PDF WEERGAWE

PREEKOPNAME:

 

Fil 1:29-30: "... omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, terwyl julle dieselfde stryd het as wat julle in my gesien het en nou van my hoor" (OAV).

Paulus is 'n vlymskerp logiese denker. Soos een gedagte na die ander volg, bou hy sy waterdigte argumente stap vir stap. Kenmerkend van sy styl is sy gereelde gebruik van voegwoorde, sodat ons nie hoef te sukkel om sy logiese koersveranderings te begryp nie. Op hierdie oorgange sal die wyse leser goed let.

#          In Fil 1:27-28 rig die apostel duidelik 'n oproep tot die Filippense. En in v.29-30 maak hy dan 'n stelling oor God se reddende genade in hulle lewens.

            Hierdie twee gedeeltes verbind hy aan mekaar met 'n kort Griekse woordjie – in die OAV vertaal met "omdat" (OAV), en in die meeste Engelse vertalings met "for" (v.29a).

            Hierdie voegwoord is van die allergrootste leerstellige belang. Dis redegewend en maak v.29-30 die basis vir v.27-28 se oproep. Paulus se bevel in laasgenoemde verse hang dus nie in die lug nie; dis stewig veranker in die feit dat sy lesers 'n genadegawe van van God ontvang het.

            Nooit sal jy die apostels anders hoor argumenteer nie. Altyd is hulle oproepe vierkantig gebaseer op God se voorafgaande verlossingsdade. Nóóit koester hulle enige verwagtinge van die natuurlike mens voordat hy nie éérs deur die Here herskep is nie.

#          Vers 29: Redding in 'n sondaar se lewe neem 'n aanvang met die ontvangs van 'n geskenk. Iets is aan die Filippense "gegee".

            Grieks het verskeie woorde wat Paulus kon gebruik het. Hierdie spesifieke woord dui op 'n persent wat in genade gegee word.[1] Dus: julle het wel 'n geskenk gekry, maar julle het dit allermins verdien. Trouens, julle moes die teenoorgestelde gekry het – God se oordele.

Wat is hierdie geskenk?

#          Paulus gebruik 3 frases in v.29. Die eerste word deur die volgende twee beheers. Elkeen van hierdie frases begin met "die" – wat ongelukkig nie in die Afrikaans voorkom nie, aangesien dit 'n baie lomp vertaling sou meebring. Maar in die apostel se gedagtes vervul dit 'n belangrike rol, aangesien die lidwoord elke keer die hele daaropvolgende frase effektief in 'n selfstandige frase (of as jy wil, 'n selfstandige naamwoord) verander.

            Letterlik staan daar dus dat aan hulle gegee is: díé ter wille van Christus – wat nie net díé om in Hom te glo behels nie – maar ook díé om vir Hom te ly.

           

            +          Stel jou 'n groot boks voor. Dis toegedraai in geskenkpapier. En rondom is daarop geskryf: "Die ter wille van Christus!" As ons dit dan versigtig en met afwagting oopmaak, kry ons tussen die houtwol nóg twee boksies, pragtig toegedraai. Op een staan geskryf: "Die om in Hom te glo!" En op die ander een, net so groot en mooi toegedraai, staan in dieselfde skrif geskryf: "Die om vir Hom te ly!"

Hier is 'n belangrike beginsel:

As God genade aan 'n sondaar gee,

gee Hy altyd, sonder uitsondering, nóg twee dinge:

Geloof in Hom

Lyding vir Hom

Nooit kom die groot boks sonder die twee kleintjies nie. En nooit kom die een kleintjie sonder die ander kleintjie nie. Hy gee dus én geloof én lyding. Die geloof is ín Hom; die lyding is vír Hom. En beide hierdie dinge is "ter wille van Christus".

#          In sy verbeelding kan Paulus hoor hoe sy lesers na hulle asem snak. Dit kan tog nie vir álle Christene geld nie! Ja, uiteraard gló alle Christene in die Here Jesus, maar lý almal vir Hom?

            Dis een rede waarom die apostel v.30 byvoeg. Die tweede pakkie is nie verbeelding nie. Elke ware Christen ken dit uit ervaring. Indien nie dadelik nie, sou ook die Filippense dit spoedig verstaan.

            Onthou hulle nie hoeveel dit destyds gekos het om die evangelie na Filippi te bring nie? Hand 16 beskryf hoe Paulus en Silas na die stadsplein gesleep, hulle klere afgeskeur, en hulle ná lyfstraf in die tronk gegooi is (v.19-24). En, soos die Filippense weet, dit was alles behalwe die einde van Paulus se ontberinge. Hy skryf immers hierdie brief aan hulle uit gevangenskap.

            Maar lyding is nie tot Paulus beperk nie. Sy lesers – almal van hulle – ken dit ewe goed. Ja, miskien is dit minder erg as die van die apostel. Maar dis dáár, altyd op een of ander manier, meer of minder intens. En, ja, dit wissel van tyd tot tyd.

Die res van die Nuwe Testament oor lyding

#          Dat ons geloof in Christus as 'n vrye gawe van God se soewereine genade ontvang, is 'n wonderlike waarheid waarin ons nie ophou om ons te verbly nie. Maar dat ons óók lyding vir Christus as 'n genadegawe ontvang, word nie so dikwels erken nie. En selde verbly ons ons daarin.

            Leer die res van die Skrif dit – dat lyding eie is aan die ervaring van alle Christene? Beslis!

#          Jesus het oor en oor geleer dat lyding deel sou wees van Sy dissipels se lewens. Die apostels het die waarheid op hulle beurt ook uitdruklik geleer (2Tim 3:12). Geen Christen moet verbaas wees oor vervolging, asof dit iets snaaks is nie (1Pet 4:12-13). Meermale word gepraat van gemeenskap aan Christus se lyding (2Kor 1:5-7; 4:8-11; Fil 3:10; Kol 1:24).

            Betekenisvol is Rom 8:16-17: "Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word" (OAV; DAV). Die ESV vertaal: "... provided we suffer with him in order that we may also be glorified with him."

Lyding saam met Christus is

nie slegs 'n merkteken is van God se ware kinders nie

dit is óók 'n onontkombare voorloper van verheerliking saam met Christus

Presies wat is lyding vir Christus?

Enigeen wat hoegenaamd ernstig is oor sy of haar Christenskap sal nou 'n brandende vraag in die hart hê. Wat van my? Is daar in mý lewe enige sprake van lyding vir Christus? Meeste van ons geniet immers 'n veilige en gemaklike lewe. En as ons sou swaar kry, bly die vraag verder – is dit inderdaad ter wille van Hóm?

            Hierdie is 'n ernstige saak. Hoe durf ek aanvaar ek is regtig 'n Christen as ek nie tot 'n sekere mate dit wat so kennelik Bybels is, ervaar nie? Dit sou voorbarig wees! 

#          Voorop moet ons eers vra: Wat is Christelike lyding níé?

            Eerstens, alhoewel God inderdaad die swaarkry wat ons met die ongelowiges deel in ons lewens ten goede gebruik, kan ons uiteraard nie aan dié dinge dink as merktekens van egte Christenskap nie. Nee, ons praat hier van lyding wat uniek aan Christene is.

            Tweedens, wees versigtig om nie sonder meer te aanvaar dat jou lyding, waarvan jy oortuig is dat dit vir Christus is, noodwendig die ware Jakob is nie. Dwaasheid en dwaling kan óók hoon en smaad meebring. En baie mense laai swaarkry-laste op hulleself wat die Here en sy Woord nooit beveel het nie.

#          Wat presies is dan in hierdie tweede kleiner boksie waarvan ons praat?

            Volgens die Bybel kom outentieke Christelike lyding op minstens vyf maniere tot uitdrukking. Die Bybel se antwoord is klokhelder. En ons vind dit weer en weer dwarsdeur die kerk- en sendinggeskiedenis. En dis steeds die ervaring van alle ware Christengelowiges, wêreldwyd. Dis een rede waarom dit meermale (in 'n sin altyd) met 'n mens moeiliker gaan ná jou bekering as daarvoor.

            Natuurlik wissel die aard en intensiteit van persoon tot persoon, van tyd tot tyd, van tydvak tot tydvak. En selde, indien ooit, kom alles gelyktydig.

            +          Een, daar is vervolging. Dit het talle gesigte: fisiese vervolging (soos teregstelling, marteling, gevangeneskap), verwerping, spot, diskriminasie (2Tim 3:12).

            +          Twee, daar is die tugtiging van ons Hemelse Vader – iets wat elke Christen uit ervaring ken. Onontkombaar duidelik is Heb 12:4-13 (let veral ook op v.8).

            +          Drie, daar is die nimmereindigende aanslae van ons sielsvyande: die verleidinge van my eie vlees; die suigkragte van hierdie gevalle wêreld; die vurige pyle en

vuishoue van die Satan.

            +          Vier, daar is die selfaflegging en ontberinge van my gehoorsaamheid aan Christus. Dit kom op 'n duisend maniere tot uitdrukking. Dink byvoorbeeld aan die dra van mekaar se laste; aan seermaak-gee vir die Here se werk; aan party se rugdraai op inkomste en status om voltyds in die koninkryk te werk. Ensovoorts, ensovoorts.

            Het die Here Jesus nie oor en oor van kruisdra gepraat nie? En vergeet dit nooit nie, 'n kruis was 'n instrument van teregstelling.


            +          Vyf, nóg seer wat net ware gelowiges ervaar, is die pyn oor dierbares wat in rebellie teen Christus leef – of nog erger, wat in so 'n toestand van ongeloof sterf.

            Samehangend hiermee is die las wat mens soms dra oor 'n samelewing wat die Here se naam en ordes en eer deur die modder sleep.

Wat sê dit vir ons?


1.         Hier word nogeens beklemtoon wat op amper elke bladsy van die Nuwe Testament staan: God is die alleen-inisiatiefnemer van ons redding.

Selfs reddende geloof is 'n genadegeskenk. Laat ons nie vergeet van die ánder klein boksie nie: Die gawe van geloof in Christus.

            Sommige sal aanvoer dat mens steeds die keuse het of jy 'n persent wil aanvaar of nie. O ja? Onthou jy Fil 2:13? God werk in ons "om te wil sowel as om te werk na sy welbehae" (OAV).

As jy dit nog kan verwerp, het jy dit nooit ontvang nie.

As jy dit regtig ontvang het, kan jy dit nooit weer verwerp nie.

Dis vir tyd en ewigheid gegee.

2.         Ons wat, heeltemal tereg, met blydskap en dankbaarheid bely dat geloof 'n gawe van God is, moet eerlik en konsekwent wees en die lyding wat ons dissipelskap meebring met ewe veel dankbaarheid en blydskap aanvaar.

 

Dit is 'n voorreg om vir Christus te ly. Dis nie 'n vonnis nie, dis 'n genadegawe. Op meer as een plek sê die Skrif ons moet dit met vreugde aanneem (Matt 5:10-12; 1Pet 4:12-16). Ons lees in Hand 5 hoe die apostels vervolg en geslaan is, maar toe hulle van die Joodse Raad weggaan, was hulle "bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly" (v.41, NAV). Was hulle smartvrate? Allermins! Hulle het verstaan!

3.         Nie slegs word lyding saam met geloof gegee nie, geloof word ook saam met lyding gegee.

As lyding 'n genadegawe van God is, is die vermoë om onder die las van lyding te volhard ook 'n genadegawe. Dis wat die Bybel leer, en wat die kerkgeskiedenis oor en oor bevestig. Daarom moet die van ons wat nog nooit ekstreme lyding vir Christus verduur het nie, nie die dag vrees dat dit mag gebeur nie. Saam met die aanvegtinge gee die Here ook die krag om dit tot Sy eer te verduur en desnoods te weerstaan.

            Dis waarom mens meermale lees dat Christenmartelare lofsingend na hulle teregstelling stap.

            Hierdie geloof word ook gegee wanneer ons stryd voer teen sonde, wanneer ons swaarkry ter wille van Christus. Dis waarom ons diep vervulling kan put liefdesdiens vir ons naaste.

4.         Laat die groot "boks" so mooi versier wees soos hy wil. Maar sonder die twee kleiner boksies binne-in – béíde – is daar 'n giftige slang in die gras.

Vandag (eintlik nog altyd) is daar baie groot bokse met "die ter wille van Christus" daarop geskryf. Die allervraag is egter, wat is binne-in? Talle van hierdie pakkies is tot barstens toe volgestop met allerlei spoggerige, pragtige en opwindende goetertjies. Maar die ware Jakob het 'n baie spesifieke inhoud – dit waarvan ons teks praat. Hierdie ander blink, vermaaklike en opwindende "goodies" is goedkoop namaaksels en sielsvernietigende misleidings.

            Natuurlik mag ons nie swaarkry gaan soek nie. Maar as ons vreemdelinge vir outentieke Christelike lyding is – nie noodwendig alles hierbo genoem nie – is dit feitlik vir seker te wyte aan kompromie in ons lewens. En onthou, selfbedrog, rasionalisering, enersyds, en kompromie, andersyds, loop amper altyd saam.

5.         Die groot boks, dat ons ter wille van Christus leef, is die essensie van Christenskap.

Dít is dissipelskap: Vandat hy opstaan totdat hy gaan slaap, jaar in en jaar uit, word 'n ware Christen se lewe deur hierdie beginsel beheers: Die ter wille van Christus!

            Die Here Jesus is en bly sentraal. Hy is alles – sekuriteitsanker, vreugdesbron, verkondigingsinhoud.

            As Profeet is Sy woord die inhoud van my geloof.

            As Priester is Sy offer en voorspraak my sekuriteit.

            As Koning is Sy heerskappy my hartstog.

            Dis wat Paulus net 'n paar verse vroeër in v.21 bedoel: "... om te lewe, is vir my Christus ...".
            En let op, hoewel ons natuurlik ook hier met ons verantwoordelikhede te doen het, is so 'n Christus-fokus nie in die eerste instansie 'n opdrag nie, maar 'n genadegeskenk.

            Waarlik, Christenskap is 'n ervaringswerklikheid. Dis nie in die éérste instansie 'n denksisteem nie; ook nie 'n morele kode nie – dis 'n lewenswyse in verbondenheid met en afhanklikheid van Christus.

Verstaan jy proefondervindelik waarvan Fil 1:29-30 praat?

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1] Die ooreenstemmende selfstandige naamwoord van hierdie werkwoord, is charisma, wat elders in die Nuwe Testament gebruik word om van die charismata te praat, die genadegawes van die Gees.