Preekopname https://tinyurl.com/2p9dujbe
Die noordelike tienstammeryk – Israel – het na die dood van Salomo van die godsvolk weggeskeur. Hulle het nog daarin geroem dat hulle Jahweh aanbid – en godsdienstig was hulle steeds baie aktief. Veral by drie aanbiddingsplekke het hulle gereeld vergader: Bet-El, Berseba en Gilgal. Maar hulle aanbidding was formalisties en vals.
Die profeet Amos is soontoe gestuur, en spreek onder meer nou hierdie tragiese toedrag van sake aan. Hier in hoofstuk 5 fokus sy kritiek op hierdie drie aanbiddingsplekke.
In 5:1-5 rig hy hom tot die drie sentra gesamentlik (5:1-5).
In die res van die hoofstuk brei hy dan verder uit oor die redes waarom Israel se aanbidding God so vertoorn – en in die proses werk hy met elke sentrum afsonderlik.
Beoordeling van Bet-el (6-13)
Bet-el beteken "huis van God". Jare vantevore het Jakob twee keer daar oorgeslaap en lewensveranderende ontmoetings met Jahweh gehad. In die eeue daarna sou Bet-El vir die volk die betekenis inhou wat dit vir Jakob gehad het: lewe en toekomshoop. So het dit vir die noordelike 10 stamme 'n belangrike aanbiddingsplek geword.
Amos spreek Israel se sondes aan
Natuurlik is daar veel meer wat Amos kan uitwys. Maar hy fokus op 'n paar sondes wat die Here by uitstek vertoorn.
# Volgens v.10 word diegene wat die reg in waarheid in die poorte spreek, in die samelewing gehaat. Ook is daar nie geduld met getuies wat die waarheid praat nie. Die volk soek dus nie die waarheid nie. Hulle wil hê hulle sondes moet goedgepraat word.
# Voorts word die armes ter wille van eiebelang vertrap en uitgebuit (v.11-12). Waarom gaan werk hy nie eerder nie; nou bedel hy, is die verskoning.
Maar kyk hom volgende keer bietjie mooi in die gesig. Sou jý met sý verstandsvermoëns en geleerdheid – of gebrek daaraan – kon werk kry?
Miskien is my illustrasie bietjie simplisties, maar onthou, vir elkeen met 'n IK van 100 plus, is daar een met 'n telling van onder die 100. Ons kampusse wemel van 130 plussers, en vir elkeen van hulle is daar een met 'n IK van 70 of minder.
Destyds was dit al so. En die Here het dit geweet.
# Korrupsie en omkopery was aan die orde van die dag. Armes wat nie kon betaal nie, is geïgnoreer. Maar as iemand geld in die hand gehad het, het alles natuurlik dadelik
verander. Hebsug het oraloor die toon aangegee.
'n Tragiese teenstrydigheid
# Die agt verse waarna ons kyk, word beheers deur v.8-9. God, die onveranderlike, laat alles óm Hom voortdurend verander.
Die "Sewester en Orion" is sterrestelsels, en in die antieke tyd het mense die seisoensveranderinge aan die wisselinge van hierdie konstellasies gekoppel. Voorts verander die nag in dag, en dan weer die dag in nag. En so hou dit deur die eeue aan – met matematiese presiesheid.
Dan is daar die verbysterende wonder van die watersiklus. Dag na dag word miljoene ton water uit die see na die land toe gedra, waar dit dan sagkens uitgesprinkel word – om rustig na die see terug te vloei. En in die proses word alle lewe op aarde in stand gehou.
Dit alles is die werke van God die Almagtige!
Selfs agter die kom en gaan van stede en beskawings – die historiese getye – sit Sy almagtige hand (v.9).
# Die volk roem dat hulle Jahweh gereeld by Bet- El ontmoet – Hy wat alles om Hom voortdurend verander. Maar húlle bly jaar in en jaar uit dieselfde!
Hulle oortredings is hoog opgestapel; hulle sondes groot (v.12a). Vir seker kan alles nie pluis wees nie. Hulle godsdiens mag indrukwekkend lyk. Hulle mag hulleself wysmaak dis presies wat Jahweh wil hê – maar waarom het dit geen effek in hulle lewens nie?
Sonder bekering en liefde vir God en die naaste beteken alles niks nie.
# Daar kan geen twyfel bestaan oor God se empatie met die armes en magteloses nie. Die Bybel is vol daarvan. By uitnemendheid het dit gegeld vir die ellendiges wat deel was van die verbondsvolk.
Oor en oor deur die eeue het God se profete daarom die verbondsvolk aangespreek oor hulle ongevoeligheid teenoor hierdie mense in hulle midde. Maar ten spyte daarvan is die magteloses maar weer en weer in die Israelietiese samelewing uitgebuit en verontreg. En die Israel wat nou deur Amos aangespreek word, is geen uitsondering nie.
Weerskante van v.8-9 word 'n volk beskryf wat die swakkes en behoeftiges uitbuit en vertrap (v.7, v.10- 12, NAV). Kennelik het hulle sogenaamde ontmoetings met God by Bet-El – die God wat alles voortdurend verander – geen effek op hulle lewens nie.
Die lewensveranderende krag waarvan die aanbiddingsplek spreek, is heeltemal afwesig.
# Die fout het nie by die God van Bet-El gelê nie; ook nie by die beloftes waarvan Bet-El gespreek het nie. Nee, die probleem was die volk se halstarrige weerstaning van verandering – van bekering.
Amos ontmasker 'n godsdiens wat niemand se lewe transformeer nie.
# Die volk se pelgrimstogte jaar na jaar Bet-El toe was dus tevergeefs. Want hulle het voortgegaan om reg en geregtigheid te vertrap. Hulle het geweier om hulle te bekeer. Hulle wou nie verander nie.
God se oordele oor vals godsdiens
# Verse 6 en 11b spel God se oordele uit. Vers 6 waarsku dat God se oordele die volk soos 'n onuitbluslike en verterende vuur sal tref indien hulle hul nie bekeer nie.
Volgens v.11b sal die mense pragtige huise met groot sorg bou, maar dit sal tot niks kom nie, want hulle sal dit nooit bewoon nie. En wingerde sal hulle aanplant, maar die oes nooit smaak nie.
Hierdie oordeelsuitsprake sinspeel waarskynlik op die komende ballingskap (v.5).
Wat sê dit vir ons?
1. 'n Lewe van sonde loop altyd uit op mislukking en God se oordele.
Ja, 'n sondige lewenstyl lei soms tot rykdom. En rykdom koop al die plesiere van hierdie wêreld. Maar, by wyse van spreke, word die huis wat dit bou uiteindelik nie bewoon nie. En die wingerd wat dit plant, lewer geen vrug op nie.
As die ouderdom kom, word die vleeslike opwinding van vroeër soos stof in jou mond – leeg en sinloos. As die dood onafwendbaar nader kruip, wil mens verwagting en sekerheid oor die ewigheid hê. Maar 'n sondige lewenstyl mond uit in verwyte oor 'n vermorste lewe.
Voorts lê die vreugde van die ouderdom tot 'n groot mate in die adel van jou kinders en kleinkinders. Maar 'n lewe buite die ordes van God lei selde tot 'n nageslag op wie jy trots kan wees.
En dan natuurlik is daar dit wat ná die dood volg. Oor en oor beklemtoon God se Woord dat 'n lewe van sonde sonder uitsondering uitloop op die ewige verdoemenis.
2. Wanneer sonde te erg raak in 'n samelewing, kom daar 'n tyd wanneer gelowiges hulle moet afskei daarvan.
Natuurlik word Christene geroep om sout en lig in die wêreld te wees. Maar daar is ook so iets soos 'n heilige afskeiding van 'n Godonterende samelewing. Laasgenoemde gebeur wanneer daar eenvoudig geen salf meer aan die verval en morele verrotting óm jou te smeer is nie – en wanneer betrokkenheid daarby jou noodwendig tot kompromieë en wêreldgelykvormigheid verlei en besoedel.
Dit was helaas die situasie in die ou Israel voor die Assiriese ballingskap. Daar kom soms 'n tyd wanneer "verstandige" mense soos die drie apies word wat hulle monde en oë en ore toedruk. Dit is wat in v.13 beskryf word. Natuurlik hou voorbidding in sulke tye nie op nie.
3. Die negatiewe in hierdie verse herinner ons weer aan die soort lewe wat die Here vereis, behaag en verheerlik
Iemand wat 'n egte ontmoeting met God gehad het, rig sy lewe in volgens die beginsels van Sy Wet en Sy waarheidswoord. So 'n persoon vra dus baie gereeld die vraag: "Wat wil die
Here hê? Hoe lyk 'n lewe van geregtigheid volgens Sy Woord? Lewe ek in waarheid en eerlikheid voor Hom?"
En natuurlik, 'n ware gelowige sal altyd rekening hou met die moontlikheid dat hy homself mislei. Baie dikwels sien ander mense sonde in my lewe raak lank voordat ek self daarvan bewus raak. Daarom sal iemand wat ernstig daaroor is om heilig voor die Here te leef, gereeld bid dat die Heilige Gees hom sensitief sal maak vir sy eie sonde.
Ten slotte
Vanuit die negatiewe verwyte hier in Amos, volg onder meer 4 praktiese fassette van 'n godvrugtige lewe.
1. Bid gereeld om die Heilige Gees se werk in jou lewe – in die besonder Sy oortuigingswerk.
Die volk se oortredings was baie; hulle sonde groot (12a). Ten spyte van al hulle godsdienstigheid en aanbidding, het hulle sonde hulle gladnie gepla nie.
Gewis het iets drasties geskort met hulle toewyding aan God.
Sonder twyfel was dit hulle sonde en selfvoldaanheid. Beswaarlik is daar iets wat die Gees meer bedroef as dit. En as Hy hom dan onttrek aan mense, is selfbedrog en selfmisleiding onvermydelik.
2. 'n Ingesteldheid op ander se belange.
Volgens v.11a is die armes ter wille van eiebelang vertrap. Die tipiese benadering in die samelewing was: Ander is daar om gemelk te word!
Daarenteen, as iemand werklik innerlik herskep word, verander sy lewensingesteldheid radikaal. Onthou, as Christene is ons roeping onontkombaar om voetwassers te wees.
3. Uitdeling lê aan die hart van godsvrug.
Korrupsie en omkopery was destyds in Israel aan die orde van die dag. Voorts is die armes vertrap en uitgebuit (12b). Diegene wat niks gehad het om te gee nie, is "weggestoot", maar as iemand geld in die hand gehad het, het alles in 'n oogwink verander.
Die worteloorsaak van hierdie dinge is natuurlik hebsug.
Máár elke herskepte is daarenteen 'n uitdeler. En min dinge behaag ons Hemelse Vader méér as dit.
4. Vreemdelingskap.
Dis onafwendbaar: As jy radikaal gehoorsaam aan God wil leef, sal jy 'n vreemdeling en bywoner in hierdie wêreld wees.
Maar vir 'n ware gelowige is dit 'n geringe prys om te betaal. Om jou geliefde Verlosser te eer en te gehoorsaam, is en bly immers jou beheersende motief – jou hoogste goed.
Slot
Die sondes wat in hierdie paragraaf aangespreek word, is maar enkeles. Gewis was daar veel méér sondes in Israel se volkslewe. Maar die beginsels wat die teks na vore bring, geld in elke eeu en elke situasie.
En het dit jou nie aan jou eie land en mense laat dink nie?
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev