PDF WEERGAWE

'n Algemene persepsie bestaan dat beklemtoning van die soewereiniteit van God sendingwerk onderdruk. Die Gereformeerde geloof, oftewel die Calvinisme, so word gesê, verwaarloos die verantwoordelikheid van die mens sodanig dat sendingwerk nie net as onnodig beskou word nie, maar ook as voorbarig.

            Niks is meer onwaar nie! Wat wel waar is, is dat talle wat ná sy tyd, ook hier in ons land, met Calvyn se naam gesmous het, ontrou was aan hierdie grootse roeping van die kerk. Maar dan is dit nie omdat hulle hom nagevolg het nie; dit is juis omdat hulle hom verkeerd verstaan het — nie net sy lering oor ons rol en verantwoordelikheid in die uitdra van die Evangelie nie, maar ook sy lering oor ander aspekte van die Godsopenbaring. Dit is immers 'n feit dat 'n baie groot persentasie van die sendingreuse in die geskiedenis uitgesproke Calviniste was.

            Dit staan histories vas dat Geneve (waar Calvyn gewerk het) 'n verstommende bron van sendingaktiwiteit tydens die sestiende eeu was. Talle en talle predikers, pastors en sendelinge is daar opgelei en dwarsoor Europa uitgestuur met die waarheidsevangelie. Calvyn se gevleuelde woorde aan die gelowiges in Frankryk gryp mens nou nog aan die hart: "Stuur vir ons stokke, en ons stuur vir julle pyle terug". En presies dit het gebeur. 'n Weermag predikers is na lande soos Italië, Duitsland, Skotland, Engeland en veral Frankryk gestuur.

            Hierdie manne moes in die nag reis, dikwels langs obskure paadjies. Bedags moes hulle wegkruip, in solders, agter vals mure, in hooimiedens. Tog het baie nooit hulle bestemmings bereik nie. Jare se opleiding het meermale, voordat vrugbare werk gedoen kon word, op 'n brandstapel geëindig.

            Diegene wat wel hulle bestemmings bereik het, het hulle dan by groepies ondergrondse protestante gevoeg — wat uiteraard maar te dankbaar was vir opgeleide mense wat hulle dieper in God se Woord, waarhede en weë kon inlei. Hierdie gemeentes het onder die seënende hand van die Here verstommend gedy, ten spyte van die feit dat alles teen hulle getel het.

            So, byvoorbeeld, is 88 sendelinge oor 'n aantal jare uit Geneve na Frankryk gestuur. Die gevolg was dat die enkele Calvinistiese gemeentes in 1555 binne 8 jaar tot 2150 vermeerder het. 'n Amptelike sensus het in 1562 aan die lig gebring dat 3 miljoen van Frankryk se 20 miljoen mense, lidmate van hierdie gemeentes was. Helaas het van die bloedigste vervolginge van alle tye die reformatoriese beweging mettertyd wortel en tak in Frankryk uitgeroei. In bietjie meer as honderd jaar na Calvyn se dood het 200 000 protestante 'n marteldood gesterf en 700 000 moes vlug. 'n Handjievol van hulle het in 1688 as die Franse Hugenote in die Kaap aangekom. En het hulle ons volkslewe nie verryk nie!

NvdW