PREEKOPNAME: https://tinyurl.com/233ba77x
Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: "Eloï, Eloï, lemá sabagtani?"
Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?
Dis belangrik om te onthou dat Jesus Christus dwarsdeur die tyd van Sy vernedering gely het – van die oomblik van Sy ontvangenis af. Maar sonder twyfel het dit toegeneem in intensiteit soos Sy lewe gevorder het.
Uiteindelik lees mens die beskrywing van Sy ure in die tuin van Getsemane. Wie van ons kan begin verstaan wat daar gebeur het? Maar terselfdertyd moet mens sê, wat was dit in vergelyking met Golgota? As Getsemane vooruitsig was, hoe moes Golgota se werklikheid nie gewees het nie?
Die kruiswoorde
# Daar was sewe kruiswoorde in totaal. Hulle is verspreid opgeteken in die vier evangelies. Net Markus en Matteus bevat hierdie vierde een – ons teks.
# In die eerste drie kruiswoorde gaan dit oor die belange van die omstanders.
Eerstens doen Jesus voorbidding vir sondaars – in hierdie geval Sy teregstellers: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie" (Luk 23:34). Betekenisvol is dat die Griekse werkwoord sê Hy het aanmekaar so gebid (Gr. Imperfektum).
Tweedens gee Hy 'n wonderlike belofte vol troos vir 'n sondaar wat homself verootmoedig — 'n misdadiger wat saam met Hom gekruisig word: "Ek verseker jou: vandag sal jy saam met My in die paradys wees" (Luk 23:43).
Derdens sien Hy om na die belange van Sy moeder, Maria, deur haar en Johannes aan mekaar toe te vertrou: "Daar is u seun ... Daar is jou moeder" (Joh 19:26-27).
# Oënskynlik volg daar dan 'n lang periode van stilte – dit kan so lank soos drie uur wees – voordat die laaste vier kruiswoorde uitgespreek word, kort na mekaar. Nou gaan dit oor die Here Jesus se lyding en Sy verhouding met Sy Vader.
Ons teks word gevolg deur drie kort sinnetjies: "Ek is dors (Joh 19:28) ... Dit is volbring (Joh 19:30) ... Vader, in u hande gee Ek my gees oor" (Luk 23:46).
Dat die Here nou met Homself en Sy hemelse Vader besig is, is natuurlik en tipies. As 'n sterwende al sy aardse belange afgehandel het, draai hy by wyse van spreke sy gesig na die muur toe om die dood tegemoet te gaan, en om met God alleen besig te wees.
'n Merkwaardige gebeurtenis
# Die kruisiging van Christus is sekerlik een van die mees uitsonderlike gebeurtenisse in die geskiedenis van hierdie wêreld – die skepsel maak sy Skepper dood! En die uitroep waarna ons kyk, is die dieptepunt van hierdie ontsettende gebeurtenis – die ewige en onuitspreeklik-wonderlike gemeenskap tussen die eerste en tweede Persone van die Goddelike Drie-eenheid word verbreek! Die Vader draai as 't ware sy rug op die Seun.
# Dat onskuldiges veroordeel word, en dat die een wat goed doen deur sy begunstigdes vermoor word, is sekerlik niks nuuts in die geskiedenis van die wêreld nie. Dit het al begin toe die vrome Abel deur sy broer vermoor is. Maar Hy wat aan die kruis gehang het, was geen gewone mens nie – Hy was die volkome en die volmaakte mens! Alle ander mense wat deur hulle vervolgers tereggestel word, het talle foute. Niemand se saak is waterdig nie. Maar van hierdie Een het selfs 'n heidense regter gesê: "Ek vind geen skuld in hierdie man nie" (Luk 23:4)!
As ons nie kan begryp dat God die Seun Homself aan so iets onderwerp nie, wat sal ons sê van die Bybelse openbaring dat dit God die Vader was wat Sy Seun oorgegee het om so 'n skandelike dood te sterf? Presies dit is wat die Skrif leer!
Die vierde kruiswoord
# Dis reeds vir drie uur lank donker. Nou is dit die negende uur, oftewel drie-uur die middag. Dis 'n middag-middernag. Jesus is sterwende. "Eloï, Eloï, lemá sabagtani?" – My God, my God, waarom het U My verlaat?
# Wat gaan deur Jesus se gemoed tydens daardie 3 uur van stilte in die duisternis? Beleef Hy dalk ekstatiese gemeenskap met Sy Hemelse Vader? Dit sou tipies wees van 'n sterwende gelowige. Het baie van ons dit nie al langs die sterfbed van 'n heilige gesien nie? Hoeveel martelare was nie al so weggeruk in hemelse vervoering dat hulle midde-in 'n vlammesee staan en sing het nie?
Maar so was dit nie in ons Here Jesus se geval nie! Inteendeel.
Die rou kreet van benoudheid waarmee Hy die stilte verbreek, is uitdrukking van dit wat Hy in die voorafgaande ure van duisternis beleef het.
Psalm 22:2, die Messiaanse profesie van 'n duisend jaar vantevore, waar hierdie woorde net so geskryf staan, sê dit was soos 'n "gebrul" (OAV). Die Hebreeuse woord dui op die geroggel van 'n dier in sterwensangs. Nooit was daar 'n uitroep soos dié in die geskiedenis nie; nooit sal daar ooit weer só 'n gil wees nie.
Die Vader stuur nie 'n engel om Hom te versterk nie. Hy doen nie 'n wonderwerk en haal Hom dramaties van die kruis af nie. Hy laat Hom eenvoudig oor aan Sy lot. Vir die eerste maal in die ewigheid is daar tussen Vader en Seun geen gemeenskap nie. Jesus is alleen, alleen, alleen!
Hy verduur die straf op miljoene mense se sondeskuld. Tot in der ewigheid sal God met sonde geen gemeenskap hê nie!
# Wat ons moet verstaan, is dat die Here se lyding nie bloot Sy liggaamlike belewing is nie. Nee, dit was baie, baie erger. Sy geskeidenheid van God is werklik. God het Hom regtig verlaat. En Hy verduur die helse smart wat miljoene toegekom het, namens hulle.
+ Die Here is hier die vervulling van dit wat 'n duisendvyfhonderd Groot Versoendae geprofeteer het (Lev 16). Hy vervul dit waarvan onder meer die twee bokke gespreek het – die bok "vir die Here" wat met vuur verbrand is, en die bok "vir Asasel" wat met die volk se sonde op hom die woestyn ingejaag is om daar alleen en verdwaald van honger, dors en ontbering om te kom.
+ Jesus ondergaan hier die marteling van 'n doemeling. God handel met Hom, nie soos 'n liefdevolle vader sy seun nie, maar soos 'n gekrenkte en regverdige regter 'n misdadiger. Dis ontelbaar baie mense se sonde wat Jesus hier vergruis. Dis die bliksemstrale van God se heilige toorn wat meedoënloos, een na die ander, op Hom inbrand! Dis die ewige verdoemenisse van miljoene begenadigdes wat op Hóm gestapel is en Hom verbrysel. En Hy is alleen, alleen, alleen!
+ Maar is dit regverdig?, vra jy. Was Hy nie in hierdie oomblikke juis by uitnemendheid gehoorsaam aan Sy Vader nie? Is dit nie juis waarvoor Hy gekom het nie? Presies dít is die punt. Hy het ons sonde op Hom geneem sodat die Vader dit aan Hóm kon straf. Só bevredig Hy die onkreukbare geregtigheid van God. Wat ons hier sien, is hoe Hy elke stukkie sondeskuld van elke uitverkorene deur die ganse geskiedenis betaal!
Hierdie vierde kruisroep woord vir woord
# "My God, my God"
In die eerste en laaste kruiswoorde spreek Jesus God as Sy "Vader" aan. Maar hier noem Hy Hom net "God". Is dit omdat die band van intimiteit tussen hulle verbreek is?
Die Aramese Godsnaam wat die Here Jesus waarskynlik hier gebruik, is "El". Dis die basiese Godsnaam en kom van die stam om sterk te wees. Dit dui dus op God as die almagtige. Die band tussen Vader en Seun word dus nie verbreek, omdat die Vader nie meer Sy gefolterde Seun kan vashou nie. Nee, wat hier gebeur, is presies wat reeds in die ewigheid voor die skepping tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid besluit is – dit wat die verlossingsverbond vasgemaak het.
# "Waarom?"
Wat tog is die rede dat God Sy enigste Seun nou verlaat – hier in Sy uur van grootste nood? Hy het tog geen aanleiding daartoe gegee nie. Was Hy nie in alles deurgaans getrou en gehoorsaam nie? Waarom?
Natuurlik weet Jesus presies wat aan die gang is. Maar hier sien ons Hom in Sy menslike swakheid.
# "Het"
Dis verlede tyd; dit het reeds gebeur. Hier is nie bloot 'n dreigende vooruitsig nie. Nee, dis reeds 'n voldonge feit! Dis die verskriklikste oomblik in God se ewigheid!
# "U"
Was die klem in die sin dalk op hierdie woord? Dis asof Jesus wil sê: Ek ken verwerping. My broers het My vroeg-vroeg reeds verwerp – soos Josef se broers hom nie kon verduur nie. My eie mense in Nasaret het My verwerp; trouens, hulle wou My selfs vermoor. My volk het My die rug toegekeer. Meeste van My volgelinge het aanstoot aan My geneem. Judas het My verraai. Petrus het My verloën. En die ander dissipels het gevlug.
Wat sou deur sy gedagtes gegaan het? Dalk dit?: Alles tot nou toe kon Ek verduur, want Ek het Ú gehad. Dis waarom ek in die bovertrek kon sê: "Kyk, daar kom ’n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is" (Joh 16:32).
Was daar dalk 'n dreigende verwyt wat Hy moes weerstaan? Nou, Vader, het Ú My ook verlaat! Onthou, sy lyding was deur en deur ég.
# "My"
Of is die klem dalk op híérdie kort woordjie? Dan is dit 'n roep tot die Vader: Die mens is die kroon van U skepping, maar hy het in sonde geval. Daarom is alle mense sondig. Dat U dus die mens verwerp, is verstaanbaar, onvermydelik. Maar Ék is die tweede mens, die laaste Adam. En het Ek nie die werkverbond volkome gehou nie? Was Ek nie elke oomblik van elke dag in optrede, woord en gedagte volmaak gehoorsaam aan U nie? Het U nie van My gesê nie, "Dit is My geliefde Seun in Wie Ek 'n behae het?"
Waarom dan verlaat U Mý?
# "Verlaat"
Was die Vader en die Seun nie van altyd af sielsgenote nie? Was die eenheid tussen hulle, die liefde, die onderlinge behae, die intieme gemeenskap, nie meer en dieper as wat mense ooit kan begryp of woorde kan uitdruk nie? Was dit nie van alle ewigheid af so nie? Maar nóú, as die Seun Sy Vader se bystand en gemeenskap nodiger het as ooit, is Hy skielik alleen. Die Vader is net weg! Waarom tog?
Die evangelie antwoord al hierdie vrae glashelder duidelik!
Saamgevat
# Die sondeskuld van miljoene mense is aan Hom toegereken, gedebiteer en Hy betaal die straf wat hulle toegekom het. Dis sy passiewe gehoorsaamheid in terme van die werkverbond tussen Hom en die Vader, wat tot vervolmaking kom. En só word die uitverkorenes skuldvry.
Maar daar is méér – en dis lewensbelangrik. Hier kom sy verbondsgehoorsaamheid in terme van die werkverbond tot finale vervolmaking. Dis sy aktiewe gehoorsaamheid wat tot hoogste uitdrukking kom. En dis híérdie geregtigheid wat aan 'n ontelbare skare gelowiges deur alle eeue toegereken, of gekrediteer word om hulle te laat kwalifiseer vir die ewige saligheid.
Dit is waarom die groot, finale en volmaakte Lam van God net 'n bietjie later kan uitroep, "Tetelestai!" – "Dit is volbring!"
Vir God se begenadigdes
is die rekening vir ewig en ten volle
opbetaal!"
Nico van der Walt
Epos: