Gessius Florus het geld liefgehad. En hy het Jode gehaat. Alhoewel hy Romeinse goewerneur oor Judea was, het hy hom min aan die sterk godsdienstige oortuigings van die Jode gesteur. Na 'n swak belastinginkomste, lê hy eenvoudig in 66 n.C. beslag op die tempel se silwer. Dit kan die Jode nie duld nie en daar ontstaan 'n opstand. As Florus troepe na Jerusalem stuur om die opstand te onderdruk, sterf 3600 burgerlikes. Dis 'n vonk in 'n kruitvat. En skielik is die dreigende Joodse rebellie 'n verskriklike werklikheid.
Masada was 'n feitlik oninneembare bergvesting van die Romeine langs die suid-westelike kus van die Dooie See. Aangevuur deur die veragtelike optrede van Florus, besluit 'n klomp halfmal Selote (Joodse yweraars) om díé bergvesting aan te val. Wonder bo wonder slaag hulle daarin om dit in te neem. Die Romeinse garnisoen word summier van kant gemaak. Jerusalem self ontplof en die Romeinse soldate wat nie sneuwel nie moet vlug. Asof oornag is die hele Judea in opstand en kort daarna Galilea.
Cestius Callus, Romeinse bevelhebber oor die gebied, ruk vanaf Sirië op met twintigduisend troepe. Hy beleër Jerusalem vir ses maande, maar sonder sukses. Na die dood van sesduisend manskappe en baie wapenverliese, blaas hy noodgedwonge die aftog. Keiser Nero stuur dan vir Vespasianus, een van sy senior-generaals om die Joodse rewolusie te onderdruk. Meedoënloos onderwerp hy gebied na gebied. Dan omsingel hy Jerusalem. As Nero sterf, raak Vespasianus egter in 'n leierskapstryd gewikkel. Uiteindelik word hy keiser en stel sy seun, Titus aan om die Joodse oorlog verder te voer.
Op hierdie stadium is Jerusalem reeds afgesny van die res van die nasie en die stad self word geteister deur faksiegevegte. Soos die beleg voortduur, sterf meer en meer mense van honger en pes — en, helaas, in hulle onderlinge bakleiery. Ernstige hongersnood heers binne-in die stad. Die Hoëpriester se vrou, eens gebaai in weelde, moet soos 'n rondloperhond krummels kos in die strate loop en soek. Die geskiedkundige, Josefus vertel selfs van 'n ryk vrou wat haar baba geëet het. Mettertyd is dit nie meer moontlik om al die lyke te begrawe nie. Die enigste oplossing word gevolg — om die dooies oor die stadsmure te gooi. Soveel liggame lê uiteindelik om die stad — meeste helaas dood aan die hand van mede-Jode — dat Titus die gode tot getuies roep dat hierdie massamoord nie sy skuld is nie.
Natuurlik het baie uit die stad probeer ontsnap. Die meeste is egter gevang en summier tereggestel. Sóveel is gekruisig dat daar naderhand nie meer genoeg hout vir nog meer kruise was nie. Trouens, daar was beswaarlik nog plék vir kruise. Sommige van die vlugtelinge het probeer wegkom met goud wat hulle ingesluk het. Toe die Romeine dit agterkom, begin hulle die gevangenes summier oopsny. Een nag, so word gesê, is tweeduisend Jode so dood.
Soos die beleg voortduur, word die stad se mure en skanse stukkie vir stukkie afgebreek. Bedags baklei die Joodse verdedigers en snags probeer hulle die mure herstel. Uiteindelik breek die Romeine deur die eerste muur, dan deur die tweede en dan deur die derde. Maar die verdedigers gee nie bes nie. Al vegtende trek hulle terug in hulle laaste loopgraaf — die tempel! So breek die einde dan vir die vegtende Jode aan. Ook vir hulle tempel en vir Ou Testamentiese offerseremonies. Eintlik het die kruisiging van Jesus natuurlik die prinsipiële einde gebring. Maar nou is dit die praktiese einde van Joodse seremoniële tempeldiens.
Die antieke historikus, Josefus beweer dat Titus die tempel graag behoue wou laat bly het, maar dat sy manskappe só woedend was oor hulle opponente se hardnekkige weerstand, dat hulle dit summier afgebrand en gesloop het. En die Hebreërs wat nie afgemaai is nie, is as slawe verkoop.
Dit word beraam dat meer as 'n miljoen Jode tydens die beleg en verwoesting van Jerusalem gesterf het. Waarlik is Jesus se woorde vervul: "... in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie" (Matt 24:21).
In die bergvesting Masada het die klompie Joodse yweraars vir nog drie jaar uitgehou. Op die punt van finale swigting het almal egter selfmoord gepleeg, eerder as om deur die klomp Romeinse heidene verneder te word.
So is die Joodse nasie dan, die van hulle wat oorgebly het, verstrooi. Hulle aanbidding sou as gevolg daarvan drasties verander. Dit was die einde van eeue se tempel- en offerdiens, asook van die Sanhedrin. Nuwe rituele is vir die sinagoge en gesin ontwikkel. Na amper twee millennia is daar eers weer die afgelope 7 dekades sprake van Joodse konsolidasie en 'n gepaardgaande Joodse staat.
Waar was die Christene met die val van Jerusalem? Uitstedig! Baie is oor die vorige dekades deur vervolging verdryf. Eusebius skryf dat die oorblywendes met die aanbreek van die beleg en kort daarna die stad verlaat het. Sommige historici beweer dat van hulle onder meer na Pella, 'n plek oorkant die Jordaan gevlug. Het hulle Here hulle dan nie meer as dertig jaar vantevore reeds gewaarsku nie? "Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet díé wat in Judea is, die berge in vlug, en díé wat in die stad is, daaruit padgee, en díé wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid" (Luk 21:20-22).
So het die evangeliefokus in die vroeë kerk na die heidene geskuif — in elk geval tot en met die vervulling van Rom 11:25 (as my verstaan van die "geheimenis" wat die apostel daar openbaar, inderdaad korrek is). Dán sal die Jode en masse God in gees en waarheid aanbid (Joh 4:23). Hulle sal verstaan dat die Joodse seremoniële beheptheid waarvan hulle na Pinkster so moeilik afstand gedoen het, destyds al finaal en volledig in Christus vervul is.
Ook het die Joodse Christene se onbetrokkenheid by die Joodse weerstand teen die Romeine, 'n wig ingedryf tussen hulle en hulle Joodse volksgenote. Gevolglik het hulle (die Joodse Christene) al hoe nouer met hulle nie-Joodse geloofsgenote saamgeleef.
Die nuwe bedeling deur Pinkster ingelui, het uiteindelik sy finale beslag gekry. Die nuwe Godsvolk sou van toe af wêreldwyd vanuit alle nasies kom. En in die nuwe godsvolk was die laaste reste van die ou verbond finaal iets van die verlede.
Nico van der Walt