PREEKOPNAME: https://tinyurl.com/4s3ye7cj
Matteus 11:28-30 (2020)
28 “Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. 30 Want my juk is draaglik en my las is lig.”
Ons almal ken die Here Jesus se Groot Opdrag in Matt 28. Hierdie troosryke woorde in Matt 11:28-30 kan sy Groot Uitnodiging genoem word.
En wat nou betekenisvol is, is dat ook hierdie woorde van die Here voorafgegaan word deur die verharding van Gorasin en Betsaïda (v.20-24), asook die beklemtoning van Sy gesag om so 'n uitnodiging te rig (v.25-27).
In lg. verse vind ons 'n baie besondere aanspraak op Sy goddelikheid – en dus sy mandaat, of dalk beter gestel, sy gesag, om die uitnodiging te rig.
Die Here Jesus se mandaat om sy uitnodiging te rig (v.25-27)
# In hierdie mandaat verseker die Here sy hoorders dat hulle sonder twyfel kan peil trek op sy belofte in v.29-30.
# Op talle plekke in die Bybel word die unieke en intieme aard van die verhouding tussen die Vader en die Seun uitgespel. Hier gebeur dit weer, baie uitdruklik.
Hier kom dit na vore in vier parallelle tussen Hom en die Vader.
Eerstens, sowel die Vader as die Seun het onbetwisbare gesag. In v.25 noem Jesus Sy Vader die "Here van die hemel en die aarde". Maar dan sê Hy twee verse verder dat die Vader alles aan Hom toevertrou het. En vanuit die onmiddellike konteks is dit duidelik wat Hy bedoel. Eenvoudig gestel, sê die Here dat Hy in beheer is van alles in die hemel en op aarde — dat Hy die Koning van die konings is, en die Here van die here. En hierdie gesag het Hy van die Vader gekry, en dat dit gelyk is aan díé van die Vader.
Tweedens het die Vader en die Seun 'n onbegryplike, verhewe en intieme onderlinge kennis van mekaar. Kyk wat sê Jesus in v.27: "niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun ..." Vir sowel die Vader as die Seun se kennis gebruik Jesus presies dieselfde woord (Gr. epiginoskei). Dis die normale Griekse woord vir kennis, maar met 'n voorvoegsel vooraan, wat dit baie versterk. Só dui die woord dan op die mees intieme en volledige kennis – om deur en deur te ken.
Nog iets wat ons moet raaksien, is die absolute uniekheid en eksklusiwiteit van hierdie kennis: "niemand ken ... behalwe ..."
Voorts word dit gebruik vir sowel die Seun se kennis van die Vader, as die Vader se kennis van die Seun. Nie alleen verhef dit die Seun oneindig ver bo die mens nie, maar dit plaas Hom op dieselfde vlak as die Vader.
God het hierdie unieke en deurdringende kennis van die Seun, omdat Hy God is, die Vader van die Seun. En die Seun het hierdie unieke, absolute en deurdringende kennis van die Vader, omdat ook Hý God is, die Seun van die Vader.
+ Derdens is dit absoluut noodsaaklik dat die Vader en die Seun mekaar moet openbaar aan mense, voordat sulke mense 'n reddende kennis van elkeen van Hulle kan hê. Die Vader openbaar dus die Seun, en die Seun openbaar die Vader.
In v.25 is dit die Vader wat openbaar. In v.27 is dit die Seun wat die Vader openbaar.
+ Vierdens is sowel die Vader as die Seun absoluut soewerein is in elkeen se openbaring van die ander aan spesifieke mense.
Die Vader se soewereiniteit kom na vore in die sinsnede in v.26: "... elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak."
Vir 'n mens om hierdie Godgegewe insig te ontvang is vrye genade.
# Onmiskenbaar duidelik is die harmonieuse samewerking tussen die Vader en die Seun. Nooit sal die een openbarend in 'n bepaalde persoon werk, as dit nie ook die wil van die ander is nie. Trouens, wanneer dit gebeur, werk sowel die Vader as die Seun. As iemand die Vader leer ken, is dit omdat die Seun dit soewerein besluit het. En as 'n mens die Seun leer ken, is dit omdat die Vader dit soewerein besluit het.
Altyd loop die twee dinge hand aan hand – dis twee kante van dieselfde saak.
# Waarlik, as die Here Jesus ooit daarop aanspraak gemaak het dat Hy waarlik God is, dan is dit hier. Onmiskenbaar duidelik is die implikasie dat ook Hý die "Here van hemel en aarde" is (v.25).
Die uitnodiging (v.28-30)
# Hierdie uitnodiging is 'n eggo van 'n soortgelyke oproep in die Ou Testament: "Wend julle tot My, en word verlos, almal van die uithoeke van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie" (Jes 45:22).
Hier in Jesaja word die universele gerigtheid van die uitnodiging sterk beklemtoon. Dis gerig tot "almal van die uithoeke van die aarde" – merkwaardig as mens daaraan dink dat dit in die Ou Testament geskryf staan.
Maar ook in ons teks word die oproep tot "almal" gerig. Niemand is uitgesluit nie.
# Daar is egter tóg 'n wesensbelangrike kwalifikasie. Die uitnodiging word gerig aan diegene wat "vermoeid en swaar belas" is.
+ Hou mens die omstandighede destyds in gedagte, en dink jy aan Jesus se aanklagte teen die Fariseërs en skrifgeleerdes, verstaan jy waaroor dit primêr hier gaan. In Matt 23:4 kla die Here die godsdiensleiers van destyds aan: "Hulle bind swaar vragte saam, ja, moeilik om te dra, en lê dit op die mense se skouers ..."
Hierdie oproep van die Here Jesus is om die juk van godsdienstige dwingelandy, pligpleging en wettisisme af te gooi, en dan om die gawe van vrye genade in Christus te omhels.
+ Die Joodse volk is destyds geleer dat wetsonderhouding die enigste pad na die ewige saligheid is. Afgesien van die swaar vrag van Ou Testamentiese seremoniële voorskrifte, het die Rabbi's ook nog talle en talle ander laste op mense geplaas.
Toegewyde godsdiens was allermins 'n saak van vreugde; nog minder van vryheid.
+ Jesus rig dus Sy uitnodiging aan mense wat gedaan geworstel is in hulle pogings om die godsdienstige voorskrifte van die Skrifgeleerdes te onderhou – ten einde nie eendag deur God verwerp te word nie.
# Teenoor die Skrifgeleerdes se jukke wat swaar was (Matt 23:4), is Jesus se juk sag.
Destyds in Palestina is 'n houtjuk vir 'n spesifieke os gemaak, om so gemaklik moontlik te pas.
+ Volgens William Barclay is daar 'n legende dat die skrynwerker, Jesus van Nasaret destyds die beste jukke in Palestina gemaak het. Mense sou na Hom toe gekom het vanoor die hele land. Wie weet, dalk was daar 'n bord bokant Sy werkswinkeldeur waarop geverf was: My jukke pas goed.
+ Die punt is dat die Here hier vir mense sê dat die las wat Hý op hulle lê, presies by hulle pas. Dit sal amper vanself vir hulle kom om die las op te neem. En dit sal hulle vreugde wees om dit verder te dra.
+ Barclay vertel nog 'n storietjie: 'n Man kom 'n seun teë wat 'n lam seuntjie op sy rug dra. "Dis 'n swaar vrag wat jy moet dra", sê die man toe. "Nee, glad nie", antwoord die seun, "dis dan my boetie!"
'n Las wat in liefde gedra word, is altyd lig, ongeag hoe swaar dit is. En as dit dan ook nog in lyn is met dit wat jy geniet en goed kan doen, maak dit die drag des te makliker.
# Vers 25 is daarenteen baie betekenisvol. Die Vader openbaar niks aan "slim en geleerde mense" nie; trouens, Hy "verberg" die kennis van die Seun vir hulle.
In die lig van die res van die Nuwe Testament is die beswaar nie hier teen gewone geleerdheid nie, maar teen hovaardige en selfvoldane godsdienstige beterweterigheid.
Nee, die Vader gee hierdie openbaring aan "kindertjies" — aan diegene wat diep nederig is, en weet dat hulle algeheel afhanklik is en bly van God se reddende en openbaringsgenade (vgl. Matt 16:17).
Wat sê dit nou vir ons?
1. Die pad van redding is nie die pad van godsdienstige dwingelandy nie.
In 'n sin kan mens in alle waarheid sê dat die Christelike lewe hoegenaamd nie 'n lewe van godsdienstigheid is nie (religiosity) — as ons daarmee bedoel 'n lewe van allerlei voorskrifte, van moets en moenies.
Ons is nie op die trapmeul van religie en verdienste nie!
Waarom tog wil ons altyd weer teruggly in die groef van verdienste? Waarom sukkel ons só om God se vrye genade in Christus te omhels en daarin te rus?
Luister weer 'n keer goed na die Here se uitnodiging in v.28: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee."
God se genade is gratis, gratis, gratis!
2. Maar daar is 'n balanserende waarheid, net so belangrik soos die vorige.
Die pad van redding is 'n pad van dissipelskap in die voetspore van Jesus. Kyk mooi na die uitnodiging. Dis 'n roeping na Hóm toe — om Sý juk op te neem; en om van Hóm te leer.
Genade is gratis, maar nie goedkoop nie!
Die pad van redding is 'n pad in gemeenskap met Jesus Christus. Dis navolging van Hom. Dis om jou kruis op te neem om Hom te volg. Bybels is daar geen sprake van reddende Christenskap, as dit nie beheers word deur 'n gehoorsame liefdesverhouding met die lewende Here deur Sy Heilige Gees nie.
Waarvan praat ons? Hoe beskryf mens liefde? Ja, dis toegeneentheid, verlustiging, lojaliteit, emosie. Maar dis méér — spesifiek híérdie liefde.
+ Die pad van redding is 'n pad onder die Here se juk. Dit impliseer diensbaarheid, werk, gehoorsaamheid. Máár dis 'n juk wat goed pas en nie skaaf nie.
+ Die roeping van dissipelskap is allesbeheersend en lewenslank. Dit verg gehoorsaamheid, getrouheid en selfneerlegging. Daaroor mag daar geen illusies wees nie.
En tog is dit só anders as die swaar en skawende juk van blote godsdienstigheid.
+ Waarin lê die verskil? Die juk van Christus is 'n juk van liefdeslojaliteit, gewilligheid, ywer en toewyding. Hoe werk dit?
Die Here skryf Sy wette op die tafels van ons harte (Jer 31:33). Só stel die apostel dit in Fil 2:12-132: "... werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Want Hy wat die gewilligheid en optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God."
Hy roep jou dus nooit op 'n pad sonder om eers vooraf die redelikheid daarvan, en die begeerte daarna in jou te werk nie. Ja, jy mag bang, selfs beangs wees as jy jou voet op die pad sit. Maar altyd, altyd sal dit saamhang met jou eie begeertes en besluite.
3. En hoe sal ek weet op watter pad die Here my lei?
Daar is 'n kort antwoord en daar is 'n lang antwoord. Vir laasgenoemde het ons nie nou tyd nie; dit sal moet wag vir 'n ander keer.
Maar die kort antwoord is dít: Gehoorsaam die waarheid en beginsels en ordes van God se Woord — en leef daarvolgens.
Doen alles wat Hy jou daarin beveel;
vermy alles wat Hy jou daarin verbied;
ken die Woord;
maak erns met sy Wet;
wandel in die weë van die Here;
leef biddend in wysheid;
en Sy Gees sal jou verlig, en lei, en toerus.
Ten slotte
Wie se juk dra jy? Hoe sal jy weet?
Wel, is die juk swaar, of is hy lig. Skaaf hy, of pas hy jou perfek?
Jy sê: Ék dra g'n juk nie!
Dan is jy op die verkeerde pad – die pad wat na die verderf lei.
Maar ook vir jóú geld die uitnodiging van ons Skrifgedeelte: "Kom na My toe ... neem my juk op, en leer van My ...".
Kom, skuif onder die gemaklike juk van die Here Jesus in! Dis 'n óóp uitnodiging!
Jy sê: Ek is ernstig oor my godsdiens, maar mý juk is swaar en skaaf my!
Waarskynlik is jy ook op die trapmeuel van diegene met wie Jesus destyds gepraat het.
Ook jý moet ernstig aandag gee aan hierdie groot uitnodiging in ons teks.
Kom, skuif onder die sagte juk van die Here Jesus in! Dis 'n óóp uitnodiging!
Jy sê: My juk pas perfek! Ek verstaan proefondervindelik hierdie belofte van Jesus baie goed.
Dan is jy 'n geseënde en begenadigde. Hou áán op die pad. Volhard!
Die wenlint en die loon wag!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev