Preekopname: https://tinyurl.com/2hd4tupf
Hierdie gedeelte is in pas met die voorafgaande 2 hoofstukke in Romeine, en wel daarin dat dit handel oor die praktiese aspekte van die gelowige se lewe, in die besonder oor sy of haar lewe in verhouding met ander gelowiges in die gemeente.
Dit konsentreer egter op die kwessie van "sterkes" en "swakkes" in die gemeente, en wat hulle gesindheid en gedrag teenoor mekaar moet wees. Dit handel oor Christelike vryheid en verpligting.
Soos ons, het het ook die vroeë gelowiges in 'n gevalle wêreld geleef. Die vraag was gevolglik: Waaraan kon hulle deelneem en waaraan nie; wat was sonde en wat nie?
Daarbenewens moes hulle ook, soos ons, oor allerlei dinge en aktiwiteite binne die gemeente besluit. Wat was nodig en behoorlik, en wat nie?
In hulle dae het dit blykbaar gegaan oor wat mens mag eet en drink; oor watter godsdienstige dae gevier moet word, indien hoegenaamd; oor hoe jy moet aantrek, en hoe jy jou hare moet sny (1Kor 11:2-16), ensomeer.
Dinge het nie veel verander nie. Ons het steeds ons kwellinge oor die inenting teen Covid, oor wyn, oor Kersfees en Goeie Vrydag en Geloftedag. En dan is daar nog 'n klomp ander dinge ook waaroor Christene wonder en selfs verskil: bikinis, rook, fliek, dans, grimering, en 'n sak vol vrae oor kleredrag – om maar enkeles te noem.
# Rome was kosmopolities. Dit het ook vir die gemeente gegeld. Mens kan dus verwag dat daar soms uiteenlopende opinies oor sake was. Dit kan jare duur voordat gelowiges hulle kulturele voorkeure en eensydighede ontgroei en in staat is om vanuit eerste beginsels te dink. Hoe goed was die Here nie vir die vroeë kerk nie – deur vir hulle 'n briljante en geïnspireerde prinsipiële denker soos Paulus te gee! En, uiteraard, tot vandag toe pluk ook ons die vrug daarvan.
# Hierdie gedeelte stem in vele opsigte ooreen met ander gedeeltes in Paulus se briewe. Soos deur die eeue, tot vandag toe, is dit 'n tipiese pastorale probleem wat die apostel hier aanspreek. Elke gemeente kry met hierdie kwessie te doen – in een of ander gestalte.
Die probleem in Korinte (1Kor 8:1-13; 10:23-33)
# Ten einde 'n behoorlike Bybelse perspektief te kry, moet ons ook ander Bybeluitsprake oor hierdie saak in ag neem.
# In Korinte het die vraagstuk oor offervleis gehandel. Die apostel antwoord 'n vraag wat die gemeente in hierdie verband aan hom gevra het (1Kor 8:1). Beide die leraar en die pastor kom, soos elke keer, ook hier weer in Paulus na vore: sy antwoord is prinsipiëel stewig begrond, maar terselfdertyd pragtig gebalanseerd, ten einde enige polarisering in die gemeente te vermy.
# Afgodery was 'n integrale deel van die lewe in die antieke wêreld.
Vleis wat privaat geoffer is, is in 3 verdeel. Een deel is verbrand, nog 'n deel is vir die priesters gegee, en die derde deel is gehou om self te eet. As mens dus deur 'n ongelowige vir ete genooi is, was die vraag: "Durf ek daar vleis eet; sê nou dis offervleis?" (1Kor 10:27).
Vleis wat in die publiek geoffer is, is ook in 3 verdeel. Benewens die dele wat verbrand is en vir die priesters gegee is, is die derde deel na die magistrate toe. Hiervan is groot hoeveelhede dan in slaghuise verkoop. Weereens het die vraag ontstaan: durf ek in die slaghuis vleis koop; sê nou dis offervleis?' (1Kor 10:25).
# Duidelik was sommige gelowiges bekommerd dat hulle sou sondig en geestelik besoedel word indien hulle dalk offervleis sou eet – al was dit onwetend. Ander gelowiges was egter gladnie daaroor bekommerd nie.
# "Ontspan oor die offervleis, dis geen probleem nie", sê die apostel. Wat wel 'n groot probleem kan word, is gemeentelike verdeeldheid hieroor. En daarom pleit Paulus by die sterkes (die wat vry is oor die saak) om die swakkes (die wat gewetensprobleme daaroor het) in liefde en begrip te verdra en te konsidereer.
# Die kwessie in Rome was soortgelyk, maar tog ook ietwat anders.
Paulus verwys nie eksplisiet na offervleis nie, maar die feit dat sommige swakkes net groente geëet het, en oënskynlik nie vleis nie (14:2), kan op dieselfde kwessie dui.
Daarbenewens was daar uiteenlopende opinies oor die belangrikheid van sekere godsdienstige dae (14:5-6).
Die probleem in Galasië en Kolosse
# In Gal 4:10 lees ons dat ook daardie gemeente probleme gehad het m.b.t. die viering van "... besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare ..."
Die Kolossense het soortgelyke probleme gehad (2:16-17). Wat meer is, daar was by sommige van hulle ook sterk gevoelens oor wat 'n gelowige mag, en nie mag eet nie (2:16,21).
# As mens die genoemde briewe van Paulus lees, val een ding m.b.t. ons onderwerp dadelik op. In Romeine en 1Korintiërs, aan die een kant, en in Galasiërs en Kolossense, aan die ander kant, openbaar die apostel totaal verskillende gesindhede. In eg. 2 briewe het hy 'n simpatieke herdershart teenoor geestelik onvolwassenes wat nog nie hulle vryheid in Christus verstaan nie. In Galasiërs en Kolossense praat hy egter so driftig, afkeurend en waarskuwend, dat dit sy lesers tot stilstand moes geruk het.
Die rede is voor die hand liggend. In hierdie gemeentes het Paulus met fatale dwaalleringe te doen, terwyl hy in Romeine en Korintiërs bloot gemeentelike groeipyne
aanspreek.
# In sy brief aan die Galasiërs trek Paulus te velde teen die dwaling van die Judaïste. Hulle het die evangelie wesentlik verwring deur daarop aan te dring dat sekere godsdienstige rituele, sáám met Christus se versoeningswerk, noodsaaklik vir redding is. Veral het dit oor die besnydenis gegaan, maar ook oor die handhawing van bepaalde godsdienstige dae en feeste en ander dinge. Hulle het dus 'n wettisisme verkondig wat ontken dat regverdiging deur geloof alléén in Christus alléén plaasvind.
Die Judaïste se lering het neergekom op 'n terugkeer na minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls – op geestelike slawerny dus (4:9). Dit was 'n sielsvernietigende "ander evangelie" (1:6-9). Geen wonder nie dat Paulus vir hulle sê: "Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs" (4:11).
# In Kolosse veg Paulus weer teen die dwaling van gnostisisme.
Basies het die gnostisiste die geestelike en die materiële teenoor mekaar gestel, en geglo redding is die gees se bevryding vanuit materiële gebondenheid en gevangeneskap.
Daarbenewens het hulle engele aanbid as middelaars tussen God en mens (2:18).
Hieruit het asketisme voortgevloei. Enersyds het gnostisiste gemeen hulle kan daardeur die engele se guns wen; andersyds het dit volgens hulle 'n belangrike rol gespeel in die bevryding van die gees vanuit die liggaam.
Die raak-nie-smaak-nie-kwessie het dus verband gehou met 'n Christus-onterende en verderflike kettery – vandaar Paulus se gestrengheid.
Twee pastorale opmerkings met betrekking tot "swakkes" en "sterkes" in 'n gemeente
1. Hou rekening met die feit dat die probleem saamhang met die feit dat die beeld van Christus in hierdie bedeling in geeneen van ons al tot volle wasdom ontwikkel het nie.
# Onthou, dit gaan nie oor wesentlike dinge nie, maar oor randsake – kwessies waaroor die mense onseker is. Is dit behoorlik, al dan nie; móét dit, of hóéf dit nie; is dit sonde, of is dit nie? In 'n sin is dit 'n positiewe teken. Mense is ywerig om heilig voor die Here te leef.
Dis sake wat nie die wese van Christen- en kerkwees raak nie, maar tog die welwese daarvan. Maar as dit nie hanteer word nie, kan dit mettertyd tog wel wesentlik raak (soos 'n snytjie aan jou vinger, wat ontsmet moet word, anders kan dit 'n probleem word.)
# Hierdie dinge het weer en weer deur die eeue na die oppervlak gekom. En elke gemeente ken dit. Afgesien daarvan dat dit lastige klippies in ons skoene kan wees, kan dit – en het dit inderdaad al male sonder tal – ontaard in geskille wat hande uitruk. Dan doen dit mense en gemeentes onuitspreeklike leed aan, en bring dit groot smaad oor die gesonde leer, asook die Here se Naam.
# In Paulus se woordgebruik is die swakkes nie diegene wat kort-kort voor sonde swig nie. Dis mense wat allerlei gewetensnoutes het, allerlei "hang-ups" – gewoonlik in hulle ywer om heilig te leef en die Here te behaag.
Net so is die sterkes nie mense wat as 'n reël oor sonde heers nie; dis hulle wat die evangelie al goed verstaan en hulle vryheid in Christus begryp – mense wat prinsipiëel dink en 'n volwasse onderskeidingsvermoë het.
2. Paulus gee nie 'n maklike antwoord nie. Hy gee nie lyste van dit wat reg en dit wat verkeerd is nie.
Sy aanslag is dus nie simplisties nie. Nee, hy gee 'n klompie basiese en universele beginsels waarmee gewerk moet word – ongeag die situasie, die kulturele omstandighede of die tydvak.
Dis soos die Christelike etiek werk. God het 'n klomp basiese, universele, tydlose en ononderhandelbare beginsels in Sy Woord aan ons geopenbaar – en daarmee moet ons woeker. Geestelike volwassenheid het tot 'n groot mate te doen met die vermoë om vanuit sulke eerste beginsels te dink, te doen en te beoordeel.
Gevolglik is dit moontlik om vandag só oor 'n saak te besluit, en net môre anders sonder om inkonsekwent of 'n kompromiemaker te wees. Die beginsels bly dieselfde, maar die situasie mag totaal anders wees.
Slotwoord
Daar is twee dinge in die lewe:
die volmaakte en die werklikheid
Volwassenheid is om die volmaakte as ideaal na te streef
maar om met die onvolmaakte as werklikheid saam te leef
Om die werklikheid gelate te aanvaar
en die volmaakte sinies af te skryf, is dwaas
Maar om net die volmaakte te erken
en die werklikheid te misken, is naïef
Weier om vrede te maak met gebrokenheid,
maar maak vrede met die feit van gebrokenheid
Dit is volwassenheid
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt – Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev