PREEKOPNAME: https://tinyurl.com/2dtmr4uk
Anders as wat sy gewoonte is, begin Paulus hierdie brief met 'n skerp vermaning. Waarom sy ontsteltenis?
Wat in Galasië se gemeentes aangaan – bedreig sy werk; hulle geloof en saligheid; die voortbestaan van die gemeentes; die voortgang en suiwerheid van die evangelie.
En uiteindelik word die eer van God daardeur geweld aangedoen.
Ook vir óns is dit van lewensbelang om noukeurig ag te slaan op hierdie verse. Ons mag eenvoudig nie hier mistas nie. Te veel goeie kerkmense is onseker en verward oor die dinge wat God se Woord hier aanspreek.
Die Galasiërs se ontrouheid
# Paulus spreek in Gal 1:6 sy verbasing uit omdat sy lesers "wegdraai" na 'n ander evangelie toe. Die Griekse begrip dui op 'n verplasing van lojaliteit – soos soldate wat dros, of 'n politikus wat na 'n ander party oorloop.
Die Galasiërs is besig om 'n "ander evangelie" aan te neem.
# Waar kom die Galasiërs aan hierdie ander evangelie? Hulle is "getoor"! (Gal 3:1) deur "sommige mense" (Gal 1:7) wat daarvoor verantwoordelik is.
Sonder twyfel was hierdie mense die Judaïste. Dit was Jode wat gesê het hulle is volgelinge van Jesus, maar wat voortgesette onderhouding van die besnydenis – as noodsaaklik vir redding verkondig het (Hand 15:1).
Let op, Judaïste, en hulle moderne eweknieë, ontken nie die noodsaak van Christus se versoeningswerk nie. Maar hulle glo nie dis genoegsaam nie. By Christus se verdienste moet die mens s'n gevoeg word.
Effektief sê hulle: God het sy deel in Christus gedoen; nou is dit die mens se beurt. Dis gevolglik spanwerk wat red. Asof Christus alleen dit nie kon regkry nie.
Die vrug van dwaalleer
# Die Judaīste "verdraai" (Gal 1:7) die evangelie van Christus. Die woord dui op 'n omdraai van iets – om dit onderstebo of agterstevoor te draai. Die woordkeuse is in die kol. Die ware evangelie sê: Éérs redding; dán volg werke. Die Judaïste leer effektief: Éérs werke; dán volg redding.
# Hierdie dwaalleer veroorsaak verwarring (Gal 1:7) by die Galasiërs. Die ooreenstemmende werkwoord beteken om heen en weer te skud. Die dwaling maak hulle dus deurmekaar; dit krap hulle om. In Hand 15:24 gebruik die gemeente in Jerusalem se leiers presies dieselfde woord as hulle hul van die Judaïste distansieer.
+ Dwaalleer bring nie net verwarring in denke nie, maar ook in verhoudinge. Dit ruk uitmekaar. Die teendeel is natuurlik ook waar: Evangeliewaarheid en suiwer leer bring begripsklarigheid, koersvastheid en hartseenheid.
Paulus se reaksie
# Die apostel is geweldig ontsteld en verontwaardig. Twee keer roep hy oor so 'n dwaalleraar uit: "laat hom vervloek wees!" (v.8-9).
+ In die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuaginta, van so twee, drie eeue voor Christus) word die bepaalde woord (Gr. anathema) gebruik vir die uitoefening van die banvloek – onder meer die opdrag aan die Israeliete met die intog in Kanaän. Hulle moes alles wat lewe in opdrag van God doodmaak.
Paulus se uitroep kom dus hierop neer: Mag die banvloek so 'n dwaalleraar tref!
# Waarom voel die apostel so sterk oor die saak? Daar is twee redes.
+ Een, die eer van Christus is op die spel.
Die Judaïste se boodskap impliseer dat Christus se werk onvoldoende is; dat mense dit moet aanvul.
In 1Tim 1:11 word gepraat van "die evangelie van die heerlikheid van die lofwaardige God." In die evangelie word die heerlikheid van God dus gesien. Doen die evangelie geweld aan, en jy tas God se heerlikheid aan. En vir seker is dit geen geringe saak nie. Dis immers waaroor die hele verlossingsplan te diepste gaan (Rom 9:20-24; Ef 2:7). Daarin sien ons van God se wonderlikste karaktertrekke op 'n wyse wat andersins onmoontlik sou wees – onder meer sy liefde, genade en trou.
Om aan die evangelie van God se vrye genade in Christus te peuter, is 'n veragtelike belediging vir Hom! Wie van ons sal dit waag om 'n egte Rembrandt met een van ons garagekwaste te dokter? Hoeveel te minder durf ons die evangelie verwater!
Nee, laat dit maar 'n aanstoot wees vir die godsdienstige hoogheiliges op hulle werke-trapmeulens. Laat dit maar onsin vir die ongelowiges wees (1Kor 1:23). Diegene wat die krag van die ware evangelie ken, sal dit kompromieloos verkondig!
+ Twee, die heil van mense is op die spel.
Die Judaīste se dwaling is veel meer as 'n denkfout of 'n teologiese mistasting. Dis 'n fatale kettery!
Waarom? Dis 'n rugdraai op "Hom wat julle ... geroep het" (v.6).
Om die evangelie van God se vrye genade te versaak,
is om die God van genade te versaak!
= In Gal 5:2-6 word dit uitdruklik gesê. Wie homself nog laat besny, omdat hy dink dat dit hom vir God aanvaarbaar sal maak, sal presies die teenoorgestelde bereik: hy sal nie gered word nie! Hulle is "van Christus afgesny" (sien julle die woordspeling?). Hulle "het die genade verbeur!"
Daar bly vir so 'n persoon dan net één alternatief oor as hy gered wil word: Hy is "verplig om die hele wet te onderhou" (v.3). Sonder twyfel verwys Paulus na al tien gebooie van die Dekaloog – of, as jy wil, hy moet sowel God as sy naaste volmaak – ek sê volmaak – liefhê.
Wie kan dit regkry? Net Jesus kon; beslis geen mens nie – wedergebore of nie.
Maar let op die duidelike implikasie: In beginsel is dit makliker om só gered te word as deur Christus plus werke! Want dít sal God in der ewigheid nooit aanvaar nie.
Wat sê dit alles vir ons?
1. Daar is net één evangelie
# In Gal 1:6-7 gebruik Paulus twee verskillende woorde wat met "ander" vertaal word. Die Galasiërs word verlei om weg te draai "na 'n ander evangelie". Tog is daar "nie 'n ander evangelie" nie.
In die eerste geval word die woord, heteros gebruik. Dit dui op iets anders – van 'n ander aard. Dis kwalitatief anders. Dis verskillend. Die ESV vertaal dit met "different".
In die tweede geval word allos gebruik. Dit dui op iets anders, maar van dieselfde soort – nog een, 'n tweede een. Hier vertaal die ESV met "another".
Die Judaïste se evangelie is dus nie 'n aanvaarbare alternatief nie. Dit verskil wesentlik van die ware evangelie – die enigste evangelie.
Mens kan nie die ware evangelie aanpas
sonder om dit te vernietig nie
– met katastrofiese gevolge.
# Ons móét predikers en hulle evangelie beoordeel.
Die status van die boodskapper waarmerk nie 'n boodskap nie
die waarheid van die boodskap waarmerk die boodskapper.
Is die boodskap 'n onverwaterde eggo van die Nuwe Testamentiese openbaring? Is dit die boodskap van God se vrye genade in Christus alleen – wat slegs deur geloof alleen in besit gekry word?
Wie 'n ander evangelie as hierdie verkondig
plaas homself onder die banvloek van God!
Wie 'n ander evangelie as hierdie aanneem
maak hom- of haarself van Christus los
en verbeur God se genade!
2. God is alleen-redder – of glad nie
# Die sestiende eeuse Reformasie het verstaan hoe kardinaal belangrik die evangelie se waarheidsinhoud is, met sy drie fokuspunte. Vandaar die Latynse wekroepe: Sola Gratia; Solus Christus; Sola Fide. In 'n sin kan ons sê dat die hele Reformasie om 'n vierletterwoordjie gedraai het: Sola (Afr: Alleen).
Nooit mag ons hierdie alleen vergeet nie – nie wat genade, of Christus, of geloof betref nie.
Waarom nie? Dit dra elke keer die boodskap:
As God 'n sondaar red,
sal daar nooit ooit enige menslike bydrae wees nie
Nie moraliteit, godsdiens, seremonies, ordentlikheid, wysheid, geleerdheid,
finansiële bydraes, dienswerk, sondebelydenis – of wat ook al
niks nie!
# Die les van Kornelius onderstreep presies wat ons sê (Hand 10:1-2; 11:14).
In h.10 sien ons 'n man van uitsonderlike godsdienstige vroomheid – godvresend, ywerig en getrou in barmhartigheidswerk, 'n bidder sonder weerga.
Maar, sê Hand 11:14, hy was nie gered nie!
Waarom nie? Wat het hy gekort? Hy moes die evangelie van God se vrye genade in Christus hoor en in die geloof omhels. Presies dit is waarom Petrus na hom toe gestuur is.
# Is jy baie, baie seker dat jy Christus alleen vertrou – en nie dalk ook daarmee saam, godsdienstige moraliteit en seremonies nie? Begryp jy dat dit lewensbelangrik is? Ek praat van die ewige lewe wat op die spel is!
3. Die ware evangelie het altyd te kampe met die verwyt dat dit té maklik is.
# Dis waarop Gal 1:10 sinspeel: "... streef ek daarna om mense se guns te wen?" Waarskynlik het die Judaïste gepoog om Paulus verdag te maak met die beskuldiging dat hy met 'n maklike en goedkoop evangelie witvoetjie by die mense soek.
Maar, gaan Paulus voort, hy het nog nooit vir die pawiljoene probeer speel nie. Hy het maar één ambisie: Om sy Sender getrou te dien. En dit sal hy doen deur die ware evangelie te bly verkondig – die gratis evangelie.
Én dwaalleraars wat Christus se eer aantas en mense mislei, sal hy met alles in hom bly bestry.
# As ons dan deur 'n ware geloof met Christus verenig is, moet ons onwrikbaar bly vasstaan in die vryheid wat ons in Hom geniet. Ons mag ons nie onder 'n slawejuk laat indwing nie (Gal 5:1).
Ons loop dus nie net gevaar om 'n vals evangelie uit te dra nie. Ons moet seker maak dat die evangelie wat ons omhels die wáre een is. Dag na dag moet ons onsself oefen om in God se genade te rus. Ons móét eenvoudig van die trapmeul van eie verdienste afbly.
Hieraan moet ons voortdurend werk, want die mens is ongeneeslik godsdienstig – en ons sukkel om ánders te dink as in terme van verdienste. Alles in ons roep, "tit fot tat!"
4. 'n Verdere waarheid is nou uiters belangrik.
# Ek het reeds gesê dat as Paulus van 'n "ander evangelie" praat, dit impliseer dat daar 'n ware evangelie is. Wat is dit? Dit word aan twee dinge geken: sy oorsprong en sy inhoud.
+ Die ware evangelie het 'n baie spesifieke oorsprong.
Dis die evangelie wat die apostels verkondig het – die een wat in die Nuwe Testament onder inspirasie van die Heilige Gees uiteengesit word. Niks anders nie! Selfs 'n engel het nie die gesag om die apostoliese evangelie aan te pas nie. Hoeveel te minder enige mens (Gal 1:8).
+ Die ware evangelie het 'n baie spesifieke inhoud.
Watter evangelie is in die Nuwe Testament geopenbaar? Oor en oor word beklemtoon dat die inhoud daarvan 5 fokuspunte het – die een so onmisbaar soos die ander.
# Wat is die 5 fokuspunte?
1. Sondaars word uit vrye genade alleen gered (Hand 20:24; Rom 3:24; 11:6; 2Kor 5:18; Ef 2:5; 8-9; ens.).
2. Sondaars word op grond van Christus se verdienste alleen gered (Matt 20:28; Joh 14:6; Hand 4:12; Rom 5:8; 2Kor 5:18; Gal 1:4; 3:13; 1Tim 2:5-6; ens.).
3. Sondaars word deur geloof alleen gered (Rom 1:16-17; 3:22, 28; Gal 2:16; 3:7; Ef 2:8; ens.).
4. Sondaars word tot goeie werke gered (Ef 2:10; Fil 2:12-13; Tit 2:14; Jak 2:14-26; ens.).
5. Sondaars word uiteindelik volgens goeie werke gered (Matt 12:36-37; 16:27; 25:31-46; Rom 2:6-11; 2Kor 5:10; 1Tim 6:17-19; Tit 3:8; 1Pet 1:17; Op 19:7-8; 20:12; 22:12).
# Gewoonlik beklemtoon ons die eerste drie punte, en dis in orde so. Dis immers die basis van 'n Christen se redding.
Maar as ons dit doen, terwyl ons die laaste twee punte verwaarloos of vergeet, is dit nie meer die volle evangelie nie. En as sodanig lei dit tot 'n goedkoop, misleidende en selfs verdoemende boodskap.
Nee! Die Skrif steek oor en oor vanaf die basis deur na die vrug.
# Ek durf nie nalaat nie om met die sterkste nadruk daarop te wys dat dit nie net Bybels foutief is om die laasgenoemde twee fokuspunte (díé oor goeie werke) vóóraan die lys te plaas nie; dis absoluut diskwalifiserend en fataal! Presies wat Galasiërs leer.
Redding vloei nooit voort vanuit goeie werke nie! Goeie werke is nooit die grond van redding nie; nooit die aanleiding daartoe nie.
Maar heiligmaking, gehoorsaamheid, goeie werke is die noodwendige gevolg. Dis die uitvloeisel van reddende genade in iemand se lewe.
As sodanig is goeie werke die uiteindelike merkteken van Christelike egtheid!
# Ons het hier 'n saak van die fynste en mees sensitiewe balans. Die ware Christelike lewe word op die snykant van 'n mes geleef. Dis 'n baie nóú bergpad.
Aan die een kant is daar die afgrond van wettisisme (redding op grond van werke).
Aan die ander kant is daar die afgrond van wetteloosheid (redding sonder werke).
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev