PDF WEERGAWE

PREEKOPNAME:   https://tinyurl.com/3sk5dz5t

 

 

Terwyl die Here Jesus besig is met 'n baie ernstige stuk lering, val 'n man Hom kru in die rede. In plaas van diep nadenke oor die Here se voorafgaande woorde, is hierdie kêrel met iets heel anders behep: Sy en sy broer se getwis oor erfgeld (v.13).

            Jesus ontken nie dat dit 'n ernstige probleem kan wees nie. Maar daarvoor is daar 'n regstelsel. Hierdie man het egter 'n dieper en groter probleem: Hebsug!

            Dít, en Jesus se radikaal-verskillende roeping in die verband, beheers dan tot 'n groot mate die res van die hoofstuk.

Die gelykenis in 'n neutedop (v.16-21)

Na aanleiding hiervan (die broers se twis oor geld) vertel Jesus dan 'n gelykenis (v.16-21).

            'n Ryk man het 'n geweldige oes gehad. Hy het 'n probleem wat meeste mense dikwels wens hulle kan hê: Sy skure is te klein. Dan doen hy die voor die hand liggende en bou groot genoeg stoorruimte.

            Daarmee klaar, sit hy by wyse van spreke vergenoegd agteroor en klop homself op die skouer: "Ou Bulperd, uiteindelik het jy genoeg om af te tree. Daar is genoeg om jou oudag sorgeloos tegemoet te gaan. Jy het goed gedoen vir jouself. Nou is dit vir alles waaroor jy nog altyd net gedroom het. Jy het hard gewerk; geniet nou jou lewe!"

            Dis waaroor ons samelewing droom. Dis waarvoor miljoene hulleself afsloof.

            Maar daardie nag sterf die man onverwags!

            En hy kan nie 'n sent, nie 'n kriesel, nie 'n rafel saamneem die ewigheid in nie.

            Die ergste het egter nog gewag. Niks kan erger wees as God se beoordeling van hom nie: "Jou dwaas!" Bulperd het één lewe en één kans gehad — maar dit verspeel. Al wat nou oorbly, is onuitspreeklike smarte tot in die verste ewigheid.

Waarom is hierdie man 'n dwaas?

Wat is dwaasheid? Dis die weiering om die wêreld om jou te sien en te beoordeel vir wat dit werklik is. Dis om met 'n vals maatstaf te meet. Dis om verkeerde prioriteite na te jaag. Dis om jouself wys te maak die goeie is sleg, en die slegte goed. Dis om jouself te bluf.

            Hierdie man is 'n dwaas. Hy dwaal op twee maniere.

Sy beskouing oor besittings slaan die bal op 'n bedenklike wyse totaal mis.

En Sy siening op wat ware lewe is, hou noodlottige en ewige gevolge vir hom in.

Wat besittings betref, dwaal hy op 4 maniere

#          Eerstens maak hy homself wys dat sy aardse besittings aan hóm behoort — dat hy dus volle seggenskap daaroor het. Dit blyk daaruit dat hy praat van sý oes, sý skure, sý graan, sý goed, sý siel.

            Máár hy slaan die bal totaal mis! In die absolute sin is niks syne nie. Op wie se grond het sy gewasse gedra? Wie het die reën gestuur? Selfs, wie het hom wysheid en vaardigheid en krag gegee? Wat het ons wat ons nie ontvang het nie?

            Waarlik, as die Here gee, en as Hy neem, doen Hy dit as soewereine Eienaar — en wie kan dit betwis?

            Ons is bloot diensknegte, rentmeesters — uiters bestuurders, in die Here se diens.

#          Tweedens maak hy homself wys dat sy besittings noodwendig vir altyd sal hou — in elk geval "vir baie jare" (v.19). Máár brande breek soms in pakskure uit, aardbewings vernietig huise, aandelebeurse tuimel inmekaar.

#          Derdens maak hy homself wys dat sý besittings daar is vir sý plesier — om van hierdie wêreld 'n lekker plek te maak.

            Máár die Here gee vir ons besittings om daarmee te woeker — in sý belang, vir sý eer, vir sý evangelie, vir sý kerk, vir sý armes.

#          Vierdens maak hy homself wys dat sy besittings sy siel kan bevredig. Dis immers sy siel wat hy aanspreek as hy dink aan al die lekker wat op hom wag (v.19).

            Maar 'n mens se siel kan nie biefstuk eet, of goeie wyn waardeer nie. Die vrede van jou siel is nie afhanklik van goue ringe en syjaponne nie. Adrienalienopwellings het 'n siel nog nooit bevredig nie.

Wat die lewe betref, dwaal hy op 3 maniere

#          Eerstens: Oor die lewe hier en nou, dink hy net aan 'n liggáámlike bestaan. Al spreek hy sy siel aan, wil hy dit bloot beloon met lyflike bevrediging: rus, eet, drink, plesier.

            Die innerlike mens en sy geestelike welstand kry geen plek op sy voorkeurlys nie. Maar dis die mens se gees wat in die eerste instansie belangrik is.

#          Tweedens lewe hy asof die bestaan hier en nou ál is wat daar is. Hy leef, soos die Prediker sê, "onder die son." Hy berei homself hoegenaamd nie voor op die hiernamaals nie. Hy vee hom af aan die feit dat daar 'n intieme verband bestaan tussen ons lewe híér, en ons lewe hierná. Hy vergeet gerieflikheidshalwe dat ons lewe nóú bepaal waar en hoe ons die ewigheid gaan deurbring.

#          Derdens, soos hierdie man, weier sóvele om rekening te hou met die komende dood. As hulle van tyd tot tyd daarmee gekonfronteer word, skreeu hulle vir hulself dat hul heengaan só ver in die toekoms lê dat dit so goed soos nooit sal plaasvind nie.

So is 'n dwaas.

Hy jaag die verkeerde dinge na.

Hy leef in sy eie sprokieswêreld.

Hy werk net met daardie realiteite wat hom pas.

Hy kies altyd die weg van minste weerstand.

Om ryk te wees in God (v.21)

Lees mens die gelykenis oppervlakkig, lyk dit asof Jesus hierin 'n waarskuwing rig, maar niks positief in die plek daarvan stel nie. Die trefreël lê egter in die laaste vers (v.21). Met hierdie gelykenis plaas die Here 'n onontkombare en radikale keuse voor ons – en dit sny regdeur tot in die hart van ons bestaan. Wil jy skatte vergader, óf wil jy ryk wees in God?

As mens deur al die opsies van hierdie lewe gewaad het

bly daar uiteindelik één groot en finale keuse oor wat jy móét maak

Gáán jy vir hierdie wêreld. Of gáán jy vir die lewe hierna?

'n Kompromie is nie moontlik nie

Jy gaan óf vir die een, óf vir die ander

Die res van die hoofstuk

1.         Die Here sê dat Sy dissipels nie bekommerd hoef te wees oor hulle versorging nie – mits hulle dit najaag om ryk in God te wees (v.22-34).

Dis mos só dat hierdie wêreld se kompensasies amper altyd te doen het met geld en besittings. Sal mens dus nie krepeer as jy nie met alle ywer opgaar nie?

            Nee, sê Jesus, julle Hemelse Vader sal tot in die fynste besonderhede na julle omsien — mits, natuurlik, julle allesbeheersende gerigtheid die koninkryk van God is (v.31).

            Daarom, sê Jesus, moenie vergader nie, maar wees uitbundige uitdelers (v.33). Nie alleen is dit die manier om die suigkragte van hierdie wêreld te smoor nie, dis ook 'n wonderlike manier om in die hemel te belê, en dus ryk in God te wees.

            Onthou, sê die Here ten slotte, alles gaan oor die gerigtheid van jou hart — en dis 'n onontkombare wetmatigheid: "... waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees" (v.34).

Het jy opgelet?

Mens hoor meermale hierdie boodskap uit die Here Jesus se mond.

2.         Die Here praat nie hier van 'n stokperdjie nie (v.35-48).

Dis nie iets waaraan mens net nou en dan aandag gee as jy tyd en lus het nie. Nee, nee! Hy praat van 'n enkelhartige toewyding in hulle ywer vir die koninkryk van God (v.31a). Daarvoor moet hulle elke dag uitkoop. Die koms van Sy koninkryk moet hulle hartstog wees.

            Dis soos 'n slaaf wat weet sy baas kan enige dag terugkeer, en daarom sorg dat alles dag na dag deur 'n ring getrek kan word. Niks is vir hom belangriker as om sy baas

tevrede te stel nie.

            Dis 'n totaal ánder instelling as die ryk boer wat nou agteroor sit en die lewe geniet.

            Nee, Jesus se dissipels het 'n enkelhartige fokus:  Die Koning! Sy heerskappy! Sy verheerliking!

3.         Die Here waarsku: So 'n lewenstyl en -gerigtheid hou gewigtige implikasies in (v.49-53).

So 'n koninkryksgerigtheid bring jou in stryd met die mense en waardes van hierdie wêreld. En hierdie sondegevalle wêreld is alles behalwe verdraagsaam teenoor stroomop-lopers — veral teenoor mense wat 'n appèl op hulle gewetens maak.

            Jesus se dissipels moet daarom weet dat die lewe meestal die teenoorgestelde vir hulle sal oplewer as wat die ryk boer met sy groot oes op hoop. Hulle belê immers in die hemel en nie hier op aarde nie.

4.         Die Here sluit af met 'n verwyt (v.54-56) en 'n dringende oproep (v.54-59).

#          Waarom is die mense blind vir die belangrikheid van die oomblik? Waarom besef hulle nie dis die langverwagte Messias wat met hulle praat nie? Waarom dring dit nie tot hulle deur dat God se ryk met radikaal nuwe waardes en prioriteite op hulle gedaag het nie? Waarom wil hulle aangaan soos nog altyd? Waarom wil hulle steeds op die tromslag van hierdie gevalle wêreld bly voortmarsjeer?

#          Kom, roep Jesus die mense op, oordeel self. Is wat Ek sê nie in pas met wat God se Woord nog altyd leer nie? (v.57). Maak dit nie sin nie? Natuurlik! Natuurlik!

            Daarom moet mense dringend besin, en nie uitstel om kwaliteitsbesluite te neem nie. Niemand weet hoe lank hy of sy nog het om uit hierdie wêreld se gelid te breek nie. En om in die hiernamaals op te daag sonder 'n belegging in die hemel, is té skrikwekkend om te bedink. Om nakend voor God se regbank te moet verskyn — omdat al jou besittings in die graansuiers van hierdie wêreld lê en verrot — sal erger wees as enigiets wat in hierdie lewe met jou kan gebeur. Uit die tronk van God se oordeel sal jy nooit weer kom nie!

Een woord wat eendag, wanneer ons voor die Here se regterstoel verskyn,

weer en weer deur die hofsaal sal eggo

is die vyfletterwoord: Dwaas! Dwaas! Dwaas!

Niks, maar niks, is in hierdie oomblik vir jou en my belangriker nie,

as om die woord van Koning Jesus glashelder duidelik te hoor

en om daadkragtig daarvolgens te leef nie!

Het jy gehoor – régtig gehoor – wat die Here Jesus in Luk 12 vir my en jou sê?

Gaan huis toe en oordink dit elke dag hierdie week.

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev