Preekopname:
Dis die Babeloniese ballingskap. Die Godsvolk is in die ellendigste toestand ooit. Selfs erger as destyds in Egipte. Toe was hulle ten minste bymekaar. Nou is hulle verstrooi.
Esegiël is ook in ballingskap; trouens, hy sou al sy profetiese werk in Babilon verrig. Tot nou toe het hy die een na die ander oordeelsboodskap daar in die vreemde afgelewer. Daar was, in elk geval in beginsel, nog geleentheid vir bekering. Maar nou is dit neusie verby. Volgens die vorige hoofstuk kan niks meer gedoen word om die situasie te red nie. Die verstrooiing van Juda is 'n voldonge feit.
Nou begin 'n nuwe fase in Esegiël se loopbaan. Hy word opnuut geroep as profeet – presies soos destyds toe die Here hom as jong man aangestel het (vgl. Eseg 3:16-27; 33:1-20). Maar nóú gaan hy wonderlike profesieë van hoop en herstel afkondig.
Ons kyk nou na die eerste van hierdie troosprofesieë, die van die goeie herder.
Die ontroue herders (1-10; 17-22)
# Die heersers van die midde-ooste is dikwels herders genoem (Jes 44:28; Jer 2:8; 10:21; 23:1-6; 25:34-38). So is ook Israel se grootste leiers genoem: Moses en Dawid (Jes 63:11; Ps 78:70-72). As jy die heerser was, was jou eerste taak om na die beskerming en welsyn van die volk om te sien.
# Hierin het Israel se herders egter tragies misluk. Hulle het nie ter wille van die kudde geleef nie, maar ter wille van hulleself.
Dit gaan vir hulle net om eiebelang; hulle sorg net vir hulleself (34:2); hulle is gemaksugtig (34:3); en hulle is harteloos (34:4).
# Mens kan dit skaars glo, maar van die ongeveer 4 dosyn konings wat van Saul af tot en met die ballingskap oor die Godsvolk regeer, is net drie deurgaans getrou aan die Here (Dawid, Hiskia en Josia). So 'n halfdosyn het gemengde reputasies. En die res vertrap God se verbond met minagting.
# Te wyte hieraan is die kudde verstrooi, hulpeloos, koersloos (34:5-6). Daarom word die herders skerp deur die Here veroordeel (34:7-10). In 34:17-22 word hulle herinner dat hulle self net skape is, maar hulle is "vet skape" (v.20) wat die ander vertrap. Die Here sal hulle dus oordeel (17; 20; 22).
Die Here sorg self vir Sy kudde (11-16)
# Hoewel die volk onder God se toorn verkeer – verstrooid en bykans vernietig – staan Sy verbond vas. Hy gaan daarom 'n oorblyfsel vir Homself red. In hierdie troosryke gedeelte word die eerste persoon, "Ek", meer as 'n dosyn keer gebruik.
# Die Here self is die volmaakte herder. Hy ken Sy skape. Hy noem hulle "my skape" (34:11,12,15,17,19,22). Destyds het 'n herder sy skape geroep en elkeen persoonlik geken (vgl. ook Joh 10:3; 14-15) – en hulle het agter hom aan geloop. Hy versamel sy verstrooide skape (34:12b,16). Hy los nie 'n verdwaalde nie.
Hy sorg vir Sy skape (34:11-12). Hy laat hulle wei (34:13-14). Hy pas hulle op (34:15a). Hy verbind en genees hulle (34:16). Hy lei Sy skape (34:13a).
Die Groot Herder (23-24)
# Die Here gaan Sy dienaar, Dawid, as groot herder oprig om Sy verstrooide kudde te versamel en te versorg.
Hierdie is 'n onmiskenbare Messiaanse profesie. Dit is immers lank na koning Dawid, die koning in Jerusalem, se dood. Nee, dis 'n voorafskaduing van Hom wat die "Groot Herder van die skape" (Heb 13:20) en die "Herder en Opsiener van ons siele" genoem word (1Pet 2:25). Dis die "Opperherder" wat hier belowe word (1Pet 5:4).
As die Here Jesus eeue later 'n gehawende volk sien, kry Hy hulle innig jammer – omdat hulle soos skape sonder wagter is. Daarom gee Hy hulle kos – Hy leer en genees hulle (Mark 6:30-44 o.m.).
Hy het presies geweet dat Hy as vervulling van die Ou Testamentiese beloftes gekom het. Daarom noem Hy Homself "die goeie herder" (Joh 10:11,14).
En die Jode het presies verstaan dat Hy hierop aanspraak maak. Dis waarom hulle Hom van Godslastering beskuldig het (Joh 10:33).
God se vredesverbond (25-31)
# Esegiël kyk egter baie verder vooruit as Christus se vleeswording. Die Opperherder sal uiteindelik 'n wonderlike bedeling van vrede bring. Só vas staan dit dat God dit 'n "verbónd van vrede" noem (34:25, OAV).
Hier is onmiskenbare eskatologiese trekke. Daar sal vrede en veiligheid wees (v.25,27b,28).
Die Here se seën sal op Sy kudde rus (v.26). Daar sal oorvloed en welvaart wees (v.27a,29). Daar sal geen onderdrukking meer wees nie, maar vryheid (v.28). Sy kudde sal in volmaakte verbondsgemeenskap met Hom leef (v.30-31).
Wat sê dit alles vir ons?
1. Die Here sien middellik om na Sy kudde.
Sonder enige twyfel is die gemeente in die Nuwe Testamentiese bedeling die Here se kudde. En om Sy herderskap – want Hy is die Opperherder – in die gemeente tot uitdrukking te bring, stel Hy onderherders aan (1Pet 5:1-4).
Dit beteken noodwendig dat daar 'n groot verantwoordelikheid op die ouderlinge rus om hulle werk so goed en getrou moontlik te doen. Dit geld alle ouderlinge, maar veral díé wat geroep word om voltyds in hierdie amp te staan – en gewoonlik is hulle voltyds, omdat hulle moet konsentreer op Woordverkondiging.
Nou is ouderlinge gewone mense. Tog is dit so dat 'n gemeente die Here se goeie sorg ontneem word tot die mate wat die ouderlinge te kort skiet. Daarom moet prediking, pastorale versorging, besluitneming en die beskerming van die kudde teen dwaalleraars en hulle leringe, biddend en met alle erns benader word. As mens nadink oor wat regtig op die spel is, wil jy wanhopig uitroep: "Wie is daartoe in staat?"
So gesien, verstaan mens die Here se skrikwekkende oordele oor die selfsugtige, ontroue en traak-my-nie-agtige herders in Eseg 34.
2. Hierdie hoofstuk gee ons die werksopgawe van ouderlinge in 'n gemeente.
Ouderlinge – en veral voltydse lerraars – word dikwels met allerlei beuselagtighede opgesaal. Maar hulle moet leer om hulleself eenogig besig te hou met die enkele opdragte wat die Woord vir hulle voorhou. Enersyds is dit ál wat die Here van hulle verwag; andersyds is dit so veeleisend dat dit alles en meer verg as waartoe 'n gewone sterfling in staat is.
Dis waarom die apostels destyds in Jerusalem helpers laat aanwys het (Hand 6:1-7). Hulle het goed verstaan dat hulle moes besig bly met gebed en bediening van die Woord. Ouderlinge wat ernstig is hieroor, vind dat hulle gereeld dinge wat op hulle aandag aanspraak maak moet aangee na die diakens en die res van die gemeente toe. Só bevry hulle nie net hulself van die dinge wat hulle weerhou van gehoorsaamheid aan hulle roeping nie, hulle stimuleer ook die amp van die gelowige.
Uiteindelik, as mens goed na ons tekshoofstuk kyk, sien jy dat dit wat die res van die Skrif as opdrag aan die herders voorhou, reeds hier teenwoordig is.
Esegiël 34 sê hulle moet die oorblyfsel red en die verstrooides versamel. Wat is dit anders as Paulus se opdrag aan Timoteus om die werk van 'n evangelis te doen (2Tim 4:5)? 'n Gemeente moet dus verstaan dat 'n voltydse herder ook dikwels buite die gemeente besig sal wees – met die uitdra van die Woord. Dit beteken nie dat hy bloot sal probeer om mense by die gemeente te voeg nie. Nee, hy sal homself gee om mense oraloor met die evangelie te bereik en om hulle op te bou, en die Here vertrou om by sy bepaalde gemeente te voeg wie Hy ook al wil. Hierdie uitreiking kan uiteraard 'n honderd gestaltes aanneem.
Voorts sê Eseg 34 die herders moet vir die kudde sorg. Wat behels dit? Hulle moet eerstens die skape laat wei, oftewel kos gee (13-14). Waarop anders kan dit dui as op bediening van die Woord? Hulle moet tweedens die skape verbind en genees (16). Sonder twyfel is dit wat ons pastorale versorging noem. Dis geduldige persoonlike aandag en geskied dikwels in mense se huise. En derdens moet hulle die kudde oppas (15). Nog altyd was daar wolwe wat die skape wou verskeur. 'n Ware herder sal oor die volle reikwydte van sy werk altyd daarop bedag wees om hierdie mense se aanslae af te weer. Maar let op, die mees effektiewe manier is nie om links en regs na alle ketters te kap nie, maar om die kudde op te bou in die allerheiligste geloof, sodat hulle dwalinge reeds op 'n afstand kan uitruik. Niemand is in hierdie wêreld méér weerbaar as hy of sy wat die Here enkelhartig liefhet nie.
En dan sê Eseg 34 die herders moet die skape lei. In 'n neutedop kom dit neer op die regering van die gemeente. Maar, let op, herders wat nie deeglik rekening hou met wat in die kudde se harte en voorkeure aangaan nie, is dwaas. Ons praat dus van 'n simpatieke, begripvolle, versigtige en wyse regering. Goeie herders verstaan wat dit beteken om hulle langsaam te haas. Nooit sal hulle vinniger stap as wat die lammerooie kan byhou nie.
3. Laat ons elke dag in die geloof troos put uit die feit dat Jesus Christus die Opperherder van die gemeente is.
Onderherders is mense, gebroke en dikwels onbeholpe. Maar die Goeie Herder ken diegene wat Syne is. Niks, maar niks is vir Hom belangriker nie as om een en elkeen wat die Vader aan Hom toevertrou het deur te dra na die volle erfenis toe. Gesels maar met die skape wat lank op die pad is, en jy sal hoor dat hulle deur beproewinge en skades en skandes gekom het – dikwels só erg dat net die Here se innige bemoeienis kan verklaar waarom hulle nog op die pad is. En, let op, dikwels maak diegene wat gehawend lyk van al die littekens, die heel beste onderherders.
As jy dan een van die skape is wat die Vader aan die Opperherder toevertrou het, verlustig jou elke dag in jou onwankelbare sekuriteit. Die almagtige Koning van die heelal waak oor jou!
4. Laat ons ons met verwondering verheug in die vredesverbond wat vaster as die berge staan.
Die begrip "vrede", veral in die Ou Testament, dui op heelheid, voorspoed, welsyn – en in hierdie geval op welgeluksaligheid. As die Here God in die eerste instansie leef om Homself te verheerlik, wil Hy in die tweede instansie Sy geliefde skape uiteindelik só salig maak dat geen oog dit in hierdie lewe kan sien, geen oor dit kan hoor en geen verstand dit kan bedink nie.
Dis die eindbestemming waarheen onderherders die kuddes wat aan hulle toevertrou is moet lei.
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev