PDF WEERGAWE

PREEKOPNAME:     https://tinyurl.com/mrxavccd

1Pet 4:10

"As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God, moet julle mekaar bedien, in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het: ... "

Daar is geen sprake van egte Christenskap sonder die werk van die Heilige Gees nie. Hy is aktief oor die volle spektrum van 'n Christen se geloof, lewe en belewing. Ewemin kan ons waarlik die gemeente van die Here wees sonder Hom. En wat dit betref, het die Nuwe Testament 'n besondere klem op sy werk om die liggaam van Christus soos 'n liggaam te laat funksioneer. Elke lidmaat (= ledemaat) het 'n funksie. En tot die mate wat lidmate passiewe passasiers is, tot daardie mate is die liggaam kreupel.

            Kom ons praat dus oor die gawes van die Gees (Gr. charismata) deur stapsgewyse deur 1Pet 4:10-11 te werk.

"Genadegawe" (Gr. charisma)

#          Die Nuwe Testament gebruik die Griekse woord 17 maal. Dit dui op 'n gawe of geskenk van genade vanuit God se onverdiende liefde.

            Dikwels word dit soos hier in 1Pet 4:10 gebruik:

Die charismata is spesiale bekwaamhede wat die verheerlikte Here Jesus Christus

aan elke lid van Sy liggaam deur die werkinge van die Heilige Gees gee

sodat hulle Hom daarmee kan verheerlik

deur Sy liggaam op te bou en uit te bou.

(Rom 12:6; 1Kor 12:4, 9, 28, 30, 31; Ef 4:7-11. Moontlik 1Kor 1:7; 7:7; 1Tim 4:14; 2Tim 1:6)

Hierbenewens is daar hele Skrifgedeeltes wat oor die charismata handel: Rom 12:3-8; 1Kor 12-14; en Ef 4:7-16. Verder word op talle plekke beskryf hoe hierdie geestesgawes beoefen is — veral in Handelinge.

#          Ongeveer 18-20 verskillende charismata word in bogenoemde Skrifgedeeltes genoem. Maar ons moet nie dink in terme van 'n volledige en afgeslote tegniese lys van gawes nie. Die Skrif noem bloot tipiese voorbeelde van wat destyds ervaar is.

#          Sonder om 'n ongekwalifiseerde waarde-oordeel oor, of kondonering van al die hedendaagse strominge te impliseer (dis nie waaroor dit nou gaan nie), moet gesê word dat 'n lewende gemeente per definisie charismaties van aard is. Die vrye, spontane en polsende beoefening van die priesterskap van alle gelowiges is eie aan ware Nuwe Testamentiese kerkwees.

#          Christus deel deur Sy Heilige Gees hierdie gawes soewerein uit — aan elkeen soos Hy wil (1Kor 12:11, 18) — en soos wat op 'n bepaalde moment gepas en nodig mag wees.

"Elkeen"

#          Die Skrif beklemtoon dat elkeen wat deel van die liggaam van Christus is, een of meer charismata ontvang (1Kor 12:7, 11, 18). Elkeen het 'n plek en funksie in die gemeente. Elkeen is nodig. Elkeen het 'n roeping. Niemand is oortollig nie.

#          Hierdie waarheid plaas 'n gewigtige verantwoordelikheid op sowel lidmaat as voorganger.

            'n Domineeskerk waar die voorganger min of meer 'n betaalde amptenaar is en omtrent alles doen, is nie Bybels nie. Ek herhaal, dis nie Bybels nie!

            Voorgangers se taak is om die lidmate vir húlle dienswerk toe te rus (Ef 4:12). Hulle moet die priesterskap van die gelowiges aktief aanmoedig, stimuleer en kanaliseer. Hulle moet hulleself soveel moontlik en waar dit kan oortollig maak.

            Laasgenoemde stelling moet gekwalifiseer word. Dit wil nie impliseer dat die ideale gemeente 'n kudde moet word wat sonder herderskap kan regkom nie. Dit sou nie net oor-idealisties wees nie, maar ook onbybels. Elke kudde het herders nodig — ouderlinge, en onder hulle as 'n reël ook 'n leraar of leraars. Hieroor swyg die Nuwe Testament nie. Ook sulke ouderlinge en leraars het spesifieke gawes nodig. En as hulle dit getrou en toegewyd beoefen, word hulle op hulle beurt self ook gawes aan die gemeente.

#          Bogemelde kan net 'n werklikheid word in gemeentes wat uit ware gelowiges bestaan. Per slot van rekening kan slegs mense wat die Gees ontvang het, charismaties toegerus wees.

"In ooreenstemming met" (DAV); "namate" (OAV)

#          In die Grieks dui hierdie woord op 'n kwalitatiewe én kwantitatiewe verskeidenheid.

            +          Sommige mense is eenvoudig meer begaafd as ander. Party het meer gawes as ander; party se gawes is van 'n meer uitstaande gehalte of nuttiger of meer invloedryk as die gewone.

            +          Maar ewe belangrik is dit om te beklemtoon dat geen gawe meer verhewe of "geestelik" as 'n ander is nie. In Christus se liggaam is niemand minderwaardig of meerderwaardig nie (1Kor 12: 14-25).

#          In die gemeente van die Here kom eenheid nie tot uitdrukking in eendersheid nie, maar in verskeidenheid wat in harmonie funksioneer. Dis die punt van 1Kor 12: verskeidenheid in harmonie!

            Dis soos 'n simfonie-orkes. Elke instrument het sy eie klank en "sy eie wysie". Maar as almal in harmonie speel, is die gevolg grootser as enige instrument op sy eie.

"Dien" (Gr. diakoneo)

#          Die charismata is nie speelgoed of trofeë nie, maar gereedskap. Dit word vir ons gegee om ons broers en susters daarmee te dien — en natuurlik meermale die wêreld daarbuite. En ongeag die gerigtheid van my dienswerk, sal dit die Hoof van die kerk uiteindelik dien en verheerlik.

            Dit is presies in lyn met die eenstemmige oproep van die Nuwe Testament, naamlik dat dissipels van Jesus geroep word tot 'n lewe van diens — 'n lewe in belang van ander, veral van medegelowiges. Dit is ons manier om mekaar se voete te was.

#          Sonder onderlinge liefde is alles in die gemeente tevergeefs. Dan speel die orkes nie meer 'n simfonie nie. Dan is dit net 'n geraas! Dit is presies die punt van 1Kor 13. Dis nie vir spek en boontjies presies tussen 1Kor 12 en 14 geplaas nie. Sonder liefde is die spreek in tale net die rumoer van klinkende metaal en 'n galmende simbaal — wat gewoon aandag wil trek. Dan is die gawes van profesie, kennis en geloof 'n ronde nul werd. Dan baat die gawe van uitdeling niks nie (1Kor 13:1).

"Bestuurders" (DAV) / "bedienaars" (OAV) (Gr. oikonomos)

#          Hierdie woord verwys na 'n slaaf wat verantwoordelik was om sy baas se eiendom, huishouding en belange te oorsien. Die begrip sou ook met "rentmeesters" of "bestuurders" vertaal kon word.

            Van 'n rentmeester is altyd twee dinge waar:

            Een, Hy het 'n bepaalde volmag, binne bepaalde grense; en twee, hy is aanspreeklik vir hoe hy sy taak uitvoer. Hierdie twee dinge loop altyd hand aan hand; jy kan nie die een hê sonder die ander nie. Dit sou moeilikheid-soek wees.

            +          As ek 'n plaas sou hê, maar vanweë ander verpligtinge nie daar kan woon nie, stel ek 'n bestuurder aan. Ek sal binne bepaalde grense aan hom volmag gee om sekere besluite self te neem, maar hy sal dan aanspreeklikheid daarvoor moet aanvaar — en gereeld daaroor verslag doen aan my.

            +          Netso het elke Christen baie vryheid oor die aanwending van sy gawes.

            Positief moet hy self besluit hoe, waar en wanneer hy dit beoefen. Hy moet daaroor bid, sy gawes ontwikkel en duidelikheid kry oor die Here se roepinge in sy lewe (1Tim 4:14; 2Tim 1:6).

            Negatief moet hy versigtig wees om nie die Gees se werk in sy lewe uit te blus nie.

#          Die Nuwe Testament is duidelik daaroor dat elke Christen aan die Here verantwoording sal doen oor sy lewe — wat ook sy charismatiese rentmeesterskap insluit.

"Veelvoudige" (2020) / "veelvuldige" (OAV) genade van God"

#          Die woord "veelvoudige" dui op 'n groot verskeidenheid, en veral op 'n ryke en veelkleurige geskakeerdheid.

#          Dit help ons om hierdie waarheid te verstaan as ons aan die gemeente dink as 'n prisma waarop God se genade vir Sy gemeente soos 'n bundel wit lig val. As die hele gemeente dan ywerig hulle gawes oor en weer beoefen, word God se genade oop gepoustert tot 'n veelkleurige spektrum — 'n Godverheerlikende skouspel voor die oë van die wêreld – en tot behae van die Here.

            Andersom gestel, tot die mate wat lidmate hulle gawes onder 'n maatemmer wegsteek, tot daardie mate bly die realiteit van die Here se genadige betrokkenheid by Sy gemeente verskuild.

"Spreek" en "dien" tot eer van God (v.11, OAV)

#          Die omvangryke verskeidenheid gawes word hier deur Petrus onderverdeel in twee groot kategorieë: spreek-gawes en doen-gawes. Hier en daar kry jy iemand wat in beide areas ewe sterk is, maar gewoonlik is ons eerder praters as doeners, of omgekeerd. Natuurlik moet die praters ook dikwels moue oprol. En die doeners moet ook soms hulle woord doen.

#          In beide areas word dit sterk beklemtoon dat ons daarop ingestel moet wees om Gód se woorde en handelinge te bedien. Dit moet dus inderdaad die Hére se genade wees wat deur ons vloei. Dit vereis gebed, asook 'n puntenerige versigtigheid om ons dienswerk in harmonie met God se Woord, wil en karakter te beoefen.

#          Die doel van ons charismatiese aktiwiteit is dat ons "God in alles verheerlik deur Jesus Christus". Té dikwels word met (sogenaamde) charismata gespog, en gaan dit oor vertoon, sensasie en belewing.

#          Petrus sluit dan af met 'n lofuiting: "aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid!" Hierdie lof kom God toe tot in die aione van die aione (Gr. lett.: bedelinge maal bedelinge). Dis die oortreffende trap tot sy hoogste orde gevoer: vir ewig en vir ewig!

Opsommend en toepassing

1.         'n Deel van God se genade vir die gemeente en die wêreld is aan mý toevertrou.

Hierdie genade moet ek as rentmeester soos 'n goeie kelner op die regte bord neersit, of soos 'n goeie posbesteller by die regte adres aflewer. Doen ek dit nie, ontneem ek ander 'n deeltjie van God se genade. Ek is dan 'n ontroue dienskneg. Is ek egter getrou, help ek om die skouspelagtige skoonheid van God se genade te vertoon — en die Here sal in en deur Sy gemeente verheerlik word.

2.         Waaroor ons hier praat, is liggaamslewe in'n neutedop.

Dit lê aan die hart van ware kerkwees. En dis een van die Here se maniere om dinge hier op aarde gedoen te kry, en om Homself te verheerlik.

3.         Predikante en ouderlinge moet die leisels nie té styf vashou nie.

Daar kom 'n tyd om lidmate los te laat — ook in die gemeentelike byeenkoms. Hulle moet vertrou word; die Here moet met hulle vertrou word. Dis dikwels omdat voorgangers té veel ingestel is op korrektheid en professionaliteit — en op allerlei kerkordelike voorskrifte — dat min of niks van die liggaam se charismatiese aard tot uitdrukking kom nie. Dis dan wat eredienste baie maklik in 'n versmorende liturgiese borstrok vasgegord word.

            Maar belangrike kwalifikasies is hier ter sake.

            +          Natuurlik moet niemand hier 'n oor-idealistiese verstaan van Nuwe Testamentiese liggaamsfunksionering inlees nie — asof die gemeentelike byeenkoms 'n marionettevertoning is waarvan die Heilige Gees alleen elke toutjie trek. So 'n benadering lei sonder uitsondering tot willekeur en wanorde. Veeleerder bedroef dit die Gees.

            Nee, 1Korintiërs 14:26vv gee júís voorskrifte t.w.v. ordelikheid in die samekomste.

            +          Ewe min moet bogenoemde enigeen verlei om die kardinale belangrikheid van prediking in die erediens te onderskat. Bybellering (en gebed) bly in 'n besondere mate steeds die primêre middele wat die Here gebruik in die opbou en stigting van sy gemeente. Dit moet dan ook by verre die hoofmomente van 'n erediens wees. Geen gemeente kan daarsonder nie!

            Lees mens die Nuwe Testament, sien jy dat daar verskillende soorte gemeente-byeenkomste was. Kennelik was daar tye wanneer gewone huisbyeenkomste aan die orde was (waarin prediking dalk nie só sterk gefigureer het nie, maar wel ander van die gawes en liggaamsbedieninge). Maar dan was daar die besoeke van die apostels en hulle medewerkers. Sonder twyfel was prediking, oftewel lering dan sterk op die voorgrond.

            Tot só 'n mate was dit die geval dat 'n jongman, Eutiges, op 'n keer onder Paulus se lang asem aan die slaap geraak het en by 'n venster uitgetuimel het — dood. Genadiglik kon die apostel nie nét preek nie! (Hand 20:9-10).

            Patologies egter in groot dele van die kerk vandag is oppervlakkige "sermonettes" wat beswaarlik 'n halfuur duur, om nie te praat van nóg korter nie. Aan die ander kant moet díé van ons wat níé dooies kan opwek nie, dit darem ook goed in berekening bring.[1]

4.         Dikwels wonder Christene wat hulle gawes is.

Wie onderstaande riglyne volg, sal nie lank hoef te twyfel nie:

1.         Soos met alles in jou Christenskap, wees Godgesentreerd en Christusgefokus. Die charismata gaan oor die Hére se eer en die opbou van sy liggaam. Fokus op die Gewer en nie op die gawe nie. En konsentreer op naasteliefde en die res kom asof vanself.

2.         Bid gereeld oor jou charismatiese begaafdheid, jou plek in die liggaam en jou roeping. Staan dan van jou hande af op en begin beweeg.

3.         Vra jouself die volgende vrae: Wat geniet ek die meeste? Watter soort dienswerk kom vir my amper vanself? Watter leemtes in die gemeente sien ek voor ander raak? Wat kry ek goed gedoen — beter as meeste? Wat is ander se opinie oor my begaafdheid?

4.         Doen wat voorhande is; doen jou plig. Dien jou broers en susters voluit. Wees 'n voetwasser. Eerder as om te vra wat jou gawes is, vra hoe, waar en wie jy kan dien. So vind jy vanself jou nis in die gemeente.

            Mens sien tipies die nood om jou raak deur die bril van jou begaafdheid. Indien die nodige vrymoedigheid en vryheid bestaan, vul mens die leemtes om jou amper spontaan volgens jou charismatiese bedrading.

5.         Onthou: As jy die visie het, het jy die werk.

6.         Plaas jouself as 't ware in die pad van die gawes. Gooi jou gewig dáár in waar jy die Heilige Gees sien werk. Raak betrokke waar jy meen die Here genade wil laat aflewer. Raak betrokke!

7.         Moenie bang wees om in die geloof uit te stap nie. Ondernemingsgeloof word gespel: doen, waag, verwag! Petrus sou nooit op die water geloop het as hy dit nie buite die boot gewaag het nie (moet asseblief té veel in hierdie voorbeeld inlees nie; dit kan gevaarlik wees, veral as jy nie kan swem nie!). Sommige mense is so bang hulle maak foute, dat hulle liewers niks doen nie. Hulle begrawe hulle talente (Matt 25:24-30; Luk 19:20-27). Almal van ons maak soms foute, maar as ons wil sink, is die Here altyd byderhand.

8.         Dit neem soms jare vir sekere gawes en bedieninge om wasdom te bereik. Ons groei deur oefening, studie, gebed, ondervinding — en deur flaters.

9.         Wag op die Here! Sekere bedieninge kan nie sommer beoefen word nie. Mens moet deur die gemeente daarin gestel word — en voordat die gemeente jou nie roep nie, het jy nog nie die Here se groen lig nie.

10.       Ken jou nie-gawes. Dít het ons helaas almal — en baie daarvan!

11.       As jy jou broers en susters liefhet soos jy moet — dienend, voetwassend — sal die charismata amper vanself uit jou vloei.

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

 

[1]           As dit gaan oor die duur van prediking, is dit nonsens dat mens nie langer as 40 minute kan konsentreer nie. Prediking wat waarlik prediking is, hou mense veel langer wakker (persoonlik het ek al meer as een keer vasgenael onder prediking van twee uur gesit). Die probleem is nie tydsduur nie; dis 'n lustelose geteem.