Video-opname: https://tinyurl.com/2r67f7vu
In Hos 1-3 lees ons van die profeet se handelingsprofesie in opdrag van die Here. Sy huwelik met die prostituut, Gomer, stuur tot vandag toe 'n kragtige boodskap uit.
Maar vanaf h.4 begin Hosea dan reguit praat – op die man af.
Die formele aanklag (v.1)
# God se aanklag teen die volk is nie 'n vae verwyt nie, dis 'n formele hofaanklag: "Hoor die woord van die Here ... die Here het 'n regsaak ..." (OAV). En wat is die klag? Daar is geen "betroubaarheid", "troue liefde", en "kennis van God" in die land nie.
Die wortels daarvan is die slegte vrug wat v.2 uitlig.
+ "Betroubaarheid" (v.1) dui op eerlikheid en integriteit.
Op iemand wat ontrou is se woord en beloftes en lojaliteit kan jy nie staat maak nie. Israel is ontrou teenoor sowel die Here as die medemens. Hulle vroom belydenisse aan Jahweh kom tot niks nie. En by hulle huweliksbeloftes bly hulle nie; in hulle sake is bedrog en korrupsie aan die orde van die dag.
+ "Troue liefde" dui op welwillendheid, toewyding en diensbaarheid – op verbondstrou teenoor God en medemens.
Maar hierdie samelewing word allermins gekenmerk deur verbondsgehoorsaamheid; veeleerder deur huigelagtigheid, naywer en selfsug. Mense leef vir hulleself. "Natuurlike liefde" is skaars (2Tim 3:3).
+ "Kennis van God" dui nie net op 'n insig in dit wat Hy oor Sy karakter en wil openbaar nie, maar ook op 'n liefde vir Hom, en 'n erns om daarvolgens te lewe.
Maar in hierdie samelewing se gedrag en lewenswyse is God en sy wil nie meer 'n noemenswaardige faktor nie.
En volgens die res van die profesie is dít eintlik die groot aanklag teen die volk.
As God 'n samelewing oorgee
# Die vraag ontstaan nou: Hoe kan mense wie se voorgeslagte soveel goedheid en wondere van die Here beleef het, só ver van Hom af wegdwaal?
Die Bybel leer dat God 'n samelewing wat volhardendend in verset is teen Sy Woord en Wet, toenemend oorgee aan hulle eie verdorwenheid.
# Die uitstaande Nuwe Testamentiese skrifgedeelte hieroor is Rom 1. Dit gaan hierdie primêr oor die heidene, maar verskil Israeliete wat hulle soos heidene gedra enigsins van diesulkes?
Drie keer word gesê dat God, ten spyte van sy selfopenbaring (let op, selfs in sy algemene openbaring, soos hier), mense wat koppig in hulle verdorwenheid volhard, aan hulle sonde oorgee (v.24,26,28). En let op, die prominensie van seksuele sonde, veral die homoseksuele.
24 "Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onreinheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer."
26 "Daarom het God hulle oorgegee aan oneerbare drange, want hulle vroue het die natuurlike seksuele omgang verruil vir omgang wat teen die natuur is. ..."
28 "God (het) hulle oorgegee aan 'n verwerplike denkwyse, sodat hulle onbetaamlik optree."
# Maar Hos 4 is meer spesifiek. Israel se verharding, toenemende sonde en uiteindelike val, kom in veral vyf areas tot uitdrukking.
Onthou net, ons praat nie hier van 'n kop vir kop verskynsel nie. Natuurlik is daar uitsonderings. Ons praat van groot tendense in 'n samelewing.
+ Eerstens vier morele verdorwenheid hoogty (v.2). Hulle verbreek elke gebod van God se wet. Hulle steek grens na grens van sonde oor (NIV). Bloedvergieting is aan die orde van die dag.
+ Tweedens verniel hulle die omgewing (v.3). Ons weet presies hoe dit in Israel tot uitdrukking gekom het nie. Maar ons sien vandag hoe dit werk. In sy ongebreidelde selfsug en hebsug het die verdorwe mens geen respek vir die woonplek wat hy van God gekry het nie. Wanneer mense hulle egter tot Christus bekeer, verander alles. Eerder as om vir vuilgewin alles te stroop, plant hulle bome en bou hulle keerwalle in erosieslote.
+ Derdens raak die godsdienstige leierskap korrup (v.4-14). Tot die mate wat 'n volk se geestelike leiers die spoor byster raak, tot daardie mate sal die mense, en dus die samelewing verval.
Maar ewe veel geld die omgekeerde. Vir onheilige mense gee die Here onheilige priesters – die geestelike leiers wat hulle verdien. Soos die NIV dit stel: "Like people, like priests" (v.9).
En so ontstaan 'n afwaartse spiraal – 'n neusduik in verdorwenheid in.
+ Vierdens droog lewensvervulling en vergenoegdheid op (v.9b-10). God het die lewe so gemaak: as Sy goeie gawes nagejaag word in onheiligheid en selfsug, is die resultaat nie bevrediging nie, maar frustrasie. Die gevolg is dat mense steeds verder soek, maar niks is ooit genoeg nie. Seksuele perversiteit ontaard van kwaad tot erger, besittings word 'n oorlas, godsdiens laat jou ontnugter en leeg.
Die gevolg is 'n bitter smaak in die mond wat nooit wyk nie.
+ Vyfdens tree vernietiging uiteindelik in (v.19). Die geskiedenis toon die beginsel van die val van beskawings. En soos klokslag word dit voorafgegaan deur dekadensie wat hand oor hand toeneem. Presies dit is wat met Israel sou gebeur, baie spoedig na Hosea hier profeteer. Die Assiriërs sou soos 'n stormwind kom en hulle wegvoer.
Juda word gewaarsku (v.15)
# Die noordelike tienstammeryk is oor hulle Rubicon. Omdraaikans is vir hulle verby.[1]
Maar in die suide is die verval nog nie so erg nie. Juda kán hulle nog tot die Here bekeer en 'n katastrofe afweer. Vandaar die oproep in v.15.
Moenie hoereer soos daardie tien stamme nie; moenie soos húlle heidene aanbid nie; hou by julle beloftes en geloftes – wees mense van julle woord.
# Veral betekenisvol is die waarskuwing om van Gilgal en Bet-Awen (oftewel Bet-El) weg te bly. Dis die aanbiddingsplekke wat Israel se eerste koning, Jerobeam, baie jare vantevore ingestel het om sy mense daarvan te weerhou om na die suide te gaan en in Jerusalem te aanbid.
Hosea en Amos maak dit duidelik dat hierdie eiesinnige en selfgemaakte godsdiens vir die Here tot geweldige aanstoot was.
Die woord van die Here is dus duidelik: Skei julle volledig af van alle vals en mensgemaakte godsdiensbeoefening. Daar kan geen gemeenskap wees tussen lig en
duisternis nie.
Luister na 2Kor 6:14-18 in die 2020: "Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid kan daar wees tussen lig en duisternis? En watter ooreenstemming is daar tussen Christus en Belial, of wat het 'n gelowige gemeen met 'n ongelowige? En watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Want ons is die tempel van die lewende God – soos God gesê het: 'Ek sal onder hulle woon en saam met hulle wandel; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.' Daarom: 'Gaan uit hulle midde uit en sonder julle af', sê die Here, 'en moenie aanraak wat onrein is nie. En Ek sal julle aanneem,' en 'Ek sal vir julle 'n vader wees, en julle sal my seuns en dogters wees, sê die Here, die Almagtige."
Bemoediging vir óns situasie
# Dis onmoontlik om die ooreenstemming tussen die toestande in óns land tans, en dit wat Hosea hier skets, mis te kyk. Trouens, die parallelle is verstommend. Kyk maar na ons morele neusduik die afgelope jare!
Vir seker lê een van die wortels hiervan by ontroue kansels!
# Die vraag is onontkombaar: Is ons oor óns Rubicon? Kan die gety dalk weer draai?
Ek is in alle eerlikheid onseker oor die antwoord.
+ Volgens die Skrif is daar 3 uitstaande tekens van die tye wat die wederkoms van Christus sal voorafgaan: die verkondiging van die evangelie aan al die nasies (Matt 24:14); 'n groot getal Jode wat tot bekering sal kom (Rom 11:25-26); 'n ongeëwenaarde en wêreldwye sondeverdorwenheid en verwerping van Christus (1 & 2 Tess).
Die eerste een is bykans vervul; die tweede is beslis onderweg; en die afval van ons tyd vertoon unieke karaktrekke wat in sekere opsigte histories ongeëwenaard is.
Mens sukkel dus om die indruk te ontkom dat die vooruitsigte hopeloos is.
+ Maar laat ons God se sowereine almag en genade nie onderskat nie!
"By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag" (2Pet 3:8).
'n Voorbeeld van Goddelike genade-ingryping in die geskiedenis
# Die agtiende eeuse herlewing in die Britse Eilande is welbekend. Deur die prediking van mense soos George Whitefield (1714-1770), John Wesley (1703-1791) en talle ander het die Here 'n moreel verdorwe Engeland binne enkele dekades verander tot 'n land wat vir die volgende twee eeue die geestelike toon aangegee het in die wêreld. Wat sending betref, was hulle by verre op die voorpunt.
Wat ons nou moet bemoedig, is die feit dat daardie herlewing gekom het ten spyte van verskriklike samelewingsverrotting voor die tyd. [2]
# Na die tydvak van die Puriteine (1560-1662) en 1689 se Act of Toleration (wat 'n einde gemaak het aan die vervolging van evangeliese Christene) het geestelike verval dadelik begin intree in Engeland.
Soos dikwels, begin die verrotting ook destyds by predikante en teoloë. Hulle preek nie meer die evangelie nie, en waarsku teen "enthusiasm". Ja, daar is soiets soos emosionalisme, maar Christenskap wat geen emosie ken nie, is vir seker onder verdenking. Maar natuurlik, daarvan verstaan ongeredde predikante niks nie.
Ook wen Deïsme toenemend veld – die beskouing dat die Bybel 'n bloot menslike geskrif is, en dat ons niks meer van God kan weet as wat ons uit die natuur rondom ons kan aflei nie. Deïsme aanvaar dus bloot 'n onpersoonlike eerste oorsprong van alles, en dat die kosmos opgewen is soos 'n wekker, sodat alles gewoon natuurlik voortgaan. Die Deïstiese god is daarom onbetrokke by dit wat hier op aarde aangaan – 'n veraf en onbekende skepper lank, lank gelede.
Soos te verstane het dit mettertyd 'n algehele kerklosheid veroorsaak, en 'n gepaardgaande losbandigheid wat van kwaad tot erger ontaard het.
# Binne 40 jaar na die Act of Toleration heers haglike morele toestande. Byvoorbeeld:
+ In 'n poging om drankmisbruik te beperk, word 'n verbod geplaas op die invoer van sterk drank. Dit lei dan daartoe dat mense hulle eie brousels begin stook. So ontstaan die sogenaamde "Gin Craze", en gou-gou is elke sesde huis in Londen 'n "Gin Shop", oftewel 'n sjebien. Beskonkenheid neem epidemiese afmetings aan. Babas word in dronkenskap verwek, gebore en grootgemaak.
+ Daar ontstaan ook 'n geweldige kloof tussen ryk en arm. Te wyte aan drankmisbruik en luiheid verarm al hoe meer mense. Groot dele van Londen word slums – morsig en vol onbeskryflike menslike ellende. Misdaad word 'n deel van elke dag se lewe. Oorvol tronke word donker, verstikkende rioolputte. In 'n poging om misdaad hok te slaan, word soveel soos 160 misdade strafbaar met die dood. Om die twee publieke galgplatforms staan gereeld jillende skares. Bendes voer orals 'n skrikbewind.
Intussen baai 'n skatryk adelstand hulleself in weelde. Perversiteit en sedeloosheid steek die een behoorlikheidsgrens na die ander oor. 'n Sekere dame uit die adelstand maak die spottende opmerking dat die parlement 'n wet moet maak wat die "nie" uit die Tien Gebooie verwyder, en dit na die Geloofsbelydenis oorplaas – ten einde hierdie dokumente in pas te bring met die gees van die tyd.
# MAAR! Reeds in 1673 ontstaan daar 'n gebedsgroep in Londen na aanleiding van 'n reeks opwekkingspreke deur 'n Dr. Anthony Horneck. 'n Klompie jongmanne begin vir herlewing bid. Dit word mettertyd 'n beweging — bekend as "The Societies" — en teen 1730 (57 jaar later!) is daar ongeveer 100 sulke Societies in Londen en miskien nog 'n honderd daar buite. Hier lê die wortels van die herlewing.
+ Dan, sewe jaar later, in 1737, begin 'n stem onverwags in Engeland soos 'n klok beier. 'n Twee-en-twintigjarige prediker begin in Londen só preek dat geen kerkgebou die skares kan huisves nie. George Whitefield word 'n brandende fakkel vir die eer van God, die waarheid van die Bybel en die reddende krag van die evangelie. En spoedig sluit John en Charles Wesley, asook talle ander, hulle by hom aan.
Vir die volgende halfeeu sou 'n vloedgolf van reddende genade oor die Britse Eilande spoel.
# Só sluit Dallimore sy inleidende hoofstuk af: "Herlewing het uitgebreek! Binne enkele jare verander die hele geestesgesteldheid van die Engelse samelewing. Die kerk begin weer lewe. In die harte van tallose mense laat nuwe godsdienstige oortuigings 'n nuwe ywer vir morele waardes ontspring. Algemene gedrag, en die publikasiewese word gesuiwer. Naasteliefde begin die tronke hervorm, slawehandel word opgeskort, en publieke skole vir een en almal begin ontstaan."
Sien jy die algemene genade in die spore van besondere genade volg. Die Christelike geloof het vir seker sosiale implikasies en gevolge!
Slot
# Ons weet uiteraard nie presies wat vir die eskatologiese kalender verordineer is nie.
Maar laat ons drie dinge onthou:
+ Die huidige afval is dalk nie die laaste groot afval nie. Meermale in die verlede het God se kinders gedink hulle beleef dit, en dan het dit weldra geblyk nie so te wees nie.
+ In die kerkgeskiedenis het die Here dikwels vervolging gebruik on sy kerk te suiwer en te laat groei.
+ Dan is daar nog iets: Sou die verstaan van Rom 11 dat daar nog 'n groot bekering van Jode vorentoe wag, korrek wees, is dit dalk net moontlik dat die Here húlle vorentoe kan gebruik om die res van die wêreld ingrypend te evangeliseer. Dis immers algemeen bekend dat 'n Jood wat sy Messias leer ken tipies 'n merkwaardige evangeliese ywer ontwikkel.
# Oor hóé hoe God se raadsplan vorentoe sal uitspeel, kan ons bloot Bybels-gelowig spekuleer.
Maar hierop kan ons peil trek: Vir ons hemelse Vader is niks onmoontlik nie! Dat Hy die leisels van die geskiedenis met 'n soewereine en almagtige hand vashou staan vaster as die berge.
Laat ons dus nie bevrees wees of twyfel nie. Onthou die geskiedenis!
En onthou steeds Koning Jesus!
Hy ken elkeen wat die Vader aan Hom toevertrou het en vir wie Hy 'n volkome prys betaal het. Niks, maar niks kan 'n enkele een van hulle uit sy greep ruk nie.
God se raadsplan moet en sal in vervulling gaan. Sy koninkryk moet en sal kom! Sy uitverkorenes moet en sal gered word — die nasies ís aan Hom gegee (Ps 2)! Hy moet en sal verheerlik word!
# Al wat ons te doen staan, is om getrou ons plig te doen — soos dit duidelik in die Woord vir ons uitgespel is.
Ons is nie onkundig nie; ook nie magteloos nie. Ons het 'n Hoëpriester in die hemel! Ons het vrye toegang tot die troon van genade! Die Heilige Gees woon en werk in ons soos dit ook al mag nodig wees!
Jesus Christus moet en sal
— wat ook al gebeur —
uitnemend verheerlik word
vir ewig en ewig en ewig!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Juda is 136 jaar later deur die Babiloniërs weggevoer.
[2] Bron: Arnold Dallimore, George Whitefield — The life and times of the great evangelist of the eighteenth-century revival, Vol.1, Inleidingshoofstuk; The Banner of Truth Trust, 1970.