolglik op - heeltemal.
Op daardie stadium het ons nog aanvaar dat Soniah buitenshuis sou moes werk. Haar salaris sou vir die twee kinders se bewaarskool kon betaal asook omtrent die helfte van ons begroting voorsien.
Maar werk vir 'n maatskaplike werker was skaarser as hoendertande in Potch. Toe sien ons in die koerant dat Witrand - 'n inrigting vir verstandelik-gestemdes net buite die dorp - 'n arbeidsterapeut soek. Ek sê vir Soniah, doen aansoek! Sy sê, ek is nie 'n arbeidsterapeut nie. Ek sê, maak nie saak nie - ons hemelse Vader doen dalk 'n wonderwerk. Sy doen aansoek - en, sowaar, sy kry die aanstelling!
Soggens vroeg-vroeg word ons dogtertjies, vyf en drie, huil-huil in ons geel karretjie geprop - bewaarskool toe. En hulle Ma gaan probeer om 'n saksentjie vir die armbeurs te verdien. En Van der Walt bly tuis en probeer Griekse, Hebreeuse en Latynse woordeskat in sy klapperdop kry. Maar ek vergeet makliker as onthou. Ingenieurs is immers nie wêreldberoemd vir hulle vermoë om te memoriseer nie. Hulle werk alles van eerste beginsels af uit. Gee vir hulle wiskunde, ja, maar klassieke tale ...! Ek vaar darem nie té vrot in Filosofie nie. My taal-dosente dink egter ek is aansienlik dommer as wat ek lyk.
Na presies 'n maand loop dinge vas. Ons kinders regresseer - hulle moet weer begin doek dra. Hulle Ma is vodde as sy in die oggende moet opstaan, nadat sy gisteraand tot hoe laat gewas en gestryk het. En Pa amo, amas, amat en haat elke oomblik daarvan met 'n hartstog. So kan dit nie voortgaan nie! Nee, nie 'n dag langer nie![7]
Daar kom toe 'n dag dat ek nie naby 'n klas kom nie. Ek bid! Nee, ek worstel en kreun! Ek moet, móét, MOET 'n antwoord kry - of ek gaan terug konstruksie toe!
Eenuur hoor ek ons geel Alfa'tjie by die agterdeur stilhou. Soniah stap met 'n breë glimlag in. "Raai wat? Ek is gefire! Hoofkantoor het laat weet, 'n maatskaplike werker is nie 'n arbeidsterapeut nie. Ek moes sonder meer bedank!"
Ek en my vrou dans 'n riel om die eetkamertafel. Ons gebede is wonderlik verhoor. Van nou af gaan ons ons Hemelse Vader vertrou om ons te versorg! Van nou af gaan Soniah haar roeping as Ma en huisvrou uitleef. Van nou af gaan ons in God se ordes leef. En ons Hemelse Vader gaan vir ons sorg!
En presies dit is wat Hy toe begin doen! Op dosyne maniere. En onthou, ons vertel vir niemand van ons vertroue in ons Hemelse Vader en ons manier van lewe nie - regtig vir niemand nie (ek dink daar was twee vriende en hulle vrouens wat geweet het, en natuurlik - aanvanklik - ons gekwelde ouers). Vir ons is dit 'n ononderhandelbare beginsel. Anders weet ons nie of dit regtig ons Vader is wat voorsien nie, en of dit nie bloot mense se respons op ons skimpe is nie.
Meermale is daar soggens as ons opstaan 'n koevert of twee met note onder deur die voordeur geskuif. Mense wat ons beswaarlik ken - boere - wat twee of drie blokke van ons af bly, kom sê vir ons dis op hulle harte om eenmaal 'n maand vir ons 'n geslagte skaap te skenk. Ensovoorts, ensovoorts.
Laat ek darem byvoeg. Tydens my eerste BA-jaar, het ek twee demmieposte tydens twee weeksmiddae om eerstejaarstudente in Industriële Chemie te help met twee tegniese tekenvakke. Daarvoor verdien ek die koninklike bedrag van R100 per maand. Aan die einde van daardie jaar laat roep Prof. Pottie (departementshoof) my: "Ons glasblaser maak klaar met sy doktorsgraad (as ek reg onthou) en gaan weg. Die pos is joune! R200 per maand. Drie middae per week."
Ek kry gevolglik ses weke opleiding by 'n Hollandse Oompie in Pretoria (by die Brandstofnavorsingsinstituut) en van Januarie 1977 af is ek vir die volgende jaar-en-'n-half die Puk se glasblaser met my eie werkswinkel. Ek is maar lomp en verbrand gedurig my vingers in die bunsenbrander, maar ek geniet die sensitiewe handewerk geweldig. Dan hoor ek weer van Prof. Pottie: "Van der Walt, kom sien my!"
# "Ons gaan met 'n Ingenieursfakulteit hier by die Puk begin. Ons soek 'n Siviele Ingenieur - 'n Senior Lektoraat (allamapstieks!). Jou aansoek is Maandag op my lessenaar!"
"Wag bietjie, Professor! Ek is klaar met Ingenieurswese. Ek swot nou Teologie. En staak gaan ek dit beslis nie". En so is ek daar weg. Ek bid nie eers weer daaroor nie. Dis afgehandel.
'n Maand later lui my telefoon. "Waar is jou aansoek, Van der Walt?" "Ek het mos verduidelik, Professor." "Van der Walt, ek voel 'n veer vir jou Teologie. Maandag - niks later nie!" (Dit was jare toe ingenieurs nog baie skaars was).
Vir die eerste maal bid ek en Soniah ernstig oor die saak. En na die naweek lê my CV en aansoek op Prof. Pottie se lessenaar. "Maar ek het twee voorwaardes: Ek gaan nie my teologiese studie staak nie. En ek gaan nie navorsing doen en publiseer nie (asof ek kwansuis tot so iets in staat is). Klas, ja klas sal ek gee. Laat maar kom!"
So begin sekerlik die besigste, maar ook een van die mees bevredigende halfdekades van my lewe. Ja, ja, ek werk myself byna oor 'n mik. Ek bied uiteindelik oor die volgende jare 'n stuk of tien ingenieursvakke aan - Sterkteleer, Struktuurleer, Hidroulika, Hidrologie, Konstruksie en Beplanning, Opmeetkunde - en nog 'n paar ander (alles darem net voorgraads).
Soggens jaag ek soos 'n besetene op my pers resiesfiets die twee of drie kilometer tussen Ingenieurswese en Teologie - heen en weer. Ek het net vyf minute tussen periodes (of was dit tien, ek kan nie onthou nie) - dán een of twee by Ingenieurswese, dán weer een by Teologie, dan weer terug op my fiets. Ge-witjas skryf ek borde vol Wiskunde, minute later is dit Nuwe Testament Eksegese en Dogmatiek, of wat ook al. Heen en weer, soos die klasse vereis - die wat ek moet gee en die wat ek moet loop. Ek word superfiks (ook intellektueel), verloor gewig - en is so gelukkig en vervuld soos 'n vark in modder.
Eenuur jaag ek huis toe. Groet my vrou, druk my kinders (toe al víér van hulle), sluk my middagete, gaan knip gou 'n uil vir tien minute - en twee-uur stap ek in my kantoor in by ingenieurswese. Daar skryf ek notas, berei voor vir die volgende dag, sien antwoordstelle na, sit my en verveel in vergaderings. Laat-middag, vroeg-aand is ek klaar, jaag huis toe, soen my vrou, druk my kinders en speel en lag bietjie met hulle op die sitkamermat, eet vinnig aandete, hou vir 'n kwartier huisgodsdiens. Agtuur stap ek my buitekamer in - teologie al die pad. Elfuur, twaalfuur, eenuur is ek klaar, gaan slaap vinnig soos 'n dooie. Sesuur op, stort blitsvinnig, buitekamer toe vir 'n uur van Bybellees en gebed (ek kan nie daarsonder nie - sal nooit alles gedoen kry daarsonder nie). Op my fiets. Agtuur weer by Ingenieurswese of Teologie.
Ek werk sewe dae per week (Sondae, naas twee eredienste, darem nét teologie. Vroom, né). En Maandag begin alles weer van voor af.
Desembermaande hou ek en my geliefdes tussen Kersfees en Nuwejaar vakansie - en dalk nóg 'n paar dae weerskante. Hoofsaaklik by my skoonmense op die plaas. Slaap 'n hond uit 'n bos uit en lees teologiese boeke (en talle Christelike biografieë). En my vrou is 'n yster. Sy ondersteun my soos 'n rots. Sy kla nooit nie - het my en die kinders net lief.
Vir die eerste keer leer ek my basiese ingenieurswese behoorlik ken (en ek kry skaam omdat ek met tragies-gebrekkige kennis op Stellenbosch graad gekry het).
My Teologie-punte val maar 'n bietjie. Ek woon per slot van rekening net die helfte van my lesings by. My dosente is baie genadig en begripvol en maak maar of hulle my nie mis nie. Hulle weet ek is by ingenieurswese. Ek stap mos darem getoga saam met hulle in die akademiese prosessies.
Wat sommige teologiese vakke betref, is my goeie verskoning vir afwesigheid 'n bevryding (dit het my dikwels gegrief dat mens so ongerieflik onder 'n irrelevante geteem moet sit en slaap). Maar daar was inderdaad ook die dosente en vakke wat ek ten alle koste nie wou misloop nie (ek onthou die geliefde professore nog soos gister).
UIteindelik sou ek darem binne die minimum tyd graad vang.
Na my studies werk ek nog 'n jaar, maar bedank dan na vier-en-half wonderlike jare by die Puk se nuwe Ingenieursfakulteit. Ek doen dit om voltyds in 'n gemeente te begin werk. Bevoorreg!
Amper vergeet ek. Van die oomblik af wat ek my eerste salaris by die Puk kry, hou ons bonatuurlike voorsiening op. Eers 'n half-dekade later sou dit weer 'n aanvang neem.
Ons, my en Soniah se Hemelse Vader in Christus, is onuitspreeklik goed! En Hy ken ons sit en opstaan! Hy is waarlik 'n hoorder van gebed!
# Ek vertel van ons Hemelse Vader se goedheid in ons lewens - veral van sy getroue voorsiening, Sy materiële versorging. As ek hier skryf, onthou ek weer hoe 'n kosbare broer in Christus - destyds 'n groot boer in die Vrystaat - een jaar sy makelaar/markagent opdrag gegee het om die helfte van 'n treintrok aartappels se opbrengs aan die Van der Walts te stuur. Hoeveel opwinding was dit nie om vol verwondering daardie pakkie met sy gespierde tjek oop te skeur nie (die tjek was so vet dat dit nie in 'n koevert kon pas nie!!!).
En om hierdie ervaring na waarde te skat, moet onthou word dat ons op daardie stadium besig was om op die water te loop wat ons voorsiening betref. Jy sien, dit gaan vir die Here nie net daaroor om Sy kinders te versorg nie, maar ook om vir hulle kosbare lesse te leer. En een van die belangrikste hiervan is om te verstaan dat dit Hý is wat ingryp en sorg. As jou uitkoms elke keer eers op breekpunt opdaag, begin dit jou trae harspan binnedring dat dit jou hemelse Vader se voorsiening is.
# 'n Ewe groot avontuur was dit toe ons spens én ons beursie dolleeg was en die babas se melkvoorraad op (dit was nog voor ek by die Puk gewerk het). Ek en Soniah kon vas, maar as babas honger is, is hulle hónger. Die volgende oggend daag Janette Lerofolo, die geliefde Tswanavrou - 'n Christen - wat Soniah party dae in die huis en met die vier dogtertjies gehelp het, by ons op met 'n inkopiesak vol poeiermelk en ander kruideniersware.
Om dit te waardeer moet mens verstaan dat sy met Jacob getroud was, 'n kreupele en invalide, wat nie eintlik kon werk nie. Hulle was werklik arm, kerkmuis-arm! Die inkopiesak het vir 'n paar dae bly opdaag, totdat ons weer 'n geldjie deur die pos gekry het, of 'n noot of drie onder deur ons voordeur geskuif is.
Wat gebeur het, is dat 'n vriend van die Lerofolos, 'n pakker by 'n winkel in die dorp, toestemming by sy bestuurder gekry het om kruideniersware wat verjaar het en eintlik vernietig moes word, agter op sy bakkie te laai en huis toe te vat. Na werk onthou hy toe van sy vriende, die brandarm Lerofolo's. En so gaan laai hy 'n deel van sy vrag by hulle af. En toe húlle dit kry, onthou hulle op hul beurt die Van der Walts en húlle haglike situasie. En so het ons en ons babas vir 'n week lank soos konings geëet – vanuit 'n piepklein vaal huisie in Ikageng.
Jy vra of daar nie dalk wurms in die kos was nie? Die kos het immers reeds verjaar. Ons weet nie, want ons wou nie kyk nie. Mens kyk mos nie 'n gegewe perd in die bek nie (of sal ek praat van 'n wurm se bek?). Vir seker doen jy dit nie as dit 'n gawe uit die hand van ons Hemelse Vader is nie. En in elk geval doen geen addisionele proteïne mens ooit kwaad nie; inteendeel.
# Hoeveel getuienisse het ons nie oor ons Vader se getrouheid nie! Ons onthou nog die papiersakke met kwarteleiertjies, net-net groter as albasters; die volstruisnekke; die tien hektaar mielieland wat ons self moes afoes; tweedehandse klere in swartsakke wat ons vir jare warm en netjies gehou het (ek het nog tot onlangs van daardie klere gedra; rykes koop mos nie minderwaardig nie!); die vrieskas vol paasbolletjies, wat dit vir 2 maande onnodig gemaak het om brood te koop of te bak (en jy kan dit nie glo nie, maar ek is steeds lief vir "hotcross buns"!). Les bes was daar meer as een motor as geskenk. En op díé trant sou ek kon voortgaan! Tot vandag toe!
# Maar wat moes ons uit die ervarings leer? Laat ek net dít sê:
Natuurlik kom mens al hoe meer onder die indruk van ons hemelse Vader se betrokkenheid en onfeilbare versorgingsliefde. En mettertyd rus jy al hoe meer in Sy getrouheid. Maar iets wat op die tafels van ons harte gegrafeer is tydens genoemde ervarings, is dat die poeiermelk, hoewel geldelik sóveel minder werd as aartappels of vleis of 'n huidpaaiement, nie 'n geringer liefdesdaad van ons Vader was nie. Kategorieë soos ryk en arm, duur en goedkoop, meer en minder, moeilik en maklik, gesofistikeerd en eenvoudig (ens. ens.), is as 'n reël nie vir ons Vader belangrik nie.
Waar kom dit duideliker na vore as in die arm weduwee se twee klein muntstukkies wat volgens koninkrykstandaarde méér werd was as die vet gawes van die rykes (Luk 21:1-4)?
Slot
Ons beklemtoon weer: ons dink nie ons is méér geestelik as ander omdat ons leef soos ons leef nie. En die Here versorg ons nie ómdat ons kwansuis so naby aan Hom leef, of so 'n "groot" geloof het nie. Nee, allermins! 'n Duisend maal nee! Ons het bloot 'n getroue Vader! Ons weet hoeveel tragiese gebrokenheid en oorblywende sonde daar nog in ons lewens is! En mense wat ons goed ken, weet dit verseker amper net so goed soos onsself.
Maar ons is in Christus - en in Hom met God versoen! Hy lewe en is by ons betrokke as 'n genadige hoorder van gebed volgens Sy talle beloftes in die Skrif. Hy is ons liefdevolle en versorgende Vader. Hy is oneindig goed en onkreukbaar getrou. Menslike verdienste speel ten diepste geen rol nie! Ja, ja, natuurlik staan daar ook geskrywe: "Soek eers die koninkryk van God ..."
Dis omdat ons Hemelse Vader absoluut genadig is, omdat die Here Jesus 'n absoluut getroue Hoëpriester is en omdat die Heilige Gees ons altyd-teenwoordige Helper is, dat ons elke dag kos op ons tafels het. Dis waarom ons elke maand al ons verpligtinge kon en steeds kan nakom. Dis waarom mens mettertyd jou nie meer kwel nie. En so kan mens aanhou.
Hierdie lewenswyse is nie altyd 'n huppelgang nie, maar dit lewer 'n belangrike bydrae om ons dissipelskap en dienswerk in die Here Jesus se voetspore en onder die Vader se vleuels, 'n weergalose avontuur vir ons te maak!
Kan julle verstaan waarom ons goed slaap snags? Miskien is een van ons grootste probleme deesdae om nie té laissez-faire oor ons materiële versorging te raak nie.
Net 'n laaste naskrif: Die langnaweek toe ons ryk was!
'n Paar jaar gelede gaan ek een Vrydagmiddag voor 'n langnaweek via internet op ons bankrek in, net om te sien hoe sake staan. As my bankstaat op die skerm verskyn, kan ek my oë nie glo nie. Daar is R300 000 op ons rekening gedeponeer! Ek kyk weer en weer, maar dit bly daar staan — so onbeweeglik soos die berge rondom Ceres.
Met 'n stem wat van aandoening bewe en met papnat handpalms gaan roep ek Soniah en Ouma Darling. En ek moet bontstaan met nat waslappies, want die vrouens wil flou word. Ons is ryk — stinkryk!
Weliswaar is die geld nie dadelik beskikbaar nie — eers oor 'n week of wat. Maar dit maak nie saak nie. Dit gee ons kans om behoorlik te beplan. En daarmee begin ons onverwyld. Soniah dink aan nuwe nommertjies en huisverbeterings. Ouma begin droom oor 'n nuwe rolstoel met vere en skokbrekers. En ek ... wel, dis mý geheim.
Saterdagoggend (en ook weer die middag en die aand) is alles onveranderd op my bankstaat. En Ouma se vlugsout is op. Sondag staan my bankstaat so vas soos 'n rots. Maandagoggend vroeg-vroeg ry ek en Soniah Worcester toe. Exclusive Books sal oop wees, al is dit 'n vakansiedag. Ek is op soek na Vacationing in the World's Most Exclusive Hotels. Op pad terug ry ons by Worcester BMW verby. Ons sê niks nie, maar loer skalks na mekaar. Maandag lag ons baie en gaan stap huppelend. Ouma protesteer kamtig, maar sy kraai soos lanklaas as ek haar rolstoel (steeds stampende) met skreeuende bande om die draaie stoot. Nooit het ons geweet dis so lekker om ryk te wees nie!
Dinsdagoggend gaan ek weer bankstaat toe. Jy sal dit nie glo nie. Daar staan nóg 'n R300 000 - 'n tweede inskrywing! Nou begin die poppe éérs dans. Ek kan nie wag vir Woensdag nie. Wat gaan die volgende bankstaat dalk oplewer? Uitasem gaan roep ek vir Soniah: "My vrou, dit hou net nie op nie!"
Sy kyk stip na die skerm; stoot haar bril mooi reg en kyk weer. "Wat beteken daai strepie voor die syfer? Is dit nie 'n minus-teken nie?"
Baie dankie Absa vir 'n wonderlike naweek! Ons sal jou nooit vergeet nie!
Net 'n laaste opmerking: die essensie van wat ek hierbo geskryf het, is waar, maar as jy die aandikkings glo, sal jy van my 'n oortreder van die negende gebod maak.
Nico & Soniah van der Walt
[1] Vir 'n hele paar jaar het twee voltydse kollegas saam met my in die gemeente gewerk - elkeen met 'n vrou en 'n handvol kinders (soos ek en Soniah). Hulle het op dieselfde wyse as ons geleef, en hoewel ons nooit oor ons geldsake met mekaar gepraat het nie (nie in-diepte nie), het ek nooit die indruk gekry dat hulle of hulle gesinne aan kwasjiorkor lei nie. Elke gesin het ook 'n eie huis besit - weliswaar nie oos van die N1 in Pretoria nie. En sekerlik het ons nie elke dag koek geëet nie! Maar sover ek weet het nie een van ons in die skuld geraak nie; in elk geval nie ek en Soniah nie.
[2] Behalwe vir drie of vier keer 'n maand hier en twee weke daar om uit te help, het Soniah, ten spyte van goeie kwalifikasies, nooit langer as dit buitenshuis vir 'n salaris gewerk nie. Ons was oortuig daarvan dat sy die roeping gehad het om primêr na ons vier kinders en ons huishouding om te sien.
[3] Ons het dit oor die lewe in Christus se gemeente. Dit gaan nie hier oor die ontvang van 'n salaris in die wêreld nie, of oor formele vergoeding vir dienste gelewer, of besigheidstransaksies nie - hoewel 'n Christen se gesindheid van mededeelsaamheid en welwillendheid óók in 'n gevalle wêreld 'n kragtige getuienis kan lewer.
[4] Lees gerus die biografieë van mense soos Hudson Taylor, George Müller, Broer Andrew - en daar is dosyne meer wat van ons Vader se voorsiening getuig. En sekerlik het tienduisende - nee baie, baie meer; eintlik alle Christene - dit al deur die eeue ervaar.
[5] Deïsme is die filosofiese siening dat daar inderdaad 'n skeppergod is, maar dat hy geensins by die wêreld en sy bewoners betrokke is nie. Hy word beskou as afgetrokke en veraf - bloot 'n onpersoonlike eerste oorsprong.
[6] In die gemeentes waar ek pastor was, het ons nooit "kollekte" opgeneem nie. Daar was bloot by die uitgang 'n bussie waarin mense hulle bydraes vrywillig kon gooi. Twee ouderlinge of diakens op 'n slag het na die tyd dan die bussie oopgemaak. Uiteraard was ekself nooit daarby betrokke nie. Die oorgrote meerderheid bydraes was natuurlik vir die gemeentekas. Maar daar was gereeld ook koeverte - amper altyd van anonieme skenkers, met individue se name op - gewoonlik díé van mede-lidmate, of sendelinge, of wie ook al. Niemand het gevolglik geweet van wie dit kom nie. En dikwels was daar uiteraard ook 'n anonieme koevert of twee vir my en Soniah.
[7] Iemand het eenkeer gesê daar is twee soorte antwoord op gebed. Hulle word verskillend verhoor. Meeste kom soos 'n skilpad nader, stadig, stadig. Maar soms, net soms kry mens díé wat soos 'n vuurpyl verhoor word, amper onmiddellik, en dikwels dramaties - onmiskenbaar.
Maar ons ervaring is dat laasgenoemde gebedsantwoorde amper altyd kom nadat mens nie net gebid het nie, maar in jou benoudheid geroep het. En dis nadat jy geweier om bes te gee - eenvoudig nie kón nie. Eers nadat jy "deurgebid" het, en vrede kry, kan jy ophou.
Let net op, ek praat nie van 'n aangeplakte aansittery en 'n rumoer nie. Ek praat nie van 'n tegniek nie. Ek praat van iets wat uit jou wese kom. Dit gebeur met jou - en nie elke dag nie. Dis ég. Dit word deur die Heilige Gees gewerk.