PDF WEERGAWE

Preekopname:   https://tinyurl.com/dr3ztbt2

 

Inleiding

#          Let op hoe ons hoofstuk aansluit by h.57.

            Daar – in v.1-12 – verwyt die Here die volk oor hulle skreiende verbondsontrou. Daarom sê Hy vir hulle in v.13a: "Wanneer jy om hulp roep, moet jou klomp afgode jou maar red! Hulle almal – die wind sal hulle oplig, 'n luggie sal hulle wegwaai."

            Maar dan gaan Hy in v.13b-21 onmiddellik aan met wonderlike beloftes vir diegene wat by Hom skuil. Hulle, gee Hy die versekering, "sal die land as erfdeel ontvang en my heilige berg in besit neem." Hierdie beloftes het ongetwyfeld Messiaanse ondertone.

#          In H.58 gaan Hy weer in dieselfde trant voort – en die hoofstuk word dan een van die aangrypendste in die hele Ou Testament. Dis 'n dringende boodskap!

            Kyk hoe begin die hoofstuk: "Roep hard uit! Moenie terughou nie! Verhef jou stem soos 'n ramshoring!"

 Die hoofstuk handel oor die vas wat die Here wil hê.

#          Ons gaan egter nou net fokus op Jahweh se voorvereistes voordat die volk se vas hoegenaamd gewig dra by Hom – in die besonder v.6-7, 9b-10a.

            Daarna gaan ons kyk na twee voorbeelde van hoe dit gelyk het in die vroeë kerk, asook hoe dit onder meer tot uitdrukking gekom het in ons huidige tyd.

Die mense was oënskynlik baie godsdienstig, maar hulle vassery was tevergeefs (58:1b-5, oorsigtelik)

#          Om te vas was destyds 'n vorm van rituele rou. Dit is geassosieer met dood van 'n dierbare, bekering en gebed.

            Die Ou Testamentiese seremoniële wet het dit slegs voorgeskryf vir die Dag van Versoening. Maar dis algaande ook uitgeroep in tye van volkskrisis. Vasdae was dus gewigtige en ernstige geleenthede.

#          Maar vasdae het ook gevare ingehou – soos steeds.

            Dit kon baie maklik 'n baie vroom gestalte aanneem, sonder dat die mense se harte daarin was. Dit kon dus misplaas en huigelagtig word. Dit kon dus baie vroom lyk, terwyl dit niks anders is nie as opperste huigelagtigheid – sonder enige sprake van diepgaande bekering. Terwyl dit baie vroom vertoon, en omstaanders baie mag beïndruk, kan presies die teenoorgestelde bereik van wat dit voorgee om na te jaag.

#          Waarom?

            Hier in Jesaja se tyd, gaan nie gepaard met hartsbekering nie. Die volk is behep met finansiële winsbejag, slaan hulle slawe genadeloos met die vuis, en is gedurig aan 't twis.

            Van verootmoediging voor hulle Verbondsgod is daar egter geen sprake nie.

#          Ja, ja, hulle buig hulle hoofde soos biesies, en lê in sak en as – en dink dit sal hulle stem in die hoogte laat hoor.

            Máár dis deur en deur huigelagtig – en daar is min dinge wat die Here meer afstootlik vind as skynheiligheid!

            "Is dit wat julle vas noem?" sê die Here. Sal dit sy goedkeuring wegdra?

            Nóóit nie! Inteendeel!

 

Presies dit is wat die Here in Jes 58 aanspreek! (v.2-5).

Hoe lyk die vas wat die Here wél wil hê? (v.6vv)

Verse 6-7

 

#          In 'n neutedop: Om van kós te vas is goed en wel. Maar wat die Here eintlik wil hê, is opregte bekering – wat beteken om weg te draai van sonde af, en heen te draai na dit wat God wil hê.

            Vanaf v.6 word in meer besonderhede hierop ingegaan – hoe die vas wat Hy vereis prákties tot uitdrukking kom. Dit het veral te doen met godvrugtige medemenslikheid. Daarsonder sal die Here nooit ag slaan op hierdie mense se kamtige vassery nie.

            Let op, die Hebreeus wat gebruik word, laat die klem val op voortgaande handeling.[1]

            +          Negatief benader moet die mense hulle weerhou van alle vorms van gevoellose uitbuiting van die medemens (v.6b).

                        =          Die uitdrukking, "boeie ... losmaak" sinspeel bes moontlik op die vrystelling van slawe. Die Here het voorgeskryf dat Israeliete wat nie meer in staat was om hulle skuld te betaal nie, hulle as slawe aan die skuldeiser kon gee as kompensasie. Máár dan moes so 'n slaaf na verloop van ses jaar sonder meer vrygelaat word. Indien dit is waarna hier verwys word, was dit – in elk geval in Jesaja se tyd – klaarblyklik praktyk om hierdie voorskrif te ignoreer.

            Aan hierdie sonde word spesifiek in Jer 34:8-22 verhelderend aandag gegee.

                        =          Die laaste deel van v.6 vereis bekering van alle onregverdige gedrag teenoor, en uitbuiting van die naaste – dus teen alle diskriminasie en onderdrukking

            Die beeld wat die Hebreeus gebruik, praat van 'n juk op 'n trekdier, en spesifiek van die uitspan daarvan om te rus.

            Die Afrikaans, "stukkend ruk", is in die kol. Die oorspronklik taal dra die idee van totale vernietiging – hier, uiteraard, van alle onderdrukking. Dit moet summier, en met beslistheid vir altyd gestaak word.

            Om te vas, terwyl vergeet word van híérdie vereistes van God, is tevergeefs.

            +          Positief benader moet die mense selflose barmhartigheid betoon teenoor alle mense wat swaarkry en in ellende verkeer (v.7).

                        =          Die eerste frase praat van die deel van jou kos met diegene wat nie het nie – hulle wat magteloos is om dit gereeld op die tafel te hê.

            Nog meer, aan hawelose volksgenote moet onderdak gegee word.

            En nóg meer, jou klere moet gedeel word met diegene in vodde (let op, nie verkoop word aan hulle nie!).

Verse 9b-10a

#          Nogeens word dit beklemtoon, die voorwaarde is en bly gehoorsaamheid aan die vas wat die Here wil hê, soos in v.6-7 onderstreep: díé van liefdesempatie teenoor alle mense, maar veral mense in nood. Soos dáár, word ook hier van 'n "juk" gepraat word).

            Die vereistes word net in ander woorde, en in 'n omgekeerde orde in v.10a genoem.

#          In v.9b word egter twee voorwaardes bygevoeg, as deel van die vas wat die Here vereis.

            +          "Vingerwysery". Die betrokke twee Hebreeuse woorde word nie elders in die Ou Testament só saam gebruik nie. Maar die vertaling is 'n presiese weergawe van die teks. Dit dra die implikasie van 'n kwaadwillige beskuldiging; van moeilikheidmakery; van twisgierigheid; van bakleierigheid.

            Duidelik is dit lynreg strydig met die naasteliefde en respek wat dwarsdeur die Woord so oor en oor vereis word.

            +          "Verderflike gepraat", oftewel kwaadpratery en skindery, is nou-verwant aan bogenoemde. Ook oor God se totale veroordeling hiervan swyg die Woord hoegenaamd nie.

Die ander verse van hierdie gedeelte

Verse 8-9a en 10b-12 van ons teksgedeelte word in die aangrypendste beeldspraak gewy aan die Here se verbondsgetrouheid en kompensasies vir diegene vas soos hierbo bespreek is. Sonder twyfel is dit tot vandag van toepassing.

            Daaraan kan ons, as die Here wil, by 'n volgende geleentheid aandag gee.

Twee voorbeelde van "die ware vas" in ná-Bybelse tye – een in die vroeë kerk; die ander in die hedendaagse kerk.

1.         Christenfilosoof, Aristides, in 125nC oor die Christene van destyds

Hulle lewe in nederigheid en vriendelikheid. Onder hulle vind jy nie huigelagtigheid nie. En hulle het mekaar lief. Hulle sien nie neer op weduwees en weeskinders nie. Wat hulle het, deel hulle ruimskoots met diegene wat nie het nie.

            As hulle 'n vreemdeling sien, gee hulle hom of haar onderdak – des te meer met blydskap as dit 'n medebroer of -suster is. Hulle noem mekaar broer en suster.

            Wanneer een van die armes onder hulle sterf, sorg hulle vir 'n waardige begrafnis.

            As hulle verneem dat een van hulle in die tronk gegooi is, of onderdruk word oor die naam van hulle Messias, sien hulle gesamentlik om na al die nodige behoeftes. Hulle probeer ook om so 'n persoon se vrylating te bewerkstellig.

            Sou hulle nie genoeg geld hê om 'n mede-gelowigemte help nie, vas hulle twee of drie keer per week om hulle eie lewenskoste in te perk, om sodoende in die behoefte te voorsien." [2]

2. Die getuienis van Sir John William Laing (1879-1978)

 

Sir John William Laing was 'n Britse entrepreneur in die boubedryf. Hy was betrokke by van die grootste bouprojekte in Engeland. Dit sluit kragstasies, lughawens en groot geboue in. Uitstaande was van die grootste en mees bekende snelweë in die land. Maar die kroon op sy loopbaan het gekom toe hy 77 jaar oud was. Sy maatskappy is aangestel om die bekende Coventry Cathedral te herbou – nadat dit tydens die Tweede Wêreldoorlog  platgeskiet is. Dit was die eerste katedraal wat in 300 jaar in Engeland gebou is. Uiteraard was dit 'n groot eer, en dit het dan ook daartoe gelei dat hy in 1959 op 79-jarige ouderdom tot ridder geslaan is.

            Toe Laing op 98 jarige ouderdom oorlede is, was sy maatskappy multimiljoene werd. En onder leiding van sy drie seuns het dit net verder tot 'n internasionale reus gegroei, met betrokkenheid selfs in Suid-Afrika.

            Maar dit was nie ál wat waar was van John Laing nie – selfs nie die belangrikste nie (wat hy sekerlik self geglo het).

            Toe hy 30 was (1909), was sy maatskappy op die rand van bankrotskap. Moedeloos, nadat hy alles probeer het om die kastaiïngs uit die vuur te krap – maar tevergeefs – het hy uiteinderlik uit radeloosheid sy lewe en sy krisis ongekwalifiseerd aan Christus toevertrou. Tot op daardie stadium het hy homself weliswaar as Christen beskou, maar nóú het daar 'n totaal nuwe dimensie deurgebreek: 'n Totale, ongekwalifiseerde en lewenslange toevertrou van sy lewe en ewigheid aan Jesus Christus.

            Hy het gevolglik besluit om 'n "Programme of Life" op Skrif te stel (die vel papier het hy tot aan die einde van sy lewe soos 'n kleinood bewaar). Sentraal in hierdie – noem dit maar verbondsonderneming – was sy onderneming om hom onvoorwaardelik, en vir die res van sy lewe aan Christus se koningskap – volgens die voorskrifte van die Woord – te onderwerp. Daaraan het hy hom enduit tot en met sy heengaan kompromieloos gehou.

            Dit het onder meer meegebring dat hy ook onderneem het om in wysheid soveel as moontlik van sy winste weg te gee en 'n sober lenstyl te handhaaf.

            Oor die volgende dekades het Laing algaande een van die leiers in die Britse siviele-kontrakteursveld geword. Maar hy het homself nooit as die eienaar van sy maatskappy gesien nie. Nee, hy was bloot die bestuurder van sy Hemelse Vader se besigheid. Voorop in sy gemoed was altyd die gelykenisse van die muntstukke (Matt 25:14vv), en van die waaksame slaaf (Luk 12:35vv).

            En inderdaad het 'n dramatiese en blywende ommekeer in sy lewe en besigheid spoedig gevolg. En wat sy oorspronklike geloofstoewyding betref, het hy van die begin af en end-uit voet by stuk gehou.

            Hy was 'n pionier wat betref talle byvoordele vir sy baie groot personeel. In die vroeë dekades van die twintigste eeue het werkers amper geen arbeisvoorregte geniet nie. Reeds 'n dekade na sy genoemde toewyding aan Christus, het hy dit moontlik gemaak vir werknemers om aandele in die maatskappy te kry. Hy het hulle geleer om spaarrekenings te open, en hy het self beduidende inbetalings daarop gemaak. Hy was 'n pionier wat betaalde vakansies vir werkers betref.

            Bowenal het hy miljoene pond weggegee. Onder meer het hy 40% van sy aandeelhouding aan welsynsorganisasies oorgedra. Dit was hoofsaaklik gerig op Christelike bedieninge en maatskaplike organisasies – amper te veel om op te noem. Onder meer het hy 40% van sy winste aan sending- en welsynsorganisasies gegee. Na voltooing van die Coventry Cathedral het hy al sy wins aan die kerk teruggegee.

            Hy het ruim bydraes gegee vir organisasies soos die Inter-Varsity Fellowship, die London Bible College, Scripture Gift Mission, en die British and Foreign Bible Society (waarvan hy in 1954 op 80-jarige leeftyd die Vise-president geword hetI). Daarby moet genoem word die baie ruim bydraes vir talle sendingorganisasies.

            'n Kostelike storie word oor hom vertel: Op een van Laing se groot bouterreine het hy eendag gesien dat 'n sekere kraandrywer, anders as gewoonlik, baie neerslagtig lyk. Toe hy die man vra wat skort, vertel díé hom dat sy vrou ellendig siek is, maar nogtans na 'n paar kinders moet omsien. Hulle moet immers met vol magies, en netjiese klere betyds by die skool opdaag. En smiddae moet sy, om alles te kroon, een en elkeen van hulle help met skoolwerk.

            "Waar bly jy?", vra Laing hom toe. Die baas is toe daar weg, maar 'n uur of twee later was hy terug. "Jy's nodig by die huis", sê hy toe vir die werker, "Vat 2 weke verlof met volle salaris. En sorg dat jou vrou in die bed bly totdat sy gesond is."

            By die huis gekom, ontdek die kraandrywer boonop toe dat Laing 'n klomp kontant in 'n koevert op die kombuistafel gelos het!

            Daar is talle méér sulke stories.

            Wie sou daaroor kon twyfel dat sy werksmense hulle lewens vir hom sou neerlê – en enorme respek vir sy Christelike geloof gehad het.

            Les bes is daar die baie betekenisvolle en finale bevestiging van die egtheid van sy Christelike belydenis:

Na sy heengaan het Sir John William Laing se persoonlike boedel £371 beloop!

Laaste besinning

#          Wat het in die hedendaagse kerk van só 'n gesindheid en onderlinge liefde geword? Wat sê dit oor die egtheid van soveel "Christene" se Christenskap? Wat 'n aanklag is dit nie teen sóveel gemeentes nie!

 

#          Jy sê, geloof alléén red. Jy is reg. Maar nie geloof wat alléén bly nie! Geloof wat nie tot lewensbeheersende en Godvererende vrug lei nie, is eenvoudig nie reddende geloof nie.

          Hierdie vrug kom op baie maniere tot uitdrukking. Bogenoemde is twéé voorbeelde daarvan.

            Ja, sal party mense sê, maar die vroeë kerk het dit darem oordryf.

            Né? Gaan lees weer Jesus se prediking met 'n oop gemoed. Lees die apostels. Lees Handelinge. Sien jy hoe die vroeë Christene geleef het.

            Het die 3000 wat op die Pinksterdag tot bekering gekom het voor die tyd só geleef. Ek glo nie. Nee, nadat hulle gered is, was hulle onderlinge liefde en uitdeling 'n noodwendige uitvloeisel daarvan.

#          Hierdie is 'n appél van die Skrif en kerkgeskiedenis tot alle gemeentes en álmal wat hulleself Christene noem – maar vir seker tot die rykes.

            Wanneer is iemand ryk? Dis nie 'n maklike vraag om te antwoord nie. Maar kan mens dalk heel eenvoudig dít sê:

Rykes is almal

wat méér het as wat hulle nodig het

vir 'n lewe van eenvoud

binne die omstandighede en roeping waarin die Here hulle geplaas het.

 

#          En wat van dit wat oorbly? Dit lyk my Jesus sê: Gee dit weg!

            Vir wie? Wel, weet jy van behoeftige broers en susters in Christus? Ek is seker daarvan.

            Én ons leef midde-in 'n see van armoede, hongersnood en ellende rondom ons!

#          Té dik vir 'n daalder?

            Goed dan, benader dit só: Wie waarlik in die voetspore van Jesus volg – volgens sy liefdesgebod – vra nie: "Hoeveel moet ek gee?" nie. Hy vra: "Hoeveel kan ek te hou?" Hierdie eenvoudige verstelling; nee, hierdie radikale verstelling, los die vraagstuk van die vorige paragraaf onmiddellik op.

#          Net 'n belangrike laaste kwalifikasie:

            Soos amper altyd loop ons wat hierdie saak betref nogeens op 'n spankoord: Mens kan na beide kante toe aftuimel.

            Volgens die Skrif is twee gevare noodlottig vir elkeen wat homself 'n Christen noem. En daarom moet mens jouself gereeld ondersoek wat dit betref.

Daar is iets soos geloof sonder werke

Daar is iets soos werke sonder geloof

Maar, dink ek, is die grootste gevaar – in elk geval vir díé wat hier lees – waarskynlik eersgenoemde.

Slot

Wanneer laas het jy Jakobus 5:1-6 (NAV) gelees?

 

"En nou julle rykaards,

kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom!

Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word,

julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos 'n vuur.

Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is.

Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle lande afgeoes het.

Dit skreeu ten hemel;

die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom.

Hier op aarde lewe julle in weelde en oordaad; julle smul na hartelus,

en dit terwyl die slagdag reeds daar is.

Julle veroordeel en vermoor die onskuldige en hy bied geen teenstand nie."

 

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Die gebruik van herhaalde infinitiewe.

[2]           Eerste Apologie van Justinus die Martelaar: Roberts & Donaldson, Die Anti-Niceense Vaders