PREEKOPNAME: https://tinyurl.com/yhvcd2b7
Dis die aand voor die Here Jesus se kruisiging. Die dissipels besef Sy taak op aarde is bykans afgehandel (weliswaar het sy heel grootste taak binne ure op Hom gewag). Geweldige gebeure is op hande. Maar Hy gaan spoedig vertrek.
Geesgeïnspireerde instrumente
Sekerlik is een van die dissipels se grootste kwellinge in die bovertrek, behalwe hulle bekommernis oor hoe hulle sonder Jesus gaan regkom, hulle onvermoë om al die lering wat hulle van Hom ontvang het, te onthou. Wat gaan hulle doen as Hy nie meer daar is om te vra nie? Waarskynlik is bloedweinig op skrif.
Dis teen hierdie agtergrond dat ons die beloftes oor die komende Heilige Gees – die Voorspraak, die Trooster, die Helper – daar in die bovertrek moet verstaan (Joh 14:16-17; 14:25-26; 15:26-27; 16:7-15). Die Gees sal hulle probleem aanspreek. Hy sal hulle alles leer en herinner aan wat nodig is om te onthou. Só sal Hy hulle "in die volle waarheid lei" (Joh 14:26; 16:13).
Sonder twyfel word die inspirasie van die hele Nuwe Testament hier geïmpliseer.
Ons kan aanvaar dat die apostels nie net besondere herinneringshelderheid beleef het tydens hulle prediking en skryfwerk ná Pinkster nie, maar dat hulle ook 'n Geesgeïnspireerde diepte-insig in die Here Jesus se sending, lering en optrede ontwikkel het.
Algaande is die geheimenisse van die Koninkryk vir hulle oopgebreek. Hulle kry 'n wonderlike greep op die universeel-reikende omvang van God se verlossingswerk in Christus, op die geïntegreerde samehang daarvan, en op die uiteindelike en asemrowende afronding daarvan.
En so word die apostels instrumente deur wie God Sy besondere openbaring – Sy hele waarheid – aan die mens tot afronding sou voer.
Die uniekheid van die apostels
In Joh 14:26 word 'n uiters belangrike waarheid geïmpliseer: Die Gees sou die dissipels "herinner" aan wat hulle by Jesus geleer het. Dis 'n belofte wat noodwendig nét op die apostels van toepassing kan wees. Hulle is oog- en oorgetuies van die Here se lewe, lering
en werk. Mens kan tog nie herinner word aan iets wat jy nie geweet of beleef het nie.[1]
Dit het egter meer as goeie geheues ingehou. Die unieke roeping van die apostels – om kanale te wees van Nuwe Testamentiese openbaring – het meegebring dat hulle sekere werkinge van die Gees ervaar het wat gelowiges daarná nooit weer beskore sou wees nie. Benewens die direkte openbaringe wat hulle ontvang het, het die Gees hulle in staat gestel om ook bevestigende "tekens en wonders en kragtige dade" te doen – "die dinge wat 'n apostel kenmerk" (2Kor 12:12).[2] Die apostels (en hulle onmiddellike medewerkerskring)[3] se wonderwerke het as doel gehad om die Goddelike gesag en betroubaarheid van hulle prediking en geskrifte te bekragtig. Dit was God se stempel van outentisiteit op die Nuwe Testamentiese openbaring!
Dit is insiggewend dat wonderwerke in die Bybel konsekwent gepaard gaan met God se gee van openbaring. In die Ou Testament was daar twee seisoene van wonderwerke.
+ Eerstens, tydens die uittog- en intoggebeure – wat ook 'n tyd van besondere openbaring was: die Wet en ander geskrifte deur Moses.
+ Tweedens, in die tyd van Elia en Elisa – wat ook die aanvang was van die profetiese bediening, waardeur God Sy openbaring in die volgende eeue sou gee.
+ Net so word die inspirasie van die Nuwe Testament deur allerlei bonatuurlike werkinge van die Heilige Gees gekenmerk.
Sekere aspekte van die Gees se werk was dus beperk tot die apostels en hulle tyd.
Vergeet dit nooit nie:
Daar is 'n sekere diskontinuïteit tussen
die apostoliese en die na-apostoliese kerk.
Die hart van die Nuwe Testament
Ons moet nog 'n tree vorentoe gee – 'n Baie belangrike tree. Hiersonder sou ons Skrifbeskouing bedenklik gebrekkig wees.
In Joh 16:14-15 sê die Here Jesus twee keer dat die Heilige Gees "dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig" (OAV). Daarmee sê Hy dat Sy persoon, werk en woorde die tema van die Gees se verkondiging sal wees. En inderdaad is Christus die saambindende tema van die Nuwe Testament en apostoliese prediking (vgl. bv. 1Kor 1:18, 23-24, 30-31; 2:2).
Dit laat ons nou toe om vyf spykers diep – baie diep – in te slaan
1. Terwyl die vorige punt vas staan – naamlik dat Christus die hart is van die Nuwe Testament – is dit ewe waar dat Hy meteen die sentrale en oorkoepelende tema van die héle Bybel is, die Ou Testament ingesluit.
Nêrens word dit duideliker onderstreep nie as in die opgestane Here se gesprek met die Emmausgangers in Lukas 24.
Só stel v.25-27 dit: "Toe sê Hy vir hulle: 'O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?' Hierna het Hy begin om al die geskrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê."
Hierna, as die Here Homself kort hierna ook aan sy dissipels openbaar, beklemtoon Hy dieselfde: "Daarna het Hy vir hulle gesê: 'Dit was my woorde wat Ek tot julle gerig het toe Ek nog saam met julle was, dat alles wat in die Wet van Moses en die Profete en die Psalms oor My geskryf is, vervul moet word'. Daarop het Hy hulle verstand daarvoor geopen om die Skrifte te verstaan ..."
Reeds voor sy dood het Hy alreeds presies dieselfde vir die Fariseërs gesê (Joh 5:39-40, 46).
Die bekende teoloog B.B. Warfield, wat 'n honderd jaar gelede oorlede is, het hierdie waarheid goed verwoord: "The Old Testament is like a room full of treasures, but the room is dimly lit. It is filled with prophets that predict him, patterns that preview him, and promises that anticipate him.
2. Dit is egter éwe noodsaaklik om te verstaan dat Jesus Christus – in sy persoon, woorde en werke as God se groot en finale Profeet, Priester en Koning – die kulminering en vervolmaking van God se selfopenbaring aan ons is.
Hebreërs 1:1-2 stel dit in 'n neutedop: "In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur die Seun ..." (vgl. Joh 1:14).
Dis waarom God se besondere openbaring tot 'n einde móés kom, want wat is daar om by Christus te voeg? Dis soos die boonste spits van 'n piramide: Hoër kán dit nie!
Wie kán iets by Hom voeg?
Wie, wat Hom regtig ken, wíl ooit iets by Hom voeg?
3. Ten diepste het die Heilige Gees gekom om Jesus Christus te verheerlik (Joh 16:14).
J.I. Packer verduidelik dit iewers min of meer só: "Sy werk is as 't ware om oor jou skouer met 'n kollig op Jesus Christus te skyn terwyl Hy in mense se ore fluister: 'Glo in Hóm; kyk, gaan en luister na Hom; dien en eer Hom!'"
In respek kan mens sê dat die Heilige Gees die skaam Persoon van die Drie-eenheid is. Hy wil nie in die kalklig wees nie; Hy wil Christus daar hê.
4. Beswaarlik bring iets méér verheerliking vir die Here Jesus hier op aarde as wanneer Sy dissipels hulle hoogste vreugde vind in die "hele waarheid" oor Hóm.
Dis waaroor die Heilige Gees se werk ten diepste gaan. Sy eintlike doel is om ons innerlik te verlig sodat ons die Nuwe Testamentiese geheimenisse beter en beter begryp.
En die hart daarvan is Jesus Christus!
5. Maar dit strek nóg verder: Soos gelowiges die evangeliewaarhede oor Christus meer en meer deel van hulle lewens maak, verander dit hulle en maak dit hulle steeds meer Christus-gelykvormig (2Kor 3:18).
Waar die Heilige Gees werk, is Jesus Christus as Profeet, Priester en Koning in die sentrum van mense se denke, oortuigings, emosies, toewyding, gehoorsaamheid en verkondiging. Nie alleen het ons hier 'n fundamentele merkteken van outentieke Christenskap nie – dit is die heel eerste lakmoestoets vir die Gees se werk in 'n gegewe situasie.
Daarenteen, waar 'n ander gees aan 't werk is, is die mens in die middelpunt (vgl. Joh 7:18).
Die Gees van die waarheid maak Christus vir ons "... wysheid uit God, en geregtigheid en heiligmaking en verlossing" (1Kor 1:30, OAV).
Samevatting
1. Ons is gewoond daaraan om in die eerste instansie aan die apostels te dink as die eerste sendelinge. Inderdaad. Die woord apostel beteken immers uitgestuurde.
Tog lê hulle primêre roeping dieper as om bloot bekeerlinge te maak. Hulle moes getuies wees van die vleeswording van die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid – as hoogste en finale Godsopenbaring aan die mens. Hulle moes dit, en die implikasies daarvan oraloor verkondig, die kerk daarin vestig, en dit vir komende geslagte op skrif stel.
As Jesus die gawe van die Heilige Gees in die bovertrek belowe, is dit eerstens hiérdie roeping van die apostels waaroor dit gaan. Miskien word dit die heel beste saamgevat in Joh 15:26-27: "Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My."
Wie was van die begin af by Jesus? Die apostels. Wat moet hulle ná die Here se vertrek doen? Hulle moet getuig. Wat moet hulle getuig? Hulle moet presies verkondig wat die Gees van die Vader in waarheid getuig. Wat getuig Hy? Hy getuig van Christus!
Dís waarom hulle die besondere gawe ontvang om wonderwerke te doen. Dit was bevestiging van die betroubaarheid van hulle getuienis.
2. Nog 'n hoekpen vir 'n regsinnige Skrifbeskouing is nou onontkombaar duidelik: Die genoegsaamheid van die Bybel.
As God se selfopenbaring dan tot finale afronding gekom het in die menswording van Jesus Christus, beteken dit dat ons niks verder nodig het vir leer en lewe, vir redding en 'n heilige lewe nie.
Hier lê die diepste rede waarom die regsinnige kerk deur die eeue sommige Christene se aansprake op nuwe, sogenaamd gesagvolle openbaringe konsekwent afgewys het.
Die miskenning van die diskontinuïteite tussen die apostoliese en na-apostoliese tydvakke het tot baie Godonterende skade en verwarring in die kerkgeskiedenis gelei.
3. Laat ons weer en weer in verwondering wees oor die geïntegreerde eenheid van die Ou en die Nuwe Testament.
Die profete het vooruit getuur, Christus gesien, en op honderde maniere van Hom getuig.
Die apostels het as getuies teruggekyk en dieselfde boodskap ver en wyd geproklameer – net soveel méér oopgevou en in fokus.
Waarlik, die Bybel is God se selfopenbaring; die Heilige Gees is die Agent, en Jesus Christus die fokus daarvan!
4. Die apostel Johannes se woorde in 1Joh 1:1-4 is hier van pas:
"Wat van die begin af was,
wat ons gehoor het, wat ons oë gesien het, wat ons aandagtig bekyk het,
en wat ons hande aangeraak het
aangaande die Woord van die Lewe,
dit verkondig ons aan julle.
Díé lewe is geopenbaar
en ons het dit gesien,
en ons getuig daarvan,
en verkondig aan julle die ewige lewe,
wat by die Vader was, en aan ons geopenbaar is.
Ja, wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons ook aan julle,
sodat ook julle aan ons verbonde kan wees.
En ons verbondenheid is aan die Vader en aan sy Seun Jesus Christus.
Ons skryf hierdie dinge, sodat ons blydskap volkome kan wees."
Slotwoord
Kom stel dit beknop só:
Van begin tot einde in die Bybel is die Here Jesus Christus die Hoofkarakter!
In die OT is Hy die Verwagting
In die Evan's is Hy die Vertoning
In die Hand'e is Hy die Verkondiging
In die Briewe is Hy die Verduideliking
In die Openb is Hy die Vervolmaking
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Dit is betekenisvol dat saamwees met die Here Jesus van Sy doop af tot en met die hemelvaart, die kwalifikasie was waaraan 'n apostoliese opvolger vir Judas Iskariot moes voldoen (Hand 1:21-22).
[2] Vgl. ook Mark 16:20; Hand 2:22; 14:3; 19:11-12; Rom 15:18-19; 1Kor 2:4-5; Heb 2:3-4.
[3] Dele van die Nuwe Testament is deur die apostels se medewerkers geskryf, maar dit het geskied na aanleiding van hulle prediking en onder hulle leiding en toesig.
Paulus, skrywer van 'n groot deel van die Nuwe Testament, was iets van 'n uitsondering. Hy was 'n apostel in eie reg, maar tog nie 'n oog- en oorgetuie in die gewone sin van die woord nie. Hy beroep hom egter onder meer in Galasiërs en 2Kor 12 op bonatuurlike ervaringe en openbaringe wat hy gehad het. Dié het hy aan die beoordeling van die apostels onderwerp – waarna hulle hom as mede-apostel aanvaar het (Gal 1:11-2:10). Hy sê dan ook dat hy "die dinge wat 'n apostel kenmerk ... verrig: tekens en wonders en kragtige dade" (2Kor 12:12). In elk geval staan dit vas dat dit wat Paulus gepreek en geskryf het volkome in harmonie is met die openbaring wat deur die ander apostels gekom het. In 2Pet 3:15-16 bevestig die leier van die apostels dat hulle Paulus se lering as deel van die Skrif beskou.