Preekopname: https://tinyurl.com/4ff5vv9p
Deut 17:14-20
14 “Wanneer jy in die land aankom wat die Here jou God vir jou gaan gee, en dit in besit neem en jou daarin vestig en sê, ‘Ek, Israel, wil 'n koning oor my aanstel soos al die nasies wat om my is,’
15 dan moet jy beslis 'n koning oor jou aanstel wat die Here jou God kies. Uit jou volksgenote moet jy 'n koning oor jou aanstel. Dit is ontoelaatbaar om 'n vreemde persoon wat nie jou volksgenoot is nie, oor jou aan te wys.
16 Hy mag net nie baie perde aanskaf nie en hy mag ook nie die volk na Egipte laat terugkeer met die doel om meer perde aan te skaf nie. Die Here self het vir julle gesê, ‘Julle mag nooit weer op hierdie pad teruggaan nie.’
17 “Die koning mag ook nie vir hom baie vroue aanskaf nie, sodat sy hart nie van die Here e afwyk nie. Van silwer en goud mag hy ook nie te veel aanskaf nie.
18 “Wanneer hy op sy koninklike troon sit, moet hy van hierdie wet, wat in besit van die Levitiese priesters is, vir hom 'n afskrif skryf in 'n boekrol .
19 Hy moet dit by hom hou en hy moet sy lewe lank daaruit lees sodat hy kan leer om vir die Here sy God ontsag te hê (OAV; ESV: "te vrees"), om al die woorde van hierdie wet te onderhou, hierdie voorskrifte na te kom,
20 homself nie hoër te ag as sy volksgenote nie, en nie links of regs af te wyk van die gebod nie. Dan sal hy 'n lang tyd oor sy koninkryk in Israel heers, hy en ook sy nageslag.”
Enkele opmerkings oor die teksgedeelte
# God se voorskrifte vir toekomstige konings in sy volk is baie duidelik.
Soos 'n wapperende vlag moes dit 'n getuienis wees oor sy lewe van radikale toewyding aan Jahweh, sy Verbondsgod. Nie alleen moes die volk van die Here dit weet nie, maar ook die omliggende heidennasies moes duidelik daarvan kennis neem.
Hoe moes hierdie getuienis tot uitdrukking kom? In minstens vier areas:
+ In sy materiële lewenstyl – van relatiewe materiële eenvoud.
+ In sy nederigheid. Hy moes sy regeringsrol en duidelike verantwoordelikheid uitvoer, sonder om homself te verhef bo sy volksgenote.
+ In die morele beginsels wat sy lewe beheers. Hy moes ywerige erns maak met God se ordes en voorskrifte vir sy kinders. En soos deur alle eeue is die huwelik en
seksuele 'n belangrike aspek daarvan.
+ In sy godsdiensige liefdestoewyding aan, en ontsag vir die enige ware God. Dit sou tot uitdrukking kom in sowel die privaatheid van sy binnekamer, as in die publieke uitlewing daarvan – in die vorige drie areas en in die algemene vervulling van sy roeping.
Die latere uitlewing van God se voorskrif
# Saul. Hy was die eerste koning van Israel.
Maar in 1Sam 15:11,35 sê Here Hy is "spyt" omdat Hy Saul koning gemaak het.
Aan die hart van hierdie eerste koning se ontrou was sy onwilligheid om hom te onderwerp aan die teokratiese beginsel – nl. dat God, en Hy alléén sy gemeente regeer, en dat selfs die koning bloot net sy dienskneg is, en niks meer nie. Maar Saul wou 'n koning wees soos al die ander heidense konings om hom. Sy probleem was ambisie.
Ten diepste was hy afgodsdienaar (1Sam 15:23) – sy god was Saul Ben Kish! Dis hoekom hy meermale swig voor sy manskappe se aandrange (1Sam 14:45; 15:15,21,24). Wat 'n verleier is gewildheidsug nie!
Saul se tuimelgang begin onopvallend, en oënskynlik baie vroom – hy offer (1Sam 13:8-12). Maar dit ontwikkel van kwaad tot erger – ten spyte van Samuel se dringende waarskuwing in 1Sam 15:22-23.
Jare later het hy in sy eie swaard geval.
# Dawid. Tragiese gebrokenheid en selfs ernstige sonde was 'n onmiskenbare deel van sy lewe. En God se tugtigende hand het dikwels swaar op hom gedruk.
Tóg getuig die Woord weer en weer van die Here se liefde vir hom – selfs tot so 'n mate dat Hy 'n aangrypende messiaanse genadeverbond met hom sluit (2Sam 7).
Waarom?
Die antwoord lê ongetwyfeld in sy allesoorheersende liefde vir Jahweh. Dis waarom hy elke keer sy tugtiging in oorgawe, geloofsintegriteit en gebrokenheid dra – omdat hy sy Verbondsgod se eer skade aangedoen het. Sy verootmoediging was sonder uitsondering gebroke, en sy bekering opreg. Hy was 'n aanbidder in gees en in waarheid.
Dawid se hart was in Jahweh veranker. Dawid het Hom liefgehad soos min ander. Is die Psalmboek nie vol van sy minneliedere vir die Here nie!
# Salomo. Aanvanklik het hy in sy pa se voetspore gevolg. Maar spoedig dwaal hy ver af – tragies vér. Dis die moeite werd om vinnig daarop te let.
+ Die Here se seën wat op sy pa gerus het, het ook in Salomo se skoot geval. En hy ry triomfantelik die golf verder.
Die landsgrense word wyer uitgestoot as ooit tevore, of daarna. Hy beleef geen oorlog nie. Daar is algemene welvaart en vrede. Hy bou 'n ongeëwenaarde tempel in Jerusalem wat die middelpunt van die volk se aanbidding word. Hy ontvang ongeëwenaarde wysheid van die Here.
En hy word fabelagtig ryk.
+ Máár, ten spyte van die Here se uitdruklike waarskuwings – én wonderlike beloftes van seën indien hy Hom sou bly dien soos sy pa (1Kon 9:1-9), gee hy geleidelik toe aan een vleeslike versoeking na die ander.
Sy afval was stapsgewyse – soos dit mos maar tipies gebeur. Sy ambisie en mag en fabelagtige rykdom het uiteindelik 'n tragiese tol geëis.
= Ons lees in 1Kon 10:26-29: "Salomo het strydwaens en spanne perde ... bymekaargemaak ... Hy het eenduisend vierhonderd strydwaens en twaalfduisend perde gehad ... Die koning het silwer in Jerusalem so volop soos klippe gemaak, en sederhout so volop soos wildevyebome in die Sjefela ... Die perde wat aan Salomo behoort het, is ingevoer uit Egipte en Kewé. 'n Strydwa uit Egipte ingevoer, het seshonderd sikkel silwer gekos en 'n perd honderd-en-vyftig sikkel."
= En in 1Kon 11:1 lees ons: "Koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad ...". Min vrouens kan immers die versoeking weerstaan om by 'n ryk en magtige man in die kooi te spring.
Uiteindelik kon hy spog met "... sewehonderd vroue van koninklike stand en driehonderd byvroue ..." (1Kon 11:4-13).
Die noodwendige gevolg hiervan is hierdie tragiese woorde: "Teen die tyd dat Salomo oud was, het sy vroue sy hart verlei om ander gode te volg, en was sy hart nie meer volkome by die Here God, soos wat die hart van sy vader Dawid was nie."
+ Voorts is daar in die volgende verse 'n lys van die heidense afgode waarvoor hy ook geoffer het (v.5-8).
+ Uiteindelik sê v.9 dan: "Die Here was toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die Here, die God van Israel ..." (v.9 vv).
+ Salomo is uiteindelik na 'n regeringstyd van 4 dekades in 931 vC oorlede.
Ná Salomo
# In die jare wat ná Salomo volg, sien mens 'n beginsel wat konsekwent keer op keer deur die eeue tot vandag toe geld:
Sonde en ontrou aan die Here
– van watter aard ook al –
steek aan!
Dit neem 'n loop – van kwaad tot erger.
Dit woeker voort.
Dis iets wat net die Here kan omkeer.
Onmiddellik na Salomo se dood begin die onkruid opkom wat hy gesaai het – soos hare op 'n hond se rug.
# Die geskiedenis slaan dan 'n tragiese koers in.
Sou Dawid dit beleef het, sou dit sy hart gebreek het.
Sou Salomo dit beleef het, sou selfverwyt hom opgevreet het.
+ Die glansryke koninkryk skeur omtrent dadelik in twee: met die tienstammeryk van Israel, en die tweestammeryk van Juda tot gevolg.
In Israel volg die godsdienstige en morele pad net een rigting – afdraend.
In Juda volg ongeveer 20 konings mekaar in die volgende jare op. Daar is nog enkele godvrugtige regerings, maar die meerderheid is sondig en rampspoedig, wat uiteraard in die volkslewe uitmasel.
In beide gevalle bring dit rampspoed voort.
= Die ballingskap van Israel (die noordelike tien stamme).
Hierdie koninkryk is na net meer as 2 eeue in 722 vC weggevoer in die Assiriese ballingskap, vanwaar daar nooit 'n formele terugkeer sou wees nie.
= Die ballingskap van Juda (die suidelike 2 stamme, Juda en Benjamin).
Hierdie koninkryk is bietjie meer as 3 eeue later in fases weggevoer in die Babiloniese ballingskap. Daar was hulle ongeveer 70 jaar voordat 'n klomp van hulle (nie naastenby almal nie) toegelaat is om terug te keer na die beloofde land.
Die vloek van verbondsverbreking
het dus nie net vir Salomo getref nie,
maar óók katastrofiese gevolge vir sy nageslag ingehou!
Hoe het dit betrekking op ons?
# Daar is 'n ou spreekwoord in Engels: "As goes the shepherd, so go the sheep". Dit was natuurlik nog in die dae van kleinboere wat vóór hulle skape geloop het; nie vandag se aanjaag van 'n groot trop nie.
Presies dit is wat gebeur het in die geskiedenis van Salomo, asook die daaropvolgende geslagte van die verbondsvolk. Die koning se ontrou aan Jahweh se voorskrifte in Deut 17 het vir eeue daarna in tragiese gevolge vir sy nageslag uitgemasel.
Wáár, en sóós die leier lei, het 'n bepalende invloed op sy volgelinge. Ja, daar is individuele uitsonderings, maar die meerderheid mense is bloot skape, oftewel volgelinge.
+ Mag ek net betekenisvol byvoeg: Die beginsel geld nie net negatief nie, maar ook positief. Dink aan die wonderlike koninkryk en samelewing wat Salomo by sy godvrugtige pa geërf het.
# Wat sê dit vir óns vandag? Daar is uiteraard 'n breë spektrum van betekenisvolle toepassings waaraan mens kan dink. Maar ek wil op net één daarvan fokus.
Wat sê dit spesifiek vir híérdie gemeente op hierdie dag?
Kom ek sê dit op die man af: Van vandag af is julle sonder 'n vaste lerende ouderling, oftewel 'n herder; of as jy wil, 'n predikant. En julle moet 'n nuwe man soek en vind.
Kan julle sien waarheen ek op pad is?
Waar die herder lei, volg die gemeente wel.
Daarom is dit van die uiterste belang dat julle die régte man kry.
# Jy sê, daar is darem méér ouderlinge in die gemeente. Natuurlik is dit waar. Maar kom ons kyk realiteite vierkantig in die oë:
Dis eenvoudig 'n feit – die prediker speel die beheersende rol in die gemeente, al is dit net die feit dat dit hoofsaaklik hy is wat Sondag na Sondag aan die woord is.
En as hy die man is wat hy behoort te wees, sal hy ook die pas aangee in die gemeente se verdere ontwikkeling. Trouens, as hy 'n mindere karakter en persoonlikheid het, is dit 'n ope vraag of hy op die regte plek is.
Veral in ons kerklike wêreld vandag is die dominee in 'n besondere sin die episkopos – die voorganger, die touleier, die opsiener.
# Kan julle sien waarom dit so belangrik is om die regte man te kry?
+ Eerstens gaan dit oor die egtheid van sy Christenskap, en die erns en toewyding daarvan. Is hy 'n man van gebed?
Moenie huiwer om hom spesifiek daarna te vra nie.
Dit gaan oor sy verhouding met die Here. Dit gaan dus oor sy geestelike vlak. Want dit bepaal die geestelike vlak van die gemeente.
Sou die gemeente ryper wees wat dit betref, hoe kan hy vir julle 'n herder wees? En in elk geval (ek sal julle 'n brief daarvoor gee) – onder sy invloed sal julle baie gou begin hoogte verloor.
Nee, nee! Hy moet julle hoër, hoër meevoer.
+ Tweedens (innig verbonde met punt 1) gaan dit oor die die suiwerheid van sy prediking. Preek hy God se Woord, en lê hy dit regsinnig, verantwoordelik en betroubaar uit? Kan julle met rustige gemoedere julle en julle kinders se sieleheil aan hom toevertrou?
Ons leef in tye van talle teologiese strominge – waarvan die verskille dikwels baie subtiel is, maar terselfdertyd baie, baie belangrik.
Die dae is verby dat ons 'n man se geloofsoortuigings en -integriteit bloot kan aanvaar op grond van die belydenisskrif wat hy onderskryf, of sy breëre institusionele assosiasie. In Afrikaanse kerke in ons land sit honderde predikante wat kwansuis bekende en regsinnige belydenisskrifte steeds onderskryf (ter wille van ... julle weet mos), maar dit nie naastenby meer glo nie – in elk geval nie soos wat God se Woord en die oorspronklike opstellers dit bedoel het nie.
Wee die gemeente waar so 'n man op die kansel staan! Dit het waarskynlik ewigheidsimplikasies!
Wat sê ek vir julle? Die eerste kandidaat wat so indrukwekkend soos 'n Saul lyk, of die dinamika en wysheid van 'n Salomo het, is nie noodwendig die beste keuse nie!
Ek wil julle nie vlak skat of beledig nie, maar as julle enigsins twyfel oor julle teologiese opgewassenheid om hierdie kwessies te beoordeel, moet julle ten alle koste kundige en betroubare advies en beoordeling van buite betrek.
+ Derdens gaan dit ook oor sy waardes. Leef hy en sy vrou in die ordes van die Here? Hoe lyk sy lewe en huis? Hoe gaan hy met geld om. Ensovoorts.
Hoe lyk sy "track record"?
+ Vierdens gaan dit oor sy geestelike rypheid en volwassenheid – as mens en as Christen. Soos Moses, moet hy God se weë ken, nie net sy dade, soos die volk nie.
Sy roeping is immers om 'n presbuteros in die gemeente te wees – 'n ervare dissipel van die Here Jesus wat die Groot Landbouer se snoeisker proefondervindelik ken, en deur dorings in die vlees tot nederigheid en gebrokenheid voor die Opperherder gevorm is.
+ Vyfdens gaan dit oor sy ambisies – oor sy gerigtheid. Dit gaan oor waarheen hy die gemeente wil lei – noem dit sy visie as jy wil.
Baie uitdruklik moet julle heldere en sékere klarigheid hieroor kry! Onderskat dit nie! Lewensbelangrik is dit in hierdie dae om duidelikheid híéroor te hê:
Soek hy getrouheid aan Christus en sy Woord?
óf
Soek hy gewildheid en "sukses"?
# Kom ons keer 'n oomblik terug na God se voorskrifte vir 'n koning in Deut 17:14-20.
+ Hoe lyk sy en sy vrou se materiële lewenstyl? Dit sober en verantwoordelik?
+ Sal hy in nederigheid en diensbaarheid die gemeente dien en lei?
+ Wat getuig sy en sy vrou se lewe oor hulle morele beginsels?
+ Blyk sy godsdiensige liefdestoewyding aan, en ontsag vir die enige ware God onmiskenbaar duidelik in sy predidiking en lewe? Rus die vrese van die Here op hom?
Ten slotte
Mens sou diegene wat in vandag se kerklike wêreld gemeentes lei, in 3 kategorieë kan indeel – baie soos wat ons in Israel se eerste konings sien.
# Daar is Sauls – swakkelinge vir wie dit ten diepste oor Saul gaan.
# Daar is Dawids – minnaars van God, wat duidelik blyk uit hulle lewens en prediking.
# Daar is Salomo's – dinamiese manne wat dinge gedoen kry, maar wat in God se allertoets nie die paal haal nie.
En onthou, húlle bediening is algaande die oorsaak is van tragiese gevolge vir die kudde wat hom volg.
My bede vir julle, broers en susters is dit:
Mag die Here vir julle 'n "Dawid" voorsien!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev