Preekopname: https://tinyurl.com/mwda9ff6
Dis 'n benoude tyd vir Juda. Die Assiriese ryk is besig met magsopbou en die omliggende nasies oefen ook druk uit op die Godsvolk. Die Here gee egter beloftes van beskerming. Dit het elke keer te doen met die geboorte en benaming van seuntjies.
In die eerste instansie, as koning Agas van Juda (die suidelike tweestammeryk) benoud is oor die bedreiging van sy noordelike buurlande, Israel (die noordelike tienstammeryk) en Sirië, sê Jesaja dat die Here 'n teken sal gee dat Hy na Sy volk sal omsien: 'n Maagd sal 'n kind in die wêreld bring en hom Immanuel noem (7:14). Maar Agas sien nie kans vir die geloofspad nie, en verbeur só die seën van die Here.
En dan gee God vir Jesaja en sy vrou 'n babaseuntjie wat hy Maher-Shalal-Hash-Baz moet noem ("Plunder-en-Roof-is-Naby"). Hiermee belowe die Here dat Sy volk, Juda nie beangs hoef te wees nie, aangesien Israel en Sirië spoedig deur Assirië "geplunder-en-geroof" sal word, en in ballingskap weggevoer gaan word (8:1-4). Maar Agas wend hom tot allerlei menslike oplossings. Dit laat die volk net dieper in ellende sink. Uiteindelik is Juda in diep donkerte (8:23; 9:1).
Die lig van verlossing
# Maar die duisternis sal nie vir altyd heers nie. 'n Lig van verlossing sal begin skyn (9:1). Waar gaan die lig skyn? In die gebied van die stamme Sebulon en Naftali (8:23). Dis die twee mees noordelike stamme, wes en noord van die meer van Galilea.
Dis betekenisvol dat Sebulon en Naftali nie deel van Juda is nie, maar van Israel, Juda se vyand op hierdie stadium. En dis die volk wat weggevoer gaan word.
Vir diegene wat hierdie profesie ernstig opgeneem het, was dit sekerlik duidelik dat die vervulling nie gou sou plaasvind nie. Eers sou die politieke toneel heeltemal moes verander.
Die toneel hét toe uiteindelik verander. Sewe eeue later is Galilea deel van Joodse grondgebied. En presies dit is waar die Here Jesus Christus groot word, waar Hy as volwassene vestig, en die meeste van Sy prediking en werk verrig. Hý was die Lig!
Die Nuwe Testament sê dan ook uitdruklik dat hierdie profesie op Hom geslaan het (Matt 4:13-16).
# Hierdie wonderlike lig het twee uitstaande effekte: Eerstens gaan die volk van die Here vermenigvuldig word (2a). En tweedens gaan hulle uitbundige blydskap hê (2b).
Daar is 3 redes voor (3maal "want" in v.3, 4, 5; OAV). Die Lig sal bevryding van onderdrukking bring (3); dit sal die einde van oorlog beteken (4); en bowenal sal dit wees omdat 'n Kind gebore gaan word (5). Dit sal geen gewone kind wees nie, en duidelik is dit Hý wat die wonderlike verlossing gaan bewerkstellig. Dis Hý wat die lig sal wees! (5-6).
Vier formele opmerkings
1. As Jesaja sê dat die Kind met bepaalde name genoem sal word, moet ons nie bloot dink aan maniere om Hom te identifiseer nie. Nee, in Bybelse tye was 'n naam bedoel om 'n persoon se karakter te beskryf.
Jesaja sê dus hier hóé hierdie Seun sal wees – in Sy wese, optrede en regering.
2. Dis nie sonder betekenis dat die komende Messias "Kind" én "Seun" genoem word nie (5, OAV). As Hy vir die eerste maal verskyn, sal Hy 'n "Kind" wees – 'n baba. Hy sal dus volkome mens wees. Hy sal op die mees intieme manier met Sy volk identifiseer. Maar Hy sal ook 'n "Seun" wees – die Seun van God. Trouens, die res van hierdie twee verse maak dit onmiskenbaar duidelik dat Hy waarlik God sal wees.
3. Volgens 5a lyk dit asof die Seun reeds gebore is. Die twee werkwoorde is in die verlede tyd. Maar so doen die profete dit dikwels. Hulle gebruik die verlede tyd om te sê dat iets in die toekoms só seker sal gebeur, dat dit is asof dit reeds gebeur het.
4. En hoeveel titels het die Messias hier? Volgens die OAV het Hy 5, en volgens die NAV 4 (ook 2020). Taalkundig is beide moontlik. Maar oor 'n paar tegnies-eksegetiese redes kan ons die 4 name aanvaar.
In so 'n geval is 'n pragtige simmetrie waarneembaar. Elke keer beskryf een van die twee benaminge die goddelike van die messiaanse regering, en die ander een die menslike daarvan. In die eerste en derde name is die goddelike eerste, terwyl dit in die tweede en vierde laaste is.
Die vier name
Die Wonderbare-Raadsman
# Hy is "Wonderbaar". In die Bybel word die woord net gebruik om God te beskryf. Dit dui op dit wat bo die mens se begripsvermoë uitstyg, en word veral gebruik vir die Here God se wonderlike verlossingswonders ter wille van Sy volk, asook Sy oordele oor Sy vyande.
Om hierdie Kind dus so te noem, is 'n sinspeling op Sy goddelikheid.
# Hy is 'n "Raadsman". Dit dui op Sy kennis en wysheid, en die leiding wat Hy gee.
# Die insig en wysheid van sy raadsplan en sy weë met ons gaan ons verstand dus ver te bowe. Dis presies soos Jesaja dit twee hoofstukke verder stel: "... op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here" (11:2). En is die vrees van die Here nie die begin van alle wysheid nie? (Job 28:28; Ps 111:10; Spr 1:7; 9:10).
Die Magtige God
# Hierdie Kind – verbysterend! – sal ten volle "God" wees, en as sodanig almagtig.
# As Hy alle wysheid het om volmaak te regeer, is Hy meteen ook die "Magtige" om dit tot op die letter uit te voer.
# In die verlossingsverbond het Hy 'n ontsaglike taak op Sy skouers geneem.
Eerstens sou Hy die essensie van wie die Drie-enige God is aan die mens moes kom openbaar. En Hy het dit op die mees bevatlike wyse denkbaar gedoen – vol "genade en waarheid" (Joh 1:14).
Tweedens sou Hy Homself op 'n wyse moes offer ten einde miljoene te verlos.
Derdens sou Hy die ganse geskiedenis van alle nasies só moes kom regeer dat alles in diens kon staan van die koms van God se ryk. Waarlik, almagtige God sou Hy moes wees om dit reg te kry.
Jesaja moes volledig in die geloof vooruit kyk. Ons kyk terug en sien dat alles besig is om presies so uit te werk. Ken ons dit nie aan eie lyf nie!
Die Ewige Vader
# Hierdie Koning sal nie soos 'n meedoënlose tiran regeer nie. Inteendeel, Hy sal soos 'n "Vader" vir Sy onderdane wees, vol empatie, begrip en erbarming.
# Maar Hy sou nie soos 'n aardse vader een dag daar wees, en die volgende dag verdwyn nie. Nee, sonder ophou sou Hy, as die "Ewige", die dierbares wat Sý Vader vir Hom gegee het, versorg en koester en liefhê.
# As die Here Jesus in Joh 10 sê Hy is die "goeie herder", dan bedoel Hy vir alle praktiese doeleindes presies dieselfde as dit wat Jesaja hier sê.
Die Hebreërskrywer weer, haal aan uit Jesaja se vorige hoofstuk (8:18) as hy sê dat die Here Jesus na die Nuwe Testamentiese gemeente as Sy "kinders" verwys. Só identifiseer Hy met hulle dat Hy net soos hulle "vlees en bloed deelagtig" geword het ten einde hulle van die mag van die duiwel en die vrees vir die dood te kom red (Heb 2:13-15).
Jesus noem soms mense vir wie Hy jammer is, "seun" of "dogter" (Mark 2:5; 5:34).
Die Vredevors
# Die resultaat van hierdie alwyse, almagtige en liefdevolle "Vors" se regering, sal "vrede" wees. By uitnemendheid sal dít Sy regering kenmerk.
# Nou moet ons nie aan vrede dink as bloot die afwesigheid van stryd nie. Die Hebreeuse woord, shalom, is 'n heerlike positiewe begrip. Dit dui op welsyn en voorspoed oor die volle spektrum van die lewe. Ten diepste praat dit van heelheid. Ons sou kon sê dat dit amper 'n sinoniem van welgeluksaligheid is.
Ewig en groeiend (9:6)
# Die Messias se koninkryk sal op twee fondamentstene rus: "reg" en "geregtigheid" – dit wat reg is, en dit wat heilig is.
En hierdie koninkryk sal nooit ophou bestaan nie; dit sal net bly groei. En meer as enigiets anders sal dit gekenmerk word deur ewige en onverganklike vrede en voorspoed.
"Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen." Die Here God se passie vir Sy eie eer, en die uitwerk van Sy ewige raadsplan, asook Sy liefdeshartstog vir Sy kinders, sal dit doen.
Hierin lê ons sekuriteit – nooit in ons eie pogings en getrouheid nie.
Slot
# Hoe wonderlik is hierdie profesie van 7 eeue voor Christus nie vervul nie! Sy koms het die verloop van die geskiedenis skielik laat verander – soos 'n lig wat in die donker aangeskakel word.
Verstaan Sy ware volgelinge dwarsdeur die eeue nie verse 2, 3 en 4 nie? Hoe het Koning Jesus se volgelinge nie deur die eeue vermenigvuldig nie! Hoe gebeur dit nie steeds nie, dag na dag! Hoe borrel die ware liggaam van Christus nie met blydskap nie! Nie meer onderdrukkende godsdienstige dwang nie, maar vryheid, vryheid, vryheid! Nie meer interne stryd en konflik nie, maar liefde, aanvaarding, waardering en diensbaarheid!
# Jy vra, is daar nie nét soveel twis en pyn in die kerkgeskiedenis opgeteken as harmonie nie? Hieroor net 'n paar opmerkings:
+ Een, ware dissipels van Jesus twis met niemand nie; hulle vergewe, en dien, en het lief. Presies dit is dié merkteken van egtheid wat die Here vir ons in Joh 13:34-35 gee: " 'n Nuwe gebod gee Ek vir julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het."
+ Twee, die valse kerk het nog altyd die ware dissipels van Jesus vervolg, dikwels met brute geweld.
+ Het óns nie die Here Jesus in Sy wysheid, almag, erbarming en heelmaking leer ken nie?
+ Les bes, is ons nie van harte oortuig dat Sy weë reg en heilig is nie? Het ons nie vreugde in die groei van Sy koninkryk, soos ons dit elke dag waarneem nie?
# Kan ons ooit twyfel dat Sy werk vir ewig vas sal bly staan?
Waarlik, ons is nie met 'n filosofie besig nie. Hoe goed ken ons nie self die dinge waarvan hier gepraat word nie!
Is daar 'n grootser saak om jou lewe aan te wy, as die uitdra van hierdie boodskap – sodat meer en meer mense Sy wonderbare regering kan leer ken, en Hom kan dien met harte wat wil bars van liefde?
# Die evangelie is die oproep tot alle mense om hulle aan hierdie groot en wonderlike Koning te onderwerp. Kan daar vir 'n mens in hierdie lewe iets meer sinvol wees as om jouself ongekwalifiseerd aan Hom toe te wy? Is daar iets wat enkelinge en nasies méér veredel en tot hoër hoogtes voer, as om hierdie Koning lief te hê en te dien. En les bes, wat sal ons sê van die hiernamaals?
Daarenteen, kan daar iets meer dwaas wees as om hierdie Koning te ignoreer of die rug toe te keer?
# Met al die erns waaroor ek beskik, wil ek dus by diegene pleit wat Koning Jesus nog nie volg en dien nie:
Draai jou rug op hierdie gevalle wêreld
en kom luister aandagtig na Hom as Groot Profeet
kom vertrou Hom as Groot Priester vir vergiffenis en regverdiging
kom dien Hom as Groot Koning met jou hele hart!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev