Klankopname: https://tinyurl.com/2ry5ak8b
"Die Gees en die bruid sê: 'Kom!' En laat elkeen wat luister, sê: 'Kom!' En laat elkeen wati dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet!"
Die eerste helfte van die vers kan op twee maniere verstaan word.
Sommige Skrifverklaarders vertolk dit as 'n roepe tot Jesus Christus om terug te keer en Sy volk te kom beloon. Sekerlik maak so 'n beskouing baie sin in die konteks (22:12, 20).
Ander lees dit as 'n oproep wat gerig word tot 'n verlore wêreld – as met ander woorde 'n evangelistiese uitnodiging.
Ek meen, saam met baie ander, dat laasgenoemde vertolking voor die hand liggend, en dus korrek is. Sonder twyfel is die tweede helfte van die vers gerig tot dorstige sondaars om die water van die lewe te kom drink – en duidelik beheers dit die eerste helfte.
Binne die groter konteks is dit dan duidelik: Jesus Christus kom vir seker terug, en wanneer dit gebeur sal dit te laat wees vir regmaak met God. Maar tot tyd en wyl staan die deur nog oop vir elkeen wat dors is om die water van die lewe te kom drink (vgl 21:6-7).
As Matt 28:18-20 die Here Jesus se Groot Opdrag is,
is Op 22:17 die Here Jesus se heel laaste Groot Uitnodiging!
Die uitnodiging
Die draers van die uitnoding
# Die uitnodiging, oftewel bevel, word gerig deur "die Gees" – die Heilige Gees.
Dit word egter óók gerig deur "die bruid" – sonder twyfel die gemeente van Christus.
Maar, in die lig van die res van die Bybel, kan ons met stelligheid sê dat hulle nie apart werk nie. Die Gees werk déúr die bruid – soos feitlik altyd. Beide is aktief betrokke. En nooit kan die gemeente sy verantwoordelikheid systap nie; ewemin op enige eer aanspraak maak wanneer die resultaat positief is.
# Die vers gaan dan betekenisvol verder. Elkeen wat gehoor gee aan die uitnodiging, word onmiddellik self ook 'n draer van presies dieselfde uitnodiging. Terwyl daar 'n verskeidenheid van gawes en roepinge in die gemeente is, staan dit soos 'n paal bo water dat elke lid van die liggaam op een of ander manier by die uitdra van die evangelie betrokke moet wees.
Het jy dus die uitnodiging aanvaar? Hier is jou marsbevel!
Die water van die lewe
Water is 'n lewensnoodsaaklikheid. Daarom word dit dikwels in die Bybel gebruik as simbool vir God se seën en die ewige lewe. Sonder twyfel dui dit op laasgenoemde hier. En dis 'n gawe van die Een wat genoem word die Alfa en die Omega (21:6).
Dis 'n oop uitnodiging – gerig aan "elkeen"
# Hoewel die oorspronklike taal nie die woord "elkeen" het nie (die OAV is 'n letterlike vertaling), vat die 2020 & NAV wel die idee vas. Dis 'n oop uitnodiging gerig tot almal wat dors het – ongeag wie dit is. Ek hou van die NIV: "Whoever is thirsty ... whoever wishes ...".
# Terwyl die Bybel glashelder duidelik en skaamteloos is oor die feit van die uitverkiesing en die toegespitse versoeningswerk van Christus, mag ons nooit huiwer om hierdie evangelie-uitnodiging tot alle mense te rig nie. Per slot van rekening is dit nie aan ons geopenbaar wie die uitverkorenes is nie.
Wat ons wel weet, is dat die Here mense red vanuit elke denkbare kategorie op aarde. En aangesien Hy middellik werk (Hy gebruik ons as instrumente), moet ons diegene wat die Vader aan die Seun toevertrou het en nog nie met Hom verenig is nie, oraloor gaan soek en uitsnuffel. Hoe sal ons weet wie hulle is?
Ons sal die realiteit van die uitverkiesing in mense se lewens herken wanneer hulle positief op hierdie uitnodiging – wat ons tot almal rig – reageer, en die water van die lewe met diep teue drink en blý drink. Sonder die werk van die Gees, kry niemand ooit híérdie dors nie. En só werk Hy net in die uitverkorenes (Hand 13:48; 18:9-11; Rom 10:13-17).
Die water van die lewe is gratis.
Die woord wat met "verniet" vertaal word, is nóú verwant aan die Griekse woord vir 'n geskenk. Letterlik beteken dit "sonder oorsaak" (vgl. Joh 15:25). Die water word dus gegee sonder enige aanleidende oorsaak in die ontvanger. Mens hoef nie daarvoor te kwalifiseer nie. Verdienste is nie ter sprake nie. Dis verniet, kosteloos, gratis!
Hierdie uitnodiging het al in die Ou Testament gegeld. Let op hoe sterk Jesaja die feit beklemtoon dat dit gratis is: "Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk ..." (55:1-3).
Vier werkwoorde.
# Hierdie uitnodiging bevat in die oorspronklike taal vier kardinaal belangrike werkwoorde: Om dors te hê. Om te wil. Om te kom. Om te neem (OAV, NAV, NIV, ESV).
Hierdie begrippe impliseer nie enige verdienste nie, maar beskryf bloot die dors in 'n opregte hart, en die optrede van ware geloof. Hiersonder stel mens gewoon nie belang in die water van die lewe nie.
As mens nie dors is nie, drink hy nie water nie. En as hy wel sou drink, sit die lewegewende krag nie in wat hy doen nie, maar in die water.
# Die gelykenis van die verlore seun illustreer pragtig hoe hierdie werkwoorde in iemand se lewe tot uitdrukking kom (Luk 15:11-24).
+ So 'n persoon het dors.
Dit dui op 'n diep begeerte; 'n bewussyn van verlorenheid; 'n verlange na redding en vrede met God. Dit lê dus op 'n meer emosionele vlak (vgl. Matt 5:6).
So 'n maerte in die siel kan reddende geloof soms vir 'n lang tyd voorafgaan – totdat dit onhoudbaar raak.
Dis die verlore seun se verlange huis toe!
+ So 'n persoon wil.
Die begrip dui op 'n besliste voorneme en 'n doelgerigte besluit (Gr. thelo). Dit lê meer op 'n verstandelike vlak. Dit gaan oor denke, oorweging, keuse en besluitneming.
Die verlore seun het nie net verlang nie, hy het tot 'n besliste besluit gekom om klaar te maak met sonde, sy rug eens en vir altyd op die varkhok te draai – en terug te gaan na sy pa toe.
+ So 'n persoon kom.
Hy verskyn in nederige bankrotskap voor die Here om die saak uit te maak.
Die verlore seun het nie net besluit nie; hy het inderdaad opgestaan en na sy vader toe gegaan. Dis die bewys dat sy aanvanklike besluit ernstig en opreg was – dat hy besigheid bedoel het.
= Hierdie is 'n intens persoonlike saak en die grootste gedeelte van die ontmoeting – indien nie in sy geheel nie – sal normaalweg in afsondering en privaatheid plaasvind. Dis 'n saak tussen jou en die Here alleen. Die tydsduur is nie belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat die transaksie deeglik en finaal sal wees.
Berou, belydenis, oorgawe, toewyding – en dikwels trane – is tipies van ware bekerings. In elk geval is dit níé 'n ligtelike formaliteit volgens 'n simplistiese en goedkoop formuletjie nie – 'n vinnige bid-agter-my-aan worsmasjien.
Maar laat ek dadelik byvoeg, dit beteken nie dat mense nie soms ook só tot redding kom nie. Dit gaan immers nie oor die uiterlike nie, maar oor die innerlike hartsgesteldheid.
Maar waarteen wel ernstig gewaarsku moet word, is evangelisasiemetodes waarin hierdie praktyk die tipiese is. Dit maak mense maklik wys dat hulle gered is, terwyl daar dikwels – gewoonlik? – geen egtheid in sit nie. As hulle dan later agterkom dat niks verander het nie, laat dit hulle ontnugter en immuniseer dit hulle dikwels teen die evangelie. Hierdie is 'n praktyk wat oor die afgelope eeu of twee oneindig baie skade gedoen het.
+ So 'n persoon neem die water.
Hy drink dit dus. Hy omhels God se genadegawe in Christus. Hy werp homself op die Here se beloftes in die evangelie. Einde ten laaste val hy in God se genadearms in.
Ook dit is 'n intens persoonlike saak. Dit is 'n transaksie, 'n verbondsvasmaking tussen my en die lewende God.
Die verlore seun was wel bereid om net 'n huurling vir sy pa te wees, maar toe hy sy pa se vergewende liefde sien, het hy homself in sy omhelsing gewerp en hom in sy gemeenskap en geskenke verlustig.
'n Lewensbelangrike kwalifikasie is egter nog uitstaande
Luister na 1Kor 10:4, na aanleiding van Eks 17:1-7 en Num 20:1-13: "... en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit 'n geestelik rots wat hulle gevolg het – en die rots was Christus."
Sien jy dit? Die Here Jesus Christus, en Hy alleen is die lewensbron. Daarom kan Hy vir die Samaritaanse vrou sê: "Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nie dors kry nie" (Joh 4:13-14).
Die geloof wat instrumenteel is in redding, vertrou algeheel in Christus en Sy middelaarskap. Dis om jou oë op Hóm vas te nael, om in Hóm te skuil en om met jou volle gewig, vir lewe en dood aan Hóm te hang – vir tyd en ewigheid.
Al vier is nodig
Ten slotte net hierdie kardinaal belangrike opmerking: Ál vier werkwoorde hierbo is 'n werklikheid in elkeen wat gered word – nie net een, of twee, of drie daarvan nie!
En vir seker moet mens by drink uitkom. Mens kan langs 'n borrelende fontein van dors versmag as jy nie die water drink nie. En uiteraard, 'n ware gelowige kry nooit klaar gedrink nie.
Christenskap is ten diepste nie om op 'n hoër morele peil as ander mense te leef nie. Daar is immers baie, baie ongelowiges – selfs ateïste – wat moreel merkwaardige lewens ly.
Ware Christenskap is om weer en weer
en weer en weer diep teue te drink
van die lewenswater wat uit Christus vloei.
Twee baie belangrike vrae, en twee ewe belangrike stellings
1. Is jy waarlik met God versoen in Christus?
Het jy die water van die lewe gedrink, en sluk jy steeds dag na dag diep teue daaraan? Maak seker jy bluf jouself nie. Hoe sal jy weet? Toets jouself hieraan:
Drie "toe's" kenmerk ware, reddende geloof:
Jy het God se openbaring in Christus as Groot Profeet – as allerwaarheid toegeëien.
Jy het jouself vir tyd en ewigheid aan Christus as Groot Hoëpriester – toevertrou.
Jy het jouself ongekwalifiseerd en lewenslank aan Christus as Groot Koning – toegewy.
Uiteindelik bly dan die allesbepalende vraag:
Is hierdie drie "toe's" só 'n werklikheid in jou lewe,
dat dit onmiskenbaar só lewensbeheersend is,
dat jy kan sê (en diegene wat jou goed ken dit kan beaam):
Waarlik, "die ou dinge ... verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword" (2Kor 5:17).
2. Soos dit met 'n atleet gaan, gaan dit ook met elke ware gelowige
Elke Christen verstaan hierdie punt: Die dorstigheid na die water wat uit die gesplete Rots vloei, is iets lewenslank. Dit hou nooit op nie. Trouens, dit neem steeds toe.
En nooit kan ons dankbaar genoeg wees nie, want die Fontein droog nooit op nie; dit vloei al vir eeue ewe sterk. En dit sal vir ewig bly stroom.
Op 22:1-5
Toe het die engel aan my 'n rivier met die water van die lewe gewys.
Dit was helder soos kristal, en het gestroom uit die troon van God en die Lam.
In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant,
staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug.
En die blare van die boom bring genesing vir die nasies.
Daar sal geen vloek meer wees nie.
Die troon van God en die Lam sal in die stad wees, en sy diensknegte sal Hom dien.
Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe.
Daar sal ook nie meer nag wees nie.
Die behoefte aan die lig van 'n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie,
omdat die Here God hulle sal verlig,
en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers.
3. Is jy 'n draer van hierdie uitnodiging in die Bybel se vyfde laaste vers?
Jy sê jy is totaal onwaardig; hopeloos té sondig. Jy is in elk geval té beskroomd. En dan is nog skaam ook – 'n sukkelende stamelaar, 'n skaam stotteraar.
Luister dan na die Here Jesus se belofte in Joh 7:37-39 en gryp dit vas in die geloof: "As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, 'Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.' Dit het Hy van die Gees gesê wat díé wat in Hom glo, sou ontvang".
Sonder die Heilige Gees se werk in 'n gelowige, sou nie een van ons 'n vinger kon roer om Jesus Christus te dien en te verheerlik nie.
Maar, ten diepste is die hart van die Heilige Gees se werk hier op aarde om God die Seun in en deur sy liggaam, die bruidsgemeente te behaag en te verheerlik (Joh 14:26; 15:26-27; 16:12-15).
4. Ons vers is 'n wonderlike evangelisasie-hulpmiddel
Daar is beswaarlik 'n beter riglyn
om iemand tot by die water van die lewe te lei,
as hierdie vyfde laaste vers van die Bybel.
Werk stapsgewyse met iemand deur hierdie vier werkwoorde,
en hy of sy sal goed weet hoe om in Christus in te vlug.
Die vlugtog self moet hy of sy egter sélf aflê
(dalk eerder alléén)!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos: