Video-opname: https://tinyurl.com/4ppv37ea
Op 13:15-18
15 Aan hom is toe die vermoë gegee om asem in die beeld van die dier te blaas, sodat die beeld van die dier ook kon praat, en om almal wat nie die beeld van die dier aanbid nie, te laat doodmaak.
16 Hy het ook almal, klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe, verplig om 'n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te laat aanbring,
17 sodat niemand, behalwe dié met die merk van die naam van die dier of die getal van sy naam, sou kon koop of verkoop nie.
18 Hiervoor is wysheid nodig. Wie insig het, moet die getal van die dier bereken, want dit is die getal van die mens, en sy getal is seshonderd ses-en-sestig.
Inleiding
# Ons beleef al vir maande die wêreldwye Covid-epidemie, en leef nou spesifiek in die tyd van "inenting - ja of nee". Baie – natuurlik nie almal nie – van die wat nie die inspuiting wil hê nie, doen dit op grond van twyfel oor, of aanvaarding van talle samesweringsteorieë wat oraloor die rondte doen.
En is daar ook diegene wat bang is dat die syfer 666 dalk op 'n mikroskyfie in 'n mens ingespuit word. En hier in Op 13 impliseer dit dan 'n solidariteit met "Die dier uit die aarde" en 'n deel kry saam met hom aan die veroordeling en verwerping deur God.
Sou laasgenoemde vertolking van v.15-18 inderdaad korrek wees, hou dit uiteraard skrikwekkende, en selfs ewige implikasies in vir die groot getalle mense wat hulle wel laat inent. Máár as dit 'n verkeerde verstaan van ons verse is, en indien die inenting wél die sterftekoers dramaties verminder, soos gepubliseerde syfers toon, het dit eweneens dramatiese implikasies vir die beswaardes. Ons praat immers, as ek hier skryf, van 'n siekte wat dikwels noodlottig is. In Suid-Afrika alleen het al oor die afgelope jaar-en-'n-half amper 90 000 mense aan die siekte gesterf.
# Dit is nie nodig dat Bybelgelowiges onseker oor 666 hoef te wees nie. 'n Deeglike en verantwoordelike verstaan van ons teks klaar onsekerheid heeltemal op.
Voordat ons egter nader na Op 13:15-18 kyk moet ons eers kortliks op die konteks let. Ons teks is immers onlosmaaklike verbonde aan die perikoop wat met 13:11 begin, wat op sy beurt weer deel is van die groter stofblok, h.12-14.
'n Blitsvinnige voëlvlug oor Op 12-14
# Die stofblok handel oor die konflik tussen die gemeente van Christus en die Satan – wat deur sy twee handlangers werk – die staat en die valse kerk. Hierdie stryd strek dwarsdeur die laaste dae. Dit begin in h.12 met 'n beskrywing van die Kind se geboorte as deel van die nog Ou Testamentiese verbondsvolk. En dit eindig in 14:14-16 met 'n beskrywing Jesus Christus se inbring van die volle en finale oes van begenadigdes van oor die hele aarde. En dit word dan ten slotte gevolg deur 'n skrikwekkende beskrywing van die finale versameling van 'n gevalle mensdom en die "groot parskuip van God se toorn" (14:17-20).
# Tussen bogenoemde bogenoemde begin en einde van hoofstukke 12-14, word in h.12 beskryf hoe "die draak" (die duiwel) destyds uit die hemel gegooi is toe die laaste bedeling begin het met die "laaste Adam" se opstanding en hemelvaart, en die gepaardgaande uitstorting van die Heilige Gees.
Aangesien die Satan die Here Jesus destys op aarde nie kon verlei en oorwin nie, spits hy – "die draak" – ná die Pinksterdag sy meedoënlose aanslae toe op die liggaam van Christus. In die proses werk hy deur twee handlangers – "die dier uit die see" (oftewel die wêreldse staatsgesag (13:1-10), asook "die dier uit die aarde". Bes moontlik word hier van wêreldgodsdienste gepraat, wat die valse kerk insluit (13:11-18).[1] Volgens v.16-18 lyk dit of hierdie dier ook dalk 'n greep op die handelswêreld sal kry.
In so 'n geval lyk dit of die duiwel deur die politieke, godsdienstige en ekonomiese mag sy aanslae en vervolging op Christus en sy ware kerk sal fokus.
Na laasgenoemde gedeelte – wat oënskynlik die dier uit die aarde se ekonomiese of handelsaanslag teen die uitverkorenes belig – kyk ons nou nader.
Die merk van die dier (Op 13:16-18)
# Hierdie is een van die uitsprake in Openbaring waaroor daar allerlei uiteenlopende opinies bestaan – dikwels sensasioneel, selfs absurd. En tans in die tyd van Covid-inëntings is talle onseker en ongerus daaroor.
Dit geld sekerlik vir meeste simboliek in Openbaring, maar alles word duidelik as ons verantwoordelik daaroor nadink, en Skrif met Skrif vergelyk.
# Kom ek probeer 'n paar verantwoordelik stellings oor 666 maak.
+ Ons moet versigtig wees om dit nie te letterlik te lees nie. Onthou, hierdie is apokaliptiese literatuur.
+ Sekerlik bevestig v.18 dat die betekenis nie sommer op die woord af verstaan moet word nie. "Wysheid" en "insig" is nodig om dit te bereken, oftewel verstaan.
+ Ware Christene – almal van hulle – sal beslis, wanneer dit ter sake is, weet dat hulle nie hierdie "merk" moet aanvaar nie, wat dit ook al presies beteken. Hulle sal weet dat dit kompromie met die ongelowige en Christus-vyandige bestel sal beteken. Selfs al sou dit die wêreld baie moeilik vir hulle maak, sal hulle dit gevolglik weier.
+ As hulle inderdaad met Christus verenig is, hoef hulle egter nie nou beangs hieroor te wees nie. Die Here sal hulle, behalwe die nodige onderskeidingsvermoë, ook die vereiste geloofsmoed gee om hierdie beproewing deur te sien. Per slot van rekening kan niks of niemand hulle uit sy hand ruk nie.
+ Deur die eeue het Christene male sonder tal voor soortgelyke verleidinge, versoekings en bedreigings te staan gekom.
Maar in die laaste van die laaste dae sal dit ons méér bedreigend, maar ook méér subtiel verleidend konfronteer. En dit sal tragies en skokkend wees as vals gelowiges – van wie ons altyd gedink het dat hulle in Christus is – daarvoor swig.
+ Maar, les bes! – wanneer hierdie konfrontasie voor ware dissipels van Jesus Christus staan, sal hulle met een wonderlik bemoedig word daardeur. Hoe so? Dit sal soos 'n helder lig in die duisternis skyn: Die wederkoms van Christus, en dus ons verlossing en die finale beërwing van ons ewige heerlikheid, is op hande! En ons sal vir ewig by die Here wees!
Wat op aarde is die merk van die naam van die dier – 666?
# Die merk word op verskille maniere beskryf.
+ Dis "die merk van die naam van die dier" (v.17).
+ Dis "die getal van sy naam" (v.17).
+ Dis "die getal van die dier" (v.18).
+ Dis "die getal van die mens" (v.18).
# 'n Paar opmerkings oor 666:
+ Destyds, soos steeds, het 'n eienaar sy diere gebrandmerk om sy eienaarskap te toon. Selfs soldate is dikwels gebrandmerk of getatoēer om te toon aan watter kant en dalk in watter afdeling hulle veg.
Hierdie brandmerk sal dus uitwys dat so 'n persoon aan "die dier uit die aarde behoort" – hy of sy is die gemanipuleerde eiendom van die "die draak".
+ In die antieke wêreld het baie getalle ook 'n simboliese waarde gehad. So het 7 vir volmaaktheid gestaan. As sodanig was dit die syfer wat gedui het op goddelikheid.
Daarenteen was 6 die syfer van die mens – altyd minder as God. Ongeag hoe hard hierdie dier uit die aarde ookal mag probeer om soos Christus te wees, bly dit tevergeefs.
= Trouens, die herhaling van 6 beklemtoon baie sterk sy blote menslikheid. Sy nommer is en bly 666: Hy is net 'n mens, niks meer as net 'n gewone mens
nie. En méér as dit kan hy tot in ewigheid nooit wees nie – al probeer hy hóé hard.
# Anders as die onheilsvrees wat baie mense beetpak oor hierdie merk, wil die Skrif eintlik die gelowige herinner en bemoedig: Al sou hierdie karakter deur "die draak" bekragtig word om indrukwekkende tekens te doen en vuur uit die hemel op die aarde te laat val, moet onthou word dat hy steeds 'n mens sal wees wat deur die draak (die duiwel) misbruik word. Sy wonders sal duiwelskuns wees – bloot nagemaak!
# Direk in die volgende vers (14:1) kry ons 'n eerste sleutel om die simbool 666 te verstaan.
Teenoor die direk voorafgaande verse, word nou gesê: " ... kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom is daar honderd vier-en-veertigduisend mense (let op die volheidsgetal: 12x12x10x10x10) met sy Naam en ook sy Vader se Naam, op hulle voorkoppe geskryf."
Sonder twyfel is hierdie Naam die stempel van eienaarskap. Letterlik te verstaan? Vir die menslike oog sigbaar? Natuurlik nie!
Die voorkop beteken verstaan, en begrip, en oortuigings, en geloof. Die hand spreek van wat mens doen, hoe jy leef (let op, dis die regterhand).
Die voorkop en die hand is onderskeidelik die innerlike en die uiterlike – uiteraard ten nouste verbonde. Wat jy dink, dit is jy.
Hierdie mense glo innerlik onwrikbaar, en behoort vir altyd aan die Lam en sy Vader. En die praktyk van hulle lewens bevestig dit.
# Verdere sleutels in Openbaring
+ Vergelyk ook Op 7:2-4: "Ek het ook 'n ander engel ... sien aankom, wat 'n seël van die lewende God vashou. Hy het met 'n kragtige stem geroep ... 'Moenie die land of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van ons God met 'n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie'. Ek het toe gehoor wat die getal is van hulle wat met die seël gemerk is: honderd vier-en-veertig duisend – uit elke stam van die kinders van Israel."
Dan volg 'n lys van die 12 stamme, waarvan in elkeen 12 000 gemerk is (kennelik weer simbolies bedoel).
En direk hierna volg 'n beskrywing wat vir seker ook Nuwe Testamentiese gelowiges insluit. Let dan op almal se erfenis en loflied (7:9-10; 13-14; 16-17).
+ Vergelyk verder Op 3:12: "Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God ..." (NAV; vgl. ook OAV; ESV; NASB).
+ Vergelyk voorts Op14:9: " ... Ek het die siele gesien van die wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus regeer, 'n duisend jaar lank."
+ Les bes: In Op 20:4 het ons hierdie belofte wat geld vir gelowiges in die tussentoestand – wat m.a.w. reeds heengegaan het, maar vóór die wederkoms in die paradys is: "Ek het ook trone gesien, en aan díé wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus regeer, 'n duisend jaar lank." (nogeens simbolies te verstaan).
# Reeds in die Ou Testament kry ons verwysings na so 'n verseëling. Dit kan nageslaan word in Eks 13:9; Deut 6:8; 7:10; 9:4.
Slotsom
In die meeste Skrifuitsprake hierbo is dit sonder twyfel duidelik dat die merk op die voorkop of hand nie letterlik verstaan moet word nie.
Dan is daar enkeles waarvan ons dit nie met sekerheid kan sê nie, maar wat bes mootlik, selfs dalk beslis, óók beeldspraak is.
Wat ook al die geval, in daardie dramatiese tyd sal geen ware Christen – oftewel uitverkorene – enige risiko loop om te wyte aan 'n oordeelsfout, of per ongeluk, die merk ontvang nie. Daarvoor sal die Drie-Enige God sonder twyfel sorg. Die Herder ken mos sy skape!
In elk geval, wanneer die merk van die dier ter sprake kom, sal elke dissipel van die Here dit kan onderskei en daarvan weet.
Laastens, maar belangrikste: Het jy die merk?
# Nee, nee! Ek praat nie van 666 nie!
Ek praat van Op 7:2-4 se merk: Onthou jy daar word vir die engel gesê: "Moenie die land of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van ons God met 'n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie'. Ek het toe gehoor wat die getal is van hulle wat met die seël gemerk is: honderd vier-en-veertig duisend. Ek praat van God se verlossingsgenade in Christus.
Dra jy híérdie merk?
Jy sê, "ek glo so, ek dink so, ek hoop so". Nee, nee! Mens hoef nie huiwerig of onseker te wees nie!
Daar is 'n ánder merk waarvan God se Woord praat. En dit was inderdaad 'n duidelik-sigbare merk. Die betrokke persoon kon dit nie altyd self so goed sien nie, maar ander wat hom of haar geken het, kon dit onmiskenbaar onderskei. Waarvan praat ek?
In Deut 15:12 vv. (vgl. ook Eks 21:5-6) lees ons van Israeliete wat nie hulle skuld kon betaal nie, en dit uiteindelik vir die skuldeiser moes vergoed met slawediens. Hierdie diens moes duur vir die tyd tot en met die einde van die betrokke Sabbatsjaar (elke 7de jaar) – ongeag hoe groot die skuld, en hoeveel jare oorgebly het van daardie tydperk. Aan die einde van die ses jaar moes die skuldeiser hom dan vrylaat, sodat ook daardie arm man die Sabbatsjaar en die daaropvolgende jare as vryman kon binnegaan, en daarna weer probeer om materiëel die mas op te kom.
Maar dan maak v.16-17 daarvoor voorsiening dat enige van die slawe by so 'n vrylatingsgeleentheid kon sê dat hy in die voorafgaande paar jaar só lief geraak het vir die
baas en sy gesin, dat hy liewers verkies om aan te bly as slaaf in die huishouding.
In so 'n geval moes hy as "skuldslaaf" (2020) deur die baas gemerk word met die unieke merk van 'n liefdeslaaf. Hy moes dan teen 'n deurkosyn gaan staan, sodat sy baas hom onmiskenbaar en permanent kon merk. Met 'n els moes 'n gaatjie deur sy oorskulp gesteek word om hom daarna steeds te herinner, en vir andere duidelik uit te wys, dat hy die betrokke baas permanent en vrywillig vanuit 'n ywerige hart dien, en enduit sal bly dien.
Wil jy dus vir seker weet dat jy met Op 7 se merk gemerk is? Ek het netnou gesê dat die merke van Openbaring onsigbaar is – in elke geval die wat op ware Christene van toepassing is. Maar dis nie heeltemal waar nie. Want híérdie innerlike merk loop altyd, maar altyd, saam met iets anders wat selfs duideliker sigbaar is as destyds se merkie aan die oor.
Nog beter as destyds, sien mens vandag onmiskenbaar duidelik elkeen wat die Here van harte as 'n liefdeslaaf dien.
En dan weet jy dat ook hy of sy 'n "gaatjie in die oor" het!
Sonder uitsondering loop regverdigmaking én heiligmaking hand-aan-hand;
redding én goeie werke;
gemeenskap met God én liefdesdiens aan die naaste;
dankbaarheid voor die Here én voetewas;
hart én hand;
oortuiging én toewyding;
geloofsekerheid én geloofsuitlewing;
vergiffenis deur God én vergewing van jou naaste.
Ware redding is algeheel omvangryk én geïntegreerd!
Ware redding is lewensbeheersend én lewenslank!
Ware redding wys – almal kan hierdie "gaatjie in jou oor" sien!
Wat sê jou óór,
oor die merk op die tafels van jou hart?
Wat sê jou óór,
oor die realiteit – al dan nie – van jou wedergeboorte?
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Vergelyk hiermee 2Thes 2:1-12.