PDF WEERGAWE

Preekopname:   https://tinyurl.com/mrueu2u8

Dis kort nadat die volk uit Egipte vertrek het – voordat hulle by Sinai aankom. Hulle murmureer teen die Here. En dis nie die eerste keer nie.

            In hoofstuk15 kom die volk by Mara, waar die Here hulle op die proef stel – en dus 'n les wil leer (v.25). Die water is so bitter dat hulle dit nie kan drink nie. Hulle murmureer en die Here wys vir Moses 'n stuk hout wat hy in die water moet gooi – wat die water laat soet word. Op pad verder kom hulle dan by die oase, Elim, met sy 12 fonteine en 70 palmbome.

            In hoofstuk16 verlang die volk na Egipte se vleis en murmureer nogeens teen Moses – maar ook teen God (v.3, 7, 8). Nou begin die Here om die manna en kwartels te gee waarvan hulle deur die volgende dekades sou leef. Dit was vir hulle 'n teken dat God hulle uit Egipte bevry het, dat Hy die Almagtige is, en dat Hy hulle verset teen Hom opgemerk het (v.6-8).

            Die volk se rebellie hier by Refidim (later Massa en Meriba genoem), so kort op die hakke van die vorige kere, is dus des te meer skokkend en onverskoonbaar. Sou Hy wat die see in twee kon deel, en wat manna en kwartels uit die niet kon voorsien, nie ook water kon verskaf nie? Is dit nie Hý wat hulle Refidim toe gebring het nie?

Die gebeure

#          Die volk is woedend vir Moses. Hulle dreig om hom te stenig (v.4). Maar hy protesteer heftig: hulle probleem is met die Here, nie met hom nie (v.2b). Hy is reg. Trouens, die volk sondig op 'n dubbele manier teen God.

            +          Die volk tart die Here. As hulle wil hê Moses moet vir hulle water gee, is hulle uitdagend: "Is die Here in ons midde of nie?" (v.7, OAV). Met ander woorde: indien Hy in ons midde is – 'n ope vraag – kan jy wat Moses is mos net jou vingers klap en ons sal water hê!

            +          Tweedens dui die begrip "rusie maak" (v.2) in Hebreeus op die maak van 'n hofsaak. Dis die stamwoord in die naam, Meriba (v.7), en Miga 6:1-8 gebruik dit vir die Here se hofsaak teen Israel.

            Die volk kla vir Moses aan. Maar hy is net die Here se verteenwoordiger. Eintlik plaas hulle dus vir God in die beskuldigingsbank!

#          God is regverdig. Die mense kla Hom aan. Goed dan, goed dan, die saak sál aangehoor word!

            Maar wie sal op die bank sit? Moses sal die regter wees! En die leiers die jurie! (v5).

         Moses moet sy staf saamneem (v.5). Dis simbool van gesag, oordeel en regspraak. Dis die staf waarmee die Nyl se water in bloed verander, die see gekloof en die geveg teen Amalek beheer is (v.9).

#          Wat volg, is sekerlik een van die mees verstommende insidente in die ganse Bybel. Die Here gaan op 'n rots staan. Moses moet dit dan met sy staf slaan – waarna daar water sal uitvloei (6).

            +          Die 2020 en NAV (sien ook NASB; Amplified; AV; NKJV) vertaal die voorsetsel beter as die OAV en die NIV: Die Here het inderdaad bó-op die rots gaan staan.

            Mense staan voor God, nooit andersom nie! En tóg, hier gebeur die ondenkbare: Die Here gaan voor die mens staan – om verhoor te word, en om die plek van 'n skuldige in te neem en geslaan te word.

#          Is God dan skuldig? Erken Hy skuld? Allermins! Dis die volk wat skuldig is.

            Wat gebeur dan híér?

            God is 'n God van geregtigheid. Sy wet móét bevredig word. Maar as Verbondsgod wil Hy Sy volk red. Daar is net één uitweg – Hý moet self in hulle plek die oordeel dra!

            "Is die Here in ons midde ...?", het die volk smalend gevra. Inderdaad! Maar ánders as wat hulle ooit sou kon dink. Hy staan nie net tussen hulle nie – Hy staan in hulle plek. Hy dra hulle skuld!

            Hoe op aarde het Moses dit reggekry om die Here se bevel uit te voer? Wat gaan deur hom as hy die staf bokant sy kop uitlig – en dan met al sy krag slaan? As enige mens ooit geloof gehad het, sien ons dit hier. Hier is gehoorsaamheid sonder weerga!

#          As Moses se staf die rots tref, bars dit oop en 'n stroom lewegewende water begin daaruit vloei. Sekerlik was dit nie 'n soebatstroompie nie. Die volk was immers 'n ontsaglike skare, om nie van hulle diere te praat nie.

             Ons teks beskryf nie die water nie, maar Ps 105 – wat God se groot verlossingsdade besing – beskryf hoe dit was: "Hy het 'n rots oopgebreek en daar het water uitgestroom wat soos 'n rivier deur die dorre gebied gevloei het" (v.41).

Die openbarings-historiese betekenis

#          Uiteraard moet mens nie Christus in elke Ou Testamentiese vers probeer inlees nie. Maar baie van ons is so geïntimideer deur hedendaagse ongeloofsteologie dat ons bang is om Christus hoegenaamd in die Ou Testament raak te sien.

            So 'n beskouing bots egter lynreg teen onontkombare Nuwe Testamentiese getuienis

Voordat jy Christus uit die Ou Testament kan uithaal

moet jy noodwendig eers die Nuwe Testament oorboord gooi

            +          Oorweeg byvoorbeeld die volgende:

            "Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê" (Luk 24:27).

            "Filippus het by hierdie Skrifgedeelte (Jes 53) begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig" (Hand 8:35).

            Vergelyk ook onder meer Joh 5:39 en 1Pet 1:10-12. Trouens, voorbeelde kan vermenigvuldig word.

#          Wat hierdie spesifieke Skrifgedeelte betref, het ons glasheldere Nuwe Testamentiese mandaat om Christus daarin te lees: "... hulle (die hele volk Israel) het gedrink uit 'n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus" (1Kor 10:4).

            God belowe in Eks 17 die komende soenoffer van Sy Seun! Vers 6 antisipeer in 'n enkele sin die hele evangelie! Luister na 2Kor 5:21: "Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel" – dus as ons strafdraende plaasvervanger!

#          Ons vind selfs meer as Christus hier. Ons vind ook die Heilige Gees. In Joh 7:37-39 belowe die Here Jesus die Heilige Gees soos strome lewende water – as 'n uitvloeisel van Sy kruisiging en verhoging. En inderdaad is dit presies hoe dit gebeur het.

Numeri 20:1-13

#          Veertig jaar later is Moses in 'n soortgelyke konfrontasie met die volk. Daar is weer nie water nie, en daar is weer 'n rots en 'n staf ter sprake – maar nóú is Moses se opdrag ánders as in Eks 17.

            +          Anders as destyds, toe hy die rots moes slaan, moet Moses nou met die rots praat.

            +          Hierdie keer moet Moses vir Aäron saamneem, terwyl die staf wat hy moet vat nie sy eie is nie, maar Aäron s'n (v.8, 9).

Waar die eerste gebeurtenis dus 'n regskarakter gehad het,

is dit hierdie keer van 'n priesterlike aard.

#          In plaas van met die rots te praat, slaan Moses dit egter in sy woede vir die volk – twee keer (v.11). Nogtans kom daar genoeg water uit vir volk en vee.

            +          Moses se oortreding is egter geen geringe saak nie. Hy (en sy broer) sal Kanaän nie binnegaan nie!

#          As ons eerlik is, voel dit of Moses se straf totaal buite verhouding met sy oortreding is. Vir veertig jaar het hy die Here getrou gedien – soos min, indien enige, voor of na hom. Vir dekades het hy vir net een ding geleef – om die Here se verbondsvolk die beloofde land binne te lei. En nou word hy op die drumpel van sy triomf gestuit!

            Waarom hierdie verskriklike straf? Is dit bloot omdat hy voor die volk aan die Here ongehoorsaam was? Nee, nee! Dit gaan om veel meer: Die Christus-profesie wat ook by hierdie geleentheid voor die volk se oë moes afspeel, is geweld aangedoen!

            +          Christus is slegs een maal gekruisig – eens en vir altyd (Rom 6:9-10; Heb 9:26, 28). Dit was 'n volmaakte werk – en bly die volkome en genoegsame basis en bron van alle seën vir diegene wat deur geloof met Hom verenig is. En ál wat nodig is om dit te bekom, is om met die Here te "praat" – om dit in gebed te vra – op grond van Christus se eens en vir altyd afgehandelde en volkome werk!

            +          Twee verskillende Hebreeuse woorde word in Eks 17 (tsur) en Num 20 (sela) vir "rots" gebruik. Hoewel soms uitruilbaar, wonder mens of dit dalk betekenisvol is dat tsur meer op 'n soliede rots wys, terwyl sela meermale dui op 'n rots met 'n skeur in.[1]

Wat sê dit vir ons?

1.         Ons sien in hierdie tragiese gebeurtenis hoe ononderhandelbaar belangrik die evangelie vir God is.

2.         Ons sien tweedens tot watter aanstoot dit vir Hom is as mense iets by Sy Seun se volmaakte werk wil voeg.

3.         Ons sien watter premie die Here Jesus op die Ou Testamentiese voorafskaduings van die evangelie plaas.

4.         Ons sien God se oor en oor genade. Ten spyte van die volk se murmureringe, en ten spyte van Moses se ongehoorsaamheid, kom daar nogtans water uit die rots uit. Hoe getrou bly Hy nie aan Sy verbondsbeloftes nie! Waarlik, al is ons ontrou, Hy bly getrou (2Tim 2:13).

Slot

#          'n Bekende joernalis het 'n paar jaar gelede die evangelie openlik verwerp – omdat dit kwansuis nie sin maak nie. Sy kon nie sien waarom God – as Hy dan soewerein en almagtig is – nie sonder meer ons sondes kan vergewe nie. Waarom moes Sy Seun op so 'n groteske wyse sterf? 'n Pa – was haar aanklag – werk mos nie só met sy kinders nie!

            Dis tragiese onkunde wat so praat!

            Nooit sal God in enige van Sy handele strydig met enige van Sy attribute optree nie. Wat Hy doen, is altyd in volle harmonie met ál Sy karaktertrekke. Daarom, omdat Hy ook 'n heilige God van geregtigheid is, kan en sal Sy verlossing nie bloot 'n kwytskelding van skuld wees nie. Hy sal nie bloot mense se sondeskuld onder die mat invee nie.

            Sonde móét gestraf word – alle sonde, elke sonde.

            Presies dit is waarom die Seun gekom het – om sondaars se straf namens hulle te dra.

            Dis waarom Hy waarlik mens moet wees, want net 'n mens kan as plaasvervanger vir mense instaan.

            Dis waarom Hy waarlik God moet wees, want net God kan strafdraend miljoene se skuld betaal.

Óf Christus dra jou straf,

óf jyself.

En geloof – omhelsing van Christus – is die bepalende faktor.

#          Les bes, die plaasvervangende middelaarswerk van ons Here Jesus Christus was nie maar 'n laaste uitweg nie – 'n plan B.

            Nee! Hy is "... deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer ... en gekruisig ..." (Hand 2:23).

#          Hierdie evangelie is al eeue voor Golgota aan Israel in die woestyn verkondig.

            Trouens, lank voor hulle het Abraham al die komende Verlosser gesien (Joh 8:56).          En lank voor hóm is al aan Adam en Eva gesê dat die saad van die vrou die kop van die slang sal vermorsel (Gen 3:15).

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Harris, Archer & Waltke: Theological Wordbook of the Old Testament, Vol 2, p. 627.