PREEKOPNAME: https://tinyurl.com/4ps2emrr (Gepreek 13 Januarie 2008)
Presies tien jaar gelede het ek en Soniah 26 000 pamflette hier in Pretoria versprei. Daarin het ons mense genooi na dienste toe by die Nuwe Hoop Skool in Ashlea Gardens. Daarbenewens het dit 'n versigtige uitspel van ons fundamentele leerstellige en geloofsbeginsels bevat. Vir geheime agendas het ons nog nooit tyd of respek gehad nie. Daar in die skool se personeelkamer sou ek begin om elke Sondagaand die Woord te verkondig – Woord-gefundeerd, God-gesentreerd, Christus-gefokus. Soggens het ek steeds in Vereeniging preek.
Nou, na honderde dienste, preek ek vir die laaste keer hier in Antipas as voorganger van die gemeente wat ontstaan het. Dit het tyd vir ons twee geword om aan te skuif.
# Wat sê mens by 'n geleentheid soos hierdie? Het ek nog iets núút om vir julle te sê? Sekerlik. God se Woord is onuitputlik. Maar vanaand gaan ek niks sê wat ek nie al meermale gesê het nie. Maar ek meen dat dit wat nou op my hart is, vir een en elkeen van ons van die allergrootse belang is. As ons in die Here se genade daarin kan slaag om hierdie Skrifopdrag uit te leef, kan ons verseker wees dat ons tot in ewigheid dankbaar sal wees daarvoor.
Ek wil met julle praat oor 'n fundamentele geloofsbeginsel – een wat vir julle 'n seëvierende toegang tot die ewige heerlikheid van ons Here Jesus Christus sal verseker.
# Wat wil ek vir julle sê? In 'n neutedop kom dit hierop neer: Leef in die lig van die ewigheid! Laat dit 'n beheersende beginsel in jou lewe wees – as jy dan inderdaad verenig is met Christus – dat jy hier op aarde net 'n pelgrim is, dat jy 'n vreemdeling en bywoner is, dat jy net onderweg déúr is. Stel jou hele lewe daarop in dat jou eintlike en finale woning nie bloot die hemel is nie, maar die nuwe aarde. Hou dit altyd voor oë dat die paar dekades hier in die gevalle wêreld net 'n spikkeltjie is aan die begin van 'n oneindige lang lyn. Vergeet dus nooit nie – om Totius aan te haal – dat hierdie wêreld nie jou woning is nie.
Die helm van verlossing
# Wat ék wil sê, sê die apostel Paulus kort en kragtig in Ef 6:17: Dra die helm van verlossing! Hierdie helm is die vyfde deel van die bekende sesdelige wapenrusting van die geloof in Ef 6.
Wat presies is hierdie helm? Was verlossing op sigself die helm, het elkeen wat verlos is dit mos vanself op. Dan is dit mos nie nodig dat die apostel ons oproep om dit te
dra nie. Hoe kry ons die kloutjie by die oor?
# Die sleutel is in 1Thess 5:8. Die apostel gebruik soortgelyke beeldspraak as in Ef 6, maar sê dan uitdruklik: Die helm is ons hóóp op verlossing.
# Die idee van verlossing word op drie maniere in die Nuwe Testament gebruik.
+ Dit is iets wat in die verlede gebeur het – ons is verlos (Ef 2:8; 2Tim 1:9; Titus 3:5). Dis regverdigmaking.
+ Maar dis ook 'n voortgaande proses – ons word verlos (1Kor 1:18; 2Kor 2:15). Dis heiligmaking.
+ Dis uiteindelik iets wat in die toekoms sal gebeur – ons sal verlos word (Rom 5:9-10; Rom 13:11; Heb 9:28). Die afronding, die klimaks, die vervolmaking kom nog. Dis heerlikmaking.
# Die helm waarvan Paulus hier praat is daarom die Christelike hoop. Dis die vaste sekerheid oor ons toekomstige saligheid, die opgewonde afwagting op die afronding, die vervolmaking, van ons uiteindelike verlossing!
Die helm van die hoop is 'n lewensingesteldheid
# 'n Helm beskerm mens se kop – daarom jou brein. Die geestelike helm waarvan die apostel hier praat, beskerm dus jou manier van dink, jou oortuigings en jou lewensinstelling. Om die helm op te hê, is om oor jou waardes, beginsels en gedagtewêreld te waak. Dis om reg te dink en om vanuit God se perspektief na die lewe, die wêreld om jou, die toekoms en die ewigheid te kyk.
Almal van ons weet hoe belangrik uitkyk en gesindheid in die lewe is. Dit bepaal hoe jy dinge sien en beoordeel en benader. Dis die bril waardeur jy na jou eie menswees en die wêreld kyk. Dis die lens waardeur jy die toekoms sien. En vir seker het dit 'n bepalende invloed op hoe jy leef. Waarlik, my instelling, gerigtheid, fokus, waardes en prioriteite is kardinaal belangrik. En vir seker bepaal dit my bestemming.
Dit laat mens dink aan die Comradesmaraton. Die helfte van die wedloop word in jou kop gehardloop.
Om die helm van verlossing te dra,
is om as 'n lewensinstelling
in geloof, dankbaarheid, toewyding en verwagting
jou uit te strek na die heerlike en ewige erfenis wat in Christus op jou sal daag.
# Let op, Paulus het meer as bloot 'n optimistiese lewensinstelling in gedagte. Hy wil hê ons moet spesifiek ons oë vasnael op die uiteindelike afronding en vervolmaking van ons verlossing in Christus!
'n Suiwer begrip van die waarheid oor die toekoms is gevolglik noodsaaklik. Dit gaan spesifiek oor 'n fokus en instelling op God se uiteindelike plan met Sy kinders – en daarom ook met my. Bestudering en gereelde bepeinsing van, en afwagting en 'n uitsien na dit wat God belowe vir almal in Christus, is dus kardinaal belangrik.
Ek moet hierdie helm doelbewus opsit en dra
# Die werkwoord[1] wat Paulus gebruik, "Sit ... op", praat van 'n besliste en gretige aanneem van iets wat aangebied word (die OAV vertaal met "neem aan"; oftewel, vat dit met altwee hande!). En laat ons verstaan dat God nie verniet so baie oor die toekoms aan ons geopenbaar het nie. Ons moet die dinge wat Hy dáároor vir ons sê, omhels, asook weer en weer bedink – en ons lewens daarvolgens inrig.
Voorts wil die werkwoordsvorm sê: Doen dit vir, of ter wille van jouself! Laat ons verstaan en onthou hoe belangrik hierdie saak is – dat dit waarlik ook in eiebelang is om dit ernstig op te neem.
Hierdie hoofbedekking suggereer iets waarin jy jou verlustig en in jou belang is!
# Terwyl die hoop te doen het met die toekoms, het dit inderdaad nou reeds baie waarde. Dit bemoedig en versterk en oriënteer my. 'n Opgewonde afwagting oor die toekoms verleen 'n veerkrag aan mens se tred. Dit bemoedig en versterk en oriënteer jou.
Daarenteen lê niks mens so lam soos uitsigloosheid nie. Sonder verwagting oor die toekoms, het jy beswaarlik krag om nóú te leef.
Slotsom
Die helm van verlossing is wesentlik belangrik vir beërwing van die ewige saligheid.
Die vyand van ons siele wil ons verblind vir die waarheid waarna ons kyk.
Óf hy wil ons geheel-en-al entoesiasties laat opgaan in die hier en nou. Maar hieroor is die Nuwe Testament duidelik: wêreldgelykvormigheid en beërwing van die ewige lewe is wedersyds uitsluitend.
Óf hy wil ons ewigheidsperspektief steel. Daarsonder lê moedeloosheid jou lam in die wedloop en raak volharding tot die einde toe moeilik, soms selfs onhaalbaar.
Nee, nee, vergeet dit nooit nie dat hierdie helm waarvan ons praat deel is van die wapenrusting wat ons in staat stel om staande te bly teen die liste van die duiwel (Ef 6:11). Dis die helm van verlossing (Ef 6:17).
Natúúrlik is daar binne-wêreldse verpligtinge wat my aandag vereis – spesifiek ook as Christen.
Daar is korttermyn verantwoordelikhede wat 'n integrale deel van hierdie lewe is – ook van ons geloofslewe, en dalk juis daaroor.
Maar die deurslaggewende en oorheersende van my bestaan moet die langtermyn, die groter prentjie, die permanente, die ewige wees.
Van die belangrikste dinge wat die Here vir ons wil leer, is so 'n langtermyn-visie en geduld om dit te bereik. Volharding tot die einde toe, is waaroor dit gaan. Trouens, volgens God se Woord is dit 'n voorwaarde vir beërwing van die ewige lewe. Maar dis eweneens dalk díé sleutel tot 'n sinvolle en godvererende lewe hier en nou.
Dis waarom die duiwel ons só dikwels moedeloos wil maak deur in ons ore te fluister: "Dis tevergeefs! Gooi maar tou op!" Dis waarom hy ons om elke hoek en draai wil laat struikel en laat neerslaan. Dis waarom hy ons weer en weer in sonde wil inlok.
Waarlik, min dinge in die Christelike lewe is belangriker as 'n ingesteldheid op die wenpaal!
3. Die helm van verlossing is die geheim van 'n lewe van triomf en Godsverheerliking.
# In Fil 1:21 skryf die apostel: "Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins" (OAV).
+ As die hy sê dat die lewe vir hom Christus is, sê hy dat Christus sy lewe is.
Die Here is sy vreugde en lewensin. Stroop iemand van wie dit geld van álles – dan bly hy of sy steeds skatryk.
Vir so 'n persoon is Christus die bron van sy lewe. Dít waarvan die Here Jesus in Joh 15 praat, word vir hom 'n werklikheid. Soos 'n loot kry hy al sy lewenssap van die wynstok.
Christus is die gerigtheid van sy lewe – sy dryfveer, sy motief, sy ambisie! Hy verstaan al hoe meer Paulus se begeerte in Fil 3:10: "Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood."
Sý Evangelie, Sý koninkryk, Sý eer –
dis die alfa en omega van so 'n gelowige se lewe.
+ Voorts sê die apostel dat sterwe vir hom wins is.
En twee verse verder brei hy hierop uit: " ... ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste ..." (Fil1:23).
Dis asof hy geen vrees vir die dood het nie. Daar mag 'n oomblikke van benoudheid wees. Veral dalk sterwensbenoudheid. Maar dit sal bloot 'n oorgang wees. Dis die drumpelvereiste vir 'n onuitspreeklike heerlikheid saam met die Here.
Iemand met so 'n instelling is onoorwinlik. Ja, sy pad is nou en dikwels baie steil. Maar uiteindelik is daar niks wat hom kan intimideer nie. Dit geld selfs die moeder van alle vrese.
# Dit laat mens ook dink aan wat Paulus in Rom 14:8 skryf: "As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here."
Nou kan mens dink dat Paulus net grootmond is. Woorde is immers goedkoop. Maar gaan lees hoe hy geleef het, en hoe hy gesterf het. Waarlik, hy het end-uit die helm gedra.
# Lees die Christelike biografieë van die geskiedenis. Keer op keer sien jy hierdie gesindheid in die lewe van patriarg en profeet, van apostel en martelaar. Derduisende dwarsdeur die eeue het dit presies so ervaar, in elke laag van die samelewing, in elke ouderdomsgroep, in elke nasie.
As vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld het hulle geleef. Hulle was in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Hulle het die dinge van daarbo bedink. Hulle het 'n beter vaderland gesoek. Hulle het die beloftes in die verte gesien en geglo en begroet. Hulle het volgehou omdat hulle die Onsienlike gesien het. Hulle het gelewe vir die ewigheid. Hulle het hulle getuienis vir ons nagelaat!
4. En tog het niemand méér sinvolle lewens gelei nie as diegene wat die helm van verlossing gedra het.
Ek sê weer, word 'n student van die kerkgeskiedenis. Niemand het méér vir hulle medemens beteken as húlle wat die helm van verlossing gedra het nie.
En niemand was méér vervuld en gelukkig as hulle nie.
Wil jy 'n saakmaak-lewe leef? – dra die helm van verlossing!
Wil jy vreesloos vir die dood leef? – dra die helm van verlossing!
Wil jy jou Verlosser behaag en verheerlik? – dra die helm van verlossing!
Wil jy 'n feestelike toetrede van onuitspreeklike blydskap tot die lewe hierna hê
– dra die helm van verlossing!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Tweede persoon meervoud, Aoristus Medium Imperatief van dechomai.