Video-opname: https://youtu.be/tBVxC1r4DQA
In sy boek, The Great Evangelical Disaster, vertel Francis Schaeffer (1912-1984) van 'n skerp rotsrif bo in die berge naby sy tuiste in Switserland. Weerskante van hierdie rif is daar twee diep valleie. Winterstye bedek sneeu die rif geheel en al. Die aaneenlopende eenheid is egter net 'n illusie. Want die rif is 'n waterskeiding. Dit beteken dat een deel van die sneeu, as dit smelt, in die een vallei afloop, en 'n ander deel, in direkte kontak daarmee, in die oorkantse vallei.
Dis egter nie al nie. Een vallei is deel van die Rynrivier se opvanggebied. Dit beteken dat water wat aan daardie kant afvloei, mettertyd in die Ryn beland, en uiteindelik in die koue water van die Noordsee. Maar sneeu wat 'n halftree verder smelt, beland in die Meer van Geneve en Rhonerivier, en uiteindelik in die warm waters van die Middelandse See — heelwat meer as 'n duisend kilometer myl vanaf die Rynmonding.
Dis wat waterskeidings doen
Dit sny; dit verdeel; dit lê bestemmings vas
Dis lotsbepalend.
Schaeffer gaan dan voort en toon aan dat die kerk se Skrifbeskouing so 'n waterskeiding is.
Inderdaad! Wat ons glo oor die Bybel is in elke opsig lotsbepalend. Die effekte daarvan kring baie ver uit – tot geslagte ná ons. En vir seker tot in ewigheid.
God se waarheid is 'n waarheid in ekwilibrium. Verskuif die hoekpenne net 'n fraks, en kantelinge vind plaas wat die lewens en bestemmings – dikwels ewige bestemmings –van tallose mense ingrypend raak.
Voorwaar blind is die gelowige wat nie besef dat ons vandag op so 'n waterskeiding staan nie. Eintlik is dit al lankal die geval. Maar deesdae is die aanslag gekonsentreerd teen een van die waarheidsankerpenne deur die eeue, Sola Scriptura, meer intens as ooit. Anders as in die verlede klim ongeloofsteoloë en Skrifkritiese predikante met al hoe meer brawade uit die kas. So byvoorbeeld het 'n bekende teoloog en invloedryke opleier van predikante hier in Suid-Afrika reeds meer as 'n dekade gelede openlik in die media die God van die Bybel die rug toegekeer en panteïsme en panenteïsme gepropageer.[1] Sonder twyfel huldig nog meer predikante vandag sy beskouing. 'n Beduidende deel van die institusionele kerk in Suid-Afrika (om maar hier te bly) het grootliks die wil en vermoë verloor om leertug toe te pas.
In die lig hiervan wil ek 'n paar keer kyk na hoe die Here en Sy apostels die Bybel gesien het. Ek is 'n volgeling van Jesus en wil glo wát en sóós Hy geglo het. Slimmer as Hy het ek geen begeerte om te wees nie – en durf ek nie!
Luk 8:1-18: Niks het geheim gebly nie
Hoewel alle Bybelvertalings hierdie gedeelte onderverdeel in 'n aantal los paragrawe, elkeen met sy eie opskrif, is dit eintlik 'n eenheid.
Jesus was 'n saaier
Die gedeelte begin met 'n beskrywing van die Here Jesus wat van dorp tot dorp die evangelie van die koninkryk verkondig. Skares mense luister na Hom. As Hy dan die bekende gelykenis van die saaier vertel, van 'n man wat die "woord van God" saai (v.5-8; 11-15), is dit duidelik dat Hy in die eerste instansie van Homself praat.
Nou gaan dit maar eenmaal so in Sy bediening: Baie in die groot skare luister sonder om te hoor. Ander hoor oënskynlik, maar weldra blyk dit dat ook hulle nie regtig begryp het nie. En dan is daar 'n handjievol wat regtig en lewensveranderend verstaan.
Álles gaan geopenbaar word
As net 'n klein klompie mense dan baat vind by Sy prediking, waarom sloof Jesus Homself so af om orals te preek? Die antwoord op hierdie vraag word in die gelykenis van die lamp gegee (v.16-18).
God se lig vir die wêreld is aan 't kom in Sy persoon, prediking en werk. Hoe sou Hy dan soos 'n askeet Homself kon afsonder? Hoe sou Hy God se waarheidswoord vir Homself kon hou, en dit wegsteek – soos onder 'n bed? Gesien in die lig van sy roeping, is dit ondenkbaar.
Presies hoe belangrik Sy boodskap werklik is, verduidelik Hy in v.17. Die vers begin in die oorspronklike taal met "want", 'n redegewende voegwoord (vgl. OAV). Dís die rede waarom Hy elke dag onvermoeid preek. Dís waarom die lamp op 'n staander gesit moet word. Almal moet dit kan sien. Almal moet die boodskap hoor. Want die lig wat Hy bring, is 'n lewensbelangrike boodskap van God! Dinge wat tot nou toe verborge was, gaan bekend gemaak word; trouens, dit gebeur alreeds.
Die vers sê egter méér: God openbaar nie net nie, Hy openbaar alles! "Niks" van wat Hy aan die mens wil openbaar, gaan langer geheim bly nie. Dis waarom almal moet hoor.
Dis lewensbelangrik!
Die Here Jesus – in wat Hy is, wat Hy leer, wat Hy doen – is God se finale woord aan die mens! Na dese gaan God niks verder sê nie.
Die mensgeworde Woord,
Hy, ja Hý,
is die afsluiting van God se finale openbaring aan die mens!
Ja, ja, die apostels sou, behalwe vir die Evangelies, in die res van die Nuwe Testament nog baie méér geïnspireerd skryf. Maar dit sou alles Christusgesentreerd wees. In 'n neutedop kom dit neer op die verdere ontwikkelinge en implikasies van Jesus Christus se middelaarskap as God se groot Profeet, Priester en Koning. En natuurlik sou dit lewensbepalende inplikasies inhou vir almal wat as bruid deur die Vader aan Hom gegee is.
Apostoliese ore
Vers 18 onderstreep die gewigtigheid van die saak – hierdie kulminering van God se besondere openbaring aan die mens. Die Here druk Sy dissipels op die hart om noukeurig na God se openbaring te luister, want die feit dat hulle nou "het", dui daarop dat hulle ook ontvangers van nog méér lig gaan wees. Per slot van rekening lê die afronding van hierdie openbaring nog voor.
Let op, hierdie belofte geld nie vir alle mense nie – net vir diegene wat "het".
Wat hét hulle? Die antwoord is in v. 8: hulle het "ore" – ore wat kan "luister" (v.18).
Hierdie vermoë om te kan hoor, is 'n genadegawe – dis aan hulle "gegee" (v.10).
En wat hoor hulle met hierdie bonatuurlike ore? Hulle hoor "die geheimenisse van die koninkryk van God". Daarsonder sou geen apostel – wat staan nog ander mense – die geheimenisse van die koninkryk van God kon begryp nie. Selfs vir hulle wat elke dag saam met Jesus was sou hierdie diep waarhede versluier gebly het.
In 1Kor 2:6-16 word verduidelik dat dit die Gees is wat hierdie innerlike verligting gee.
Hierdie is 'n waarheid wat Jesus baie, baie sterk by Sy luisteraars wou tuisbring. Die Grieks van v.8 sê dat Hy herhaaldelik uitgeroep het: "Laat die wat ore het om te hoor, luister!" (Gr. imperfektum).
'n Uiters belangrike tegniese begrip
Die Here Jesus gebruik 'n baie betekenisvolle woord in v.10 (vgl. ook v.17): " verborge " (elders ook met "misterie" vertaal; of met " geheimenis").
Die bepaalde woord (Gr. musterion), word meer as twee-dosyn keer in die Nuwe Testament gebruik. Dit het deurgaans 'n baie bepaalde betekenis. Dit dui op waarheid waarvan niemand sou gedroom het as God dit nie geopenbaar het nie – maar Hy hét dit inderdáád geopenbaar.
So word die woord dan 'n tegniese begrip wat dui op Nuwe Testamentiese openbaring.[2]
Openbaringsontploffing
Min het die dissipels besef hoeveel verbysterende openbaringslig in die volgende handjievol jare op hulle sou daag. Kruis! Opstanding! Hemelvaart! Pinkster! Nuwe Testament!
Maar om hierdie waarheid te verstaan en te vertolk, daarvoor sou die apostels deur die Heilige Gees geïnspireer moes word (2Pet 1:21).
Opsommend
Die Here Jesus leer dus – weliswaar kripties, soos dit Sy manier is met die gelykenisse – 'n paar kardinaal belangrike dinge in hierdie verse.
# Eerstens, die oopbreek van 'n massa allerbelangrike koninkryksopenbaring is op hande.
# Tweedens, God gaan alles openbaar, die hele waarheid. Hy gaan niks terughou van wat Hy vir die mens wil sê nie. Natuurlik gaan Hy nie álle waarheid openbaar nie. Daar wag baie meer met en na die wederkoms. Maar Hy bedoel alles wat nodig is vir híérdie bedeling.
# Derdens, hierdie openbaring geskied deur die Here Jesus self. Dis in Sy persoon, woorde en werk.
# Vierdens, só duiselingwekkend groots is die waarhede wat aan't kom is, dat 'n spesiale genadewerking deur die Heilige Gees in 'n mens nodig is voordat hy of sy hoegenaamd iets daarvan kan begryp.
# Vyfdens, dit is van dringende belang om noukeurig ag te slaan op hierdie openbaring.
Wat sê dit vir ons?
1. Jesus Christus roep mense steeds – soos destyds – aanmekaar en dringend op om absolute erns te maak met God se Woord.
+ Niemand kan homself (of haarself) in integriteit 'n Christen noem as hy nie elke dag sy kruis opneem en Christus volg nie. En dan praat ons van die Here Jesus as God se groot Profeet en Priester en Koning: "Ek glo Hom; ek vertrou Hom; ek dien Hom!
Gehoorsaamheid red nie. Navolging kan nooit die basis wees vir my aanvaarding deur God nie. Maar hiersonder het ek nie 'n greintjie versekering dat ek eendag voor die Regterstoel as 'n skaap, eerder as 'n bok geag sal word nie.
Ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur die geloof alleen. Maar ons word óók volgens God se Woord tot gehoorsaamheid gered en uiteindelik daarvolgens.
2. Die innerlike werk van die Heilige Gees is absoluut noodsaaklik, nie net om die lig wat in en deur Jesus Christus gekom het te verstaan nie, maar selfs méér basies, om hoegenaamd te glo dat dit inderdaad waar en betroubaar en gesagvol is – dat dit inderdaad openbaring is wat van God kom.
Só fundamenteel en onmisbaar is hierdie werk van die Heilige Gees, dat dit 'n maatstaf van redding is. Iemand wat die Bybel afmaak as iets minder as God se Woord (soos Jesus en Sy apostels dit beskou het), het gewoon nie die Heilige Gees nie. En as jy nie die Gees het nie, het jy ook nie Christus nie. Ware geloof het immers geopenbaarde en Christusgefokusde waarheid as inhoud. Ware geloof is die geloof van 'n kind. En 'n kind vát wat sy pa of ma vir hom vertel.
3. Dit beteken natuurlik nie ek moet die Bybel deurgaans letterlik lees nie. Daar is 'n verskeidenheid van genres in die Bybel – en baie beeldspraak.
As ek, byvoorbeeld, 'n simboliese gedeelte letterlik lees, verstaan ek die Skrif verkeerd. Mens moet die Bybel lees en verstaan soos die Bybel gelees en verstaan wil
word.
Maar wat die Woord as geskiedenis of uitdruklike lering aanbied, met die duidelike, op-die-man-af praktiese implikasies daarvan, vat 'n dissipel van die Here nét so.
4. Die Woord is genoegsaam vir 'n lewe wat God dien, behaag en verheerlik, asook vir uiteindelike saligwording. Álles is immers geopenbaar.
Hiervoor het ons nie buite-Bybelse openbaringe nodig nie; ook nie die lig van die wêreld se godsdienste, filosofieë, gedragswetenskappe, of wat hierdie wêreld ook al mag opdis nie. Klaar gepraat!
Slotwoord
Nog 'n keer Francis Schaeffer: "As ons nie deur die woord en ons meegaande lewenstyl sterk standpunt inneem vir die waarheid en teen die valse leer nie, is ons besig om 'n muur te bou tussen die volgende geslag en die evangelie."
Vergeet dit nooit nie: Die kerk wat ons kinders en kleinkinders op ewigheidspaaie moet lei, word vandag gevorm.
'n Heilige roeping rus op elkeen van ons!
Moenie 'n padda wees wat dood kook in die pot nie!
Ons is almal wagters op die mure!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Die Burger, 28 Februarie 2009.
[2] Vergelyk o.a. Rom 16:25-26; 1Kor 2:7; Ef 3:2-6; Kol 1:26