VIDEO-OPNAME: https://tinyurl.com/2p89zy24
Dis die jaarlikse Pasga. Dis die Vrydag. Nege-uur die oggend word Jesus gekruisig – saam met nog twee, weerskante van Hom. Drie uur later – dis die middel van die dag – word dit skielik donker, pikswart donker. Dis soos middernag.
Na 'n verdere drie uur breek die midde-oosterse son weer deur.
Dadelik praat Jesus weer, nee, Hy roep uit: "Tetelestai!" Dwarsdeur die geskiedenis dalk die mooiste woord wat ooit oor die lippe van 'n mens gekom het: "Dit is volbring!" – die rekening is ten volle opbetaal! (Joh 19:30). En onmiddellik hierna sterf Hy: "Vader in U hande gee Ek my gees oor!" (Luk 23:46). Sy taak op aarde is afgehandel.
Op daardie oomblik gebeur daar 'n wonderwerk in die tempel: Die voorhangsel skeur middeldeur – dwarsdeur, van bo na onder (Luk 23:45).
Iets onbeskryfliks groots het gebeur. Dit het ewigheidsimplikasies. Die ewige lot van dermiljoene skarnier deur 180 grade – van verdoemenis tot onbeskryflike saligheid.
Die natuur bevestig dit met 'n magtige aardbewing. En talle grafte gaan oop!
Die Groot Versoendag
Nou moet ons net eers vir 'n oomblik na die Groot Versoendag kyk, want dáár het die voorhangsel 'n sentrale rol gespeel.
Op Israel se godsdienstige agenda was dit 'n dag met enorme betekenis – aan die hart van die Ou Testamentiese seremoniële aanbidding van Jahweh. Dit het 'n paar maande ná die Pasga gebeur.
# Die voorhangsel het skeiding gemaak tussen die heiligste en die allerheiligste in die tabernakel.
In die heiligste het die priesters elke dag gewerk.
Maar in die allerheiligste kon net die hoëpriester ingaan – net een keer per jaar, op die Groot Versoendag. Daar sou hy dan die offerbloed stort.
# Hierdie voorhangsel was nie net 'n laken nie. Dit was baie dik. En geweldig swaar.
Buite-bybelse Joodse geskrifte sê dit was so dik soos 'n man se hand. En, sê hulle, 'n klomp mans was nodig om dit op te hang.
Geen mens kon dit skeur nie. Dit was onvernietigbaar.
Of was dit?
# Om op die Groot Versoendag daar in te gaan, moes die Hoëpriester homself
puntenerig voor die Here, en volgens sy voorskrifte voorberei. Hy sou immers in vrees en bewing in die teenwoordigheid van die driemaal-heilige God ingaan.
Met die offerbloed in sy hande het hy dan op sy gesig onder deur die voorhangsel gekruip – dalk by 'n hoek waar dit makliker sou wees – om vir homself en die volk te gaan versoening doen.
# Terwyl hy daarbinne was, het die volk in doodse stilte gewag. Sou hy híérdie keer oorleef? Sodat die volk kon hoor dat hy nog leef, was daar aan die onderkant van sy kleed klokkies vasgewerk wat gelui het soos hy beweeg het.
# Heb 9:6-8: "Met hierdie dinge dan so ingerig, gaan die priesters gereeld die voorste tent binne om hulle rituele diens te verrig. Maar by die tweede tent gaan net die hoëpriester in, en dit slegs een keer per jaar, en nie sonder bloed wat hy vir homself offer, en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het nie. Daarmee dui die Heilige Gees aan dat die weg tot die heiligdom nog nie oopgestaan het solank die voorste tent nog bestaan het nie."
Die allerheiligste "woonplek van God" was dus totaal buite perke – verbode – vir die volk. Nét die Hoëpriester! Nét eenmaal per jaar! Nét met offerbloed!
Wie ook al hierdie voorskrifte sou oortree, sou gewis onmiddellik sterf.
Terug na die Pasga – dáárdie Pasga – en spesiek na Golgota toe
Dis die Vrydag van die Paasfees.
# Dáár op die plek van die hoofskedel is die omstaanders stomgeslaan. Iets ongeloofliks het gebeur. Dis al vir 3 uur stikdonker!
# En in die hemel? Die Vader se gesig is ál 3 uur lank weggedraai terwyl Hy die beker met die wyn van miljoene mense se ewige oordeel teen sy Seun se lippe hou.
Dan is Hy uiteindelik tevrede. Dis nou genoeg! Sy geregtigheid is bevredig. Die sondeskuld van elke uitverkorene is betaal – elke kriesel daarvan.
# Terug na Golgota. Skielik, om drie-uur, breek die lig weer deur oor Jerusalem.
God se groot en finale Offerlam het sy taak suksesvol en volledig afgehandel. Sy werkverbond is volmaak vervul. Hy het geslaag. Sy geliefdes is vrygekoop!
# Dan gebeur iets verstommends! As Jesus se kop vooroor sak en Hy sterf, is daar in die tempel 'n harde skeurgeluid. Wat het gebeur?
Dis die voorhangsel! Ondenkbaar! Die vóórhangsel! Dit het geskeur!
# Dis nie sommer 'n gewone skeurtjie nie, net 'n winkelhaak of soiets nie.
Die Bybel beklemtoon 3 dinge.
+ Dit het van regdeur geskeur – dwarsdeur. Alle simboliek en bruikbaarheid van hierdie ondeurdringbare gordyn is vernietig; dit het geen funksie meer nie. Dis uitgedien – eens en vir altyd.
+ Dit het in die middel af geskeur (dit sit in die Griekse woord) – dwarsdeur die hart van wat dit verteenwoordig het – die ou seremoniële stelsel!
Nee, nog meer – dwarsdeur die ontoeganklikheid van die allerhoogste God.
+ Dit het van bo af geskeur. Dis Gód wat dit doen. Nét Hy, Hý alleen.
# Die skeur van die voorhangsel was nie blóót 'n simboliese teken nie. Dit was méér. Dit was 'n verklaring – 'n gesagvolle proklamering deur die ewige, ongeskape Skepper van hemel en aarde.
Dit lê aan die hart van die beste nuus op aarde – die evangelienuus.
Wat sê dit vir óns?
1. Die skeur van die voorhangsel was God se proklamering van versoening – dat die pad van redding uiteindelik oop was vir alle mense, en alle nasies, en alle soorte.
Nie meer net één man agter die voorhangsel in nie. Nie net meer één maal per jaar nie!
Nou kan almal wat met God versoen is, heeldag en aldag, weer en weer, met die grootste vrymoedigheid die allerheiligste betree. Enigeen!
Al die seremoniële voorskrifte, met die offerstelsel as hart, is nie meer nodig nie!
God se volmaakte en finale Offer is eens en vir altyd geoffer. God sélf was die Lam.
Die Hebreërskrywer het verstaan: "Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom, langs 'n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, en ons het 'n groot Priester oor die huis van God" (10:19-21).
En wat is ons erfenis?
"Laat ons ... geloofsekerheid ..." (v.22).
"Laat ons ... hoop ..." (v.23).
"Laat ons ... liefde ..." (v.24-25).
2. Die oomblik toe daardie voorhangsel skeur, was dit die onomkeerbaar-finale sloping van die Levitiese stelsel.
Tot in ewigheid hoef nie 'n enkele skaaplam weer geslag te word nie. Die tyd van die tempel is finaal verby – uitgewis uit God se ordes.
Ja, ja, die Joodse vasbyters het dit nog vir amper 4 dekades probeer in stand hou. Maar uiteindelik het God die heidense Romeine in 70 n.C. gebruik om dit finaal te vernietig.
+ Daarom is dit ontstellend dat daar nog miljoene Christene is, veral in Amerika, maar ook oor die hele wêreld – óók toenemend hier in ons eie midde – wat steeds glo dat daar wéér 'n tempel gebou gaan word vir die Jode tydens 'n sogenaamde millennium of duisendjarige ryk wat nog sou kom. Dit sal, glo hulle, gebeur nadat die kerk onder die nasies verwyder is.
Dis 'n geringskatting, nee, nog meer, 'n minagting van die voorhangsel se verwydering en vernietiging – deur God self. Dit kom neer op 'n miskenning van die eens en vir altyd volmaakte middelaarswerk van God se finale Lam en Hoëpriester.
3. Daar is baie wat hulleself as Christene beskou, maar nie rekening hou daarmee dat die voorhangsel regdeur geskeur het nie – heel van bo af, en heel tot onder uit.
# Die oomblik as jy prooi is van hierdie kortsigtigheid, doen jy die hart van God se raadsplan geweld aan! En jy loop gevaar om die oordeel wat die apostel in Galasiërs oor die Judaïste uitspreek, oor jouself te haal.
Hand 15:1: "Daar het sekere mense van Judea af gekom wat die broers aanhou leer het: As julle nie besny word ooreenkomstig die gebruik van Moses nie, kan julle nie verlos word nie.'"
Gal 1:6-10: "Ek is verbaas dat julle so gou van Hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, wegdraai na 'n ander evangelie. Daar is nie 'n ander evangelie nie – al is daar sommige mense wat julle probeer verwar, en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar selfs al sou ons, of 'n engel uit die hemel, 'n evangelie aan julle verkondig in stryd met wat ons aan julle verkondig het, laat hom vervloek wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou weer: As iemand aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met wat julle ontvang het, laat hom vervloek wees! Probeer ek nou mense tevrede stel, of God? Of soek ek die guns van die mense? As ek nog steeds mense se guns sou probeer wen, sou ek nie meer 'n dienskneg van Christus wees nie!"
Gal 5:2-6: Kyk, ek, Paulus, sê nou vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle waardeloos wees. 3 Ek getuig weer teenoor elkeen wat hom laat besny, dat hy verplig is om die hele wet te onderhou. 4 Julle wat op grond van die wet geregverdig wil word, julle is van Christus afgesny – julle het die genade verbeur! 5 Want dit is deur die Gees, op grond van die geloof, dat ons die vryspraak verwag waarop ons hoop. 6 Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde werksaam is (Gal 5:2-6).
# Sien jy, die Judaiste het daarop aangedring dat die besnydenis, naas die verdienste van Christus, noodsaaklik is vir redding. Vir hulle het die voorhangsel níé dwarsdeur geskeur nie – daar is kwansuis nog 'n laaste stukkie wat van die mens afhang.
Let op, let góéd op: Hulle het nie ontken dat die voorhangsel geskeur het nie. Al wat hulle geïmpliseer het, is dat dit nie dwarsdeur geskeur het nie.
# Dis skrikwekkend as mens daaraan dink dat vir meer as die helfte van die mense wat in hierdie wêreld hulleself Christene noem, die voorhangsel níé dwarsdeur geskeur het nie.
+ Rooms-Katolisme dring daarop aan dat jy Priesters, en Maria, en sewe sakramente sáám met Christus nodig het om gered te word. Dis Christus-plus!
Formele statistieke sê dat daar ongeveer 2,5 biljoen mense wêreldwyd op sensusvorms skryf dat hulle "Christene" is. Daarvan is 52% Rooms-Katolieke.
+ Nog méér. Jy kan jou kop op 'n blok sit dat 'n groot persentasie mense wat hulleself as Protestante ag, ook maar hulle eie reēl op reēl het – wat hulle effektief in die agterkop as aanvulling by Christus ag.
As hulle goed geleer is, sal hulle dit waarskynlik ontken. Maar as hulle hulself eerlik ondersoek, sal talle moet erken dat dit inderdaad vir hulle geld.
Trouens, selfs Christene wat die algenoegsaamheid van Christus se middelaarskap verstaan en bely, sal weet hoe hierdie dwaling steeds in jou geloofslewe probeer inwurm.
+ Daarom is dit noodsaaklik dat ons onsself voortdurend ondersoek of ons nie dalk iets, hoe gering ook al, by Christus se volmaakte middelaarskap voeg nie. Dit maak nie saak wát nie.
Want dis 'n belediging vir die Here Jesus se volkome genoegdoening en God se vrye genade in Hom.
Dit kom effektief neer op 'n streep dwarsdeur die hart van God se verlossingsplan. En as jy dink dis té sterk gestel, onthou wat die apostel aan die Galasiërs skryf.
Ek sluit af met die wonderlike uitnodiging in Jes 55:1
Kom,
almal wat dors is,
kom na die water!
En wie geen geld het nie,
kom koop en eet!
Kom koop sonder geld,
sonder koste,
wyn en melk!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev