VIDEO-/PREEKOPNAME:
Wees noulettend op jouself en jou leer; volhard daarin. Want sodoende sal jy jouself red en ook hulle wat na jou luister (1Tim 4:16; DAV).
Paulus druk Timoteus ernstig op die hart om nougeset oor sy leer en lewe te waak, omdat dit bepalend kan wees, nie net vir sy eie redding nie, maar ook vir die redding van sy kudde.
# Besef jy dat dit moontlik is dat een of meer van die predikers in jou gemeente die ewigheid in die verdoemenis kan deurbring – indien hulle onder meer: eerstens, in hulle navolging van Christus nie is wat hulle moet wees nie, of, tweedens, dwaalleer verkondig?
Beide bogenoemde sal gewoon uitwys dat hulle huigelaars was en nooit gered is nie.
# Die skokkende is dat dit waarmee die deursnee lidmaat nog sal kan wegkom op daardie dag as ons moet verantwoording doen, verdoemend kan wees in die geval van predikante (en hul mede-ouderlinge). Leermeesters gaan strenger as ander beoordeel word! (Jak 3:1). Besef jy dat die ouderlinge en leraars in jou gemeente geroep is om 'n groot rol te speel in jou redding, maar helaas ook die oorsaak kan wees dat jy vir ewig verlore gaan? Kyk mooi na ons vers: 'n Voorwaarde vir Timoteus en sy kudde se ewige redding is dat hy wat Timoteus is, sal let op sy lewe en sy leer, en daarin sal volhard.
Baie predikante (en ouderlinge in die algemeen) dink hulle reddingstaak is afgehandel wanneer iemand tot bekering gekom het en by die gemeente inskakel. Al wat dan oorbly, is dat sulke mense voortgaan as lidmate en gereelde kerkgangers. Slegs verlorenes moet immers gered word, word gedink – nie die gemeente nie. Hulle is mos reeds gered.
Maar die Skrif leer dat as mens nie enduit in geloof en gehoorsaamheid volhard nie, die gevolg nie net mindere heiligmaking is nie, maar die ewige verdoemenis (Rom 2:7; Heb 12:1).
Hier sê die apostel dis die herders se verantwoordelikheid om elkeen wat na hulle "luister" te red. Dit gaan dus veral oor die leraars, maar ons kan goedskiks dit op alle ouderlinge van toepassing maak. Hierdie vers impliseer dat die herders 'n voortgaande verantwoordelikheid het vir elke "skaap" – enduit. As jou oë eenmaal hiervoor oop gaan, is jy verbaas oor hoe dikwels die Nuwe Testament op hierdie verantwoordelikheid sinspeel – soos onder meer van die verse waarna hieronder verwys word, bevestig.
Die taak van gemeenteherders is om na die beste van hulle vermoë, met al die gawes en hulpmiddels wat die Here tot hulle beskikking stel, die skape te lei op die pad van volharding enduit.
Watter gereedskap het die herders? Daar is 'n lang antwoord en daar is 'n kort antwoord. In kort, 'n herder het gebed, die Woord, sy voorbeeld en die tug vir die uitvoering van sy roeping. As die apostel in ons vers sê dat Timoteus op sy voorbeeld moet let, gaan dit dus nie net oor hierdie helper van hom se eie redding nie, maar ook oor sy lewenswyse — wat die kudde sekerlik sal navolg. Déstyds het 'n herder vóór sy kudde geloop om hulle te lei.
Is bogenoemde vertolking Bybels?
# Eerstens, is dit nie hemelskreiende arrogansie om te sê dat ék mense kan en moet red nie? Dis tog iets wat nét die Here kan doen.
Sekerlik! Maar tog sê die Skrif óók meermale dat Sy werkers mense red. Paulus skryf in 1Kor 9:22: "Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red." En Jakobus sê: "... weet dan dat hy wat 'n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red ..." (Jak 5:20) (vgl. ook Hand 26:18; Rom 11:14).
Ons moet dit só verstaan: in bykans alles wat die Here hier op aarde doen, werk Hy middellik — Hy gebruik instrumente. So maak Hy dan van Sy dissipels gebruik, veral van Sy predikers en ander ouderlinge, om soos stukke gereedskap in Sy hand te wees as Hý mense red. En in híérdie sin red húlle mense.
# Tweedens, is dit reg om te sê dat iemand wat reeds gered is, steeds gered moet word? Dit word vertel dat die befaamde 19de eeuse teoloog, Biskop Westcott, teologiese professor in Cambridge, een keer deur 'n voorbarige student voorgekeer is met dié woorde: "Professor, is u gered?" "Goeie vraag", het Westcott geantwoord, "maar dit hang af wat jy bedoel?" Toe slaan die geleerde oor in Grieks en hy gebruik 3 passiewe deelwoorde van die werkwoord "om te red": ek is gered, ek word gered, ek sal gered word. Onnodig om te sê, die student is druipstert daar weg.
# Redding word op drie maniere in die Skrif aan ons voorgehou:
Ware gelowiges is gered (Rom 8:24; Luk 7:50; Ef 2:5, 8).
Hulle word gered (1Kor 1:18; 2Kor 2:15).
Hulle sal gered word (Rom 5:9-10; 13:11; 1Pet 1:5).
+ Dis omdat redding in Christus 'n proses is. Ons praat van die heilsorde. Dit begin reeds voor die grondlegging van die aarde met uitverkiesing; realiseer dan stapsgewyse in hierdie lewe in roeping, wedergeboorte, geloof, bekering, regverdigmaking, aanneming, heiligmaking, volharding; en kom dan tot vervolmaking in heerlikmaking.
Vir seker is hierdie 'n geïntegreerde proses: As jy één het, kry jy algaande alles. As jy één nie het nie, is dit omdat jy niks het nie.
+ Die Christelike lewe is soos 'n maratonwedloop, en slegs hulle wat tot die einde toe volhard, sal gered word. Dis omdat die Here elke werk wat Hy begin enduit voer.
Volhard 'n persoon nie, toon dit bloot dat sy vroeëre bekering nie ég was nie. Sy of haar saad het op die vlak grond of tussen die dorings geval.
# Hierdie betrokkenheid van herders in die redding van hulle kuddes is nie maar 'n terloopsheid nie; dit verg alles van hulle. Luister weer na Paulus: "Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes sodat ook hulle die verlossing ... en die ewige heerlikheid kan ontvang" (2Tim 2:10). In 2Kor 1:6 skryf hy: "As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle gehelp en gered kan word."
# In die geval van die Korintiërs het ons 'n voorbeeld van hoe mense só deur die bemoeienis van 'n herder gered word. Hulle het in sonde geval en Paulus het 'n brief aan hulle geskryf wat hulle diep ontstel het (en gewis was hierdie sogenaamde tranebrief, wat ons nie het nie, ook vir hom uiters pynlik om te skryf). Die brief het egter die gewensde uitwerking gehad en die Korintiërs het hulle bekeer. In 'n volgende brief sê Paulus dan dat hy nie met kwade bedoelings so streng met hulle was nie. Maar dit het vir hom daaroor gegaan dat hulle nie die saligheid misloop nie – "want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei ..." (2Kor 7:10).
# Miskien is die Hebreërbrief die uitnemende voorbeeld van sulke pastorale gestrengheid ter wille van gelowiges se redding. Die Hebreërs is op die punt om die geloof te versaak en na die Joodse godsdiens terug te keer. Hiervan wil die skrywer hulle ten alle koste laat afsien. Hy draai geen doekies om nie en bombardeer hulle met die mees skrikwekkende pastorale vermanings en waarskuwings in die ganse Nuwe Testament. Verskriklik, sê hy vir hierdie mense wat dalk reeds jare se dissipelskap agter hulle het (of dan gewaande dissipelskap), is dit om in die hande van die lewende God te val! (Heb 10:31).
Wat die Hebreërskrywer betref, hang die ewige saligheid óf verdoemenis van hierdie mense óók een honderd persent van sy pastorale en lerende getrouheid af.
Waarlik, dit is die verantwoordelikheid van elke predikant (en elke ouderling) om met alle ywer só te werk dat nie een van sy broers of susters verlore gaan nie. Daarvoor is hy voor die Here verantwoordelik. As een van hulle voor die wenpaal sou opgee, sou dit 'n vraag wees of dit nie dalk, in elk geval ten dele, te wyte is aan sy lerende en pastorale ontrou nie.
Te sterk gestel? Ek dink nie so nie. Maar dís vir seker die gesindheid wat elke herder hom ten doel moet stel – al kan niemand enigsins volkome daarin slaag nie.
# Maar, terwyl die Skrif se aksent op die herders se verantwoordelikheid val, is dit meteen ook iets wat op elke gelowige rus.
Sowel die Romeine as die Korintiërs word deur Paulus gewaarsku om, selfs in so 'n geringe saak soos wat jy eet of drink, nie 'n mede-gelowige in die geloofswedloop te laat struikel nie.
Vir die Romeine sê die apostel: "Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie" (Rom 14:15).
En vir die Korintiërs sê hy dat mens 'n broer of suster se geloofswedloop deur jou voorbeeld kan laat skipbreuk ly. As jy jou Christelike vryheid só misbruik dat 'n mede-lidmaat jou strydig met sy oortuigings navolg, laat jy hom iets teen sy gewete doen – en dit kan hom sy saligheid kos. "Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit 'n broer vir wie Christus gesterf het" (1Kor 8:11).
Hoeveel te meer kan voorgangers van gemeentes, wat uiteraard meer in die oog en invloedryk is, die oorsaak wees dat medegelowiges die pad byster raak?
Op die spel in pastorale bediening en prediking,
is nie bloot 'n gemeente se groei in heiligmaking nie,
maar ook hulle uiteindelike besitname van die ewige saligheid.
Enkele punte van toepassing
1. Beswaarlik is daar iets wat vir ons belangriker is as om heilig in die geloofswedloop te volhard.
As daar een ding is wat die apostels met geweldige erns bejeen het, dan is dit ons verantwoordelikheid om met alles in ons vermoë die koninkryk binne te beur. Hierin het hulle die Here Jesus nagevolg: die koninkryk van die hemel moet bestorm en met geweld gegryp word (Matt 11:12, OAV). En as jou hand of oog jou in die proses laat struikel, moet jy dit afkap of uitruk (Matt 5:29-30).
Dis reg dat ons beklemtoon en ons daarin verheug dat die Here reddend in ons lewens ingegryp het. Maar dit mag nie die enigste belewing van ons Christenskap wees nie. As ons nie voortdurend besig is om ons heil "met vrees en bewing" uit te werk nie (Fil 2:12-13), loop ons die risiko dat ons dalk nooit die Here sal sien nie.
Geloofsekerheid is 'n kosbare gawe van die Heilige Gees. Maar daar is ook soiets soos geloofsvoorbarigheid. Tensy die Here my elke dag genadig is, sal ek nie die ewige saligheid beërf nie!
Waarlik,
niemand sal die koninkryk op 'n traak-my-nie-agtige wyse beërf nie.
Hierdie is 'n saak waaroor ek en jy gereeld moet bid!
Om ouderling in 'n gemeente te wees, is nie net omdat dit jou beurt geword het nie; dis 'n skrikwekkend verantwoordelike roeping.
Hier het ons die antwoord waarom die Nuwe Testament soveel aandag gee aan die kwalifikasies vir herderskap in die gemeente (1Tim 3:1-7; Tit 1:5-9).
- Ek moet met alles in my daarteen waak om vir my broers en susters tot struikeling te wees in húlle wedlope.
Dit waarna ons tans kyk, beteken nie dat diegene wat waarlik gered is, verlore kan gaan nie. Maar dit beklemtoon dat volharding tot die einde toe die uiteindelike merkteken van ware redding is. Vals gelowiges sak uit.
Maar let goed op wat die Here sê: as jý die oorsaak is dat iemand struikel, is dit vir jou beter om eerder met 'n klip om jou nek in die see te verdrink (Matt 18:6-7).
- Die antwoord? Die vaste spys van die Woord!
Mens sou nou maklik kon redeneer dat predikers, in die lig van wat ons gesien het, eerder nét appellerende bekeringsboodskappe moet preek. Nee! Nee! Dit was juis een van die groot probleme van die Hebreërs: hulle het vasgesteek by die melkkos van die eerste beginsels (Heb 5:11-6:3).
Bekeringsboodskappe het hulle plek, natuurlik! Maar as iemand eenmaal tot geloof gekom het, het hy of sy behoorlike Skrifuitleg en gespierde leerstellige prediking so nodig soos kos en water. En presies hierdie behoefte werk die Heilige Gees in mense wat waarlik gered is. Dis waarom hulle daarna honger.
Baie wys was die ou gereformeerde vaders deur aan te dring op twee soorte prediking elke Sondag: een preek Skrifuitleg; die ander preek leerstellig van aard (natuurlik Bybelsbegrond). Dis een rede waarom hulle die Heidelberse Kategismus in 52 Sondae verdeel het – een per week. Hierdie voorgangers van ons het iets beklemtoon wat talle van hulle nageslag helaas grootliks vergeet het. Lang reekse vers-vir-vers prediking is goed en nodig – maar as dit ál kos is wat 'n kudde kry, word hulle gou-gou brandmaer.
Dan praat ons nie eers van 'n ander hemelskreiende skande nie: dat sóveel waarlik geredde mense op mensgesentreerde en sentimentele boodskappies (Eng. sermonettes) moet probeer oorleef.
Daar is drie redes vir hierdie geestelike hongersnood in baie gemeentes.
Een, baie predikers is gewoon te lui om hulle preke behoorlik en in-diepte voor te berei. Of nog erger, daar staan te veel ongeredde predikers op kansels. En wat sal hulle verstaan van die diep geheimenisse van God se geopenbaarde waarheid?
Twee, dis aan die orde van ons dag dat kerke vol ongeredde lidmate sit. Die ellendige gevolg is dat die prediker al hoe oppervlakkiger preek om diesulkes te laat aanhou kerk toe kom. Spoedig vermaak hulle dan bokke, in plaas daarvan om die skape kos te gee.
Drie, omdat die ouderlinge óf te onbeholpe óf te laks is in die uitvoering van hulle roeping, moet die predikant ook húlle werk doen en gevolglik preekvoorbereiding afskeep.
Dominee, jou éérste roeping is in jou studeerkamer,
met 'n oop Bybel voor jou,
of op jou knieë.
- Ontelbaar baie gaan die ewige verdoemenis tegemoet, omdat hulle dink dat dit nie regtig saak maak aan watter kerk mens behoort nie.
Solank mens net persoonlik met die Here wandel, dink baie, is alles in orde. Maar wat hulle vergeet, is dat jou wedloop óók tot 'n groot mate bepaal word deur die herderskap en veral die prediking waaronder jy Sondae sit (selfs al is dit wel op 'n manier regsinnig).
Die probleem is dat ons vergeet dat díé soort dissipelskap wat op die ewige heerlikheid uitloop, alles van mens verg. En word jy nie gedurig gevoed en versterk deur jou gemeente nie (praat nie eers van vergiftiging nie), is die kanse goed dat jy nie enduit gaan volhou nie.
- Bid baie gereeld vir jou herders.
Soos sekerlik nou duidelik, rus 'n enorme verantwoordelikheid op die die ouderlinge en in 'n baie besondere sin op die predikers in 'n gemeente. Bid dus gereeld vir jou herders – ook dat die gewigtigheid van hulle roeping steeds dieper op hul harte gegrafeer sal word.
Bid nie net ter wille van hulle nie, maar ook ter wille van jouself. Sekerlik kan mens sê dat geen mense – behalwe natuurlik jyself – 'n groter rol in die hand van die Here speel wat jou geestelike groei en geloofsvolharding betref, as die ouderlinge van jou gemeente en veral die predikers nie.
- Dié uitnemede geheim in die geloofswedloop is om in die geloof elke dag jou oë op Jesus Christus vas te nael.
Kom ek sluit af met 3 aanhalings uit Hebreërs:
"Hy (die Seun) (het) vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword" (5:9).
"Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het" (3:14).
" ... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof" (12:1-2).
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev