Josef moet die komende Messiaskind 'n baie spesifieke naam gee – in opdrag van God self.
Wat beteken die naam, Jesus? Dis die Latynse vorm van die Griekse Jesous, wat op sy beurt weer die vertaling is van die laat-Hebreeuse vorm, Jeshua. Dit is weer 'n verkorte vorm van die Hebreeus, Jehoshua. En dit beteken, Jahweh is verlossing.
Voorts, die verkorte vorm, wat feitlik vir seker presies die naam is wat Josef vir die Kind moes gee, laat die klem val op die werkwoord, wat dus wil sê: Jahweh sal gewis verlos.
Wie gaan deur hierdie Kind verlos word? Hy gaan Sy volk verlos. Nie almal nie; net Sy volk.
Waarvan gaan Hy hulle verlos? Van hulle sondes – en die gevolge daarvan.
Dis 'n vraag en 'n antwoord wat van groot belang is!
# As ons sê dat die Here Jesus Sy volk verlos, ontstaan die vraag onmiddellik: Wat dan van al die ander mense? Almal is immers nie Sy volk nie.
Die vraag bring ons by die hart van God se genade vir sondaars uit.
Dit het te doen met die essensiële aard van die Seun se sending,
en wat dit presies bewerkstellig het.
Dis nie maar 'n klomp intellektuele spekulasies nie.
Dis teologies en leerstellig van groot belang,
en het as sodanig belangrike teologiese, pastorale en praktiese implikasies.
# Laat ons dit dadelik met dogmatiese stelligheid sê: Ons het mandaat – trouens opdrag – om élke mens op aarde op te roep tot geloof en verlossing.
Die offer wat die tweede persoon van die Goddelike Drie- eenheid gebring het, was so onmeetlik kosbaar, dat dit genoegsaam was vir die redding van alle mense wat ooit geleef het, leef en sal leef.
Hierdie redding word dan inderdaad deur die eeue 'n heerlike werklikheid in die lewens van baie.
Die Latyn stel dit mooi: Dit was "sufficiens" (Eng. "sufficient") vir alle mense, maar word net "efficiens" (Eng. "efficient" in diegene wat glo).
# Tot op hierdie punt stem alle Bybelgelowige Christene saam.
Maar die oomblik as dit kom by die noodwendige en onontkombare volgende vraag, loop die paaie uiteen. Daar sit immers onontkombaar duidelik 'n sekere beperktheid in Christus se versoeningswerk. Net party glo; nie almal word gered nie.
Dis die vraag: As God dan voorsiening gemaak het vir so 'n onuitspreeklike voorreg (Christus se werk is immers genoegsaam), waarom word dit in sovele nie 'n werklikheid nie?
Kry God alleen die eer? Óf deel God en mens die eer?
# Bogenoemde twee vrae is wedersyds uitsluitend. Net één kan waar wees.
+ As jy die omvang, oftewel die reikwydte, van Christus se werk universaliseer, moet jy noodwendig die effektiwiteit daarvan beperk. Sy kruisdood verseker immers nie almal se redding nie – verre daarvandaan.
Dit lei noodwendig tot die konklusie dat redding in die finale analise van die mens afhang. Die mens moet besluit, hy of sy moet die keuse maak – aanvaar of verwerp hy die reddingsaanbod?
In hierdie geval is redding te danke, enersyds aan God (Hy het dit moontlik gemaak), en andersyds aan die mens(hy het die finale besluit gemaak om God se aanbod te aanvaar). Dis dus, in respek gestel, 'n spanpoging.
God en mens deel die eer vir redding.
+ As jy die omvang, oftewel die reikwydte, van Christus se werk beperk, lei dit tot die gevolgtrekking dat die effektiwiteit daarvan onfeilbaar is. Met ander woorde, Christus het nie vir almal versoening gedoen nie. Maar diegene vir wie Hy wél gesterf het, word almal gered, omdat Hy alles gedoen het wat daarvoor nodig was.
God alleen kry die eer.
# Eersgenoemde is die sogenaamde Arminiaanse standpunt ('n sekere Jakob Arminius het dit aan die begin van die 17de eeu geformuleer).
Daarenteen word die tweede standpunt hierbo – wat in reaksie op die Arminianisme deur die Dordtse Sinode van 1618 geformuleer is – deur alle universeel-gerespekteerde belydenisskrifte uitgespel word.
# C.H. Spurgeon het 'n kostelik beeld gebruik: Stel jou voor dat Christus 'n brug oor die kloof tussen die dood en die lewe kom bou het.
Dan is die eerste standpunt se brug wyd genoeg vir die hele wêreld, maar dit loop net halfpad – en die mens moet self die tweede helfte van die pad swem.
Daarenteen is die Bybelse brug weliswaar baie smaller, maar dit loop ál die pad!
Terug na die Woord toe!
# Wat die Woord leer, is uiteindelik ál wat saak maak.
Jesus verlos Sy volk, sê ons teks. Maar wie is dan hierdie volk?
# Talle Nuwe Testamentiese uitsprake dui onmiskenbaar daarop dat Christus gekom het om 'n bepaalde groep mense te verlos. Hulle is deur die Vader aan Hom toevertrou. Hy moes alles kom doen wat nodig was vir hulle redding.
+ Die evangelie van Johannes praat oor en oor van die mense wat deur die Vader vir die Seun gegee is, en gevolglik Sy kudde is. Luister na Joh 17:6: "Ek het U naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam." (Joh 6:37,39; 10:26-29; 17:2, 6, 9, 24).
Let ook op dat Jesus uitdruklik in Joh 17:9 sê dat Hy nie vir die wêreld bid nie. En sal Hy Sy lewe aflê vir mense vir wie Hy nie bereid is om te bid nie?
Duidelik impliseer dit beperkte omvang, maar onfeilbare effektiwiteit.
Let op dat Jesus nie sê dat die res van die mense nie Sy skape is – omdat hulle nie glo nie.
Nee, Hy sê, hulle glo nie – omdat hulle nie Sy skape is nie.
+ Dikwels gebruik die Skrif doelsinne om te sê dat Christus gekom het om iets baie spesifiek te doen – dat Hy nie net gekom het om redding moontlik te maak nie, maar om dit inderdaad te bewerkstellig.
Neem byvoorbeeld die stelling dat Hy gekom het om ons te verlos. Neem byvoorbeeld Op 5:9: "Toe sing hulle 'n nuwe lied: 'U is waardig om die boekrol te neem en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie.' " (vgl. ook Gal 1:3-4 3:13; Kol 1:13-14; Tit 2:14; Heb 9:12).
Hy het nie net gekom om ons verlosbaar te maak nie! Nee, Hy het ons gekoop – soos 'n slaaf op 'n antieke slawemark losgekoop is – deur met Sy eie bloed te betaal. Ons is Syne. Die Vader het ons vir Hom gegee. Daar is niks uitstaande. Die saak is afgehandel!
Dis die triomfboodskap van die Nuwe Testament!
+ Rom 8:31-39 werp lig op die saak. Wie is die "ons almal" in v.32 vir wie se redding Christus oorgegee is? Dis onmiskenbaar die mense wat in die vorige en volgende verse beskryf word – onmiskenbaar die "uitverkorenes" van verse 28-30 en 33.
Daar is 'n onverbreekbare verband tussen die "uitverkorenes" en Christus se soendood (v.33-34). Hulle kan nie aangekla of veroordeel word nie, omdat Christus nie net vir hulle gesterf en opgewek is nie, maar ook vir hulle intree.
Hy het alles – maar álles – gedoen om hulle redding te verseker. Daarom kan niks hulle van Sy liefde skei nie (v.35-39).
+ Die Skrif leer deurgaans dat diegene vir wie Christus gesterf het, ook sáám met Hom gesterf en opgestaan het tot 'n nuwe lewe (Rom 6:3-11; 2Kor 5:14-15; Ef 2:4-6; Kol 3:3). Allermins kan van alle mense gesê word dat hulle 'n nuwe lewe lei.
Ja, maar wat van ...?
# Daar is twee klasse Skrifuitsprake wat van Christus se versoeningswerk in algemene terme praat – asóf Hy vir alle mense gesterf het.
Verskeie tekste wat oor Sy verlossingswerk handel, bevat die woord "wêreld", bv. Joh 1:9,29; 3:16-17; 4:24; 2Kor 5:19; 1Joh 2:1-2; 4:14.
Ander tekste bevat die woord "almal" (Rom 5:18; 2Kor 5:14- 15; 1Tim 2:4-6; Heb 2:9; 2Pet 3:9).
+ Een rede waarom hierdie begrippe gebruik word, is die vals idee wat voortdurend in Nuwe Testamentiese tye kop uitgesteek het, nl. dat redding net vir die Jode is. Uitdrukkings soos "die wêreld", "alle nasies" ens. is daarom gebruik om hierdie dwaling reg te stel.
Nee, Christus het vir alle soorte, vir almal sonder onderskeid gesterf (Jood én Griek, ryk én arm, belangrik én onbelangrik). Dit beteken egter nie dat Hy vir almal sonder uitsondering gesterf het nie.
+ Soms word die begrip "wêreld" gebruik vir die geskape werklikheid – om te beklemtoon dat Jesus gekom het om die ganse skepping terug te wen.
Die omvang van die begrippe "wêreld" en "almal" moet dus vanuit die konteks bepaal word. Vergelyk bv. Joh 12:19,32; Rom 5:17-19.
+ Meermale is dit ook voor die hand liggend, as die hele konteks gelees word, dat die "almal" vir wie die Here Jesus gekom het, die volle getal van die uitverkorenes is. Vergelyk bv. Heb 2:9. Verse 10- 13 laat geen twyfel nie. Elke keer word daar op 'n onmiskenbare manier na die uitverkorenes verwys.
Slot
# Die Arminiaan betaal duur vir sy aandrang dat die mens finale seggenskap moet hê! Hoe ironies en tragies is die implikasie van sy standpunt nie – dat die mens se grootste sonde, ongeloof, nie deur die Verlosser aangespreek is nie!
Arminianisme verkondig 'n Christus wat so graag almal wou red, maar uiteindelik niemand sonder meer volkome kon red nie. Die bepalende stap berus immers by die mens!
# Bg. is nie onnodige en venynige sarkasme nie. Wat gebeur so dikwels vandag in die wêreld van evangelisasie? Is die Christus wat verkondig word, nie dikwels hoed-in-die-hand nie? Pleit Hy nie by sondaars om Hom tog asseblief aan te neem nie?
En wat van die die verkoopsman-tegnieke, wat die evangelie afwater? Die sondaar se arm móét immers ver genoeg gedraai word, sodat hy asseblieftog net die Here aanneem!
# As die Skrif die versoeningswerk van Christus tot die uitverkorenes beperk, verseker dit ons juis van die onfeilbare effektiwiteit daarvan. Christus het nie net die redding van alle sondaars kom moontlik maak nie – sonder om die redding van selfs een te verseker nie. Nee, Hy het die redding van dermiljoene kom verseker.
Watter Christen met geloofsekerheid,
sal so 'n heerlike waarheid
verruil vir 'n halfgebakte, mensgesentreerde "halwe brug"?
# In Engels word daar soms na die Bybelse standpunt oor hierdie saak verwys as "Limited Atonement".
Dis 'n ongelukkige benaming. Die Bybel wil immers nie die beperktheid van Christus se werk beklemtoon nie, maar die effektiwiteit en volkomenheid daarvan.
Daarom is 'n beter benaming "Particular Redemption", of in Afrikaans: "Toegespitse – of nog beter – "Volkome Versoening".
# Kom ons verlustig ons in die volkome werk van Christus. Alles wat nodig is om my redding te verseker, is afgehandel en onbeweeglik in plek. Christus het vir elkeen van my sondes betaal. Geen straf bly oor nie. Hoe sal 'n regverdige God 'n sonde dan dubbeld straf – eers aan Christus, dan aan my?
Dis soos Toplady sing: "Payment God cannot twice demand; first at my bleeding Saviour's hand, and then again at mine."
Prys die Here!
Ons Verlosser het nie halwe werk gedoen nie!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev