PREEKOPNAME: https://tinyurl.com/244n5btd
Dis die Babiloniese ballingskap. Die Jode het 'n gesegde: "Die pa's eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp." (18:2).
Die ballinge bespiegel baie oor die redes vir die ballingskap. Baie reken dis die voorgeslagte se sondes. As die vadere gehoor gegee het aan die profete om hulle te bekeer, sou hulle nageslag nie nou in ellende gesit het nie. Dis so voor die hand liggend!
# Die Here neem geweldig sterk aanstoot aan hierdie spreekwoord (18:3). Waarom?
Dis 'n implisiete verwyt dat Hy onregverdig is — dat Hy party mense straf vir ander se sonde (v.25, 29).
Dis voorts subtiele self-verontskuldiging. En so word een van die doelwitte van die ballingskap ondermyn, naamlik verootmoediging en bekering.
Ons verantwoordelikheid
# In Eseg 18:4 stel die Here dan die fundamentele beginsel: Hy alleen het elke mens gemaak — en as sodanig is Hy elke mens se alleen-eienaar. En in Sy soewereiniteit het Hy verordineer dat elkeen vir hom- of haarself moet verantwoordelikheid neem. Só het Hy besluit en só sal dit wees: Hy of sy wat sondig, sal self die gevolge dra en gevolglik sterf.
# In v.5-19 (vgl. OAV & NIV) werk die profeet hierdie beginsel nou aan die hand van drie praktiese voorbeelde uit. Hy kyk na 'n oupa, 'n pa, en 'n seun.
Die oupa (v.5-9) is 'n regverdige man; hy leef gehoorsaam aan die Here. Hy sal sekerlik lewe!
Die pa (v.10-13) leef in sonde! Sal so 'n man lewe? Natuurlik nie!
Die seun (v.14-19) leef weer regverdig soos sy oupa. Sal hy ewig lewe? Natuurlik!
Vers 20 verduidelik: Die mens wat sondig, sal sterwe. 'n Seun sal nie die straf vir sy pa se sonde dra nie, en 'n pa sal nie die straf vir sy seun se sonde dra nie. Wie leef volgens God wil, sal die vrugte pluk. Wie goddeloos is, sal die straf daarvoor dra.”
# Verse 21-24 bespreek dan twee verdere moontlikhede. Wat gebeur as 'n goddelose hom of haar bekeer? (v.21-23).
En wat van 'n regverdige wat mettertyd in sonde verval? (v.24).
+ Eerstens, as 'n sondaar hom of haar bekeer, sal hy of sy sekerlik lewe! Die sonde sal in die see van ewige vergetelheid gegooi word. As mens na bekering nie eers die gevolge van jou eie voorafgaande sonde dra nie, hoe op aarde sal jy die gevolge van jou voorouers se sonde dra?
Vanwaar kom hierdie wonderlike genade — dat mens so maklik die gevolge van opgehoopte skuld kan ontkom wanneer jy jou bekeer? Dit kom uit die diepste wese van God se karakter! (v.23). Letterlik staan daar: Het Ek werklik 'n behae in die dood van 'n sondaar? Ons kan die Hebreeus so parafraseer: Behae, het Ek behae? Ek het hoegenaamd geen begeerte dat 'n goddelose moet sterf nie!
Nie straf nie, maar genade; nie die dood nie, maar die lewe — dis God se doel met die mens, dis Sy behae en vreugde!
+ Tweedens bring v.24 die balans: terwyl God 'n God van genade is, is dit altyd regverdige genade! As 'n regverdige in sonde verval en daarin bly lê — sal hý lewe? Natuurlik nie!
Laat ons nooit vergeet nie:
God se genade
is altyd in volmaakte harmonie met Sy geregtigheid.
Die res van die hoofstuk (v. 25-32)
Ter wille van beklemtoning word van die beginsels herhaal. Nogtans wil die volk dit nie aanvaar nie. Die Here doen nie reg nie, is hulle beskuldiging (v.25, 29).
# Omdat hulle nie wil skuld erken nie, en omdat hulle God van onreg beskuldig, sal Hy hulle oordeel! Maar niemand sal kry wat hy nié verdien nie. Elkeen sal volgens sy eie optrede gestraf word (v.30a).
# Uiteindelik sluit die hoofstuk af met een van die roerendste bekeringsoproepe in die Bybel (v.30b-32). Selfs op hierdie laat stadium is omdraai nog moontlik. God het geen "behae" (OAV) daarin as 'n sondaar verlore gaan nie! (v.32).
Mens moet innerlik verander (v.31-32)
Nog iets in hierdie oproep val amper skokkend op die oor.
Letterlik staan daar in v.31: "maak vir julleself 'n nuwe hart en 'n nuwe gees!" (vgl. OAV, ESV, NASB, Amp., KJV).
Hoe moet mens dit verstaan? Dis duidelik: selfs onwedergebore mense is verantwoordelik om die gawe van 'n nuwe hart en lewe by die Here te soek. Niemand sal eendag kan wegkruip daaragter dat hy in sy geestelike verstorwenheid nie in staat was om die Here te soek — en om só 'n nuwe hart by Hom te kry nie.
# Moenie dink dat Esegiël nie diep onder die indruk van God se algehele soewereiniteit en menslike onvermoë was nie. Hy gebruik die Godsnaam, Elohim (die soewereine God), 217 keer. In Eseg 16:4-6 kry ons een van die aangrypendste beskrywings van soewereine genade in die Bybel. Les bes stel hoofstukke 36:24-28 en 37:1-14 dit bo alle twyfel: God alleen kan wederbaar en red!
# Onthou dit altyd: God se soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid word beide met groot klem in die Bybel geleer. Dis soos die twee spore van 'n treinspoor wat honderde kilometer parallel loop, sonder om ooit te kruis. God se geheimenisvolle weë kan ons nie deurgrond nie, tensy Hy dit openbaar. Dit geld ook die verhouding tussen Sy soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid.
Onderwerp jou dus aan die Here se werkswyse en aanvaar beide, al begryp jy dikwels nie.
Enkele opmerkings en implikasies
1. Ja, ons word uit genade alleen, deur geloof alleen, in Jesus Christus alleen geregverdig.
Maar ware geloof mond uit in gehoorsaamheid en goeie werke — áltyd, sonder uitsondering. Waarom? Omdat geloof 'n uitvloeisel is van wedergeboorte, en wedergeboorte is 'n innerlike herskepping deur die Heilige Gees, 'n hartsverandering. En die essensie daarvan behels die skryf van God se wil op die tafels van die hart. Dit bring 'n radikaal nuwe gerigtheid van jou wil, begeertes en daadkrag mee. Dit bring dus 'n nuwe aan God-toegewyde en gehoorsame lewe mee.
Presies hier lê die rede waarom ons eendag geoordeel sal word volgens ons werke. Die lewens wat ons gelei het sal eendag die suurtoets wees wat moet uitwys of ons geloof inderdaad ég was — of ons dus inderdaad wedergebore is, wat die voorwaarde is vir ingang in die koninkryk.
Waarom ons werke? Omdat dit waargeneem kan word; anders as 'n hartsverandering en geloof sonder meer. Niemand sal Hom dus kan beskuldig van dubbele standaarde nie — nóg die duiwel, nóg die wat verlore gaan.
Selfs ons woorde sal onder die loep kom as hierdie beoordeling gaan plaasvind: "Dit sê Ek vir julle: van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word" (Matt 12:36-37). Vergelyk ook Matt 16:27; 25:31-46; Rom 2:6-11; 2Kor 5:10; 1Pet 1:17; Op 20:12.
Laat ons ernstig wees oor hierdie saak — baie ernstig! Ja ja, ek weet ons misluk dikwels. Ons oorblywende sonde is 'n meedoënlose vyand. Maar hoeveel troos sit daar nie in 1Joh 1:8-10 nie: ".... as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. ....".
En uiteindelik is dit juis ons gebrokenheid, ons sondes van daad en ons sondes van nalating, wat ons al hoe dieper in Christus laat skuil, nie waar nie!
2. Al kan nét God mense red, moet ons steeds die evangelie bly verkondig. Die Bybelse waarheid van God se uitverkiesing tot die ewige lewe staan vir seker so vas soos die berge. Maar dit hef nie vir 'n oomblik ons verantwoordelikheid op om die evangelie tydig en ontydig te verkondig nie. Die Here gee ons immers die voorreg om sy medewerkers te wees in die inbring van die oes.
En ons moet op mense se verantwoordelikheid en toerekeningsvatbaarheid 'n appél maak. Die gebondenheid van hulle wil beteken ook nie dat hulle onvermoë voor God se oordeelstroon kan pleit nie.
Ons moet verstaan dat die Here ons as Sy medewerkers wil gebruik — en Hy doen Sy herskeppingswerk in sondaarsharte déúr ons verkondiging van die evangelie.
Onmiddellik stel dit 'n uiters belangrike kwalifikasie aan die orde: Ons móét verkondig, met alles in ons. Maar ons mag niks verder gaan as die taak wat ons opgelê is nie. Dis wanneer ons verder gaan as ons mandaat en met allerlei emosionele en ander tegnieke probeer om mense so ver te kry om die Here tog asseblief aan te neem, dat vals bekerings plaasvind, met hulle ellendige gevolge. Nee, ek verkondig die evangelie so getrou en vurig en biddend soos ek kan — maar laat die res dan by die Here en die sondaar. As dit sy of haar tyd is vir redding, sal die Gees die res doen.
3. As ons Eseg 18 en die Tweede Gebod saam lees, maak dit belangrike perspektiewe oop. Hoe rym mens Eseg 18 met: "Ek ... is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat" (Eks 20:5)?
Ten minste beklemtoon die Tweede Gebod dat kinders inderdaad deur hulle ouers se sonde geaffekteer word. In die lig van die res van die Skrifopenbaring kan egter gesê word dat daar geen meganiese noodwendigheid in sit nie.
Ons durf egter nie die Tweede Gebod se waarskuwing ligtelik opneem nie. Ouers se sonde kring op ten minste twee maniere na hulle kinders uit:
Eerstens, ouers is modelle vir hulle kinders. Kinders leer by hulle en doen soortgelyk. Sonde steek aan! Trouens, dit het die neiging om algaande van geslag tot geslag te vererger. Ouers se minagting vir God se ordes eis dikwels geslagte later steeds sy tol.
Tweedens, een geslag skep as 't ware die wêreld waarin volgende geslagte moet leef. As ons vandag God se Woord, Sy norme en die evangelie geweld aandoen, moet ons nie verwag dat ons kinders en kleinkinders die Here sal dien nie. Die kerk wat ons nageslag op ewigheidspaaie moet lei, word vandag gevorm.
Die Tweede Gebod wil dus nie suggereer dat volgende geslagte gestraf sal word vir hulle voorouers se sonde nie. Nee, wat dit sê, is dat hulle as ‘n reël hulle voorgeslagte se sonde sal navolg — en as sodanig God se oordele oor hulleself sal haal.
Laat ons egter nooit uit die oog verloor nie: Ongeag die erns van 'n familie of samelewing se morele verval, kan enige individu enige tyd die tuimelgang in die verdoemenis in ontkom, deur hom of haar hartgrondig tot die Here te bekeer en Christus te omhels. Hoe baie sulke mense kry nie reddingsgenade nie!
Die tweede Gebod sluit af met 'n heerlike belofte: "Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag" (eerder die NAV as die OAV). Ja, God se toorn kring tot vier geslagte uit, maar Sy liefdesguns tot 'n duisend!
4. Verwaarlosing van eie verantwoordelikheid lei tot talle pastorale en ander uitwasse. Die idee dat gelowiges se kinders min of meer vanself gered word, veroorsaak die waan in derduisende lewens dat hulle ewige heil verseker is, terwyl dit hoegenaamd nie die geval is nie. Nie alleen immuniseer dit mense teen die ware evangelie nie, dit vul ook kerke met menigtes sonder enige hartstog vir God se diens en eer. Dit lê nie net die kerk lam nie, dit lewer ook ‘n uiters negatiewe getuienis teenoor die ongelowiges.
Dis voorts mode om vandag min of meer elke afwykende gedragspatroon te verduidelik in terme van onregte wat die oortreder in die verlede moes verduur het. Iets daarvan mag natuurlik waar wees, maar dit hef nie so 'n persoon se verantwoordelikheid en toerekeningsvatbaarheid op nie. As ons "villains as victims begin beskou, is dit laat in die dag. Ons mag nooit ophou om sonde "sonde" te noem nie.
Soortgelyk aan bogenoemde raak dit 'n algemene neiging om sonde op grond van genetiese swakhede te verontskuldig. Sekerlik speel genetika 'n beduidende rol in baie godonterende ellendes. Maar dit verander niks aan Bybelse uitsprake wat hierdie dinge as sonde verklaar nie. Verontskuldig, sê maar, die genetiese wortels van wellus, humeurigheid, gewelddadigheid, dranksug en moordsug my as ek my daaraan skuldig maak? Ek het immers my hele sondige natuur by my ouers geërf!
Waarlik, verantwoordelik bly ek verantwoordelik! Talle pastorale deurbrake vind eers plaas as jy jou aanspreeklikheid opneem. Duisende bly gevangenes van hulle sondes, omdat hulle nie kans sien om openlik en eerlik te erken dat hulle sélf verantwoordelikheid moet aanvaar vir die gemors waarin hulle hul bevind nie.
Slot
Laat óns wat weet dat die Here waarlik in Sy genade in ons lewens ingegryp het, ons verantwoordelikheid opneem en met vaste tred die pad van verantwoordelikheid loop. "Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien" (2Pet 1:3). 'n Lewe van Bybels-prinsipiële gehoorsaamheid in die lig van die ewigheid is waartoe Hy ons roep. En uiteindelik sal ons nie net aan Hom verantwoording doen nie, maar ook van Hom loon ontvang.
En, onthou, eendag as ons moet verantwoording doen, sal ten diepste net één vraag vir ons gevra word:
Wat het jy met Jesus Christus gedoen?
En het jou lewe – jou uitlewing van die geloof wat jy bely,
bevestig dat jy waarlik in Hom geglo en op Hom vertrou het?
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev