Preekopname: https://tinyurl.com/3ckvyy69
Die sesde seël: Finale oordeel oor die ongelowige wêreld (v.12-17)
In Op 6 lees ons van die eerste 6 van die 7 seëls wat die Lam in die boek oopmaak. Ons gaan nie na die eersyte kyk nie, maar vinnig fokus op die ses verse wat oor seël nommer 6 handel
Die oomblik waarop alles afstuur: Wat 'n moment!
# Hier word die gordyn effens oopgetrek vir die siele wat in v.10 meer wil weet oor die afloop van hierdie ou wêreld se geskiedenis. Maar wat hulle eintlik wil weet, bly steeds verskuild vir ons – naamlik die "wanneer" van die Here sy oordele oor die sondige mensheid. Tot vandag toe is die vraag onbeantwoord. Dis ’n geheim wat opgesluit sal bly tot op die dag wanneer dit gebeur.
Wat wel waar is, is dat die Bybel sê dat sekere dinge éérs moet en sal gebeur, voordat daardie dag kom. En onderskeidende gelowiges sal die tekens kan raaksien soos en wanneer dit nog is. Maar hieroor kan ons nie nou praat nie – dis nie ons tema nie.
# Sonder twyfel het ons hier 'n beskrywing van die laaste en finale oordeel.
Hier op áárde het al die broers en susters so te sê hulle onderskeie wenpale bereik (v.11). Elkeen se storie is absoluut uniek. Elkeen, van dwarsoor die aarde, het sy of haar eie wedloop afgelê. En tog is daar ook sonder uitsondering die gemeenskaplike: Die Here Jesus Christus was elkeen se openbarende Profeet, én volmaakte Priester, en gesagvolle Koning.
# Ook het die einde van die ou gevalle skepping uiteindelik na al die eeue sedert die sondeval aangebreek. Dis die finale einde van die laaste dae; dis die heel laaste stuiptrekkings van hierdie gevalle wêreld.
Die wederkoms van die Here Jesus Christus is nou op hande.
Al wat oorbly is God se finale oordele oor die vervolgers van die Here Jesus se dissipels, soos beskryf in die oopbreek van die vyfde seël
– asook die herskepping van die hemel en die aarde.
V.12-14
# Die verskrikking van daardie dag is onbedinkbaar. William Hendriksen praat van, "dread and terror … awe and consternation."
Hierdie dag word aan die hand van twee stukke simbolisme beskryf:
Een, ’n skepping wat totaal ineenstort.
Twee, ’n ongeëwenaard-beangste mensheid.
# Alles begin met "'n groot aardbewing" (v.12). Soos dit met aardbewings gaan, sal dit waarskynlik ook skielik, onverwags en skrikaanjaends kom.
+ Die eerste lesers sou hierdie beeld goed verstaan het. In hulle leeftyd het van die verskriklikste natuurrampe plaasgevind. Die bekendste is die aardbewing wat Pompeii en Herculaneum verwoes het in 62 n.C. 'n Soortgelyke ramp was die uitbarsting van Vesuvius in 79 n.C., wat ook die twee dorpe verswelg het.
+ Van hierdie aardbewing in Op 6:12 word weer gepraat in 16:17-18, waar dit baie duidelik saamhang met die laaste oordeel. Ook dáár het die aardbewing katastrofiese gevolge: "... Dit is afgehandel! ... soos wat nog nie plaasgevind het sedert daar mense op aarde was nie – so geweldig was die aardbewing ..."
+ Mens lees meermale in die Ou Testament van soortgelyke aardbewings. Tipies is dit beskrywings van God se oordele oor die nasies (Jes 24:1-6; Eseg 32:6-8; Joel 2:313:15-16; Hab 3:6-11).
Veral dramaties is Jes 34:4v. oor God se oordele oor Edom: "Al die hemelliggame sal wegsmelt, en soos 'n boekrol sal die hemel opgerol word. Al die hemelliggame sal verskrompel soos die blare van 'n wingerdstok verskrompel, soos verskrompelde vrugte aan 'n vyeboom." Duidelik het dit nie letterlik gebeur nie. Dit was apokaliptiese taal om te beklemtoon hoe katastrofies en vernietigend die oordele sou wees.
+ Hoewel hierdie Ou Testamentiese oordeelsprofesieë in die geskiedenis vervul is, was dit terselfdertyd voortwysings na die finale oordeel soos hier in Op 6 beskryf. As sodanig is dit nogeens 'n voorbeeld van die beginsel wat ons al meermale beklemtoon het, naamlik díé van meermalige historiese vervullings wat vooruit wys, en uiteindelik op die laaste dag tot klimaktiese afronding sal kom. Die reeds-nog-nie-beginsel is kardinaal belangrik as mens die profetiese in die Bybel reg wil verstaan.
V.15-17
# Hier word na die finale oordeel verwys as die dag van die "toorn van die Lam" (v.16b-17).
Daardie finale oordeelsdag sal iets verskriklikliks wees. Die mense op aarde sal vreesbevange wees, en op enige denkbare plek probeer wegkruip. Só erg sal hulle angs en paniek wees, dat hulle sal begeer dat die berge en kranse hulle toeval.
+ Let op dat die ongelowiges sal weet wat aan 't gebeur is. Hulle sal weet dis die uiteindelike oordeel "van Hom wat op die troon sit¨ ; naamlik "die toorn van die Lam" (v.16).
# Let in v.15 op hoe dit spesifiek beklemtoon word dat mense vanuit die ganse samelewingspektrum hier beskryf word. Geen kategorie is uitgesluit nie.
+ ’n Versigtige lees van die teks bring mens opnuut onder die indruk van hóé – sou dit aanvaarbaar wees om te praat van "gesofistikeerd"? – die Openbaringboek aanmekaar gesit is.
Hou in gedagte dat die syfer 6, die syfer van die God-vervreemde mens, asook sy woonplek is. Nou is dit betekenisvol dat hierdie sesde seël die finale uitgieting van God se toorn oor hierdie ou wêreld en sy bewoners beskryf. Niks is uitgesluit nie.
= Wat die skepping betref, is daar 6 fokuspunte: Een, ’n aardbewing. Twee, die son word swart. Drie, die maan word bloedrooi. Vier, hemelligame val uit die hemel uit. Vyf, die hemele word opgerol en verdwyn. Ses, berge en eilande word uit hulle staanplekke verskuif (v.12b-14).
= Wat die gevalle mensheid betref, is daar weereens 6 fokuspunte. Ses klasse mense word genoem: Een, konings – die seremoniële staatshoofde. Twee, hoofamptenare – die wat staatshoofde se regering moet implimenteer, Drie, bevelvoerders van verdediging en wet en orde – die wat wet en orde moet handhaaf. Vier, rykes – die wat die handel en ekonomie aan die gang moet hou. Vyf, die invloedrykes – hulle wat beskawing en kultuur in stand moet hou. Ses, die slawe en vry mense – die res, oftewel die al die gewone bevolking, die groot massa, Jan Rap en alleman.
# Noodwendig vra ’n Christengelowige nou: Wat van die Here se bruidsgemeente op daardie dag?
Hulle word nie afgeskeep nie. Inteendeel, ’n hele hoofstuk word aan hulle afgestaan – Op 7. Maar dit sal moet wag vir ’n volgende keer.
Die bruidsgemeente vóór die oopmaak van die sesde seël
# Laat dit goed gevestig wees in ons gemoedere: Wat hierdie sesde seël beskryf, is wat algemeen bekendstaan as – die finale oordeelsdag. Vir volhardende gelowiges sal dit voorafgegaan word deur 'n tyd van intense vreemdelingskap en verdrukking.
# As ek mag, wil ek vir 'n oomblik in die lig van die spektrum van Skrifuitsprake, wonder – spekuleer? – oor daardie voorafgaande tyd (hoe lank dit sal duur, weet ons nie):
+ Sonder twyfel sal elke uitverkorene op 'n besondere manier deur Heilige Gees begenadig word om getrou enduit te volhard.
+ Daar sal waarskynlik steeds begenadigdes tot bekering kom – tot en met die laaste dag, kan ek my indink. En dit mag dalk selfs teen 'n ongekende tempo gebeur (lyding en herlewing loop tipies hand-aan-hand).
+ Volgens Rom 9-11 – eksplisiet in Rom 11:25-32 se geopenbaarde "misterie" – lyk dit asof 'n merkwaardige bekering van baie Jode tot Christus vóór die wederkoms sal plaasvind. Sal dit dalk in hierdie verdrukkingstyd gebeur? Sal hulle dalk instrumenteel wees om 'n groot oes vanuit die nasies in te samel? Die tyd sal leer.
+ Laat ons dus nie neerslagtig wees nie oor 'n nadere tyd van intense vreemdelingskap en swaarkry – en tragiese geloofsafval – wat op ons en/of ons nageslag mag wag. Laat ons met ferm geloofstreë, en selfs opgewonde afwagting die toekoms ingaan. Want die Here Jesus ken een en elkeen wat die Vader vir Hom gegee het. En die Groot Huwelik van alle huwelike wag!
Ten slotte
# Hoe lank alles wat hierdie hoofstuk beskryf sal dúúr, lyk vir my, is nie uitdruklik aan ons geopenbaar nie.
Weliswaar praat v.17 van "die groot dag van … toorn …", maar as mens Openbaring lees, moet jy altyd in gedagte hou dat jy met apokaliptiek te doen het.
In elk geval, tensy duidelik as sodanig uitgespel, dui die begrip "dag" in die Bybel nie noodwendig op ’n tydperk van daglig of 24 uur nie. Dikwels wil dit eerder beklemtoon dat dit ’n deur God vasgestelde tydperk is, met ’n spesifieke begin en einde – ongeag die tydsverloop daarvan.
Petrus sê dit onmiskenbaar duidelik in 2Pet 3:8: "Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos ’n duisend jaar, en ’n duisend jaar soos een dag."
# Wat van 1Kor 15, sal jy vra? Wat van die beklemtoning daar in v.51-52 dat dit alles "binne ’n oomblik, ’n oogwink" sal gebeur.
Kom ons lees die gedeelte. Let goed op na wat daar staan: "Kyk, ek vertel julle ’n misterie: nie almal van ons sal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word by die laaste basuin, binne ’n oomblik, ’n oogwink. ’n Basuin sal weerklink, en die dooies sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word: 'Die dood is verslind in oorwinning. Dood waar is jou oorwinning? Dood waar is jou angel.’ " (v.51-53).
Sien jy dit? 1 Korintiërs 15 het dit nie oor die uitstorting van oordeel oor die gevalle mensheid en die vergaan van die wêreld nie. Dit gaan spesifiek oor die opstanding van die gelowiges en hulle opname om die Here in die lug te ontmoet (1Thess 4:13-18).
# Dit lyk my mens moet dit só verstaan, veral aan die hand van 1Kor 15:42-44 en 1Thess 4:15-18:
+ Met Christus se wederkoms sal die verstorwe liggame van dermiljoene "siele" wat reeds in Christus gesterf het, heel eerste en in heerlikheid opstaan, en saam met die Christene wat steeds op aarde lewe, "opgeneem" word om die "Here in die lug te ontmoet." In hierdie proses sal laasgenoemdes ook hulle verheerlikte liggame ontvang.
+ Dink jou in: By hierdie geleentheid sal die "siele" (van hulle wat reeds salig gesterf het) saam met die Here kom – en vir die eerste keer hulle volmaakte nuwe en ewige liggame sien, en daarmee verenig word!
+ Intussen, in die afwesigheid van die saliges, sal verskriklike oordele op die aarde plaasvind, soos Op 6:12vv dit beskryf.
+ Eers nadat al die angswekkende van Op 6 verby is, sal 'n "nuwe hemel en 'n nuwe aarde" (Op 21:1) as ewige woonplek vir die "nuwe egpaar" (in respek gestel) verskyn. Gaan ek té ver as ek dink dat hierdie wonderlike nuwe tuiste as 't ware 'n bruidskat van die Vader aan hulle sal wees?
Dan sal die huweliksluiting tussen die Bruidegom en sy uitverkore en duurgekoopte bruid vanuit die eeuelange geskiedenis van die gevalle wêreld plaasvind – en sal hulle vir die eerste keer weer ná daardie veelbewoë nag voor die kruisiging, die verbondsmaal sáám nuttig (Mark 14:25; Luk 22:15-16).
Wat ’n gebeurtenis!
Onomkeerbaar!
Vir ewig en ewig en ewig!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev