PDF WEERGAWE

Irving was Presbiteriaanse predikant in London van 1822 tot 1834. 

            Die eerste ses jaar van sy bediening was 'n tydperk van uitnemende sukses. Met sy koms na die stad woon net 50 mense die dienste by. Maar binne 8 maande bars die gebou uit sy nate en talle moet teleurgesteld buite staan in die hoop dat hulle iets sal kan hoor. Kort voor lank is dit Sondae 'n vertrappery in die strate rondom die gebou. En elke Maandag is die koerante vol oor gebeure by die kerk die vorige dag. 

            Talle vooraanstaandes uit regeringskringe het die byeenkomste bygewoon. Onder meer was Joseph Canning - wat binnekort Brittanje se Eerste Minister sou word - 'n gereelde besoeker. In die Britse Laerhuis maak hy die stelling dat Irving die grootste redenaar van die dag is. Soms is selfs mense soos William Wordsworth en Sir Walter Scott in die dienste opgemerk. 

            Uiteindelik moet 'n ander en baie groter byeenkomsplek gebou word - die National Scotch Church in Regent Square. Die gebou, wat deur sommige as Brittanje se mooiste beskou is, word in 1824 betrek. 

            Irving sou in enige era 'n baie indrukwekkende en populêre figuur gewees het. Hy was lank - soos Saul bykans 'n kop langer as die gemiddelde mens - en het met 'n gemaklike, vorstelike elegansie beweeg. Nie alleen was hy geniaal en dinamies nie, hy was ook 'n man van inbors en integriteit - eerlik, onselfsugtig, vriendelik en opreg. En dan was hy 'n prediker sonder weerga! 

            Maar, helaas was daar ook ernstige krake in Irving se persoonlikheid. Hy het 'n neiging gehad tot die eksentrieke en die ekstreme, met 'n voortdurende sug na opwinding. Die bloot alledaagse en konvensionele was vir hom onhoudbaar. Daarom was hy onvergenoegd met die gewone gang van sy bedieningslewe. Dit lei dan daartoe dat hy in 1824 begin preek oor die Bybelse profesieë. Hy gaan egter onverantwoordelik en sensasioneel om met Bybelboeke soos Daniël en Openbaring. Oor sake waaroor groot godsmanne en geleerdes na eeue steeds nie klarigheid het nie, waag hy dit om dogmatistiese en soms dwase standpunte in te neem. Sy prediking - veral sy aanmatigende voorspellings oor die toekoms - het talle wat self kon dink laat wegdryf. Maar die naïewes het meer as ooit toegestroom.

             Irving het ook begin om afwykende beskouinge oor die menslike natuur van Christus te verkondig. Daarbenewens het hy begin preek dat die bonatuurlike openbaringsgawes van die Gees steeds in die kerk moet funksioneer. Eintlik het hy die idee in 1828 of 1829 by sy selfversekerde jong assistent, 'n sekere A.J. Scott gekry. Hy het Irving daarvan oortuig dat die kerk se afvalligheid en kragteloosheid grootliks te wyte is aan die verwaarlosing van hierdie gawes. 

            Scott het ook invloed gehad in 'n sekere distrik van Skotland. Daar het 'n tienermeisie, Mary Campbell, sy idees aangeneem - veral met betrekking tot die spreek in tale en genesing. Mary, ongeskoold maar intelligent, het 'n sterk neiging tot die mistieke gehad. Saam met 'n groep jongmense het sy aand na aand begin bid vir die gawe van tale. Sy was ook sieklik en het die Here vertrou vir 'n genesingswonderwerk. 

            Een rede waarom die groepie jongmense in die gawe van tale belanggestel het, was dat die meeste van hulle voornemens was om sendelinge te word. Hulle het gehoop dat hulle op die manier die gebiede waarheen hulle wou gaan se tale sou bemeester. Aangesien hulle geglo het dat Christus se wederkoms binne vier of vyf jaar sou plaasvind, het hulle gedink dat die Heilige Gees hulle op hierdie manier in staat sou stel om 'n groot getal heidene in 'n kort tydjie te bereik. Mary Champbell was die sentrale figuur in die groep. Sy het dikwels in 'n emosionele ekstase geraak terwyl sy gebid het en 'n oorweldiging van haar denke ondervind wanneer sy in 'n stortvloed van woorde uitgebreek het oor heilige dinge. Sy en haar vriende het vas geglo dat dit net 'n kwessie van tyd was voordat sy die gawe van tale sou ontvang. 

            En toe, een Sondagaand – in Maart 1830 - het Mary onverstaanbare geluide begin maak.  

Sy het geglo dat dit 'n taal soortgelyk is aan dié van Pinkster of die Christene in Korinte.  'n Ander familie het drie weke later in dieselfde deel van Skotland, ook so 'n ervaring gehad.  Ook hulle was sterk onder die invloed van A.J. Scott.  Die twee broers, James en John (albei in hulle vroeë dertigs) het, terwyl hulle besig was om te bid, van Engels oorgeslaan na 'n onverstaanbare vorm van spraak. James het ook beweer dat sy suster Margaret, wat siek was, deur 'n wonderwerk genees sou word. Nadat hy haar twee keer beveel het : "Ek sê vir jou, staan op!", het sy opgestaan. 'n Kort rukkie later het sy ook in 'n onverstaanbare taal gepraat. 

            In die Garelock gebied van Skotland was die mense reeds baie ernstig oor die dinge van die Here en die nuus oor die wonderbaarlike gebeure het 'n steeds groter opgewondenheid veroorsaak. Bowendien was Mary Champbell verseker dat die gawe wat sy ontvang het 'n heilige voorbereiding was vir die sendingveld. Sy het beweer dat die taal wat sy ontvang het dié van die Pelew eilandbewoners is. Nuus oor die gebeure in Skotland het Irving en baie ander met groot vreugde vervul. Hulle het verkondig dat dit die begin van God se finale werk op aarde voor die koms van Christus is en hulle het ernstig en gelowig gebid dat God ook in London moes werk.  

            Hulle gebed is spoedig verhoor. Mev Cardale, die vrou van 'n prokureur en lid van die  Irving geselskap, het 'n paar onverstaanbare geluide geuiter. Sy het ook die verklaring gegee:  "Die Here sal met sy kinders praat. Die Here bespoedig Sy koms! Die Here kom!" 

            Hierdie gebeure het van toe af gereeld soggens in Irving se gebedsessies plaasgevind. Daar was verskillende soorte uitinge saam met 'n gehuil en geskree en van alles is geglo en gesê dat die werk van die Heilige Gees is. 

            Die leierskap in die kerk het nie van hierdie aktiwiteite gedurende die gebedsbyeenkoms gehou nie, maar het dit tog verduur. Hulle was bang dat dit dalk regtig die werk van die Gees was en dat hulle Hom sou bedroef of uitblus.

            Dit het gou na die kerkdiens uitgebrei. Die eerste keer ('n Sondagoggend) het 'n juffrou Hall uit haar stoel gespring en probeer om 'n skielike uitbarsting van klanke wat in haar opgewel het, uit te kry. Sy het na die konsistorie gegaan, maar die gemeente kon die kermende en onverstaanbare geluide tog hoor. Met die aanddiens dieselfde Sondag was daar 'n geweldige oproer soos die "tale" en geskree en gehuil opgegaan het. Dis ook aangehits en nagemaak deur kwaaijongens wat die diens bygewoon het. 

            Die gebeure van daardie Sondag het die Presbiteriaanse deel van die gemeente erg aanstoot gegee. Hulle het verwag dat 'n diens waardig moet wees om God te kan aanbid en dat sodanige gebeure 'n skande is. 

            Nietemin het sake vererger, eerder as verbeter. Sommige talesprekers het daarop aanspraak gemaak dat hulle direkte openbarings van Bo ontvang. Baie van hierdie openbarings is deurgegee as verklarings van die tale. Irving, met sy eerlike, maar naïewe geaardheid het hierdie idee ten volle aanvaar en dit die gawe van profesie genoem. En dié wat dit beoefen, het hy profete genoem. Hy het self niks van hierdie spesiale gawes ontvang nie, en het homself daarom laer gereken as die profete en hom, trouens, ook onderwerp aan hulle gesag. 

            Die profete was hoofsaaklik vrouens, maar een was 'n man, 'n prokureur genaamd Robert Baxter.  Hy het dikwels die ervaring gehad, wat hy genoem het "om onder die krag te wees". Met so 'n ervaring het hy - so het hy geglo - direk met God gekommunikeer en sogenaamd geïnspireerde woorde ontvang.  Onder hierdie oortuiging dat hy direk deur God gerig word, het hy soms baie onverstandige dinge gedoen - bowenal was hy seker dat God aan die einde van veertig dae belowe het om hom met vuur te doop. 

            Hy het die bepaalde dag en uur opgewonde ingewag. Maar uiteindelik het daar niks van gekom nie. Sy vrou het as gevolg daarvan haar geloof in die bonatuurlike gawes verloor. Baxter het egter nog 'n tyd lank in sy oortuiging volhard, hoofsaaklik omdat hy 'n hoë agting vir Irving gehad het. Maar toe hy uiteindelik 'n ruk later besef dat sy held voete van klei het en dwaalleer verkondig - naamlik dat Christus 'n sondige natuur sou gehad het - het hy die charismata waarop hy aanspraak gemaak het as "verbeelding" afgemaak. 

            Gedurende April 1832 het die saak op 'n krisis afgestuur. Die Londonse sinode het Irving beveel om tereg te staan voor die kerklike hof. Eerstens, omdat hy toegelaat het dat sy dienste onderbreek word deur "tale" en tweedens omdat hierdie sprekers meestal vrouens was.  Vir twee dae lank het Irving sy standpunt verdedig. Hy het nogtans die saak verloor en is nie meer geskik geag om predikant te wees van sy gemeente nie (Regent Square Church). Toe hy daarna die oggend-gebedsbyeenkoms wou bywoon, was die kerk gesluit en sy bediening het sonder meer tot 'n einde gekom.

            Agthonderd mense het gevolglik saam met hom die kerk verlaat en 'n saal bekom waar hulle weer begin dienste hou het. Onder hulle was ook die sogenaamde profete en Irving het spoedig agtergekom dat hulle hulleself as die alleengesag beskou. Hulle het besluit wanneer en wat hy moes preek. Soms het hulle selfs sy prediking onderbreek. 

            Alhoewel hy diep bedroef was oor die ondergeskiktheid wat hom opgelê is, het hy volhard in sy oortuiging dat God deur hulle spreek. Twee apostels is mettertyd afgesonder - as die eerstes van twaalf wat die Here kwansuis sou kies om hom te verwelkom met sy wederkoms. Dié apostels was dan ook ver bo Irving geag in die nuwe hiërargie wat besig was om te vorm.

            Irving was dwarsdeur sy lewe 'n baie gesonde en energieke mens. Die voorafgaande ses jaar het hy verkondig dat siekte 'n direkte aanval van Satan is en deur geloof en gebed alléén genees moet word. Maar helaas het hy hiérdie opinie meer as een keer sien faal deurdat hy drie van sy kinders aan die dood moes afstaan en sy vrou meeste van die tyd ongesteld was.       Teen 1832, net nadat hy sy gemeente moes verlaat, het sy gesondheid ook begin om agteruit te gaan. Ten spyte daarvan dat hy net veertig was, het hy binne vier maande opvallend verouder. Sekerlik was dit deels te wyte aan nog verdere kerklike probleme wat hom gekonfronteer het. Omdat hy as predikant gelegitimeer was in Skotland, is hy ook dáár verhoor oor sy lering in verband met die sondige natuur van Christus. Hy het hom nogeens met groot ywer verdedig, maar het weer gefaal en is uiteindelik ontneem van sy amp en ontslaan uit die bediening van die Church of Scotland. 

            As hy dan terugkeer na London is hy 'n gebroke man - ten spyte van sy herbevestiging deur die apostels en die seën van die profete. 

            Teen 1833 het baie van die wat aanvanklik in tale probeer praat het, die praktyk totaal verwerp. Irving het al hoe meer gebroke geraak oor die mislukking van alles. Sy gesondheid het ernstig agteruit gegaan. En om die kroon te span, het die profete hom gemarginaliseer in die gemeente. Hy het toenemend soos 'n kluisenaar geword.

            Gedurende die herfs van 1834 het die profete besluit dat hy Glasgow toe moes gaan om te preek. Hulle het hom verseker dat hy 'n groot werk daar sou doen. Hy was egter nou 'n baie siek man, maar wou steeds nie erken dat hy tuberkulose in 'n gevorderde stadium het nie. Hy het by die dag swakker geword, maar voortdurend gebid vir 'n wondergenesing.

Hy en sy vrou het vanaf Liverpool per boot na Skotland gereis. Dit was November en uiteraard baie koud. Toe hulle Skotland bereik, was hy al so swak dat hy nie kon loop sonder sterk ondersteuning nie. Binne 'n paar dae was hy bedlêend en het hy uiteindelik gekapituleer en ingestem tot mediese hulp. Sy toestand was egter te ver gevorderd en hy het uur na uur verswak. 

            Tog het hy bly hoop. Hy was oortuig dat God kragtig sou ingryp deur 'n wonderwerk en dat die hele Brittanje daarvan bewus sou wees. Die Here sou hom volkome genees, oprig en al die charismaties gawes aan hom toebedeel. Verder sou hy in 'n bediening gebruik word wat die hele land sou skud en dit sou dan op die koms van Christus uitloop.

            Die mense rondom hom het egter besef dat sy dood op hande was. En inderdaad het sy laaste dae aangebreek. Uiteindelik het hy op Sondag 7 Desember 1834, teen middernag, vreedsaam gesterf met dié woorde, "As ek sterf, sterf ek in die Here".

            Edward Irving was deur en deur 'n goeie man - regverdig in sy optrede en ver verhewe bo sondes soos jaloesie, oneerlikheid en huigelagtigheid. As hy die teologiese koers behou het waarmee hy begin het, as 'n egte Presbiteriaan, en sy buitengewone gawes gebruik het, sou hy ongetwyfeld 'n lewenslange en ryk bediening gehad het. Hy sou dalk in die geskiedenis geken kon word as een van God se grootse manne.

            Maar hy het weggedraai om nuwe en ander dinge te soek. Sy aandrang op en beheptheid met direkte buite-bybelse openbarings sou noodwendig uitloop op gebrokenheid, hartseer en vernietiging. Waarlik, sy lewe is vol lesse vir dié wat vandag dieselfde weg wil volg. Dis 'n ernstige waarskuwing teen 'n oorbeheptheid met emosionele belewings en 'n gryp na iets méér as net die Woord van God, die afgeslote kanon. 

Nico van der Walt