PDF WEERGAWE

Video-opname:    https://tinyurl.com/5f34w7v5

'n Brandende vraag

Meer as die helfte van Suid-Afrika se mense noem hulleself Christene. Baie van hulle is/was lidmate van institusionel kerke. Tóg vier geweld, korrupsie en sedeloosheid hoogty in ons samelewing. Hieruit kan net een slotsom volg: Nie naastenby almal wat op Christenskap aanspraak maak, is inderdaad Christene nie – nie in die Bybelse sin van die woord nie.

            Wat op aarde is 'n ware Christen dan?

            Die Nuwe Testament gee 'n glashelder antwoord op hierdie vraag.

Vals "Christene" is 'n struikelblok vir derduisende ongelowiges

#          Tot die mate wat daar vals Christene in 'n gemeente is, tot daardie mate sal so 'n gemeente minder wees as wat dit moet (Vgl. NGB29).

            +          'n Glasheldere begrip van wat 'n Christen is, is rigtinggewend vir die kerk se pastorale en evangeliseringswerk. Luister maar na die prediking: Almal is kinders van God!

            Skrikwekkend baie mense leef in die waan dat hulle met God versoen is, terwyl hulle in werklikheid steeds onder Sy toorn verkeer. Die resultaat is onbeskryflik tragies.

            +          Belangrikste van alles: God se Naam word skreiend onteer deur mense en gemeentes wat onder Sy vlag vaar, terwyl hulle gladnie aan Hom behoort nie.

#          As daar één saak op die kerk se agenda behoort te wees, dan is dit om na die Woord van God terug te keer ten einde hierdie verwarring op te klaar. En die Bybelse waarheid hieroor moet duidelik en kompromieloos gepreek en uitgeleef word.

            Dis só aktueel en gewigtig dat ontduiking van hierdie saak neerkom op hoogverraad teen die Koning van die konings – en misleiding van derduisende!

Enkele fundamentele vertrekpunte

#          Die eerste uitgangspunt is dat die Woord van God die enigste norm is in ons soeke na wat 'n Christen is. Sonder so 'n objektiewe, vasstaande standaard, dryf ons ankerloos in 'n see van menslike opinies rond.

            +          As 'n Christen gedefiniëer moet word, is die eerste neiging om dadelik te begin beskryf wat hy of sy alles doen en nalaat. Dis egter 'n onfeilbare resep om gou-gou in 'n doolhof van haarklowery te beland. Wat en hoeveel is genoegsaam om 'n Christen te word, om een te wees, om een te bly? Waar is die grens tussen die egte en die namaaksel?

Hoeveel hare maak 'n baard?

            Soos altyd, is dit hier ook noodsaaklik om reg te begin. Dit beteken dat begin moet word waar die Bybel begin: Nie by die mens nie, maar by God – by Sy soewereine en genadige inisiatief in 'n persoon se lewe.

            Dit is Gód wat 'n sondaar in 'n ware Christen verander!

            +          Ware Christene verstaan dit. Watter man of vrou wat regtig God se genade in Christus leer ken het, sou kans sien om die teendeel te verdedig?

'n Sondaar word nie 'n Christen, deur in God se lig in te beur nie;

hy word 'n Christen as God sy duisternis soewerein binnetree.

            +          Dit begin dus by God en by Hom alleen. Óf Hy doen dit, óf dit gebeur eenvoudig nie. Só het die regsinnige kerk dit deur die eeue geglo en bely. Die groot belydenisskrifte is daar vir almal om te lees (NGB 29 – Lees die hele artikel)

#          Hieruit volg nog 'n fundamentele grondbeginsel. Wanneer die Drie-enige God van iemand 'n Christen maak, is dit nie bloot 'n rehabilitasieproses nie; dit is in die volste sin van die woord 'n herskeppingsproses.

Die verskil tussen 'n Christen en 'n nie-Christen

is 'n wesensverskil – nie 'n graadverskil nie.

Christene is nie mense wat bloot hulle godsdienstige sokkies 'n raps hoër opgetrek het as ander nie. Die Here gaan nie eendag die wat die beste gevaar het as room vir Sy koninkryk afskep nie. Ons moenie dink in terme van die Comrades Marathon se eindpaal-pistoolskoot nie: die laaste een maak dit met 'n halfsekonde; die een ná hom mis dit met 'n halftree. Nee!

            Die Christen en die nie-Christen behoort tot twee verskillende kategorieë, hulle leef in twee verskillende koninkryke. Iemand is óf wedergebore óf nog 'n natuurlike mens; hy is óf "in Christus" óf steeds "in Adam".

            Hy is óf gered óf steeds onder die toorn van God.  Hy is óf 'n Christen, óf nie.

            Die sleutelvraag is dus nie wat 'n Christen doen nie, maar wat hy of sy is.

            Iemand is nie 'n Christen omdat hy op 'n bepaalde manier leef nie; hy leef op 'n bepaalde manier, omdat hy 'n Christen is.

#          As daar dan 'n wesensverskil tussen Christene en nie-Christene is, beteken dit die Christen moet sekere eienskappe hê wat hoegenaamd nie in 'n nie-Christen bestaan nie.

            En hieroor swyg die Bybel nie. Dit verkondig klokhelder en weer en weer dat God se herskeppingswerk in sondaars 'n diep-ingrypende hartsverandering meebring, wat nie anders kan as om lewensveranderend te wees nie. En dít is wat ons moet vasvat as ons 'n Christen wil beskryf.

Híér moet ons begin: Die wedergeboorte of die geboorte uit God

Wedergeboorte, is die begin van bewustelike, ervaarbare en waarneembare Christenskap. Aan hierdie oorsprong van Christenskap moet heel eerste behoorlik aandag gegee word.

Die Goddelike inisiatief (Joh 1:12-13)

Díé twee verse is rigtinggewend. In die voorafgaande verse word beskryf hoe die mense van hierdie wêreld Jesus Christus, die vleesgeworde Woord, verwerp. Daarenteen is daar tóg diegene wat Hom "aanvaar" of "aanneem" (v.12) – en sodoende kinders van God word.

            Hulle neem Hom aan, omdat hulle "in Sy Naam glo". En hulle glo in Hom, omdat hulle 'n wonderlike geboorte ondergaan het. Dis nie 'n natuurlike geboorte nie, nie 'n geboorte uit die mens nie – hulle is  "uit God gebore".

            Hiermee sê Johannes dat, ten einde gered te word, dit noodsaaklik is om Jesus Christus as die vleesgeworde Woord aan te neem (met alles wat dit impliseer). Dit is uiteraard iets wat die méns doen.

            Hy gaan egter verder, en sê dat so 'n persoon daartoe in staat gestel word deur 'n bonatuurlike geboorte – en dis iets wat Gód doen.

            Dit is dus duidelik: Die oorsprong van daardie eerste handelinge van die mens, wat hom 'n kind van God laat word en as Christen kenmerk, lê eintlik in 'n dieper werk van God self. En hierdie werk van God noem Johannes 'n geboorte uit God. Dis die wedergeboorte.

'n Naggesprek met Nikodemus (Joh 3:3,5,6,7)

#          Die Here Jesus se naggesprek met Nikodemus gee nóg 'n paar belangrike perspektiewe op die wedergeboorte, oftewel die geboorte uit God (Joh 3:3,5,7).

            +          Hy beklemtoon die noodsaak daarvan om die koninkryk van God in te gaan.

Alle ware Christene is wedergebore,

en alle wedergeborenes is Christene.

            +          Hy gee 'n antwoord op die vraag waarom die wedergeboorte dan so noodsaaklik is. Dit is noodsaaklik omdat die mens self magteloos is om die koninkryk in te gaan – hy "kan ... nie" (v.3,5).

            Waarom kan hy nie? Jesus gee twee antwoorde.

                        =          Hy kan die koninkryk nie "sien" nie (v.3). Hoe kan iemand ingaan deur die Deur (Joh 10:7,9) as hy Hom nie sien nie? Elders leer die Skrif dat die natuurlike mens se nood selfs erger is. Hy is nie net blind nie, hy leef ook in duisternis (Ef 5:8,11; Kol 1:13). Is daar 'n erger duisternis as blindheid in donkerte?

                        =          Die natuurlike mens is "vlees" (v.6). Dit beteken dat hy nog in Adam is, dat hy nog deel van die gevalle en sondegeneigde mensheid is. Vir diesulkes is

daar geen plek in 'n heilige God se koninkryk van geregtigheid nie.

            Net 'n nuwe geboorte kan iemand bevry van sy of haar Adamserfenis.

            +          Derdens openbaar Jesus iets van die aard van die wedergeboorte. Dis 'n geboorte "uit water én Gees" (v.5).

            Dis 'n geboorte wat die Heilige Gees bewerkstellig.

            Maar waarop sinspeel die water? Waarskynlik is dit 'n sinspeling die noodsaak van reiniging – soos ook in Tit 3:5, Ef 5:26 en Eseg 36:24-27).

#          Só sou Nikodemus dit waarskynlik verstaan het. As Joodse skrifgeleerde sou Esegiël 36 baie na aan sy hart gelê het – waar hierdie twee elemente  duidelik na vore kom. Daar belowe God dat Hy Sy volk met water van hulle sonde sal reinig (v.25). Ook belowe Hy die groot gawe van die eindtyd, die Heilige Gees (v.27).

            Tussen hierdie twee beloftes is v.26 van die allergrootste belang vir ons soektog na 'n antwoord op ons vraag oor wat presies 'n Christen is. Vers 26 belowe 'n "nuwe hart" – een van vlees wat die ou "hart van klip" vervang.

            Die Bybelse begrip "hart" dui op die sentrum van die mens se persoonlikheid. Dit is dus die beheerkamer wat sy hele lewe bepaal (Spreuke 4:23).

Vers 27

'n Hartsverandering bring onvermydelik 'n gedragsverandering mee.

en

só "sorg" of "maak" die Here deur sy Gees

dat ons volgens Sy "vaste voorskrifte volg" en sy "bepalings nakom en uitvoer".

Merktekens wedergeboorte/geboorte uit God in 1 Johannes

Presies hóé hierdie reddende genadewerk van God in 'n ware Christen tot uitdrukking kom, verduidelik hierdie selfde apostel dan in sy eerste brief aan die hand van 5 merktekens (1Joh 5:1;  3:9;  2:29;  4:7;  5:4).

            Let op dat die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) in Art. 29 met presies hierdie merktekens werk as dit 'n ware Christen beskryf.

Ter afsluiting: 'n definisie

Wedergeboorte in 'n persoon se lewe

is God se soewereine en diep-ingrypende

lewendmakende werk deur Sy Heilige Gees,

waardeur so 'n persoon verander word

vanuit 'n toestand van geestelike dood

en 'n gevolglik God-vermydende hartsgesteldheid

tot 'n toestand van geestelike lewe

en 'n gevolglik God-soekende hartsgesteldheid.

 

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev