PDF WEERGAWE

 PREEKOPNAME:    https://tinyurl.com/2p8vmapt

Ons lees hier in Hand 12 van 'n engel wat vir Petrus uit die tronk gaan haal. Maar ons lees ook van 'n gebed wat die engel gaan haal! En dis eintlik hierdie gebed wat alles aan die gang gesit het. Kom ons kyk dus daarna. En ons sal spoedig sien dit was 'n besondere gebed.
            Kyk mens ernstig na die gebedsbeloftes in die Skrif, kom staan die vraag vierkantig voor jou: Waarom ervaar ons dan so min gebedsverhoring?

            Waarskynlik is één antwoord, omdat ons selde bid soos ons moet.

            Ons teks is vol gebedslesse vir ons.

'n Bedenklike situasie

#          Petrus moet die volgende oggend verhoor word. Jakobus is pas tereggestel (v.2). Watter hoop het hý? Hy is met kettings geboei in 'n tronk wat deur soldate bewaak word. Daarbenewens slaap hy ook nog tussen twee. En dit was die dae voordat wagte skotvry daarvan afgekom het as 'n gevangene ontsnap terwyl hulle eenkant sit en meul speel! (v.19).

#          Al is die situasie menslik gesproke hopeloos, weier die gemeente om handoek in te gooi. Bestorm hulle die tronk? Stel hulle 'n petisie op? Probeer hulle Herodus omkoop?

            Nee, hulle hou 'n biduur!

Stap vir stap deur vers 5

#          Die gemeente het "vir hom" gebid  -— vir Petrus.

 

Hulle bring hulle gebedslas op die naam voor hul Vader. Tog lyk dit nie of hulle vir die apostel se vrylating bid nie, want hulle glo dit nie as hy later aan die deur klop nie (v.13-16). Hulle bid waarskynlik bloot dat die Here hom sal versterk en beskerm en die nodige genade gee, wat ook al gebeur.

            Party mense dink dat mens nie 'n kriesel meer kry as wat jy vra nie  —  dat ons as 't ware God aan bande lê met ons kleingelowige en kortsigtige gebede. So 'n beskouing is nóg Skriftuurlik, nóg stem dit ooreen met ons ervaring.

            Ja, laat ons versigtig bid en ons woorde tel — soos ons gewete, die Woord en die Heilige Gees ons toelaat. Daarom is voorbidding dikwels 'n versigtige en voetjie vir voetjie vorentoe beweeg (vgl. Abraham se voorbidding vir Sodom in Gen 18). Maar weet dit, soms doen ons Vader méér as wat ons in ons stoutste verwagtinge kon bedink.

            Die Here betrek sy kinders medewerkend in wat Hy doen. Dit geld in die besonder ook ons gebede, wat Hy inweef in die uitwerk van sy raadsplan. Máár Hy is geensins afhanklik van ons geloof en gebedsvrymoedigheid nie.

            Laat ons in hierdie hoë roeping twee uiterstes vermy: Enersyds die gevaar van gebedsvoorbarigheid. Andersyds kleingeloof wat God se goedheid en almag onderskat. Hy doen soms ver meer oorvloedig as wat ons bid of dink (Ef 3:20).

#          Die gemeente het tot Gód gebid.

Jy sê, dis mos voor die hand liggend. Almiskie! Vir baie mense is gebed bloot 'n subjektiewe meditasie. Wie of wat aan die ander kant is, maak nie regtig saak nie. Dit wat hulle God noem, is bloot 'n fokuspunt vir hulle gedagtes.

            Ek het eenmaal 'n oom op een van ons konstruksieterreine geken wat op sy kankerbed gereeld gebid het — maar hy het sy gebede gerig het op 'n leë bierblik op 'n rak oorkant sy bed!

            Nee! Ware gebed is gerig tot die werklike, lewende, persoonlike en bewustelike God. Hy ken ons persoonlik. En Hy het Homself geopenbaar as die hoorder van gebed. Hy is almagtig en getrou, en kan en sal alles doen wat Hy beloof.

            Daar is egter twee kwalifikasies:

            Een, dit geskied op grond van die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus Christus. Luister na Heb 10:19: "Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom".

            Twee, dit geskied deur die werk van die Heilige Gees: "Deur Hom (dit is Christus) het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader" (Ef. 2:18).

#          Die gemeente het met alle erns gebid.

Die woord wat beide ons Afrikaanse vertalings met "aanhoudend" vertaal (Gr. ektenos), is baie betekenisvol.

            Letterlik beteken dit uitgerek. Dikwels dui dit dan nie op tydsverloop nie, maar op intensiteit en vurigheid. As 1Pet 1:22 en 4:8 praat oor die vurige liefde wat gelowiges vir mekaar moet hê, word hierdie einste woord gebruik.

             Wie het ooit meer "uitgerek" gebid as die Here Jesus in Getsemane? "Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword ..." (Luk 22:44). Dit dui as 't ware op die vervorming van Jesus se hart in die intensiteit van Sy erns voor Sy Vader.

#          Gebedsintensiteit is dikwels baie belangriker as gebedsduur (maar ons mag die twee dinge nie teenoor mekaar stel nie — beide is belangrik).

Dink aan Jer. 29:13: "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (OAV).

            In Rom 15:30, as Paulus sy lesers vra om saam met hom "in die gebede te stry", gebruik hy nog 'n sprekende woord (Gr. sunagonidzo). Letterlik sou dit in Engels vertaal kon word: "to agonise together". Dit dui op 'n saam stry, 'n saam worstel. Die NIV vertaal: "join me in my struggle" (vgl. ook Kol. 4:12).

            Die Puritein, Thomas Watson, skryf: "How can I know my prayers are prompted by the Holy Spirit? When they are not only vocal, but mental; when they are not only gifts, but groans."

            Onvermydelik ontstaan die vraag hoe ék so vurig kan bid. Opwerk? Aansit? Nee! Nee! Daar is maar één antwoord: Die Gees moet my bekragtig! So skryf Paulus vir die Efesiërs dat hulle "met alle gebed en smeking by elke geleentheid (moet) bid in die Gees" (Ef. 6:18, OAV).

            Dis één rede waarom ons elke dag moet bid om die volheid van die Heilige Gees.

#          Dit was die gemeente wat gebid het.

Die gelowige se binnekamer is die hart van sy gebedslewe. Maar insgelyks is gesamentlike gebed wanneer gelowiges één van hart en sin voor hulle Vader se genadetroon verskyn.

            Baie mense dink daar is gebedskrag in getalle sonder meer — asof dít God sou beïndruk. Nee! Hier is twee dinge wat ons altyd voor oë moet hou.

            Dit was die Here se gemeente wat gebid het. En hulle is die appel van sy oog, van voor die skepping af. Hulle is die Seun se bruid. Dis mense wat in Christus is. Hulle is geliefdes.

            Maar dis wesentlik belangrik om te kwalifiseer: 'n Gemeente is nie net 'n klomp mense wat uit gered en ongered bestaan en bloot deur tradisie of sentiment bymekaar gehou word nie. Nee, Nuwe Testamenties is 'n gemeente 'n klomp dissipels van Jesus Christus wat intiem saamgebind is deur hulle gemeenskaplike lojaliteit en verknogtheid aan die Here.

            +          Hieroor bied Matt 18:19-20 besondere lig: "Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem (Gr. sumfoneo) en daaroor bid, sal my Vader ... hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle."

            Onderlinge eenheid is van kardinale belang. Almal moet daarom dieselfde passie en versugting hê. Dwarstrekkery en verhoudingsintriges blus onmiddellik die Gees. Die Here gebruik 'n woord wat letterlik saamklink beteken. Hier lê die etimologiese wortels van ons woord, simfonie.

            Net 'n laaste opmerking. As die Here van "twee" of "drie" gelowiges praat wat so bid, verbied Hy nie die saambid van groter getalle nie. Getalle is uiteraard goed, maar nie deurslaggewend nie.

'n Aantal praktiese riglyne

 

Wesenselemente van ware gebed

#          Dit is primêr tot die Vader gerig, geskied in die Naam van Christus, en word gelei deur die Heilige Gees.

            Wat ook al die Gees mag bedroef, moet uit die weg geruim wees.

            Maar al drie Persone mag en moet aanbid word, hoewel die Nuwe Testamentiese aksent op gebed tot die Vader val.

#          Dit geskied in harmonie met God se geopenbaarde waarheid, en is in pas met Christus se voorspraak vir ons, soos in die Woord geopenbaar.

#          Dit geskied in vertroue en geloofsverwagting. Sonder geloof in die betroubaarheid van God en Sy beloftes, kan ons Hom nie behaag nie. Hy beloon diegene wat Hom soek (Heb. 11:6).

#          Dit word gekenmerk deur diep eerbied. Laat ons onthou met Wie ons te doen het.

#          Dit geskied in vrymoedigheid voor die Vader. En Christus is 'n volmaakte Middelaar.

#          Ware gebed kom uit 'n brandende hart. Koue gebede vries voordat hulle by die hemel kom.

#          Dikwels is volharding nodig. Dink aan die verontregte weduwee voor die regter (Luk. 18).

Wenke vir ons gesamentlike gebede (meeste hiervan geld ook vir persoonlik gebed).

#          Wees rustig. Vertrou die Gees om te lei.

#          Dink oor wat jy bid. Dit sal daartoe lei dat jy versigtig formuleer.

            En jou "Amen" is belangrik en betekenisvol! Dis nie net 'n binnemondse sein aan die ander dat jy uiteindelik klaar is en hulle maar hulle oë kan oopmaak nie. Nee! Nee! Dis jou geloofsverklaring dat dit wat jy gebid het wáár en séker is. Dis 'n credo, 'n selfstandige en gewigtige geloofsverklaring!

#          Neem jou verantwoordelikheid op om die gebedswa te help trek. Gebed kan harde werk wees. Saamryers maak dit vervelig vir hulleself en 'n slaapsessie — asook harde werk vir die res.

#          Onder geen omstandighede mag my gebede vertonerig wees of ander probeer beïndruk nie. Luister na die ander as hulle bid, maar as jy bid is jy met God alleen besig. Vergeet van die ander.

#          Bid verbeeldingryk, asook kinderlik eerlik en opreg. Praat gewoonweg sonder om platvloers en familiêr te wees. Vermy gebede wat bloot 'n aanmekaarryg van 'n klomp gebedsclichés is — soos krale aan 'n string. Dan word dit 'n ydele herhaling van woorde.

#          Vermy die oormatige gebruik van die Here se Naam — asseblief tog! Party doen dit amper in elke sin — tot uiterste ongemak van die hoorders. Wie praat so in 'n normale gesprek? Dis 'n aanwendsel, en is bes moontlik 'n oortreding van die derde gebod.

#          Wag vir mekaar, sodat elkeen geleentheid kry. Maar vermy daardie ongemaklike stiltes.

#          Gebedseenheid is absoluut noodsaaklik.

            +          Dit beteken verhoudingseenheid, hartseenheid! Dis kardinaal belangrik.

            +          Ewe belangrik is eenheid van gerigtheid. Gesamentlike gebed moet 'n "simfonie" voor die genadetroon wees. As elkeen sy eie wysie speel word dit net 'n geraas! Sluit dus by mekaar aan sodat daar 'n organiese verloop in die onderlinge gebede is. Mens staan immers gesamentlik voor die genadetroon. Elkeen lê nie maar sy eie eiertjie nie. Luister na die ander en voer hulle lofprysing of versoeke verder. Daar moet eenheid van vertoog, van petisie wees! Dít maak saambid sinvol!

            Só lei die Gees ons dikwels om oor sake te bid waaraan ons nooit vanself sou gedink het nie.

#          Hoewel elkeen die kans moet kry om te bid, moet niemand huiwer om weer en weer te bid nie. Natuurlik moet mens nie oorvat nie. Maar dis ook so dat daar soms periodes kom waar meeste vir die oomblik "leeg" is, en enkeles die gebedswa moet trek.

#          Sonder om voorbarig te wees, moet 'n mens so spesifiek moontlik bid. Is jy onseker of jy 'n bepaalde saak durf aanroer of verder voer, benader dit versigtig en met onderskeiding. Vra jouself af of jy steeds in pas met die Woord is.

            Partymaal kry jy meer vrymoedigheid, ander kere verloor jy dit.

Laastens: Iets oor lof en aanbidding.

Altyd, altyd, altyd, moet lof en aanbidding ons gebede deursuur (hetsy persoonlike of gesamentlike gebed).

            Dink aan wie God is. Dink aan Sy name. Dink aan Sy attribute: Sy ewigheid, heiligheid, soewereiniteit, almag, onveranderlikheid, alwetenheid, alomteenwoordigheid, genade, liefde, getrouheid, geduld, geregtigheid, toorn, ens. Dink aan Sy groot dade in die geskiedenis: dié van die Bybel; dié van die kerkgeskiedenis. Eer en dank Hom daarvoor en vir die implikasies en uitvloeisels daarvan.

            Moet egter nie slegs by 'n abstrakte benadering vassteek nie. In Ps. 139 besin Dawid oor God se karakter. Maar hy bid nie bloot intellektueel daaroor nie. Hy bepeins die praktiese uitwerking daarvan in sy lewe  —  en loof en dank die Here dan daarvoor.

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  nico.vanderwalt@reformed.org.za

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev