PDF WEERGAWE

PREEKOPNAME:   

In die voorafgaande Ef 1:3-14 skryf Paulus oor verstommende waarhede: God se ewige plan, vasgemaak voor die skepping van die aarde, om in Christus sondegevalle mense vir Homself as kinders uit te kies en aan te neem, en om hulle uiteindelik saam met die res van die skepping onder die hoofskap van Sy Seun te verenig ­– alles ten einde Homself te verheerlik (Ef 1:6,12,14, OAV).

            Dan, in die daaropvolgende verse, Ef 1:15-2:10, skryf die apostel dat en wat hy na aanleiding daarvan vir die gemeente in Efese bid, aanhou bid – en wat die implikasies is wat daaruit voortvloei. Dis 'n wonderlik gestruktureerde stuk Skrifopenbaring en dis meer as die moeite werd om in diepte daarna te kyk. Maar, let op, dit gaan konsentrasie van die leser vereis. En dis nie bloot 'n kwessie van vinnige deurlees nie.[1]

Oor die eenheid van Ef 1:15-23 en Ef 2:1-10

#          Die OAV, NAV en 2020 (ook standaard Engelse vertalings) skei hierdie twee gedeeltes, waarskynlik ter wille van verstaanbaarheid.[2]  Dit aanvaar dus dat die gebed afgesluit word met v.15.

            Allermins wil ek arrogant hiermee swaarde kruis. En dalk dink die leser nie nóú dis van wesentlike belang nie. Maar ek meen tog dat die twee gedeeltes grammatikaal 'n eenheid is.[3] Dit sou dan suggereer dat ons 1:15-23 en 2:1-10 as een lang gebed moet lees. Trouens, ek is oortuig dis noodsaaklik as mens die negentien verse behoorlik wil verstaan – soos hopelik hieronder sal blyk.

            Dit sal my benadering wees in wat volg.

Paulus se gebed en wat daaruit voortvloei

#          Kyk mens deeglik na die gebed, sien jy dat Paulus ten diepste eintlik net één ding van die Vader vra – dat Hy aan die Efesiërs "die Gees van wysheid en openbaring" sal gee (1:17).

            Waarom is dít sy versoek? Sodat hulle, in die eerste instansie, die Vader beter mag ken! (v.17). Dis immers die wese van die ewige lewe (Joh 17:3).

            Maar ook, in die tweede instansie, dat die "oë van hulle harte" verlig mag word. Waarom? Sodat hulle sal "wéét". Wat moet hulle weet? Hulle moet hulle erfenis in Christus verstaan! (v.18, 19).

            +          Dit is interessant en betekenisvol dat Paulus, elke keer as hy vir die gemeentes bid, vir hulle pleit om begrip, kennis, insig, wysheid! (vgl. 3:18; Fl 1:9- 11; Kol 1:9-10a). Maar hy vra nie sommer maar enige begrip en wysheid nie. Waarvoor hy bid, is dat hulle 'n baie spesifieke soort kennis sal hê – dat hulle die Drie-enige God sal ken; sal begryp wat hulle erfenis in Christus is; en sal verstaan hoe hulle voor Sý aangesig moet leef.


#          Nou brei die apostel uit op dit waarvoor hy vir die Efesiërs bid. Hieroor moet hulle drie dinge weet.

            +          Eerstens, die "hoop" waartoe Hy hulle geroep het (1:18).

            +          Tweedens, die "rykdom" van hierdie heerlike erfenis (1:18).

            +          Derdens, die "grootheid" van Sy krag wat nou reeds in hulle aan't werk is, en wat meteen die vervulling van die hoop en die finale inbesitname van die rykdomme waarborg (1:19). Só opgewonde is hy oor hierdie krag (dunamis), dat hy nóg 3 amperse sinonieme in die Grieks van v.19b gebruik om dit te beklemtoon: energeia – aktiwiteit, werking; kratos – uitgeoefende krag; ischus – groot inherente mag.

#          Op die derde punt van hulle erfenis, God se krag in en vir hulle, brei hy nou verder uit (1:20vv). Hierdie krag is presies dieselfde krag wat in Christus tydens en ná die kruisiging gewerk het. Paulus droom dus nie drome nie; hy praat van iets wat alrééds uitgeoefen en gedemonstreer is. Kyk net waartoe was dit nie in God se Seun in staat nie!

            Hy gebruik drie werkwoorde om dit uit te lig (1:20; vgl. NAV).

            +          Hy het hierdie krag in Christus "uitgeoefen" (om iets effektief te bewerkstellig) – en sodoende lewe in Hom geskep.

            +          Met hierdie krag het Hy Christus "opgewek".

            +          Met hierdie krag het Hy Christus aan Sy regterhand in die hemele "laat sit" – en Hom in die proses oor alle "owerheid en mag en krag en heerskappy" (v.21, OAV) gestel; trouens, "bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige." (2020).

#          Die apostel kan egter nie van die verhewe Here Jesus Christus praat, sonder om ook meteen aan Sy gemeente te dink nie. Waarom? Dis omdat daar 'n organiese lewenseenheid tussen die Hoof en die liggaam bestaan – iets waarvan Paulus intens bewus was (v.22-23)! En vanuit hierdie waarheid kan dit eenvoudig nie anders nie: Christus se posisie van onaantasbare en universele gesag (v.22) móét eenvoudig enorme implikasies inhou vir Sy gemeente.

            En hieroor skryf die apostel dan in hoofstuk 2 in duiselingwekkende terme!

Wat 'n verlossing!

#          Die fokus verskuif nou van wat God vir Jesus Christus gedoen het, na wat Hy vir Sy liggaam, Sy gemeente doen in hulle verbondenheid met Hom.

            Om die heerlikheid van wat God vir mense in Christus doen, des te beter uit te lig, skets die apostel eers die patetiese ellende waarin hulle vooraf verkeer het (2:1-3).[4]

#          Ef 2:1-3 bevat waarhede van die allergrootste teologiese belang. Drie dinge is hiervolgens waar van die ongeredde mens, die mens in Adam. Presies dít is waarom 'n magtige herskeppingswerk in hom of haar noodsaaklik is vir redding.

            +          Hy is geestelik dood in sy oortredings (die positiewe oorsteek van 'n grens; dus rebellie) en sondes (die negatiewe mis van 'n kol; dus mislukking) (v.1).

            +          Hy is 'n slaaf van die wêreld, die duiwel en die vlees (v.2-3).

            +          Hy is van nature (vanuit geboorte) onder die toorn van God (v.3 letterlik; vgl. OAV).

#          Ef 2:4 is dan musiek in verlostes se ore. Dit begin met woorde waarop hulle ewige lotsbestemming skarnier: "Maar God ... " (vgl. ook Rom 3:21; Kol 1:22; Tit 3:4).

            Toe hulle nog magteloos vasgevang was in die lot van Adam se nageslag, het God in barmhartigheid en liefde drie dinge vir hulle gedoen:

            +          Hy het hulle (wat dood was) saam met Christus lewend gemaak (v.5).

            +          Hy het hulle (wat onder Sy toorn was) saam met Christus opgewek (6a).

            Die verband tussen "toorn" en "opgewek" moet soos volg verstaan word: Toe die Vader Sy Seun opgewek het, het Hy daarmee verklaar dat Hy die Seun se versoeningsoffer aanvaar het, en dat Sy toorn oor die sonde van diegene vir wie Hy gesterf het, bevredig is.

         In Christus se opstanding sit dus die waarborg dat ons van ons grootste probleem – die toorn van God – bevry is (Rom 1:18).[5]

            +          Hy het hulle saam met Christus in die hemele laat sit (6b).

#          Met betrekking tot bg. moet sekere dinge nie misgekyk word nie.

            +          Paulus skep drie nuwe Griekse werkwoorde deur die voorsetsel, "saam met", te kombineer met 'n bestaande werkwoord. Sodoende beklemtoon hy dat hierdie drie dinge wat met gelowiges gebeur, uit en uit te danke is aan hulle lewenseenheid met Jesus Christus.

            Hierdie is een van die mees fundamentele aksente van die NT.

            +          Al 3 hierdie werkwoorde is in die verlede tyd. Hulle beskryf eens en vir altyd afgehandelde feite m.b.t. diegene in Christus. Dit kan net verstaan word i.t.v. die verbondenheid met Christus – wat histories lewend gemaak is, opgewek is uit die graf en na die hemel opgevaar het.

#          Dit alles vloei vanuit God se genade (v.5, 8). Die doel is dat Hý ewig daardeur verheerlik sal word (v.7).

            +          "Genade" dui op die verlossingsguns wat 'n sondaar van God ontvang, ten spyte van die feit dat God op geen wyse onder verpligting staan om dit aan hom te betoon nie. Die mens het gevolglik geen aanspraak daarop het nie – inteendeel. Daarom kan niemand roem nie (v.9).

            +          Die werkwoord, "gered" (v.5,8), is passief. Die sondaar ondergaan dit dus, sonder enige aandeel van sy kant (v.9a). Dit beteken nie dat hy of sy na redding passief bly nie; inteendeel, hy of sy is juis herskep met die oog op "goeie werke" (v.10).

            +          Dit is voorts in 'n werkwoordstyd wat dui op 'n huidige realiteit op grond van 'n gebeurtenis in die verlede. Redding is dus blywend.

#          Paulus se beredeneringslyn is nou duidelik. Dit sluit die hele gedeelte oop, en bevestig die geïntegreerdheid wat my aan die begin die standpunt laat inneem dat Ef 1:15-23 en Ef 2:1-10 'n eenheid is.

                        Soos Christus lewend gemaak is (1:20),
                                    só is ons saam met Hom lewend gemaak (2:5);

                                                en dit was nodig omdat ons geestelik dood was (2:1).

                       

                        Soos Christus opgewek is uit die dood (1:20),

                                    só is ons saam met Hom opgewek (2:6a);

                                                en dit was nodig omdat ons onder God se toorn was (2:3).

                       

                        Soos Christus laat sit is aan die regterhand van die Vader (1:20),

                                    só is ons saam met Hom in die hemele laat sit (2:6);

                                                en dit was nodig omdat ons in slawerny was (2:2-3).

#          Uit bostaande is dit nou duidelik hoe Ef 2:5-6 verstaan moet word: toe ons lewend gemaak is uit ons geestelike dood, is ons wedergebore; toe ons opgewek is onder die toorn van God uit, is ons geregverdig.

            Maar waarop dui dit dat ons in die hemele saam met Christus laat sit is? In 1:21vv beklemtoon die apostel dat Hy in 'n posisie van gesag oor die bose magte geplaas is.          Sonder twyfel wil hy dus sê dat toe ons saam met Christus in die hemele laat sit is, is ons in 'n posisie van gesag geplaas – oor die vlees, die wêreld en die duiwel en sy bose magte!

Enkele implikasies

Hierdie komplekse, maar wonderlike stuk Skrifopenbaring laat ons beswaarlik tyd vir uitgebreide praktiese toepassing. Daar is bloot ruimte vir twee opmerkings.

#          Hoewel dit wat hier oor 'n Christen geopenbaar word nie in die eerste instansie belewingswaarheid is nie, moet ons dit, soos alle geopenbaarde wesenswaarheid,[6] of ons dit beleef of nie, in die geloof omhels en ons daarin verheug.

#          Indien jy weet dat jy weet dat die ou dinge vir jou verbygegaan het en dat alles nuut geword het (2Kor 5:17) – dat die Here jou dus in Sy genade geroep en wederbaar het – herinner jouself weer en weer aan jou verhewe posisie in Christus.

            Natuurlik is daar geen plek vir arrogansie in 'n Christen se lewe nie, maar die stryd teen die sonde moet ons op die voorvoet veg, in die wete dat ek nie nódig het om voor enige versoeking te swig nie, maar, trouens in staat is om daaroor te heers.

Laat die waarheid,

nl. dat jy in 'n posisie van gesag in Christus leef,

deel word van jou nuwe bewussyn,

en jy sal verbaas wees oor die praktiese effekte daarvan.

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Aanhalings uit die 2020, tensy aanders aangetoon.

[2]           Moderne tale gebruik net nie meer sulke lang sinne soos die Grieks dikwels doen nie.

[3]           Sonder om tegnies te raak, wys ek net daarop dat 1:23 en 2:1 in die Grieks eintlik in dieselfde asem gesê word. Daar is m.a.w. nie 'n punt tussen die twee verse nie. Die "het Hy lewend gemaak" in v.1 is ter wille van verstaanbaarheid vanaf 2:5 teruggeskuif. Die OAV skryf dit daarom in kursief om te toon dat dit nie deel is van v.1 in die oorspronklike taal nie. Let ook op die "en" waarmee v.1 begin, wat die verbintenis met 1:23 suggereer.

[4]           Paulus is lief om die glans van verlossing so teen die donker dekor van die gevalle mens se verlorenheid te teken. Vergelyk byvoorbeeld Rom 3:9-20 teenoor 3:21-31; Kol 1:21 teenoor 1:22; Tit 3:3 teenoor 3:4-7.

[5]           Vergelyk ook Rom 4:25-5:2; 5:9; 1Tess 1:10

[6]           Belewingswaarheid: die son kom op, skuif in die lug bo my van oos na wes, en ek sê dit gaan vroegaand onder. En as ek só praat, sal niemand my beskuldig dat ek van lotjie getik is nie.

            Wesenswaarheid: Die aarde roteer; en terwyl ek aan die ander kant van die aarde is, sien ek nie die son nie, en is dit donker.