Preekopname: https://tinyurl.com/yzha5ytk
Inleiding
# Fundamenteel belangrike elemente van saligmakende geloof word in hierdie merkwaardige episode daar in die Sinaiwoestyn beskryf, plus-minus 1300 jaar voor Christus. Dit onderstreep onmiskenbaar dat die, noem dit maar Christusgefokusde evangelie, toe alreeds antisiperend geopenbaar is.
# Daar is baie soorte geloof. Ons beoefen dit heeldag en aldag. As ek geld in 'n bank deponeer, doen ek dit in die geloof – dat ek die geld weer sal kan onttrek. Selfs as ek op 'n stoel gaan sit – veral party! – doen ek dit in die geloof dat dit nie onder my sal meegee nie. Heeldag en aldag beoefen ek geloof.
Maar daar is nét een soort geloof wat red
en dis baie presies gedefinieerd
# Vroeg in hulle geskiedenis as verbondsvolk leer Jahweh vir die Israeliete wat die wesenstrekke van ware reddende geloof is. En Hy doen dit op 'n wonderlik bevatlike wyse vir hierdie ongeleerde slawegepeupel wat Hom nog beswaarlik ken, en allesbehalwe tot abstrakte denke in staat is.
Maar selfs vir óns, as veel meer gesofistikeerde mense van die een-en-twintigste eeu, kan dit baie verhelderend wees – soos ek hoop hierdie studie sal bevestig.
Ons kyk na hierdie 6 verse aan die hand van 5 hoofpunte.
1. Let op die toestand van die mense vir wie die koperslang gegee word.
1.1 Hulle is sterwende omdat hulle teen God in opstand is.
# Vers 5b: "Die volk het teen God en teen Moses uitgevaar: 'Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterf? Want daar is geen brood of water nie, en ons walg van die ellendige kos.' "
Hulle het egter allermins rede om te kla. Dag na dag ervaar hulle die Here se versorging. Die manna en kwartels daag soos klokslag op. Op bonatuurlike wyses voorsien Hy vir hulle water, reeds oor jare heen. En hoeveel van sy wonderwerke het hulle nie al gesien nie!
Veral is hulle op hierdie stadium ontevrede oor hulle kos. Hulle is uitgeëet aan die manna en kwartels. En dis nie die eerste keer dat hulle in opstand teen die Here is nie. Trouens, lees mens die geskiedenis van die uittog, vind jy die volk is gedurig beterweterig, ondankbaar en ontevrede. As enigiets skeefloop of net nie na hulle sin is nie, verwyt hulle die Here en meermale kry Moses en Aäron ook die skuld.
1.2 Die wat deur die slange gepik is, is werklik sterwende
# Die gif van die slange is dodelik, en baie Israeliete sterf (v.6c).
+ Laat daar by ons geen illusie wees nie: die loon van die sonde is die dood – nie net die voorlopige liggaamlike afsterwe van die liggaam nie, maar veral die ewige dood.
+ Oor en oor skets die Bybel vir ons die onuitspreeklike afgryse van diegene wat verlore gaan se ewige lot.
Oor en oor gebruik die Skrif talle uitdrukkings wat mens laat sidder: "die vuuroond"; "die duisternis daarbuite"; "die ewige straf"; "beter ... as ... nooit gebore was nie"; "waar die wurm nie doodgaan en die vuur nie geblus word nie".
En as jy nog wonder of die populêre "liewe Jesus" van ons dag sou kon saamstem met sulke afstootlike uitsprake – bogenoemde uitsprake was almal uit sy mond (Matt 13:42,50; 22:13; 25:30; 25:46; 26:24; Mark 9:48).
Trouens, niemand in die Bybel het méér oor die verdoemenis gepraat as juis die Here Jesus nie.
Ook die briewe praat oor die hel, maar kom ons volstaan met die laaste boek van die Bybel. Openbaring sê, "die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig" (Op 14:11), en hoofstuk 20 beskryf die hel as "die poel van vuur en swael" (20:10,15).
+ Het hierdie mense wat gesterf het van die slanggif vir ewig verlore gegaan? Ons teks sê dit nie vir ons nie. Maar Paulus praat in 1Kor 10 spesifiek van die volk se sondes tydens die eksodus en noem dit saam met van die ergste sondes wat in die Nuwe Testament genoem word. Onder meer verwys hy spesifiek na hierdie ervaring met die slange (v.9). Van diesulkes sê hy dat God in hulle geen behae gehad het nie (v.5). Uiteindelik sê hy dat hulle voorbeeld ook vir ons as Nuwe Testamentiese mense opgeteken is om as waarskuwing te dien (v.11).
Is dit 'n wonder dat die Hebreërskrywer kan sê: "verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God" (10:31).
1.3 Die koperslang het net iets beteken vir diegene wat, eerstens, erken het dat hulle sterwende is, en wat, tweedens, hulle eie rate en kure oorboord geooi het – en dan vertrouend gekyk het
# Kom ons sê dit helder en duidelik: God red nét sondaars! Hy red nie vroom godsdienstiges en ordentlikes nie.
+ God red nie oudste seuns nie.
Onthou jy hoe hy sy pa verwyt in die gelykenis? "Kyk, ek sloof my al soveel jare vir u af, en het nog nooit 'n opdrag van u verontagsaam nie ..." (Luk 15:29).
Die implikasie van die gelykenis is kennelik dat hulle wat soos hy is, nie gered word nie.
+ God red nie Corneliusse nie.
Onthou jy, daar in Hand 10, dat van hierdie vroom man gesê word dat hy "godsdienstig" en "godvresend" was, en dat hy "baie liefdadigheid" bewys het, en dat hy "gereeld tot God gebid het" (v.2). Verder sê v.22 dat hy 'n "regverdige" en "godvresende" man was, oor wie die "die hele Joodse volk goeie getuienis gelewer het" (v.22). Hierdie was 'n merkwaardige man. Moreel, selfs godsdienstig, kon jy sy lewe deur 'n ring trek.
Tog was dit nodig dat Petrus eers die evangelie aan hom moes verkondig en hy gevolglik verstaan het dat hy nog nooit gered was nie. As Petrus later verslag doen aan die gemeente in Jerusalem, verwys hy na Cornelius en sê dat hy eers "verlos" is nadat hy die evangelie omhels het (11:14). Die 53 en 84 vertaal met "gered", en Engelse vertalings met "saved".
Die punt is dít, sy godsdienstige vroomheid kon hom nie red nie!
+ God red diegene wat weet dat die gif deur hulle hele sisteem versprei is; dat hulle op die rand van 'n verskriklike en ewige dood is; wat weet hulle benodig 'n wonderwerk om dit te ontkom.
1.4 God se genesing was onafhanklik van die stadium van vergiftiging
# Dit het nie saak gemaak hoe ver heen iemand was nie. Party is 'n minuut vantevore gepik; ander is was reeds sterwende. Die belofte was ongekwalifiseerd.
+ Die evangelie is vir een en elkeen. Elke mens het immers dieselfde probleem. Elkeen is in Adam en verkeer dus onder God se toorn – of jy 'n Jood en en of jy 'n heiden is; 'n fariseër of 'n tollenaar; jonk of oud; slim of dom; skrefies oë en styl hare of gitswart en kroes hare. Die evangelie is vir die hele wêreld!
2. Let op die kuur wat voorsien is
2.1 Die kuur kom van God alleen
# Die Here alleen het soewerein besluit op watter kuur en hoe dit sou werk. Ek Hy alleen het die genesingkrag gegee.
# By die eerste aanhoor van Moses se opdrag, was dit sekerlik moeilik om nie te dink dis verspot en absurd nie. 'n Stuk koper op 'n paal! En dis net vir kyk! Komaan, Moses, jy mors met ons. Dink jy ons is klein kindertjies?
En om die kroon te span: Júís 'n beeld van die ongedierte wat ons ellende veroorsaak. Jy's ligsinnig, jy spot met die dood!
Hulle het God nog nie geken soos Moses nie.
= Laat ons onthou, God maak nooit grappies oor die gevalle mens se verlorenheid nie. Al verstaan ons nie sy kuur en voorskrifte nie – laat ons sy Woord en bevele ernstig opneem. Hy trek nie been met sy evangelie-aanbod nie.
+ Hierdie voorskrif van God is boordevol van die Evangelie. Hoewel Israel nog min daarvan sou verstaan het, kan ons dit wel begryp.
+ As mens 'n slang só ophang, is dit omdat hy verbrysel en dood is.
Die antwoord is tog voor die hand liggend. Die Here Jesus móés sterf. Hy is sonde vir ons gemaak. Sy bruidsgemeente se sondeskuld is immers aan Hom toegereken, en Hy moes die straf van die dood daarvoor verduur.
+ Waarom 'n slang, van alle dinge? Die slang was reg van die begin af 'n simbool van sonde en boosheid.
Maar onthou, net so min soos die koperslang vol gif was, was die Here vol van sy eie sonde. Nee, dit was mý sonde wat Hy gedra het, en joune. Ons almal was die ewige dood skuldig.
2.2 Die koperslang was die enigste kuur
# Daar was net één koperslang. Niks anders sou help nie.
Luister na Joh 14:6: "Jesus sê vir hom: 'Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.' "
Hand 4:12: "Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie."
1Timoteus 2:5: "Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus ..."
+ Alle genade van God is in Jesus die Christus gekonsentreer. Na Hom alleen moet jy kyk as jy wil lewe. Hieroor moet ons geen illusies hê nie: daar is geen ander manier om die ewige saligheid te beërf nie, anders as deur geloof alleen, in Jesus Christus alleen.
Genade alleen; Christus alleen; geloof alleen.
2.3 Waarom moes die slang spesifiek van koper gemaak word?
# Waarom kon hulle nie lap of hout gebruik nie? Dit was immers veel makliker bekombaar. Waarom spesifiek koper?
Nuwe koper soos daardie was waarskynlik skitterblink. Elkeen wat gepik was, móés dit kon sien.
Onthou, dit was voor die tyd van brille, en vir seker sou baie bejaardes en ander swaksiendes 'n valer voorwerp nie kon onderskei nie.
Nog meer, daar was ontsaglik baie mense (600 000, of selfs meer). Maar, al was jy op die verste uithoek van die laer, sou jy die slang kon sien blink – soos mens 'n spieël bo-op 'n berg kan sien blink al is jy diep onder in 'n vallei.
Jy moes net vol vertroue en gelowig stip na die slang kyk, en jy sou gesond word.
+ Laat ons nie vergeet nie. Hoewel die kruis Jesus se diepste punt van vernedering en lyding was, was dit meteen ook in sy vernederde staat die hoogtepunt van sy heerlikheid.
Luister na Heb 1:3: "Hy is die uitstraling van God se heerlikheid ..." Nie 'n kriesel van die sondelas waaronder Hy gesterf het, was sy eie nie; dit was onder die skuld van die miljoene wat aan Hom toegereken was. Nee, Hy self was algeheel sondeloos.
# Koper is amper onverganklik. En ná die slangplaag is dit nie weggegooi nie. Want in 2Kon18:4 lees ons dat dit honderde jare later steeds in die volk se besit was.
Ongelukkig sê dieselfde hoofstuk dat mense offers vir die slang begin bring het, met die gevolg dat Hiskia hierdie oortreding van die Tweede Gebod moes stopsit deur dit stukkend te kap.
# Mens wonder of die koperslang na die gebeure daar in ons teks steeds die kuur vir slangbyt gebly het. Want in die woestyn was daar baie slange, en sonder twyfel sou mense maar weer en weer gepik word.
+ Hoe ook al, die Here Jesus bly die kuur vir ons voortgaande sondes van daad, asook sondes van nalating (1Joh 2:1-2). Mens moet net blý kyk. Dit moet 'n lewenswyse wees.
3. Die beginsel van die koperslang se werking
3.1 Wat was nodig om genees te word?
# Die pasgepiktes was in 'n staat van paniek en skok. En die sterwendes kon beswaarlik nog asem kry. Hulle moes net kýk.
Mens kan beswaarlik aan iets meer eenvoudig dink. Dit was nie nodig om aan die slang te vat nie. Geen priesterlike rituele is vereis nie. Jy moes net in algehele afhanklikheid kyk! Dit het nie saak gemaak hoe ver jy was, of hoe goed jy kon sien nie.
+ Al wat 'n sondaar nodig het, is om opreg, in sy magtelose en algehele afhanklikheid van God se genade, na Jesus Christus die gekruisigde te kyk, en te bly kyk.
+ Om dus te sê: my geloof is so swak, gaan nie op nie.
Hier is ons by 'n wesenstrek van reddende geloof – sy afhanklikheid, sy swakheid, sy erns, sy desperaatheid.
Nee, al wat nodig is, is om in Christus in te vlug, by Hom te skuil, al hoe dieper in Hom in te kruip – en in Hom te rus. Niks meer is nodig nie!
3.2 Let op dat die kyk na die koperslang 'n persoonlike saak was
# Niemand anders kon vír jou kyk nie. Dit sou nie help nie.
Nee, jyself moes kyk, net jý. Maak nie saak hoe swak jou oē ookal was nie, of hoe ver jy was nie, kyk moes jy kyk! En die blindes? As iemand die beeld aan hulle beskryf het, moes hulle met die geestesoë sien – blindes doen dit goed.
+ Laat ons nie staat maak op eie verdienste nie. Nie op eie vroomheid, of ander se gebede, of my goeie werke, of my kerk se suiwer leer, of my ouers se geloof nie. Niks anders nie!
Nee, nee nee! Kyk, kyk, kyk – na Jesus Christus alleen – en hou aan kyk totdat jy die dag jou asem uitblaas!
4. Die genesing self
4.1 Die mense wat gekyk het, is almal genees, en het álmal bly leef (v.9b)
# Almal wat daar in die woestyn siek was, mag gekyk het – sonder uitsondering.
En die oomblik as hulle gekyk het, is hulle genees. Ja, miskien het dit tyd gevat om weer die kragte te herwin – dit weet ons nie. Maar die punt is dat hulle dadelik gesond word.
+ Wat sê die groot uitnodiging aan die einde van Openbaring (22:17)? Die Gees roep almal op, een en elkeen, om die water van die lewe te kom kry; dis verniet, dis gratis, dis mahala! Dis net vir vat!
En daar is geen rede waarom dit nie dadelik kan gebeur nie. Die pad na Christus toe is heeldag en aldag wawyd oop.
# Almal wat genees is, is daarna éwe gesond – heeltemal.
+ Verlossing in Christus is volgens die Bybel inderdaad 'n proses – vanuit uitverkiesing in die ewige verlede, tot en met heerlikmaking in die ewige toekoms. En tussen-in is daar 'n hele klomp elemente, wat ons die heilsorde noem. Hiervan is regverdigmaking en heiligmaking twee baie belangrike en onmisbare elemente – te onderskei, maar nooit te skei nie.
Heiligmaking gaan dwarsdeur mens se lewe voort. Maar regverdigmaking, oftewel redding, kom onmiddellik deur 'n ware geloof tot werklikheid. Dis 'n oombliklike "vasklik" aan Christus.
En let op, as ek geregverdig word, is dit Christus se geregtigheid wat aan my toegereken word. Dis niks van mý nie; dis alles Sýne. En daarom is dit volmaak.
Die misdadiger was nog daardie selfde dag saam met die Here in die paradys. Sy geloof was die sleutel tot sy regverdiging. Maar vir heiligmaking was daar nie tyd nie.
5. Wat sê dit vir ons wat genees is?
# Wat het Moses gedoen? En ons wat sê ons is genees?
Moses moet die slang op die paal sit en dit hoog optel, sodat almal dit kan sien. Dis ál. Geen seremonies nie. Daar is geen vergaderings om te besluit oor watse hout om te gebruik nie. Niemand is begaan of dit mooi is, of geverf, of watter kleur. Al wat nodig is, is dat die slang so hoog moontlik opgelig word.
+ Wat skryf die apostel vir die Korintiërs? "Toe ek na julle toe gekom het, het ek nie gekom om met verhewe woorde of wysheid God se geheimenis aan julle te verkondig nie. Ek het besluit om by julle van niks anders te weet nie as van Jesus Christus, en Hom as die gekruisigde" (1Kor 2:2)
Slot
# Jahweh is besig om sy nuwe volk daar in die woestyn lewensbelangrike geloofslesse te leer.
Nou was dit weer tyd vir so 'n les – kardinaal belangrik, fundamenteel. En, soos so dikwels, is dit 'n les wat seermaak. Soos altyd, tot vandag toe, bly dit maar die beste manier om ware wysheid te bekom. Wie leer dit vir ons duideliker as Job? En die Hebreërskrywer (12:4vv).
+ Eerstens lig die Here sy genadehand net effens. Die volk raak onvergenoegd en opstandig oor hulle versorging. En hulle begin Hom verwyt (v.4-5).
+ Hy stuur giftige slange – baie. Talle sterf (v.6).
+ Die volk verootmoedig hulle (v.7).
+ Die Here sê Moses moet 'n slang maak, dit aan 'n paal vasmaak en dit hoog uitlig (v.8).
+ Almal wat daarna kyk, word gesond (v.9).
# Die les? Die evangelieboodskap!
# Wat sê dit vir ons? Sal ons dit weer uitspel?
Wat is nodig om gered te word?
Jy moet Jesus Christus se evangeliebeloftes vir jouself toeëien
Hy is God se groot en finale Profeet
Jy moet jou aan Jesus Christus se volkome middelaarswerk toevertrou
Hy is God se groot en finale Priester
Jy moet jou aan Jesus Christus se onbetwisbare regering toewy
Hy is God se groot en finale Koning
En dit alles tot die einde toe!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev