PDF WEERGAWE

Rom 1:16-17 (ESV)

"For I am not ashamed of the gospel, for it is the power of God for salvation to everyone who believes, to the Jew first and also to the Greek. For in it the righteousness of God is revealed from faith to faith, as it is written, 'The righteous shall live by faith'." [1]

Niks in die Bybel is onbelangrik nie. Maar sommige Skrifwaarhede is van sulke wesentlike belang dat dit werklik 'n vraag is of jy hoegenaamd 'n Christen is as dit nie aan die hart van jou alleroortuigings lê nie.

            Gevolglik vind ek dit baie ontstellend as ek regdeur ons land by goeie en getroue kerkmense kom en agterkom dat sovele van hulle geen snars van talle van hierdie waarhede begryp nie.

            Daarom wil ek nogeens vandag met julle praat oor 'n evangeliewaarheid wat nie net aan die hart lê van ons allerheiligste geloof nie, maar wat ook 'n bron van onuitputlike troos is vir elkeen wat vir lewe en dood in Jesus Christus skuil. Ons het al dikwels hieroor besin, en vir talle van julle gaan ek dalk niks nuut sê nie – maar ek sidder by die gedagte dat ek eendag, as ek voor die Here moet verantwoording doen, dalk die aanklag uit Sy mond mag hoor dat ek nagelaat het om dit oor en oor op julle harte te druk.

Ek praat van regverdiging deur die geloof alleen.

Dis 'n waarheid waarvan Luther gesê het dat die kerk daarby staan of val. En inderdaad is daar beswaarlik 'n meer betroubare lakmoestoets om die egtheid van 'n gemeente vas te stel, al dan nie.

            Meer nog: ek weet nie van 'n waarheid wat méér ingrypende en praktiese effekte op 'n mens se lewe het, as hierdie nie. Daarom, maak seker jy verstaan dit, omhels dit in die geloof, oordink dit weer en weer, en rig jou lewe daarvolgens in.

Die geregtigheid van God

Martin Luther was 'n Rooms-Katolieke priester en professor aan die universiteit van Wittenberg. Onder meer moes hy klasgee oor die brief aan die Romeine. Maar hy kon nie agter die kap van die apostel se byl kom nie. Wel het hy verstaan dat Rom 1:16-17 die tema van die hele boek is, en as sodanig die sleutel tot die verstaan daarvan. Oor en oor het hy die twee verse gelees en elke keer gestruikel oor die uitdrukking in v.17: "die geregtigheid van God". Deur die middeleeue het die Katolieke kerk geleer dat die woorde van 'n karaktertrek van die Here praat, naamlik dat Hy 'n God van geregtigheid is en toorn oor die sonde van mense.

            As daar één kwessie was wat in Luther se hart gebrand het, was dit Job se vraag: hoe kan 'n mens regverdig voor sy Maker staan? (Job 4:17; 9:2). Hy skryf daarom in sy outobiografie dat hy mettertyd die begrip begin haat het, en al hoe meer kwaad geword het vir God. Want vir baie jare het hy met 'n intense sondebesef geworstel, magteloos om 'n heilige lewe te lei. Die laaste ding wat hy wou hoor, allermins van hierdie boek wat daarop aanspraak maak dat dit die geheim van ewige verlossing dra, was dat hy te doen het met 'n God wat algeheel onverdraagsaam is teenoor sondaars.

            Een dag – waarskynlik in die herfs van 1514 – het die priester-professor nogeens hierdie verse oor en oor gelees. En toe skielik, daar in die toring van die Augustiniaanse klooster in Wittenberg, tref dit hom soos 'n donderslag: in die Grieks kan hierdie uitdrukking óók beteken dat God die oorsprong van geregtigheid is - dat Hy geregtigheid gee.[2]

            Opeens het die boodskap van die Romeineboek vir Luther oopgeval. Later skryf hy, "Toe het ek wedergebore gevoel soos 'n nuwe mens, en ek het deur oop deure God se Paradys binnegestap."

            Só begin die sestiende eeuse Reformasie dan. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Opeens is Europa se vensters oopgestoot om die sonskyn van heilswaarheid orals te laat instroom en die duisternis van die Middeleeue te verdring. In die volgende jare sou dit lei tot die redding van duisende der duisende.

Wat het Luther gesien?

Om te verstaan wat Luther begryp het, gou-gou 'n dogmatieklessie.

            Adam het as hoof van die ganse mensheid opgetree toe hy in sonde geval het. Die effek van sy sonde op sy nageslag word die erfsonde genoem. Één manier om hierdie effek te beskryf, is om te sê dat die mens 'n diep en omvangryke verlies aan geregtigheid gelei het. Dit het twee komponente.

            +          Eerstens het die mens sy geregtigheidsaard verloor. Hy het nou 'n sondige natuur (sonde is die teenoorgestelde van geregtigheid). Ons noem dit ook die erfsmet. Almal ken dit proefondervindelik.

            +          Tweedens het die mens sy juridiese geregtigheidstand voor God verloor. Ons noem dit ook die erfskuld – want elke mens is nou strafwaardig voor God, selfs nog voordat hy of sy 'n enkele sonde gepleeg het. Die hele mensheid, as Adam se nageslag, het in verlorenheid ingetuimel en so onder God se toorn beland. Op eie meriete word elke mens dus sonder God en sonder hoop gebore. As sodanig is die natuurlike mens doemwaardig.

            En sy skuld word uiteraard al hoe meer soos hy dag na dag self ook sondig.

           Maar! Christus het as "tweede mens", as "laaste Adam" (1Kor 15:45, 47) – en as Hoof van God se nuwe mensheid – gekom om die effekte van die sondeval vir Sy mense op te hef (Rom 5:12- 21). Wanneer 'n sondaar in alle opregtheid en erns sy volle geloofsvertroue in Christus stel, word hy of sy by wyse van spreke uit Adam uitgehaal en in Christus oorgeplant. Soos wat Adam se sonde aan hom toegereken, oftewel gedebiteer is, so word Christus se verdienste nou aan hom toegereken, oftewel gekrediteer.[3]

            Ons kan nie nou praat oor hoe die Here Jesus se heiligmakende werk ons verlies aan 'n geregtigheidsaard aanspreek nie. Ons teks handel nie daaroor nie. In elk geval is dit nie die mens se eerste en diepste probleem nie. Nee, sy verlies aan 'n geregtigheidstand voor God is die gevalle mens se grootste krisis!

            Om te verstaan hoe Christus die probleem van ons verlies aan 'n geregtigheidstand voor God aanspreek, moet ons vir 'n oomblik oor die aard van sonde praat (ons eie sonde en ons sonde in Adam).

            Alle sonde val in een van twee klasse: dit wat mens doen, en dit wat jy nalaat.[4] Ons oortree God se voorskrifte, én ons misluk om aan Sy standaarde te voldoen. My sondes van oortreding is één ding, maar wat van al die dinge wat die Here beveel, wat ek nie doen nie? Ek haat Hom nie meer nie – en dis wonderlik – maar wat daarvan dat ek Hom nie liefhet met my hele hart en verstand en krag nie?

            +          Meeste van ons is deeglik bewus daarvan dat Christus met Sy vernedering en bloed betaal het vir alle sonde van elke mens wat die Vader aan Hom toevertrou het. Dit geld vir elke kriesel sonde wat hierdie begenadigde mense gedoen het, doen, en sal doen. Die straf wat Hy verduur het, het Hy as my Plaasvervanger gedra – in my plek. My skuld is aan Hom toegereken – dis oorgeboek na Sy rekening, Hy is daarmee gedebiteer. En toe Hy dit betaal het, was dit die einde van my skuld!

            +          Maar hoeveel van ons besef dat hierdie vryspraak, hierdie kansellering van my aanspreeklikheid vir my sondes, op sigself nie genoeg is nie?[5]

            As ons net vryspraak ontvang het, was ons weer waar Adam en Eva voor die sondeval was – sonder skuld, ja. Maar was dit genoeg? Nee! Hulle moes nog deur aktiewe gehoorsaamheid die loon verdien! En hierdie gehoorsaamheid sou daarin lê dat hulle hul onthou van die "Boom van alle kennis" (Gen 2:17). Deur gehoorsaamheid aan hierdie proefgebod sou hulle dan uiteindelik toegang verkry tot die "Boom van die lewe" – en vir ewig bly lewe.[6]

            Voor die sondeval was Adam en Eva in 'n wonderlik bevoorregte posisie – maar tog nie in 'n volmaakte posisie nie. Volmaaktheid sou eers intree indien hulle gehoorsaam aan die proefgebod sou bly. Dan sou hulle nie meer kón sondig nie en volmaakte en ewig-onvervreembare sekuriteit in liefdesgemeenskap met God sou hulle deel wees. Maar helaas het hulle tragies misluk.

            Hier het ons dan 'n lewensbelangrike beginsel, aan die hart van die Godsopenbaring:

Dis nie genoeg om bloot God se gebooie níé te oortree nie,

ons moet hulle hóú!

Daar is nie net straf om te ontkom nie; daar is loon om te verwerf! Wil jy die ewige lewe beërf, moet jy nie net vryspraak van elkeen van jou sondes ontvang nie. Nee, jy kan die ewige lewe net verkry deur absolute gehoorsaamheid aan een en elkeen van God se wette. Maar, helaas, dit kan geen mens eers begin regkry nie. Nee, nee! Een hét dit reggekry – die mens Christus Jesus! Van Sy eerste lewenslig af, tot en met Sy laaste asemteug, het Hy vir geen oomblik geswig voor 'n enkele sondige gedagte, begeerte of motief nie! Tot in die fynste besonderhede het Hy alles, presies alles, gedoen wat Sy Vader wou.[7]

En nou is die Bybel vol beloftes dat elke sondaarmens wat sy volle vetroue in die "laaste Adam", die "tweede mens" (1Kor 15:45, 47) stel, met Sý volmaakte gehoorsaamheid gekrediteer, oftewel geregverdig sal word. En beklee met hierdie toegerekende geregtigheid sal elke ware gelowige uiteindelik triomferend deur die hekke van die ewige saligheid stap en hom of haar onomkeerbaar vir ewig tuismaak, eers in die hemel en na die wederkoms op die nuwe aarde – in heerlike gemeenskap met die drie-enige God!

Dís waarvan Rom 1:17 praat. Dís die geregtigheid wat God gee. Dís wat Luther gesien het. Dís die essensie van regverdiging deur die geloof alleen. Is dit 'n wonder dat dié monnik nooit weer dieselde was nie; trouens die hele Europa – nog meer, die hele wêreld.

            Waarlik, dit hou nie op om my te fassineer dat 'n ander vertolking van 'n enkele Griekse genitief-konstruksie die gang van die wêreldgeskiedenis so ingrypend kon verander nie. Nog meer, oneindig heerliker is die feit dat die ewige lot van miljoene mense op daardie oomblik toe Luther begryp het, totaal en radikaal geskarnier en omgekeer het. Hoe sal ek die Here ooit genoeg kan dank dat ook ek deel van daardie miljoene is!

            Leser, is jy óók in Christus? Is jou geloofsoë vasgenael op Hom? As jy van harte kan sê, "ja, 'n duisend maal, ja!", besef jy wat dit beteken? In God se boeke, by wyse van spreke, het jy die status van iemand wat nog nooit gesondig het nie – want al jou skuld is betaal. Nog méér: in God se boeke het jy die status van iemand wat Sy wet volkome onderhou!

Net ten slotte

Let op, ek sê dit geld in God se boeke. Onthou, hierdie is 'n juridiese aangeleentheid. Paulus gebruik deurgaans wets- en boekhoutaal. Hierdie is dus 'n objektiewe saak, nie 'n subjektiewe nie. Dit gebeur buite jou (in God se boeke!), nie ín jou nie (as jy dit in geloof vasgryp, het dit weliswaar dramatiese effekte in jou). Dit is nie 'n ervaring nie; dit is iets wat jy in die geloof moet vat – omdat God se evangelie dit belowe.

            Om weg van onsself te kyk, en ons oë op Christus en Sy verdienste vas te nael, is een van die eerste en belangrikste lesse wat 'n Christen moet leer. Dis die essensie van geloof.

            Onthou jy die koperslang in Num 21:5-9 en Jh 3:14-15?. Wie het gesond geword? Hulle wat bloot in gehoorsaamheid gekyk het – hulle oë vertrouend op die koperslang vasgenael het. Wat het geword van dié wat met toerniket-verbande en 'n gesuigery probeer regkom het? Hulle is almal dood!

            Ontelbaar baie Christene staan op een plek en rondmaal, omdat hulle introspektief is en gedurig met dermrygery besig is. Dis selfgesentreerdheid. En dis sonde – onder meer die sonde van ongeloof. Jy glo God se beloftes nie! Asof Hy 'n leuenaar is!

            Daarom is daar in die Bybel beswaarlik 'n heerliker en meer betekenisvolle belofte as dié van Op 22:2: Die boom van die lewe!

            Die gerubs wat moet toesien dat Adam en sy nageslag nie 'n voet in die tuin van Eden sit nie (Gn 3:24), sal ook binnekort vir my en jou (ek praat met sondaars wat deur 'n ware geloof geregverdig is) by die poort van die ewige saligheid 'n verwelkomingserewag vorm.

            Is dit 'n wonder dat 'n bekende Britse prediker, skrywer en teoloog iewers gesê het: "Niemand verstaan die Christelike geloof, as hy nie die begrip regverdigmaking verstaan nie."

            En die ou Puritein, Thomas Watson het geskryf, "Regverdigmaking is die skarnier en pilaar van die Christelike geloof."

            Les bes, die bekende Amerikaanse kerkleier en teoloog, Gresham Machen, het waarlik verstaan. Op 1 Januarie 1937 is sy laaste sterfbedwoord: "Ek is so dankbaar vir die aktiewe gehoorsaamheid van Christus. Daarsonder is daar geen hoop nie."

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

 

[1]           Ek haal die ESV aan, omdat dit 'n baie akkurate, letterlike weergawe van die Griekse teks is.

[2]           'n Subjektiewe, en nie 'n objektiewe genitief soos die kerk van die vorige eeue geleer het nie.

[3]           Die begrip "toerekening" in Grieks (11 keer in Rm 4, vgl. OAV) dui op 'n inskrywing in 'n rekeningeboek. Ons kan dus ook vertaal met debiteer of krediteer. Vergelyk ook die NIV.

[4]           Engels: sins of comission, and sins of omission

[5]           Die NAV se gebruik van die woord "vryspraak" vir die hele Nuwe Testamentiese idee van regverdiging, is baie onbevredigend - soos in die volgende paragrawe sal blyk. Ja, regverdiging behels vryspraak, maar die kosbaarste deel daarvan is die positiewe komponent daarvan. Die OAV se gebruik van "regverdiging" of "regverdigmaking", is as positiewe idee dus 'n baie beter vertaling.

[6]           Gen 2:9; 3:22, 24.

[7]           Toe die Vader die Seun uit die dood opgewek het, was dit Sy verklaring dat die Seun Hom volkome gehoorsaam het – dat Hy geen sonde gedoen het, en dus in eie hoedanigheid nie die dood verdien nie.