Preekopname: https://tinyurl.com/4xs234hk
Die gelykenis van die tuin
# 'n Sekere Anthony Flew het 'n storie geskryf om die mens se dilemma te beskryf as hy oor God dink en bespiegel. Wat hier volg is 'n variasie op Flew se tema:
Twee ontdekkingsreisigers trek deur 'n digte oerwoud. Dag na dag beur hulle voort, tree vir tree. Die bos is so dig en die rankers so verstrengelend dat hulle met hul kapmesse party dae beswaarlik 'n honderd tree vorder.
Op 'n dag sien hulle lig voor hulle deur die bosse breek. Met hernude ywer kap hulle 'n pad oop en voor hulle hul kan kry, staan hulle in 'n groot, skoongemaakte vierkant, omtrent so groot soos 'n tennisbaan. Merkwaardigste van alles is die tuin self, wat amper van boswand tot boswand strek. Elke denkbare groentesoort is in snaarreguit rye in dosyne onkruidlose akkers geplant. Tussen die afgewerkte akkerwalletjies is 'n ruitpatroon van meter-breë paadjies, bestraat met spierwit, ronde rivierklippe. En buite om die tuin, oortrek met tropiese blomme, is 'n pynlik netjies gesnoeide heining soos 'n raam om 'n skildery.
Die reisigers het weke laas 'n mens gesien, en opgewonde slaan hulle kamp op om vir die tuinier te wag – want niemand is in sig nie.
Na vier dae se gewag is hulle moedeloos. Niemand daag op nie. Die een man wil verder trek, maar die ander een protesteer. Hulle wag nog 'n paar dae. Dan wil die haastige een nie 'n dag langer bly nie. Maar 'n gedagte tref die tweede een. Sê nou die tuinier is onsigbaar! Hulle span dus vislyn op enkelhoogte reg rondom die tuin – met die twee punte stewig aan elke reisiger se groottoon vas. So gaan hulle die aand inkruip. Sluip die onsigbare tuinier skelm in om te kom werk, gaan hulle hom nou vir seker uitvang. Maar 'n nag gaan verby sonder dat enigiets gebeur. En toe nog een, en nog een.
Nou is daar geen keer aan die haastige kêrel nie. Sy vriend brand egter van nuuskierigheid. Hy móét eenvoudig hierdie netjiese tuinier ontmoet. En dan besef hy wat aan die gang is. Die tuinier is nie net onsigbaar nie – hy is ook materieloos! Dis hoekom hulle hom nie gevang kry nie.
Maar toe kom sy mede-reisiger met 'n skaakmat-skuif: Wat is die verskil tussen 'n onsigbare en materielose tuinier en geen tuinier nie?
# Dis natuurlik nie regtig so 'n skaakmat-vraag nie. Wat is dan die verskil?
Die tuin is die verskil!
Ja, God is onsigbaar en materieloos – hy is gees. Maar wie kan die orde en planmatigheid en skoonheid van Sy skepping misken?
As sodanig sit daar niks irrasioneel of onredelik in die idee van 'n onsigbare en materielose Skepper nie.
'n Netjiese oerwoud-tuin
vereis noodwendig 'n intelligente en toegewyde tuinier
Dis logies onontkombaar
Die wese van God
# As ons die vraag vra, "Wie of hoe is God?", kan ons poog om Hom te beskryf aan die hand van die attribute wat Hy oor Homself aan ons geopenbaar het. Maar die vraag, "Wat is God?", is veel moeiliker om te antwoord.
Die Skrif maak 4 stellings oor God wat in hierdie verband kan help.
+ "God is gees" (Joh 4:24).
+ "God is 'n verterende vuur" (Heb 12:29).
+ "God is lig" (1Joh 1:5).
+ "God is liefde" (1Joh 4:8, 16).
# Die eerste van hierdie uitsprake is 'n metafisiese uitspraak oor God, terwyl die ander drie etiese stellings is.
Dit het die opstellers van die Westminster Belydenis en kategismusse die vraag na die wese van God dus só laat beantwoord: "God is 'n gees – oneindig, ewig en onveranderlik in Sy wese ..." ('n deel van die Westminster Shorter Catechism se antwoord 4). Oor hierdie antwoord het die befaamde teoloog, Charles Hodge, gesê: "dis waarskynlik die beste buite-Bybelse definisie van God wat ooit deur die mens geformuleer is."
Ook die 1689 Baptiste Belydenis (h.2, §1) sinspeel hierop. In die hele komplekse paragraaf oor wie God is, is die hoofgedagte, "Hy is suiwer gees", terwyl al die ander kwalifikasies byvoeglike naamwoorde of frases is wat Hom as gees omskryf.
Daarom kyk ons nou na die feit dat God gees is. Dit is, naas Sy Drie-enigheid, die absolute fondasie van die Bybelse konsep oor God. Wie God nie as gees wil aanvaar en aanbid nie, vorder nie 'n halftree in sy geloof en Godskennis nie. Hy is trouens gedoem om uiteindelik in 'n woestyn van ongeloof en agnostisisme te verdwaal.
Besinning oor die Bybelse openbaring dat God gees is
Daar ís so iets soos geestelike wesens
# Benewens God is daar ook baie ander identiteite in die heelal waarvan ons kan sê dat hulle wesensaard is dat hulle gees is. Dink maar aan die engele – heilig én gevalle.
Ekself het 'n gees, en as die Here talm om te kom, is ek ook binnekort 'n gees. En, natuurlik, al my dierbares wat reeds heengegaan het, is tans geeste (soos almal wat reeds gesterf het).
God is gees, wat Sy natuur en wese betref
# Ons sou 'n gees só kon omskryf: 'n Gees is 'n materielose (dus liggaamlose) lewende wese met vermoëns, moraliteit en persoonlikheid.
Hierdie 5 karaktertrekke is waar van alle geestelike wesens – ook van God en van die menslike gees.
+ 'n Gees is materieloos. So ook God.
Dit beteken dat ten minste 3 dinge daarvan waar is:
= 'n Gees is nie sintuiglik waarneembaar nie. Dit beteken egter nie dat 'n gees homself nie sintuiglik-waarneembaar kan manifesteer nie. In die Bybel is daar talle gevalle waar dit gebeur het. God het Homself soms in teofanieë vertoon. Engele en Satan het hulleself meermale sigbaar gemanifesteer. Saul het 'n "verskyning" van Samuel beleef, hoewel ons nie met sekerheid kan sê of dit Samuel self was, of bloot 'n demoniese manifestasie nie.
= 'n Gees is onverdeelbaar. Dit het nie ledemate of los dele wat van mekaar geskei kan word nie.
= 'n Gees het nie tipiese liggaamlike behoeftes nie. Dit ken nie honger en dors nie. Dit het nie rus nodig nie, of ander behoeftes wat so eie is aan ons liggaamlike bestaan. Daarom, as die opgestane Here Jesus wil bewys dat Hy nie bloot 'n gees is nie, maar inderdaad liggaamlik opgestaan het, eet Hy iets voor Sy dissipels (Lk 24:41-43).
+ 'n Gees is 'n lewende wese. So ook God.
Jak 2:26 sê: "Want soos die liggaam sonder die gees dood is ..." (OAV). Die lewe sit dus in die gees, nie in die liggaam nie. Die fisiese dood vind plaas as daar 'n skeiding kom tussen liggaam en gees. Dan sterf die liggaam en begin die ontbindingsproses onmiddellik. Dit "keer terug na die aarde." Die gees is egter onsterflik S in die sin dat daar geen sprake van bestaansbeëindiging is nie. By die dood "keer dit terug na God, wat dit gegee het." Die Skrif is duidelik: na die dood hou die mens aan met bewustelike lewe (Lk 20:34-38; Hb 12:23; Op 20:4).
+ 'n Gees het bepaalde vermoëns. So ook God.
= Elke gees het 'n verstand en die vermoë om te dink. 1Kor 2:11 sê "Watter mens ken die verborge dinge van ’n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God."
En Op 12:12 sê Satan het "die wete dat hy min tyd het."
= Elke gees het 'n wil, wat keuses, doel en besluitneming impliseer. Matt 26:41 sê van die menslike gees dat dit "gewillig" is, maar die vlees swak. Vgl. ook Luk 4:6; 1Kor 12:11.
= Elke gees het emosies en 'n gevoel – dinge soos liefde, haat, blydskap, hartseer, woede, tevredenheid, vrede, skaamte, trots, ensovoorts. Spr 18:14 praat van 'n "verslae gees" (OAV), en in haar lofsang sê Maria haar "gees is verheug" (Luk 1:47). Vgl. ook uLk 15:10; Joh 11:33; Ef 4:30; Op 12:12.
+ 'n Gees het moraliteit. So ook God.
Elke gees het die vermoë om te onderskei tussen goed en sleg, reg en verkeerd. In die geval van mense noem ons hierdie fakulteit die gewete.
+ 'n Gees het persoonlikheid. So ook God.
Dit impliseer individualiteit en selfbewussyn. En dit impliseer die vermoë tot gemeenskap en verhoudinge. In Luk 1:19 sê die engel virSagaria: "Ek is Gabriël".
Vgl. ook Luk 9:30; 16:23-31; 2Kor 5:8; Fil 1:23; Op 6:9-10.
Die uniekheid van God
# Terwyl hierbo elke keer gesê is, "So ook God", mag dit ons nie verlei om God bloot in dieselfde kategorie as ander geeste te plaas nie. Hy is per slot van rekening die skepper van alles en almal. Hy is dus ook die oorsprong van elke gees. Dit is Hý wat lewe, onsterflikheid, alle vermoëns en persoonlikheid gee.
Laat ons dus nie 1Tim 6:16 vergeet nie: "Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen."
# Die feit dat Hy alleen onsterflikheid besit, beteken dat elke ander gees sy onsterflikheid van God ontvang het. Dis dus 'n afhanklike onsterflikheid wat in stand gehou moet word. Dis 'n relatiewe, en nie 'n outonome en selfstandige onsterflikheid nie.
En wat hiervan geld, geld ook van elke ander eienskap van alle geeste buiten God.
Nee, al bogenoemde kentrekke van 'n gees is slegs in God selfstandig en onaantasbaar en onafhanklik teenwoordig.
Praktiese implikasies van die feit dat God gees is
Omdat God Gees is, moet ons Hom in gees aanbid (Joh 4:21, 23).
# Die aanbidding wat God vereis moet uit ons gees, ons siel, ons hart kom.[1] Dus moet ons innerlike, materielose wese betrokke wees – nie net ons liggame nie. Trouens, die mate waartoe die liggaam betrokke is, is oënskynlik minder belangrik in Nuwe Testamentiese aanbidding (indien hoegenaamd).
Die kwalifiserende is dus opregtheid; nie blote rituele nie. Dit gaan oor oortuigings; nie oor formalisme nie.
# Ons durf nie die erns en gewigtigheid van die Here Jesus se verwyt geringskat nie.
Luister wat sê Jesus vir die Fariseërs en skrifgeleerdes: "Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan: Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie" (Mark 7:6-7).
Positief stel die Hebreërskrywer dit só in Heb 10:22: "laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water."
Omdat God Gees is, moet ons Hom in waarheid aanbid (Joh 4:22-23).
# Vanuit die konteks is dit duidelik dat Jesus hier sinspeel op aanbidding volgens God se geopenbaarde wil, oftewel Sy Woord. Omdat God Gees is, het ons openbaring nodig oor wat Hom behaag en hoe ons Hom moet vereer.
Vanweë ons liggaamlikheid en dimensionele gebondenheid, en veral vanweë ons gebrokenheid, sal ons eie inisiatief altyd verkeerd lei.
# In hierdie verband is ten minste twee dinge belangrik:
+ Ons moet God aanbid soos Hy beveel het. Presies op hierdie punt het Nadab en Abihu gesondig en met hulle lewens betaal (Lev 10). En op hierdie punt het Dawid gedwaal toe hy die eerste keer die verbondsark gaan haal het – ten koste van Ussa se lewe (2Sam 6; 1Kron 13, 15).
+ Ons moet God aanbid met evangeliewaarheid as inhoud. Die feit dat die Here Jesus in v.22 praat oor die verlossing wat uit die Jode kom, sinspeel onmiskenbaar op Christosentriese, en dus Nuwe Testamentiese waarheid. En watter Christen sal hiervan verskil? Vir elkeen wat ware redding ken, is iets anders as Christosentriese aanbidding ondenkbaar.
As Jesus aanbidding in gees voorskryf
spreek Hy die dwaling van die Jode aan
As Jesus aanbidding in waarheid voorskryf
spreek Hy die dwaling van die heidene aan
><(((*>
Nico van der Walt
T: +27 082 848 9396
E:
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] So 'n vertolking volg vanuit die konteks. "Gees" koppel terug met v.20-21: nie die uiterlike van aanbiddingsplekke nie, maar die innerlikheid van die menslike gees. "Waarheid" koppel terug met v.22: nie die onkunde van die Samaritane, wat net die eerste 5 boeke van die Ou Testament aanvaar het nie, maar die volle waarheid van God se hele openbaring aan die mens.
Die OAV se gebruik van 'n kleinletterjie "g" pas dus beter in die konteks as die NAV se hoofletter, wat kennelik op die Heilige Gees sinspeel.