PDF WEERGAWE

Jy sal nie spyt wees as jy na hierdie film kyk nie.

https://watch.redeemtv.com/videos/polycarp

-o0o-

Polikarpus was sedert kindsbeen 'n Christen. Tóg kon die Romeine nie daarin slaag om van hom ontslae te raak voordat hy reeds diep in sy tagtigs was nie. Uiteindelik het hy wel 'n marteldood op die brandstapel gesterf.

            Hy het 'n rigtinggewende rol gespeel in die eerste geslag of twee ná die heengaan van die apostels, se vestiging van die kerk. Volgens tradisie is hy persoonlik deur die apostel Johannes gedissipel.

            In sy latere jare was hy biskop (vandag sou ons sê "predikant") van die gemeente in Smirna in Klein-Asië. Hy het ook 'n prominente rol gespeel in die standpuntinname teen dwaalleraars – onder meer  die gnostiese Marcion.

            Sy enigste bestaande geskrif is 'n pastorale brief aan die gemeente in Filippi ­– waarin dit blyk dat hy nie baie formele skoling gehad het nie.

            Toe hy verneem dat hy gevang gaan word, wou hy rustig by sy huis wag totdat hulle hom kom haal. Maar mede-gelowiges het by hom gepleit om te vlug. Om hulle te kalmeer, het hy uiteindelik ingestem om na 'n hoewe buite die stad te gaan. Terwyl hy daar in gebed was, het dit vir hom duidelik geword dat hy op 'n brandstapel tereggestel gaan word.

            Uiteindelik het die Romeinse soldate uitgesnuffel waar hy hom bevind, en toe hulle aan sy deur hamer, het hy gesê, "Laat God se wil geskied", en rustig die deur vir hulle oop gemaak.

            Soos hy verwag het, het die Prokonsul, Quadratus, hom tot die brandstapel veroordeel.

            Toe die soldate hom op die stapel aan die paal wou vasspyker, het hy met hierdie woorde gevra dat hulle dit los: "Hy wat aan my genade verleen om die vuur te verduur, sal my ook in staat stel om vas te bly staan op die brandstapel – dis onnodig vir die spykers."

            Terwyl die vuur aangesteek is, en daarna aan hom begin lek het om sy liggaam te veras, was hy steeds in gebed – totdat hy stil geraak het. Een van die omstaanders het só gereageer: "Dit het nie soos die verbranding van vleis geruik nie, maar soos die bak van brood. Dit was soos die raffinering van goud of silwer."

            Nog iemand het later geskryf: "Almal onthou hom. Na sy teregstelling het almal orals, selfs die heidene, weer en weer daaroor gepraat."