PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/5akctftt  (insl. voorafgaande getuienis van my)

Daar is iets wat ek algemeen teëkom in die liggaam van Christus en wat my toenemend pla. Sóveel mense, selfs baie wat werklik ernstig is oor hulle Christenskap, het oënskynlik 'n mindere verering vir, en belewing van die Here Jesus Christus se verheerlikte majesteit as wat die Nuwe Testamentiese openbaring vir ons voorhou – noem dit maar 'n mindere estimasie. Mens hoor dit aan hoe mense oor Hom praat, en aan hoe hulle bid (hulle lewenswyse daar gelaat!).

            Dis asof sovele in hulle belewing van, en verhouding met Hom nie veel verder kom nie as dat Hy die wonderlike Man van Nasaret is. En dan praat ek nie eers van die bleek en verwyfde Jesus waarby dermiljoene "Christene" vassteek nie.

            Natuurlik is die menswording van God die Seun die mees merkwaardige gebeurtenis van alle tye. Natuurlik moes Hy mens word as kulminering van God se selfopenbaring aan ons. Natuurlik moes Hy as volkome mens ons Middelaar word. Natuurlik kry ons nooit klaar met die man, Jesus van Nasaret nie.

            Maar dit was Sy staat van vernedering – 'n skamele drie-en-'n-half dekades lank!

Nee! Nee!

Sedert Sy hemelvaart is Hy verhoog enverheerlik tot in die hoogste hemel

al vir 2000 jaar

en tot in alle ewigheid

Die Nuwe Testamentiese openbaring oor Jesus Christus is dimensies ryker, grootser, diepsinniger – oneindig meer verhewe as "die Man van Nasaret". Dit was in sy tydelike staat van vernedering.

            Die apostels en vroeë kerk sou verstom gestaan het oor die oppervlakkigheid van sovele hedendaagse beskouinge oor Christus. Hulle sou dit met verontwaardiging as skreiend-onvoldoende en -onterend bejeen het. Hulle sou, trouens, ernstige bedenkings gekoester het oor die redding van iemand wie se Christus-belewing só afgewater is.

Aan die regterhand van die Vader

#          Weer en weer lees ons in die Nuwe Testament dat die Here Jesus sedert Sy hemelvaart "aan die regterhand van die Vader sit".

            Veral die Hebreërbrief onderstreep dit – vyf maal (1:3; 1:13; 8:1; 10:12-13; 12:2). Die apostel Paulus sê dit drie keer (Rom 8:34; Ef 1:20; Kol 3:1). En elders kry ons dit nog drie keer (Mark 16:19; 1Pet 3:22; Op 3:21).

            Wat wil die Nuwe Testament so herhaaldelik met hierdie uitdrukking op ons harte druk?

            Tot vandag toe is dít waar die persoon sit wat uitvoerende volmag in 'n regering het – aan die regterkant van die seremoniële gesagsfiguur. Só sit 'n universiteitsrektor (ook genoem die Visekanselier) op 'n formele foto altyd regs van die die Kansellier.

            En 'n Eerste Minister, wat die sweep klap, sit regs van die seremoniële Koning.

            Dat Christus in die hemel sit, gaan dus nie oor rus en passiwiteit nie. Inteendeel, dit gaan oor gesag en aktiewe regering!

#          Hierdie stuk of tien uitsprake in die Nuwe Testament het hulle oorsprong in Ps 110:1. Die psalm sing oor die komende Messias, spesifiek as Priester (4) en Koning (1-3; 5-7). En presies dit is waarmee die Here Jesus tans besig is.

            As Groot en Finale Koning heers Hy enersyds oor Sy gemeente en die koms van Sy koninkryk; en andersyds is Hy besig om Sy vyande te onderwerp.

            As Groot en Finale Priester in die priesterorde van Melgisedek (vgl. Ps 110:4) tree Hy by die Vader in vir diegene wat aan Hom toevertrou is.

            Uiteraard is Hy ook steeds die Groot en Finale Profeet – wat deur sy Gees en Woord sy gemeente vanuit die nasies roep, en dan opbou in die allerheiligste geloof, en deurvat tot die einde toe.

Lofsange oor Christus se heerlikheid

Dit word algemeen aanvaar dat die Nuwe Testament etlike kernagtige geloofsbelydenisse en lofsange van die vroeë kerk bevat. Luister na twee voorbeelde hiervan en kom onder die indruk van hulle verhewe Christusbeskouing (dalk was Paulus nie die oorspronklike skrywer hiervan nie; bes moontlik het hy bloot algemeen-bekende lofsange aangehaal):

#          Fillippense 2:6-11 (2020): "Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van 'n mens verskyn het, het Hy Homself verneder,  deurdat Hy gehoorsaam  geword het tot die dood toe, ja, die dood aand die kruis. Daarom het God Hom  ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus  elke knie sal buig – van diegene in die hemel  en op die aarde  en onder die aarde – en elke tonge sal bely, 'Jesus Christus is die Here!'  tot eer van God die Vader."

#          Kolossense 1:15-20 (2020): "Die Seun is die beeld  van die onsigbare God, die Eersgeborene  oor die hele skepping; want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde,  die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. Hy het voor alles bestaan, en in Hom hou alles stand. Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk. Hy is die oorsprong, die Eersgeborene uit die dood, sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem; want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis."

Christus is waarlik en volwaardig God

Meer as een maal sê die Nuwe Testament uitdruklik dat die Seun waarlik en volwaardig God is.

            Dink aan die inleiding tot Johannes se evangelie: "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God ... die Woord het mens geword en onder ons kom woon" (Joh1:1,14).

            Romeine 9:5 sê van Christus: "Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig!"

            Titus 2:13 noem Hom ons grote God en Verlosser.

            Hebreërs 1:8 maak die Messiaanse Psalm 45 op Hom van toepassing: "U troon, o God, staan vir ewig vas ..."

'n Verbysterende uitspraak

#          Een van die merkwaardigste uitsprake in die Nuwe Testament is ons teks, Kol 2:9: "Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik" (2020).

            In die vorige vers waarsku Paulus sy lesers om nie toe te laat dat dwaalleraars hulle mislei met bloot menslike tradisies, filosofieë en allerlei godsdienstige voorskrifte wat nie op Christus berus nie. Die rede is dat ons in Hom eenvoudig alles, maar alles het wat ons ooit mag nodig hê – vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid.

            Die verbysterende stellings wat die apostel hier maak, geld van Jesus Christus, ja, van Hóm spesifiek, en net van Hom. Ek wys op 4 perspektiewe wat die Griekse teks na vore bring:

            +          Een, hierdie aksent word bewerkstellig deurdat die woorde "in Hom" reg aan die begin van die sin geplaas word – wat doe posisie van beklemtoning is.

            +          Twee, die woord "volheid" dui op algehele volledigheid, op die som-totaal van iets. Om dit nóg sterker te beklemtoon, kwalifiseer Paulus dit met "hele" – dus ál die volheid van God, nie net 'n gedeelte daarvan nie.

            +          Drie, die apostel praat van al die volheid "van die Godheid". Hy gebruik die abstrakte selfstandige naamwoord, wat dui op die wese, op die essensie van God. Hy maak dus die geweldige stelling dat die totaliteit van dit wat God is in Christus woon.

            +          Vier, hierdie is 'n permanente toestand; trouens, dis vir ewig die geval. Afgesien daarvan dat die teenwoordige tyd gebruik word, word die werkwoord, om te woon, versterk met 'n bepaalde voorvoegsel (Gr. kata) wat die permanensie van hierdie inwoning beklemtoon.

#          Dalk is die mees verstommende wat in hierdie vers gesê word die feit dat die volheid van die Godheid vir altyd "liggaamlik" in Christus woon. Hierdie bywoord sinspeel op God die Seun se vleeswording.

            Wat hier gesê word geld van die mens Christus Jesus. Dit gaan inderdaad ons verstand te bowe. Tog sê dit minstens vier dinge.

            +          Een, Jesus Christus se twee nature, die goddelike en die menslike, is volmaak geïntegreerd in net één Persoon.

            +          Twee, tot in alle ewigheid sal die Here Jesus óók volkome mens bly. Voor Sy vleeswording was Hy nie mens nie; hierdie natuur het Hy bygekry toe Hy uit die maagd gebore is.

            +          Drie, alles wat in hierdie vers gesê word het reeds gegeld van die Here Jesus in Sy vernederde staat. Hoeveel te meer is dit nie nóú van Hom waar sedert Hy verheerlik is nie!

            +          Vier, Hy is ál ons aanbidding waardig – en oneidig meer. Trouens, die dermiljoene mense dwarsdeur die eeue wat die Vader as bruid vir Hom gegee het, se gesamentlike verering sal tot in alle ewigheid nooit volledig laat reg geskied aan Sy heerlike majesteit nie. Die ewigheid sal ons aanbidding nie uitput nie!

Geen onbelangrike gevolgtrekking nie

#          Ja, die menswording van God die Seun is oorweldigend, verbysterend, duiselingwekkend. Nooit sal ons daarmee klaarkry nie.

Maar:

Hoewel steeds volkome mens, is Hy nie meer in Sy staat van vernedering nie.

Voor Hom sal een en elkeen

in die hemel

en op die aarde

en onder die aarde

eendag sy of haar knieë buig

en erken:

"Jesus Christus is die Here!"

Onuitspreeklik geseënd is elkeen wat nóú reeds die genade ontvang om Hom te sien vir wie Hy is, en om nóú reeds aanbiddend voor Hom te buig.

            Wanneer die res, en oorgrote meerderheid van die mensheid deur alle eeue op daardie dag heeltemal verslae en oorweldig deur doodsvrees op hulle knieë sak, sal dit vir ewig te laat wees.

#          Maar dadelik terug na die positiewe. Luister na Op 5:11-14: "Toe ek weer kyk, hoor ek die sang van baie engele rondom die troon, en van die lewende wesens en die ouderlinge. Daar was tienduisend maal tienduisende, duisend maal duisende, wat met harde stemme uitroep:  'Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang.” En ek het die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see, en alles wat daarin bestaan – hoor uitroep:  'Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig.' Die vier lewende wesens het ook uitgeroep: 'Amen!' En die ouderlinge het neergeval in aanbidding."

Laat ons daarom Sy Naam met die grootste ontsag op ons lippe neem. Ja, "Jesus" is die naam van Sy vernedering. Maar só is Hy nie meer nie. Nóú is Hy die verheerlikte Here – Jesus – Christus!

#          Hierdie wete was oorheersend in die geloofsbelewing van die vroeë kerk. Dis waarom hulle selde na God die Seun verwys het as bloot "Jesus".

            Die apostel Paulus gebruik hierdie naam byvoorbeeld net 25 keer (en dit is as 'n reël wanneer hy praat van die tyd van Sy vernedering hier op aarde).

            Daarenteen verwys hy na Hom amper 250 keer as "die Here" (ongeveer 100 keer daarvan in kombinasie met Sy eienaam: "die Here Jesus"). En laat ons dit nie miskyk nie: As Joodse skrifgeleerde was die apostel baie bewus daarvan dat die titel "Here" (Gr. Kurios) twee tot drie eeue vantevore deur die Griekse vertalers van die Ou Testament gebruik is om die Godsnaam "JaHWeH" te vertaal – die uitstaande verbonds- en godsnaam in die Ou Testament.

Waarlik, die apostels en die vroeë kerk

en die Nuwe Testament

het nie 'n geringe estimasie van die Here van die here, en Koning van die konings nie!

 

Mag ons spraak en ons gebede

en ons lewens

daarvan getuig dat ons volkome en verwonderd eens is met hulle!

 

HERE JESUS CHRISTUS

ONS AANBID U!

 

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev