Preekopname: https://tinyurl.com/5cw9mvma
Veertien maande het verstryk sedert Esegiël as profeet geroep is (vgl. 1:1-2 en 8:1). Hy is steeds as balling in Babilon. Hy sou trouens al sy profetiese werk daar doen en nooit terugkeer na sy geboorteland nie.
In 'n visioen word Esegiël nou aan sy hare opgetel en in geestesverrukking na Jerusalem weggevoer. Hoofstukke 8-11 word hieraan gewy.
Gruwels in die tempel
In h.8 sien hy vier gruwels in die tempel.
1. Die afgodsbeeld wat toorn veroorsaak (8:3b-6)
Eerstens sien Esegiël in die gesig 'n afgodsbeeld by die ingang van die tempel. Moontlik is hierdie 'n beeld van Asjera, die Kanaänitiese godin van erotiese liefde en vrugbaarheid. Dit hét vantevore gebeur, toe Manasse die Asjerabeeld binne-in die tempel geplaas het (2Kon 21:7; 2Kron 33:7,15).
Dit word gesê dat die beeld "heftige toorn" veroorsaak (8:3,5). Dis dieselfde Hebreeuse woord wat in die tweede gebod gebruik word om te sê dat God 'n jaloerse God is (OAV) – waar dit ook oor afgodery gaan. Die begrip dui nie op iets kleinliks, soos ons dit ken nie. Dit praat van intense emosies en is in die Ou Testament beperk tot God se afsku van afgodery. 'n Nou-verwante woord beskryf 'n man se emosies as hy ontdek dat sy vrou ontrou is.
Gelyktydig hiermee sien Esegiël ook die heerlikheid van die Here (8:4). Maar dan sê die Here vir hom dat súlke gruwels sal maak dat Hy van Sy heiligdom af weggaan (8:6). En inderdaad lees ons dan ook in die volgende hoofstukke hoe God die tempel verlaat.
2. Die gruwelike beeldhouwerke (8:7-13)
Tweedens moet Esegiël 'n gat in een van die tempelmure oopgrawe. Binne is 'n ruimte waar hy talle groteske afbeeldings sien van afskuwelike kruipende goed en afgode. Dis uitgekap in die mure.
Voor hierdie muurpanele aanbid 70 van Israel se leiers. Onder hulle is 'n sekere Jaäsanja.
Wat Esegiël sien, is nie letterlik waar nie. Dis simbolies van die afgodery waarmee Juda se leiers in die geheim besig is – onder die indruk dat niemand dit weet nie, ook nie die Here nie (8:12).
3. Vrouens wat oor Tammus huil (8:14-15)
Derdens wys die Here vir Esegiël 'n groep vrouens wat oor Tammus huil – die Summeries-Babeloniese god van plante. Daar is elke herfs gerou oor sy dood, en elke lente gejuig oor sy wederopstanding.
4. Aanbidding van die son (8:16)
Vierdens vind die ergste van alles in die binnehof van die tempel plaas. Die profeet sien 25 priesters, want net húlle is daar toegelaat – wat met hulle rue na die allerheiligste toe die son aanbid.
'n Aantal opmerkings
1. Duidelik wil die teks die progressie onderstreep van die tonele wat aan Esegiël gewys word. Elke keer staan daar: "Jy sal nog afskuweliker dinge sien" (6,13,15). Dink mens hieroor na, wonder jy waarin die toenemende tendens sit – want die een stuk afgodery is so erg soos die ander.
Die progressie sit in diegene wat die afgodery pleeg. Eers is dit die volk, dan die politieke leiers, dan die vrouens, en uiteindelik die priesters.
Bestudeer mens die geestelike en morele verval van samelewings, vind jy dat dit tipies in hierdie volgorde plaasvind. Eers is daar geestelike verval onder die mense in die algemeen. Dan raak die leiers korrup. Dan verbrokkel die vrouens se morele ruggraat – hulle wat dinge tot nou toe nog aanmekaar gehou het. En uiteindelik verdwyn die voorbidders, die herders en die predikers – want die Here hou net op om hulle te gee (Ef 4:11).
Oneindig tragies is dit as die ware evangelie stil raak in 'n samelewing, omdat die Here alles oorgegee het aan sonde (Rom 1:24,26,28).
Wonder jy waarvoor om te bid? Mag die Here die verval in ons land omkeer deur wolwe in skaapklere te vervang met godsmanne!
2. Iets wat mens maklik miskyk, maar wat jou aan die hart gryp as jy dit raaksien, is die eienaardige waarneming van Esegiël in vers 11. Waarom word Jaäsanja so spesifiek by die naam genoem?
Hy was lid van 'n prominente familie in Juda. Sy pa, Safan, was staatssekretaris in die godvrugtige koning, Josia, se kabinet (2Kon 22:3vv). En verder was een van sy broers 'n sterk ondersteuner van die Godsprofeet, Jeremia, in Jerusalem (Jer 26:24).
Dit onderstreep 'n uiters pynlike verskynsel wat mens weer en weer kry in tye van afval. Baie godvrugtige families val uitmekaar. Ouers dien die Here, maar hulle kinders draai die rug op Hom. Of een kind leef 'n lewe van heilige toewyding aan die Here, maar sy broer of suster word 'n vyand van die evangelie. En beswaarlik is daar iets wat gelowige dierbares se harte dieper breek as dit!
Dis in sulke tye wat die eise van dissipelskap dieper sny as ooit. Soos die Here Jesus gesê het in Matt 10:34-38: "Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees. Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie."
3. Ons sien hier vier tipiese uitdrukkings van afgodery.
3.1 Aanbidding van Asjera het gepaard gegaan met tempelprostitusie. Die filosofie agter hierdie bisarre praktyk – so algemeen in die antieke wêreld – was dít: die seksdaad sou simbolies wees van vrugbaarheid en voortplanting. Só wou die heidene dan hulle gode stimuleer en opwek om lewe en oorvloed vir die aanbidders hier op aarde te gee.
Dit beteken nie dat hierdie praktyke noodwendig in Jerusalem se tempel gepleeg is nie, maar 'n beeld van Asjera sou wel impliseer dat die volk nie meer vir Jahweh vertrou het om al hulle behoeftes te voorsien nie. En uiteraard is vertroue in enigiets of iemand anders as die ware God, afgodery.
3.2 Die tweede toneel – die muurpanele – beskryf die aanbidding van dit wat God afstootlik en verbode verklaar het. Vir soverre ons behep is met dit wat morsig is in die oë van God, is ons skuldig aan die afgodery wat hier beskryf word. En laat ons onsself nie te vinnig verontskuldig nie. Baie dinge wat algaande in 'n goddelose samelewing as onskuldig beskou word, word spoedig as goddeloos uitgewys in die ontblotende lig van God se Woord.
3.3 In die derde toneel gaan die vrouens se aanbidding op in die bloot aardse – in die geskapene, en nie meer in die Skepper self nie. Natuurlik ontbloot dit baie van die vals godsdienste en die New Age-beweging met sy panteïstiese beheptheid. Maar dit kan ook baie meer subtiel voorkom. Ek is skuldig aan afgodery vir soverre die dinge van hierdie wêreld – op sig self kan dit selfs relatief goeie dinge wees – die Here uit my lewe verdring. Dan praat mens nie eers van die sogenaamde prosperity gospel nie – wat meer ingestel is op wat God materiëel voorsien as in Homself.
Laat ons goed agslaan op hoe fel die Nuwe Testament dit teen wêreldgelykvormigheid het! (Jak 4:4; 1Joh 2:15-17).
3.4 In die aanbidding van die son het die aanbidders die rug op God gedraai. Só is daar baie vandag vir wie dit net om godsdiensbeoefening op sigself gaan. Maar die lewende God ken hulle nie.
4 Keer mens die dinge om wat in hierdie hoofstuk as afgodery beskryf word, gee dit besondere insig in dit wat God hoog ag in 'n lewe van aanbidding. Ten minste vyf dinge sal altyd teenwoordig wees:
4.1 Anders as die sewentig leiers wat voor die groteske muurpanele buig, sal 'n ware aanbidder alles verwerp wat God onrein verklaar het. Fil 4:8 stel dit positief: "Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees - daarop moet julle julle gedagtes rig."
'n Ware aanbidder haat sonde en jaag heiligmaking na!
4.2 Anders as die klomp vrouens wat oor die natuurgod, Tammus huil, sal 'n ware aanbidder die Drie-enige God en Sy eer só enkelhartig liefhê dat die beste wat hierdie wêreld bied altyd tweede viool in sy lewe sal speel.
Hy sal sekerlik nie 'n wettiese askeet wees nie, maar, ewe waar, sal "die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe" (1Joh 2:16, OAV) net nooit hoog genoeg op sy prioriteitslys kom om meer as noodsááklike aandag te geniet nie.
Nee, Kol 3:1-3 is waar van hom of haar: "Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God."
4.3 Anders as die aanbidders van die son in Esegiël se tyd, wat hulle rûe op God gedraai het, sal 'n ware aanbidder elke dimensie van sy lewe onder die Here Jesus se regering stel. Niks sal uitgesluit wees nie. Vir hom sal Kol 3:17 beheersend wees: "En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom."
Ja, die dag van die Here sal die hoogtepunt van die week wees. Maar elke ander dag sal nét so boordevol aanbidding wees – weliswaar op 'n ander manier. Alles sal in die lig van God se Woord beoordeel word – van die mees verhewe tot die mees mundane, van die mees geestelike tot die mees sekulêre.
4.4 Anders as die volk wat hulle heil by die godin van vrugbaarheid soek, sal 'n ware aanbidder sy hemelse Vader vertrou om alles te voorsien wat mag nodig wees om te lewe – of dit nou geestelik, emosioneel, fisies of materiëel van aard is. Hy of sy sal weet, en erns daarmee maak, dat ons gesindheid van afhanklikheid 'n lofoffer aan die Here is, en dat God 'n vreugde daarin het om na Sy kinders om te sien.
4.5 Bowenal sal sulke mense se hele lewe beheers word deur die wete dat God reeds Sy heel grootste Gawe gegee het – Sy Seun, Jesus Christus. En hulle sal weet dat alle ander goeie gawes by hierdie Allergawe inbegrepe is – van 'n snytjie brood, tot die erfenis van die ewige lewe, en alles tussenin.
'n Opsommende slotwoord
'n Hoër roeping as om 'n aanbidder van die lewende God in Christus te wees, is daar nie. Laat dit ons allererns wees. En laat ons gedurig bid dat bogenoemde karaktetrekke altyd ons toewyding aan die Here sal kenmerk.
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev